Witwatersrand. Wilbur Smith

Читать онлайн книгу.

Witwatersrand - Wilbur Smith


Скачать книгу
moet hom nie laat loskom nie. Die ou inkonka sal hom stukkend skeur. Toe, begin nou tel.”

      Sean klim teen die helling uit. Hy hou ver links van die kloof. Die gras op die steilte is glad onder sy voete, die geweer is swaar en tussen die gras is daar skerp klippe. Hy stamp sy toon ’n slag en dit begin bloei, maar hy hou aan met klim, boontoe. Op die rand van die bos waar die bosbok se lêplek is, staan ’n dooie boom wat Sean as ’n merk gebruik het. Hy klim tot bokant die ou boom en stop net onder die kruin waar die bewegende gras die skaduwee van sy kop teen die lug kan verberg. Hy hyg na sy asem. Hy kry ’n rots omtrent so groot soos ’n biervaatjie waarop hy die geweer kan laat rus en gaan sit op sy hurke agter dit. Hy laat rus die geweer op die rots, heuwel-af gemik en beweeg die loop van kant tot kant om te verseker dat hy ’n wye skietveld het. Hy sien al klaar hoe die bosbok voor sy korrel indraf en van opgewondenheid trek ’n rilling langs sy voorarm, oor sy skouer en teen sy rug op.

      “Ek sal nie voor hom mik nie, hy sal tog taamlik stadig loop, seker net draf. Ek sal reg op sy skouers mik,” fluister hy.

      Hy maak die geweer oop, haal die twee patrone uit sy hempsak, steek dit in die lope en klap die geweer toe. Hy moet al die krag van sy twee hande inspan om die twee groot, swierige hane oor te haal, maar hy kry dit reg en nou is die geweer dubbel gelaai en gereed. Hy lê dit weer op die rots voor hom neer en staar teen die helling af. Links van hom lê die kloof soos ’n donkergroen strook teen die heuwel en reg onder hom is die oop stuk gras waar die bosbok moet verbyloop. Hy stoot ongeduldig aan die hare op sy voorkop. Dit is klam van die sweet en bly lê bo-op sy kop en uit sy oë.

      Die minute sleep verby.

      “Wat de vrek vang Garry aan? Hy is partykeer ook so onnosel!” brom Sean.

      Asof Garrick hom antwoord, kom sy eerste geroep onder uit die kloof uit. Dit is ’n flou stemmetjie, baie ver teen die helling af en dit klink dof tussen die bosse. Tinker blaf een keer, maar dit klink sonder vuur. Hy is ook maar vieserig, want hy hou niks van die ketting om sy nek nie. Sean wag met sy vinger op een sneller en sy oë op die rand van die bos. Garrick skree nog ’n slag, dié keer harder en nader, en dan bars die bosbok uit sy skuilte. Hy kom vinnig oor die oop stuk gehardloop, sy neus in die lug en die lang horings plat op sy rug. Sean beweeg sy lyf sywaarts en swaai die geweer saam met die bewegende bok. Hy hou die stippeltjie van die korrel op sy swart skouers en trek die linkersneller. Die skop van die geweer stamp hom onderstebo. Sy ore sing van die slag en die kruitrook waai terug in sy gesig. Hy kom waggelend regop, die geweer nog altyd in die hand. Onder hom in die gras lê die bosbok. Hy blêr soos ’n lam en gee sy laaste stuiptrekkings.

      “Ek het hom!” skree Sean. “Ek het hom met die eerste skoot! Garry, Garry! Ek het hom, ek het hom!”

      Tinker kom uit die bos gestorm en trek Garrick agterna aan die ketting. Sean skree nog steeds en hardloop af na hulle toe. ’n Klip gee pad onder sy voet, hy verloor sy ewewig en slaan neer. Die haelgeweer spat uit sy hand en die tweede lading gaan af. Dit is ’n geweldige harde slag in die kloof.

      Toe Sean weer op sy voete kom, sit Garrick voor hom in die gras en kerm. Hy staar na sy been. Die skoot het die been getref en die lading hael het die weefsel onder die knie flenters geruk – dit is oopgevlek sodat die stukkies been wit in die wond sit en die bloed donkerrooi en sterk daaruit opborrel, dik soos vla.

      “Dit was ’n ongeluk … O, Here, Garry! Dit was ’n ongeluk! Ek het gegly. Regtig, ek het gegly.” Sean staar met stywe oë na Garrick se been. Sy gesig is asvaal en sy oë groot en donker van die vrees. Die bloed pomp-pomp uit in die gras.

      “Keer die bloed, Sean, asseblief! Keer dit! O, dis seer … O! Sean, keer dit, asseblief.”

      Sean strompel na hom toe. Hy voel naar. Hy maak sy lyfband los en bind dit om die been. Hy voel die warm, taai bloed op sy hande. Hy gebruik sy mes met skede en al om die lyfband styf te draai. Die gepomp van die bloed verminder effens en hy wring die band nog ’n bietjie stywer.

