Plesierengel. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.van Tristan Hansen.
’n Paar minute later word Erika se motor deur die AA ingesleep.
“Maak geen fout nie, sweetie. Ek kom jou binnekort sien. Ek is so, só jammer, doktor! Maar as jy weet wat my man aan my gaan doen, sal jy my sommer dadelik vir ’n sessie neem!” babbel Aronique sonder die van voort.
Nog ’n motor hou stil en ’n man klim uit ’n motor waarop ’n koerant se embleem gedruk is. Hy neem dadelik foto’s. “En dit?” vra hy.
“Dit is alles sý skuld!” beduie Aronique.
“Ek is Piet van Staden van die Oggendnuus.”
Die joernalis kyk na die plakkaat, haal sy notaboekie uit en begin te skryf. “Wat het gebeur?” vra hy en kyk na Erika. “En u is … ?”
“Die sielkundige Erika Hamilton,” babbel Aronique toe Erika nie antwoord nie. “Is dit nie ’n bedekte seën dat ’n kopkwak in my vasgery het nie? Nou kan ek sommer dadelik ’n afspraak maak vir terapie!”
Erika sien hoe die joernalis haar naam neerskryf en sy dink: Nou gaan almal weet. Hy vra nog ’n paar vrae, maar sy bepaal haar aandag by die AA se insleepdiens.
“Die skade lyk erger as wat dit is. So drie dae by die panel-beaters en sy spin weer!” belowe die bestuurder en trek weg.
’n Halfuur later is sy terug by die huis.
Erika se bene bewe nou so dat sy beswaarlik die knoppie op haar afstandbeheer kan druk om die hek te laat oopgaan. “En dit alles omdat ’n kliënt nie na my spreekkamer kon kom vanmiddag nie, toe moes ek na haar toe gaan!” sê sy asof iemand kan hoor.
Iewers in Jan Smutslaan, nou agter die Parktown-bome Westcliff en Parkview se kant toe, jaag loeiende sirenes verby. Sy luister met nuwe ore na daardie geluid!
Sy sluit die sekuriteitshek en daarna die voordeur oop.
Die alarmsisteem kerm soos ’n styfgespanne derm wat met ’n viool bestryk word en waarsku dat sy net ’n minuut tyd het om die korrekte kode in te pons. Maar skielik het sy nie ’n idee wat dit is nie. Haar geboortedatum, 7187? Of sou dit 2600 wees? (Haar ouderdom met twee nulle agterna.) Of 1234? Maar die sekuriteitsmaatskappy het haar destyds gewaarsku om nie so ’n voorspelbare nommer te kies nie. “Dis die eerste kode wat die paloekas inpons. Hulle’s nie so dom soos jy dink nie!”
Hemel tog. In haar deurmekaar toestand het sy nou heeltemal die alarmkode vergeet! Haar hande bewe terwyl sy haar geboortedatum inpons. Dit is 7 Januarie 1987.
7187.
Oing-oing-oing-oing! ’n Laaste kerm-ten-hemel. Dan stilte.
Dankie tog.
Erika sluit die voordeur toe. Sy loop na die drankkabinet en skink ’n whiskey. Dit bots met die raad wat sy gewoonlik vir haar kliënte gee. “Drank is ’n tydelike oplossing. Miskien water met ’n bietjie suiker in, maar die beste is om lank en diep asem te haal.”
Die warm whiskey brand haar keel en proe na kasaterwater – haar ma se uitdrukking as iets sleg smaak – maar sy sluk dit vinnig af.
Sy gaan na haar spreekkamer wat apart van haar huis is. Die diep leunsstoel is lekker sag toe sy daarin wegsak. Dis dieselfde stoel waarin haar kliënte altyd sit. Dankie tog dit is nou halfvyf, hier gaan dus nie meer mense opdaag nie. Die gedagte kom by haar op dat sy feitlik nog nooit in hierdie leunstoel gesit het nie, maar altyd op die regop stoel hier oorkant.
Interessant dat die bordjies nou verhang is. ’n Mens sou aan die slaap kon raak in hierdie een.
Muurbal! Sy moet gaan muurbal speel om te ontlaai. Rodney het altyd saamgegaan … Dan onthou sy weer: Rodney is weg. En die muurbalbaan is te ver om te loop.
Vir die eerste keer in jare pak die angs haar weer. Soos toe sy destyds in matriek by haar ouerhuis aangekom het gedurende ’n inbraak. Haar ma, wat toe nog in Northcliff skoolgegee het, het daardie middag hokkie afgerig en Erika was eerste by die huis. Sy was bang dat die inbreker nog in die huis kon wees, maar het nietemin teen haar beterwete by die huis ingestap om die skade te bekyk.
