Witwatersrand. Wilbur Smith

Читать онлайн книгу.

Witwatersrand - Wilbur Smith


Скачать книгу
Waite saam.

      “Gaan jy die werk vat?”

      Waite huiwer ’n oomblik. “Ja,” sê hy, en knik met sy kop.

      Ada glimlag. “Kom hier,” sê sy en hou haar hande na hom uit.

      Sean neem Waite en Ada stasie toe op Ladyburg. Op die einde het Waite daarop aangedring dat Ada saamgaan, want hy wou hê dat sy dit met hom deel.

      Sean sit hulle bagasie in die trein en wag terwyl hulle met die klein klompie ander beesboere gesels wat ook na die vergadering gaan. Dan fluit die trein en die reisigers spat uitmekaar na hul kompartemente. Ada soen Sean en klim in. Waite bly ’n oomblik langer op die perron by Sean.

      “Luister, Sean, as jy hulp nodig het, ry oor na mnr. Erasmus op Leeukop. Ons sal Donderdag terug wees.”

      “Toe maar, Pa. Ek sal nie hulp nodig hê nie.”

      Waite se mond verhard. “Dan is jy seker die Almagtige: Net Hy het nooit hulp nodig nie,” sê hy skerp. “Moenie vervlaks hardkoppig wees nie, as jy moeilikheid kry, gaan vra Erasmus.”

      Hy klim in. Die trein gee ’n ruk, trek weg en rol by die stasie uit op pad na die platorand.

      Sean staan dit ’n rukkie agterna en kyk en stap dan terug na die verewaentjie. Hy is baas van Theuniskraal en hy hou van die gevoel wat dit hom gee. Die klompie mense op die perron begin uiteengaan en tussen hulle verskyn Anna.

      “Hallo, Sean,” sê sy. Sy dra ’n groen katoenrokkie wat al so effens verbleik is van al die was. Sy loop kaalvoet. Sy glimlag met haar klein wit tandjies en hou Sean se gesig dop.

      “Hallo, Anna.”

      “Gaan jy nie Pietermaritzburg toe nie?”

      “Nee, ek moet die plaas oppas.”

      “O!”

      Hulle bly stil, ongemaklik voor so baie mense. Sean gee ’n kuggie en krap die kant van sy neus.

      “Komaan, Anna! Ons moet huis toe,” roep een van haar broers voor die kaartjieskantoor. Sy leun oor na Sean.

      “Sal ek jou Sondag sien?” fluister sy.

      “Ek sal kom as ek kan. Maar ek weet nie, ek moet die plaas oppas.”

      “Ag, probeer asseblief, Sean.” Haar gesig is ernstig. “Ek sal vir jou wag. Ek sal kos saamvat en die hele dag wag. Kom, asseblief, al is dit net vir ’n rukkie.”

      “Goed, ek sal kom.”

      “Belowe jy?”

      “Ek belowe.”

      Sy glimlag verlig.

      “Ek sal vir jou op die paadjie bokant wag.” Dan hardloop sy na haar mense toe en Sean ry terug na Theuniskraal.

      Garrick lê en lees op sy bed.

      “Ek dog Pa het gesê jy moet aangaan met die merk van daardie nuwe beeste wat ons Woensdag gekoop het?”

      Garrick sit sy boek neer en lig hom op. “Ek het Zama aangesê om hulle in die kraal te hou tot jy terugkom.”

      “Maar Pa het mos gesê jy moet dit doen. Jy kan mos nie die diere die hele dag sonder kos en water daar hou nie.”

      “Ek haat die brandery,” brom Garrick. “Dit maak my naar as hulle so bulk wanneer ’n mens met hulle werk en die stank van daardie gebrande hare en vel gee my ’n kopseer.”

      “Wel, iemand moet dit doen. Ek kan nie, ek moet afgaan na die dipgate om nuwe dip in te gooi vir môre.” Sean is besig om sy humeur te verloor.

      “Magtag, Garry, hoekom is jy altyd so vervlaks hulpeloos?”

      “Is dit my skuld dat ek net een been het?” Garrick se trane is al weer naby. Die verwysing na sy been het die gewenste uitwerking. Sean koel onmiddellik af.

      “Ek’s jammer!” Sean glimlag op sy onweerstaanbare manier. “Ek sal jou sê. Ek sal die beeste brand en dan maak jy die gate reg. Laai die blikke dip op die skotskar en vat ’n paar stalvolk met jou saam om jou te help. Hier’s die sleutels van die pakkamer.” Hy gooi die bos op die bed langs Garrick. “Jy kan nog voor donker klaar wees.”

