Plesierengel. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.oftewel slaap, as om in daardie dêm koue gebou, so ysig soos haar dominee se vermanings oor selfbevlekking (hoe wreed kan ’n mens met woorde omgaan?) te sit en ’n spaarrekening te open.
Aan haar ander geld, wat die grootste deel van haar salaris uitmaak, wou sy nie raak nie. Maar hierdie een was haar plesierrekening. Geld waarmee sy vir haarself iets spesiaals sou koop. Soos ’n nuwe rok.
Maar wat sy waarheen sou aantrek? Dalk ’n karavaanvakansie vol sand en see langs die Suidkus? Maar saam met wie? Maans met die dik pens wat lyk of dit vla gaan baar en net ’n kersie op sy naeltjie kort om op ’n kinderpartytjie opgedis te word? En wat “O … my … liewe … Herrrretjie tog!” prewel-hik wanneer fyndraai naderkom – nes ’n trok wat ’n sinkplaatpad slaan.
Of sou sy saam met vlytige Freek vir ’n naweek Vaaldam toe suiker om verniet in sy suster se huis te gaan bly wat na katpiepie en Axe ruik, waar die visserman met die pyp hul plesierighede glimlaggend vanaf die muur dophou? Sy kon sweer sy glimlag is half spottend wanneer sy later verbyloop, laken om die lyf.
Freek sou haar elke keer op dieselfde manier bykom (“Oppas, Freek, ander een, jy’s op die verkeerde plek, my lam! Eina!”) met sy massiewe gewig wat haar asem uitpers, drillend bo-op haar. Sy moes deurgaans veg om asem. Hy was te swaar, hy het al die probeer om lekker te kry uitgelê.
Dan, later, dikwels onder ’n minuut, sou hy sidderend op haar tot ruste kom, ’n harde wind laat (“Oe, dit was nou ’n lekker boerpampoen!”) en verklaar hoe lekker sy hom laat kry op die goeie ou boeremanier, terwyl sy haar gesig in die kussing teen die reuk verberg.
Sy mag nooit bo-op hom gesit het nie, dan het hy nie “genoeg beheer nie, Santie-Merantie, en jy weet tog ou Frikkie like om in charge te wees”.
Wanneer sy daarin geslaag het om onder hom uit te maneuver (hy sidder-snork dan) en na hom gekyk het waar hy op sy papsak maag lê en snork, het sy gedink dat hy hom ten minste kan snoei – die dik hare in sy mik kon tem; die gryses wat sy testikels oorgroei, kon afskeer. Dalk sou dit hom groter laat lyk het op die regte plek, sodat sy nie telkens daarna hoef te gesoek het nie.
Na sy twee-minute-ry-sonder-om-te-vry, moes sy biere aandra TV toe, sy harige rug met Dove-room vryf, net sodat hy later voor die TV kon oopketel met: “Santie-Merantie. My ou slurpie is weer lus, my ou stofsuiertjie?”
Hy het haar een keer gevra om op te hou (“Oe, oppas vir die tande!”) toe ’n rugbyspeler op pad was om ’n drie te druk. “Bliksem, Santjie, hoe moet ’n man dan kies? Wees ou Frekie dan genadig. Fyndraai is naby en ou Choekels het die bal!”
Miskien sou sy haar plesierfonds gebruik vir ’n make-over en ’n spa-behandeling. O, as sy net een lekker massering kon kry vir al die beskuitknie-drukke wat sy op harige rûe en boerpampoenboude moes gee. (“Ja, my soetpatatrankie, druk jou vinger daar, net daar, oe my alla, hoerpampoen!”)
Nie dat sy lelik is nie. Santa het mooi na haarself gekyk, haar gewig in toom gehou en haar hare in ’n bob gesny nes Purdey destyds op TV. Sy het die Ferreiras aan haar ma se kant se sterk wangbene geërf. En was sy trots op haar vel! Met moeilike maande moes sy kies tussen kruideniersware en gesigroom. Maar dikwels het gesigroom gewen. En later die besoek aan die haarsalon een maal per week. Daarvoor het sy ’n spesiale fonds gehad en Thelma het presies geweet waar om te knip om ekstra krag in haar bob op te tower.
En sy het die wassery geniet en gewens ’n man wil haar kopvel eendag so masseer.
Sy het die manne na haar hoor verwys as “Soettand-Santie”, want sy was glo lekker genoeg om op te eet met haar mooi hare en lekker-soen-gesiggie en haar marankas van borste waaraan hulle so graag wou vat. “Bliksement, pel – kan jy dink hoe sak ’aai stuurwiel as daai mamasch daarop lepellê, who’s your daddy?” het iemand eendag wellustig gebulder sodat sy moes hoor.
Dalk moes sy spaar vir ’n bootrit. Sy het gehoor dat Die Huisvrou so ’n lekker leserstoer aanbied. Dalk sal sy daar iemand interessants ontmoet wat haar waardeer.
