Witwatersrand. Wilbur Smith

Читать онлайн книгу.

Witwatersrand - Wilbur Smith


Скачать книгу
is amper asof Garrick dit vergeet het.

      7

      Die volgende Vrydagmiddag kom Sean huis toe. Hy het ’n blou oog, al ’n taamlike oue, want op die randjie van die kneusplek begin dit al so groenerig word. Oor hoe hy die oog gekry het, is hy glad nie uitgesproke nie. Hy bring ’n broeisel eiers van ’n vlieëvanger saam en gee dit vir Garrick. In ’n kartondoos het hy ’n rooilipslang wat Ada onmiddellik ter dood veroordeel ondanks sy vurige pleidooi ter verdediging daarvan. Ook bring hy ’n boog saam, gesny uit m’sengahout, die hout wat volgens hom die heel beste boë maak.

      Sy koms bring die gebruiklike veranderinge in die huis op Theuniskraal: groter lawaai, meer heen en weer lopery en meer gelag.

      Die aand kry hulle ’n yslike stuk braaiboud en gebakte aartappels op hulle bord. Dis Sean se gunsteling-kos en hy eet soos ’n honger luislang.

      “Moenie so baie kos gelyk in jou mond prop nie,” raas Waite met hom van die kop van die tafel af, maar daar is geneentheid in sy stem, want dis vir hom moeilik om nie te laat blyk watter een van die seuns sy gunsteling is nie.

      “Pa, Frikkie Oberholster se teef het vandeesweek kleintjies gekry. Daar’s ses van hulle.”

      “Nee!” se Ada ferm.

      “Ag, toe wat, Ma. Net een!”

      “Sean, jy’t gehoor wat jou moeder sê.” Sean gooi sous oor sy vleis, sny ’n aartappel middeldeur en steek die een helfte in sy mond. Dit was die moeite werd om te probeer. Hy het nie eintlik verwag dat hulle sou inwillig nie.

      “Wat het jy alles vandeesweek geleer?” vra Ada. Dis ’n lelike vraag. Sean leer net soveel as wat nodig is om uit die moeilikheid te bly – niks meer nie.

      “O, baie goed,” antwoord hy lugtig, en om die onderwerp te verander, vra hy: “Is Pa al klaar met Garry se been?”

      Niemand antwoord nie. Garrick se gesig is heeltemal uitdrukkingloos en hy kyk af op sy bord. Sean sit die ander helfte van sy aartappel in sy mond en praat tussen sy gekou deur.

      “As Pa al klaar is, kan ek en Garry mos môre daar bo by die waterval gaan visvang.”

      “Moenie met jou mond vol kos praat nie,” snou Waite hom onnodig hard toe. “Jy gedra jou soos ’n vark!”

      “Jammer, Pa,” brom Sean en die res van die ete verloop in ’n ongemaklike stilte.

      Sodra hulle klaar is, ontvlug Sean na die slaapkamer. Garry gaan saam, spring-spring op sy een been terwyl hy met die hand teen die gangmuur druk om homself te stut.

      “Waaroor is Pa nou eintlik so omgekrap?” vra Sean sodra hulle alleen is.

      “Ek weet nie,” antwoord Garrick terwyl hy op die bed gaan sit. “Partykeer raak hy sommer net kwaad, jy weet mos, vir niks op aarde nie.”

      Sean trek sy hemp oor sy kop, draai dit in ’n klein bolletjie en gooi dit teen die oorkantse muur.

      “Jy moet dit liewer optel, anders is daar nog moeilikheid,” waarsku Garrick sag. Sean maak sy broek los en skop dit in die rigting van die hemp. Hierdie vertoon van minagting laat hom beter voel. Hy stap na Garrick toe en staan kaal voor hom.

      “Kyk, ek’t al hare,” sê hy trots. Garrick kyk met belangstelling. Dis ongetwyfeld hare.

      “Daar is darem nie baie nie.” Garrick kan nie die jaloesie uit sy stem hou nie.

      “Ag, ek is seker ek het meer as jy,” daag Sean hom uit. “Kom laat ons tel.”

      Maar Garrick weet dat hy klaar verloor het. Hy gly van die bed af en spring-spring oor die vloer. Hy druk teen die muur, buk en tel Sean se vuil klere op. Hy kom terug en gooi dit in die wasgoedmandjie langs die deur. Sean hou hom dop en hy onthou van die onbeantwoorde vraag wat hy netnou gestel het.

      “Is Pa al klaar met jou houtbeen?”

