Grenslose liefde. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.’n Ry mense wag geduldig buite.
Die tentflap is oop en Carly loer in. Die dokter sit by ’n tafel en skryf in ’n lêer. Oorkant hom is twee oop stoele.
“Ek het vir Roger Kirumba gebring, dokter. Moet ons agter by die tou inval?”
Hy kyk op. “A, hier is julle. Nee, ek het gesê as julle kom, moet ek die man van die DRK eerste sien. Kom binne.”
Hy beduie dat hulle moet sit. “Verpleegster O’Neill vertel my jy voel oorweldig deur alles wat gebeur het, meneer Kirumba.”
Roger vryf met een hand oor sy gesig. “Ek weet nie watter kant toe nie, dokter. Ek was te bang om hospitaal toe te gaan, toe kom ek hierheen. Ek het alles verloor. My vrou en kinders is ook hier. Almal is siek.”
Die dokter se helderblou oë kyk simpatiek na hom. “Ons sal help sover ons kan, meneer Kirumba.”
Carly staan op. “Ek moet gaan werk. Julle moet praat. Dankie dat jy meneer Kirumba so gou spreek, dokter.”
Hy glimlag vir haar. “Dis reg so. Ek sien jou weer later.”
Sy loop uit, maar voel steeds asof haar ewewig versteur is. Hoe op aarde gaan sy met dié man saamwerk as hy so ’n onthutsende effek op haar het? Haar hart klop opnuut onreëlmatig.
Carly sien dokter Mackenzie die volgende twee dae slegs skrams hier en daar. Sy gesels net een keer met hom. Hy vertel haar dat hy Roger Kirumba behandel en vir hom medikasie gegee het. Sy ervaar weer die sensasie dat hy haar ewewig versteur en haar hart te vinnig laat klop.
“Daar is baie mense soos Roger,” sê hy. “Ons kan skaars voorbly.”
Daar verloop weer dae wat sy hom nie sien nie. Waar sou hy aan die werk wees? Hy is dan nie eens in die personeeltent wanneer sy tee en toebroodjies gaan haal nie.
Vandag gaan sy vir Tracy Stevens sowaar vra waar hy is. Carly loop na waar Tracy aan ’n broodjie sit en peusel. “Wat het van dokter Mackenzie geword?”
“Hy is weg. Hy moes terugvlieg Skotland toe.” Tracy is kortaf. Lyk en klink teleurgesteld.
Carly voel self afgehaal. Die man het skaars gearriveer, toe is hy weer weg. Sy sal hom seker nooit weer sien nie, maar hy het ’n diep indruk op haar gemaak. Nie net omdat hy so uitsonderlik aantreklik is nie. Hy is ook simpatiek. Om die waarheid te sê, het hy haar voete onder haar uitgeslaan. ’n Man wat gans te maklik is om op verlief te raak, al het sy haarself heeltyd aangepraat. Dit is miskien beter dat hy weg is.
“Ek hoop daar was nie ’n krisis in sy lewe nie,” sê sy.
Tracy frons vir haar. “Sy oom, die hertog van Seaforth, is dood. Hy het nie kinders gehad nie. Dokter Mackenzie is die volgende erfgenaam van die titel en Strahan Castle in Ross-shire. Hy is nou die vyf-en-twintigste hertog van Seaforth.”
Carly staar haar verstom aan. “Wat? Hy is die Hertog van Seaforth?”
“Ja, nou sal ons hom nooit weer sien nie. Hy gaan tog nie meer vir Dokters Sonder Grense kan werk nie. Ander verpligtinge wag op hom.”
Hy het soos ’n eksotiese voël weggevlieg, dink Carly. ’n Hertog. Bid jou aan. Dis amper soos iets uit ’n vorige eeu. Hy is vir altyd verlore vir gewone vroue soos Tracy, wat blykbaar sterk tot hom aangetrokke was … en vir vroue soos Carly ook.