      “O, Sean, dis seer …” Garrick se gesig is so wit soos ’n laken en hy begin liggies te bewe van die skok.

      “Ek sal Josef gaan haal,” stamel Sean. “Ons sal so gou ons kan terugkom. O, Here, ek is jammer!” Sean spring op en begin hardloop. Hy slaan neer, spring weer op, maar hou aan hardloop.

      Binne ’n uur is hulle terug. Sean met drie Zoeloe-bediendes agterna. Josef, die kok, het ’n kombers saamgebring. Hy draai Garrick hierin toe. Die seun verloor sy bewussyn toe hulle hom optel en die been losswaai. Terwyl hulle teen die helling afgaan, kyk Sean uit oor die vlakte. Op die pad na Ladyburg staan daar ’n klein stofwolkie. Een van die stalvolk is met ’n perd op pad Ladyburg toe om vir Waite Courtney te gaan haal.

      Hulle wag op die stoep van die plaashuis toe Waite Courtney op Theuniskraal terugkom. Garrick het sy bewussyn herwin. Hy lê op die bank. Sy gesig is spierwit en die bloed sypel deur die kombers. Daar is bloed op Josef se uniform en die droë bloed sit swart op Sean se hande. Waite Courtney hardloop die stoep op, buk oor Garrick en vou die kombers oop. ’n Oomblik staan hy botstil na die been en kyk en maak dit dan versigtig weer toe.

      Waite tel Garrick op en dra hom na die verewaentjie. Josef stap saam en hulle laai Garrick op die agterste sitplek. Josef klim op en hou sy lyf vas en Garrick se stiefma vat die been op haar skoot sodat dit nie rondval nie. Waite Courtney klim vinnig op in die drywersitplek. Hy tel die leisels op en kyk dan om na Sean, wat nog altyd op die stoep staan. Hy sê geen woord nie, maar sy oë is verskriklik. Sean kan nie in hulle kyk nie. Waite Courtney haal met die sweep uit op die perde en dryf hulle terug op die pad na Ladyburg. Hy ry in dolle vaart en die wind waai sy baard om sy ore.

      Sean kyk hoe hulle wegry. Nadat hulle tussen die bome verdwyn het, staan hy nog ’n rukkie op die stoep. Dan spring hy skielik om en hardloop die huis binne. Hy nael by die kombuisdeur uit en oor die werf na die tuiekamer. Hy gryp ’n toom van die rak af en hardloop kraal toe. Hy soek ’n vosmerrie uit en druk haar in die hoek vas sodat hy sy arm om haar nek kan kry. Dan prop hy die stang in haar bek, gespe die toom vas en spring op die perd se kaal rug.

      Hy por die perd met sy hakke aan en stuur haar hek toe. Buite sit hy haar op ’n galop en vat die pad Ladyburg toe. In dolle vaart gaan hulle die helling af.

      Dis agt myl dorp toe, maar die verewaentjie is voor Sean daar. Hy kry dit voor dokter Van Rooyen se spreekkamer staan; die perde blaas hard en hulle lywe is swart van die sweet. Sean gly van sy merrie se rug af, stap die trappies op na die spreekkamer se deur en stoot dit stadig oop. Binne is daar die soet reuk van chloroform. Garrick lê op die tafel en Waite en sy vrou staan weerskante van hom. Die dokter is besig om sy hande in ’n skottel te was. Ada Courtney huil saggies, trane stroom oor haar gesig. Hulle kyk almal na Sean waar hy in die deur staan.

      “Kom hier,” sê Waite Courtney met ’n hol, uitdrukkinglose stem. “Kom staan hier langs my. Hulle gaan jou broer se been afsny, en sowaar as wat die Here leef, ek gaan jou elke sekonde daarvan laat sien!”

      4

      Die nag bring hulle Garrick terug na Theuniskraal. Waite Courtney ry stadig en versigtig met die verewaentjie en Sean kom ver agter te perd aan. Hy kry koud in sy dun kakiehempie en sy maag voel nog altyd naar van wat hy gesien het. Daar is kneusplekke op sy boarm waar sy pa hom vasgehou en hom gedwing het om te kyk.

      Die bediendes het lanterns op die stoep gesit. Hulle staan eenkant in die skadukolle, stil en angstig. Toe Waite die liggaampie in die kombers met die stoeptrappies opdra, vra een saggies in Zoeloe: “Die been?”

      “Dis af,” antwoord Waite skor.

      Hulle sug almal saggies en die stem praat weer: “Dit gaan goed met hom?”

      “Hy lewe,” sê Waite.

      Hy dra Garrick deur na die kamer wat vir gaste of siekte opsy gesit is. Hy bly in die middel van die kamer staan terwyl sy vrou skoon lakens oor die bed gooi. Dan lê hy die kind neer en maak hom toe.

      “Wat kan ons nog doen?” vra Ada.

      “Ons moet maar wag.”

      Ada voel-voel na haar man se hand. Dan prewel sy: “Asseblief, God,


Скачать книгу