      Garry draai stadig om, sluk hard en knik vinnig.

      “Hoe’s dit? Het jy dit al aangepas?”

      Weer pak die vrees Garrick. Hy swaai sy kop heen en weer asof hy ’n plek soek waarheen hy kan vlug. Voetstappe klink in die gang voor hul deur. Sean duik in sy bed in, gryp sy naghemp en pluk dit oor sy kop terwyl hy tussen die lakens inskuif. Garrick staan nog by die wasgoedmandjie toe Waite Courtney die kamer binnekom.

      “Toe, toe, Garry, wat sukkel jy so?”

      Garrick haas hom na sy bed en Waite kyk na Sean. Sean glimlag vir hom met al die bekoring van sy mooi gesig en Waite se strak uitdrukking verslap. Hy glimlag terug. “Dis lekker om jou weer hier te hê, boet.” Dis onmoontlik om lank kwaad te bly vir Sean.

      Waite steek sy hand uit en vat ’n vuisvol van Sean se swart dik hare. “Ek wil nie hier ’n geselsery hoor nadat die lamp dood is nie, verstaan julle goed?”

      Liefderik pluk hy Sean se kop heen en weer op die kussing, verleë oor sy sterk gevoel vir sy seun.

      8

      Die son sit al hoog toe Waite Courtney die volgende oggend terugry na die opstal om sy ontbyt te eet. ’n Staljong vat die perd en lei hom weg na die kamp, maar Waite bly voor die tuiekamer staan en kyk om hom rond. Hy kyk na die netjiese wit heinings van die perdekamp, na die skoongeveede agterplaas en sy huis vol mooi meubels. Dis lekker om ryk te wees, veral as ’n mens weet wat dit was om arm te wees. Sewe duisend morg goeie weiveld en soveel bees as wat die grond kan dra, goud in die bank. Waite glimlag en stap oor die werf.

      Hy hoor Ada sing in die melkkamer:

      Hoe ry die Boere? Sit, sit, so!

      Sit, sit, so! Sit, sit, so! Hoe ry die Boere?

      Sit, sit, so! Sit, sit, so! Hoera!

      Sy het ’n soet, helder stem en Waite glimlag nog breër; dis lekker om ryk te wees en om verlief te wees. Hy gaan staan in die deur van die melkkamer. Die dik klipmure en die swaar grasdak maak dit koel en donker daarbinne. Ada staan met haar rug na die deur toe. Haar lyf beweeg op maat van die liedjie terwyl sy die karring draai. Waite kyk ’n rukkie na haar, dan stap hy nader en sit albei arms om haar middel.

      Verskrik draai sy om in sy arms en hy soen haar op die mond. “Goeiemôre, my mooi meisie.”

      Sy verslap teen hom. “Goeiemôre, Meneer,” sê sy.

      “Wat is daar te ete?”

      “Ag, watter romantiese gek het ek getrou!” Sy sug. “Kom, ons gaan kyk.”

      Sy haal haar voorskoot af, hang dit agter die deur op, druk haar hare reg en hou haar hand vir hom uit. Hand aan hand stap hulle oor die werf na die kombuis. Waite snuif hard.

      “Dit ruik lekker. Waar is die seuns?”

      Josef verstaan die witman se taal hoewel hy dit nie kan praat nie. Hy kyk op van die stoof.

      “Nkosi, hulle is daar op die voorstoep.”

      Josef het die tipiese maangesig van die Zoeloes. Wanneer hy glimlag, skitter sy tande groot en wit teen die swart van sy vel.

      “Hulle speel met Nkosizana Garry se houtbeen.”

      Waite se gesig word rooi. “Hoe het hulle dit in die hande gekry?”

      “Nkosizana Sean het my gevra waar dit is en toe het ek hom gesê die Nkosi het dit in die linnekas weggebêre.”

      “Jou ellendige swaap!” skel Waite. Hy los Ada se hand en hardloop. Net toe hy in die sitkamer kom, hoor hy Sean skree en iemand hard neerslaan op die stoep. Hy steek in die middel van die vertrek vas. Hy kan dit nie waag om uit te gaan en weer Garrick se vrees te aanskou nie. Hy voel naar van kommer en woede.

      Dan hoor hy Sean lag. “Klim af van my, jong. Moenie net daar lê nie!”

      En dan, wonderbaarlik, Garrick se stem. “Jammer, man, maar die ding het in die vloerplanke vasgehaak.”

      Waite


Скачать книгу