Nou hou sy maar haar wiele op die teer, luister na RSG se deurnagprogramme terwyl sy saam met Bok van Blerk en Steve Hofmeyr se “Pa en seun” neurie terwyl die swart teerrivier met sy wit strepe dreig om haar te hipnotiseer. Dan het sy tyd om te dink wat sy met haar plesierfonds gaan maak.
Dalk kry sy ’n trokdrywer wat nog nie getroud is nie en wat sy kan trakteer. Een wat ’n bietjie aandag aan háár gee, wat die feit waardeer dat sy na haarself gekyk het en nie net prewel dat sy sy boerewors moet pluk nie. “Nee, vat bietjie hoër, my skokiaantjie, oe, oe!”
Later die vrou by die depot hier in Johannesburg. Die een met die lang, rooi katnaels en die bottelblonde hare en die toonnaels waarvan elke halfmaantjie anders gekleur is in sandale wat flip-flap-flop terwyl sy na die liasseerkabinet toe stap. Die vrou met die Cosmo-kalender op haar lessenaar, met Meneer Maart wat al voos gevat is.
Santa onderneem dikwels drie reise Kaap toe per week. Maar as sy dieselfde drie afstande in vyf of selfs vier dae voltooi, kry sy meer geld. Kan sy haar plesierfonds vinniger en makliker aanvul.
Die Bybelse lande. Haar ouers wil so graag Getsemane en Betlehem en Jerusalem en die Dooie See sien. Die godsdienstydskrif Mirakel het hoeka verlede maand ’n toer daarheen aangebied. Haar plesierfonds het op feitlik dieselfde bedrag gestaan as wat die reis sou kos. Dan kon sy die lande eerstehands sien waarvan sy altyd in die Sondagskool geleer het. Name waarmee sy in Bybelversies gesukkel het met hul lang lettergrepe en moeilike uitsprake. Name wat sy in haar Bybel raak lees die enkele aande wat sy in haar eie bed slaap en nie op die pad is nie.
En dan die gemoedelike ginnegaap met die manne by die trokrusplekke. Fiebie se Truck Stop, noem hulle een van die grotes op die pad noorde toe. Daar eet sy twee eiers, sonkant-boontoe met die geel wat so lekker gesellig in die brood invloei. (“Brown or white toast, Madam?”) Dit maak haar lus, daardie geel. En hardgebakte tjips, ’n stuk goedgaar vleis, en ’n verdwaalde tamatie langs ’n slaaiblaar toegegooi met Spur-sous.
Dan luister sy na die ongetroude manne se jags stories. Hul seksuele eskapades in die kajuite, altyd met gewillige monde wat diep sluk en bene wat wawiel-oop lê met onmoontlike groot valleie. Die meisies wat op sekere plekke langs die pad wag, prentjies van Loslyf-meisies wat sommer hier langs hul gesinne in hul trokke op die windskerm geplak is. Of ’n opskrif langsaan uit ’n tydskrif: Draadtrek is koning! (“Magtag, man, ek doen dit partykeer sommer in die ry, dan hik daai trok darem vir jou lekker, swaer!”)
Toe die bottelblondine wat iemand ken wat iemand ken wat iemand ken. Dit is waar Santa Ferreira die eerste keer van die plesierengel gehoor het.
Net daardie naam het haar verbeelding op loop gesit. Miskien was dit die Bybelse konnotasie – die “engel”-gedeelte. Miskien was dit die “plesier”-stukkie. Want dit het haar aan haar eie plesierfonds laat dink.
Presies wat verwag sy van haar plesierfonds? Iets vir háár. Nie veertig sekondes se “Oe, hoe lekker kry hierdie pappie nou!” by ’n oorgewig kaalkopman waar sy moet koes as die kwyl op haar gesig wil drup nie.
Nie vir vriendinne wat giggel oor die jongste hygroman of ’n plesierpiet in ’n sepie wat sy hemp uittrek nie. En nie vir sondige stukke kaaskoek wat sy altyd verorber na agttien uur lange trips nie.
Iets vir háár! Iets wat haar gaan herinner aan wie sy regtig is: die mens van wie sy al vergeet het. Want die lang ure op die pad, die manne se hand-op-die-blaas-gesprekke by die truck stops, die diep gromgeluide onder haar in die trok, het haar al laat vergeet presies wat sy wil hê.
Dalk is daardie hunkering in haar dye wat sy soms voel die vulkaniese spuwing waarvan vriendinne altyd giggelend praat. “Santie, ek noem dit die krap in die kole, nes Anton wanneer hy vleis braai, maar net op ’n ander plek waar hy nog nooit bygekom het nie, hie-hie-hie!”
Toe hoor sy twee vroue by die depot in Johannesburg weer van die plesierengel praat. “So goed jy sê sy naam in hoofletters. Veral as dit by die plesier kom.” Die vrou het van hom gehoor by ’n vriendin van ’n kennis van ’n niggie van ’n metgesel wat een nag sy nektar gedrink het. En die beskrywings het vinnig en dik gevloei.
“Doen