      In die deur draai hy om. “O, ja, moenie vergeet om al ses gate reg te maak nie, nie net dié wat aan die huis se kant is nie.”

      Garrick laai daarom ses blikke dip in die skotskar en ry teen die bult af. Nog voor donker is hy terug. Die voorkant van sy rybroek is swart gevlek van die teeragtige vloeistof en daar is ook ’n swaar dipkol op sy een stewel. Toe hy uit die kombuis in die gang af kom, hoor hy Sean uit die werkkamer roep. “Haai, Garry. Is jy al klaar met almal?”

      Garrick is verbaas. Waite se werkkamer is ’n heilige plek, as ’t ware die allerheiligste van Theuniskraal. Selfs Ada het geklop voor sy ingaan en die tweeling het net daar gekom om straf te kry. Garrick hink in die gang af en stoot die deur oop.

      Sean sit agteroor in sy pa se draaistoel met die stewels bo-op die skryftafel en die enkels netjies gekruis.

      “Pa sal jou doodmaak.” Garrick se stem bewe effens.

      “Pa is in Pietermaritzburg,” sê Sean.

      Garrick staan in die deur en kyk die kamer deur. Dit is die eerste keer dat hy die vertrek werklik sien. Op vorige besoeke was sy gedagtes te besig met die geweld wat sou volg. Die enigste meubelstuk in die vertrek wat hy goed ken, is die diep leunstoel waaroor hy altyd gebuk het om sy agterwêreld vir die sambok te hou.

      Nou kyk hy die kamer deur. Die mure is tot teenaan die dak uitgepaneel, die hout blink gepoleer en donkergeel. Die plafon is met sierpleister uitgevoer, ’n soort akkerblaarmotief. In die middel hang ’n lamp aan ’n koperketting. Die kaggel is van bruin gekapte klip gebou, yslik groot, ’n mens kan amper regop daar inloop. ’n Paar stompe lê reg vir die vuur. Op die lysie bokant die kaggel lê pype en staan ’n tabakkruik; in die rak langs die muur hang gewere. Langs dié ’n boekrak met swaar bundels in groen en maroen leer gebind, ensiklopedieë, woordeboeke, boeke oor reise en boerdery, maar geen fiksie nie. Oorkant die lessenaar hang ’n skildery van Ada teen die muur. Die kunstenaar het daarin geslaag om iets van haar kalmte daarin oor te dra. Sy dra ’n wit rok en in haar hand hou sy haar hoed. ’n Pragtige stel buffelhorings hang bokant die kaggel teen die muur en oorheers feitlik die vertrek met hul dik-getande knobbels en wye weglêpunt.

      Dis ’n man se kamer dié. ’n Mens kan dit sommer voel. Daar is los hondehare op die luiperdvelmat op die vloer en Waite se reuk hang in die lug, ’n reuk net so eie aan hom soos die tweedjas en breërandvilthoed wat agter die deur hang.

      Die deurtjies van die drankkabinet langs Sean lê oop en op die tafel staan ’n bottel brandewyn. Sean sit met ’n glasie in die hand.

      “Jy drink Pa se brandewyn,” kla Garrick hom aan.

      “Dis nogal glad nie sleg nie,” sê Sean. Hy hou die glas in die lug en bekyk die vloeistof daarin. Hy proe versigtig daaraan en hou dit in sy mond terwyl hy hom voorberei om te sluk. Garrick hou hom eerbiedig dop en Sean probeer hard om nie ’n gesig te trek as die brandewyn in sy keel afloop nie.

      “Wil jy ook hê?”

      Garrick skud sy kop en die walms kom op in Sean se neus en laat sy oë traan.

      “Pa sal jou doodmaak,” sê Garrick weer.

      “Sit daar,” beveel Sean. Sy stem is hees van die brandewyn se vuur. “Ek wil ’n werkplan opstel vir die tyd wat Pa weg sal wees.”

      Garrick stap na die leunstoel toe, maar voor hy daar kom, verander hy van plan; die herinneringe is darem te onplesierig. In plaas daarvan draai hy om na die bank en gaan op die rand sit.

      “Môre,” sê Sean met een vinger in die lug, “sal ons al die beeste in die huiskampe dip. Ek het Zama aangesê om te sorg dat hulle vroeg aankom. Jy het mos al die gate gedoen, nie waar nie?”

      Garrick knik en Sean gaan voort.


Скачать книгу