Die volgende oomblik het hy voor haar gestaan. Nie met pokmerke en een skeel oog en ’n wrede grynslag soos in die TV-reekse nie, maar ’n doodgewone gesig. Hy het ’n mes uitgepluk en dit teen haar keel gedruk. Sy onthou die prik teen haar vel – voel dit nou weer in haar verbeelding en ril. Die asem wat na sigaretrook en suur kos geruik het. Die stem wat gewaarsku het dat sy nie ’n geluid moet maak nie.
Toe die hande wat oor haar borste gestreel en onder haar skooljurk gesoek het. Die man wat haar teen die muur vasgedruk het en “Sjuut” met sy lippe gevorm het. Haar skooljurk wat gelig is, haar broekie wat afgestroop is. Die mes wat weer teen haar vel gedruk is. Die ereksie wat begin vorm het en teen haar gestamp het.
“Maak los my belt!” Sy stem, kortaf. Haar vingers het dom gehoorsaam, maar kon nie die lissies loskry nie. Die stoppelbaard teen haar vel, die warm asem oor haar mond soos hy probeer het om haar lippe oop te dwing.
“Trek dit af. Nou!” Sy stem weer dreigend.
Sy het gesukkel om die broek af te kry. Die dom bewegings teen haar. Met sy broek op sy knieë het hy gesukkel om haar bene oop te dwing.
En toe die onverwagse krag in haar. Sy het ’n knie opgebring en hom met woede tussen die bene gestamp en gevoel hoe iets kraak. Die skreeugeluid, die mes wat eenkant val, die man wat inmekaarsak en met albei hande tussen sy bene gryp. Obseniteite. Toe skop sy hom.
Die man het opgespring en vooroor gebuk uitgestrompel – toe kon sy eers die noodknoppie teen die muur druk. Sy het ook geweet waar haar pa sy rewolwer bêre. Sy het na die wegsteekplek gehardloop en die rewolwer gegryp, omgeswaai en agter die inbreker aan gehardloop.
Hy het intussen in die tuinpaadjie gegly en met sy kop teen ’n klip geval. Toe Erika uitkom, het hy dronkerig orent gesteier. Sy het die rewolwer op hom gerig. Sy hande was oor sy mik gevou, en toe kyk hy op.
Sy oë was pleitend.
Die rewolwer sekuur op sy hart. Haar pa het haar vir skiet-lesse geneem, dus het sy die wapen geken. “Om jouself mee te verdedig, mens weet nooit wanneer jy dit nodig kry nie,” het hy destyds gewaarsku.
Die man oorkant haar. Sy met ’n lewe in haar hande. Die plek waar hy haar probeer penetreer het steeds rou. Die rewolwer in haar hande, die asem rukkerig oor sy lippe. Sy kop wat heen en weer geskud word.
Soveel mag. Soveel woede. Soveel hartseer oor wat amper met haar gebeur het. Haar vinger om die sneller, die veiligheidsknip af. Net een vinnige trek van haar wysvinger. Net een en dis verby.
Tyd het gaan stilstaan. Sweet op haar voorkop, en in haar oë. Die brandgevoel bring haar tot besinning. Daarna die loeiende sirene van ’n sekuriteitsmotor. Mans met gewere. Sy steeds met die rewolwer sekuur op die man gerig, sy lewe in haar hande, die woede wat wil oorkook.
“Ek sweer ek wou nie … ” het hy geprewel.
Sy het die rewolwer laat sak. Sy kon nie eers huil nie. Haar ouers wat dadelik huis toe gekom het, die sielkundige, Lydia Els, wat sy moes gaan sien. Dit is waar haar belangstelling in sielkunde geprikkel is – die terapie wat sy ondergaan het en die lang gesprekke wat sy en die ouer vrou gevoer het.
Die ergste was toe sy haar aanvaller by die polisiestasie moes gaan uitken. Al die bravade het uit sy oë verdwyn. Daar was toe net haat. Naakte woede wat sy nooit sal vergeet nie.
Hy het vyftien jaar tronkstraf gekry.
“Jy moes my liewer vrekgeskiet het, jou teef,” het hy in die hof gesê toe hy weggelei word selle toe. “Ek kom terug vir jou. Dan kom maak ek klaar wat ek begin het. Want jy wou dit hê. Jy wéét jy wou. Ek sou jou laat kóm het dat jy huil daarvan en … ” Die hofbeamptes het hom weggepluk. Erika het verwese agtergebly, haar ma se arms om haar, haar pa wat iets agter die man aan skreeu.
Nou, vir die eerste keer, is daardie gevoel terug en net so intens. Maar in plaas van woede, is daar vrees.
Sy