Ná maande van werk vir Dokters Sonder Grense met vlugtelinge in die haglikste toestande en omstandighede, gaan Carly terug na haar meenthuis in Kaapstad. Een aand toe sy weer sit en nadink oor Colin Mackenzie wat so gou uit haar lewe verdwyn het, kry sy die idee om Strahan Castle te google om presies te sien waarheen hy is. Sy gryp haar skootrekenaar en gaan sit op haar bed. Die kasteel het sy eie webtuiste. Sy klik op die skakel wat haar soontoe neem. Sjoe, dit lyk omtrént indrukwekkend. ’n Mens kan blykbaar besprekings doen om die landgoed te gaan besoek, vis te vang in die rivier en loch, en in die woude te wandel. Daar is foto’s van ’n groot, vierkantige vierverdiepingkasteel met torinkies in die hoeke, groen woude, ’n rivier wat tussen smaraggroen oewers deurvloei, ’n blou meer en berge met sneeu in die agtergrond. Nee wat, Colin Mackenzie sal dié plek nie gou weer verlaat nie.
Toe sy later die aand in ’n skuimbad lê, besluit sy om vir eers iets anders, iets rustigers te doen. Sy kan miskien weer later vir Dokters Sonder Grense werk, maar dit is geweldig uitputtend en uitmergelend, fisiek en geestelik.
Met haar kop agteroor teen die bad se rand, sluit sy haar oë behaaglik. Dalk is dit nou die tyd om in kliniese sielkunde te gaan studeer soos sy al dikwels oorweeg het. Saam met haar graad in verpleging sal dit haar gesog maak vir traumaberading en -verpleging. Met dié plan in haar kop, sak sy tevrede dieper in die skuim weg.
2
Vyf jaar later.
Carly sit by haar kombuistoonbank met haar skootrekenaar voor haar. Sy tel die stomende koppie koffie langs haar op en neem ’n slukkie terwyl sy deur haar e-posse lees. Ná die alumni-brief van die universiteit, klik sy op Dokters Sonder Grense se nuusbrief.
Onmiddellik roep dit herinneringe aan die indrukwekkende Colin Mackenzie op. Al het vyf jaar verbygegaan, het Carly hom nooit vergeet nie. Hoe sou hy nou lyk? wonder sy. Ouer? Dalk is hy lankal getroud en het hy kinders.
Op die ingewing van die oomblik google sy die hertog van Seaforth en Strahan Castle weer.
Sy lees:
Strahan is 5,5 km from the town of Dingwall in Ross-shire in north-eastern Scotland, near the Cromarty Firth. The Conon River flows through the estate and Loch Ussie. It is 23 km or 30 minutes from the city of Inverness. The castle belongs to the Earl of Seaforth, the chief of the Clan Mackenzie, that dominated the whole region since the early Middle Ages.
The castle was the scene of many a romantic episode in history. The Mackenzie Jacobites were defeated here and the clan was forced to swear fealty to the English crown. The famous Seaforth Highlanders were formed here and they fought all over the British Empire. The regiment is now known as the Highlanders, the fourth batalion of the Royal Regiment of Scotland.
Strahan Castle was used as a hospital for a time during the Second World War. It deteriorated badly after the war but the twenty-fourth Earl of Seaforth had it renovated. He died childless. The current twenty-fifth Earl of Seaforth is his brother’s son, Doctor Colin Mackenzie.
Die webwerf het verander sedert Carly dit laas, kort ná haar termyn in die vlugtelingkamp, besoek het. Daar is verskeie foto’s van die kasteel en die landgoed met die loch, rivier en berge. Maar daar is nou ook ’n foto van Colin Mackenzie in Hooglanddrag, met sy kilt en sporran. Hy lyk manjifiek. Carly staar lank daarna.
Toe sien sy ’n skakel: Strahan Clinic. Gefassineer klik sy daarop.
Doctor Colin Mackenzie, the current Earl of Seaforth, is also a psychiatrist. He established the Strahan Clinic in the castle in partnership with Doctor Margaret Fraser for the rehabilitation and care of trauma victims and patients suffering from depression. Doctors Mackenzie and Fraser are members of the Royal College of Psychiatrists.
Strahan Clinic admits a limited number of patients. Besides the two partners, the clinic’s staff consist of a secretary cum receptionist, three nurses and three orderlies.
The staff managing the castle and estate are a separate team consisting of the general manager, gardeners, a housekeeper and butler, kitchen staff (who also serve the clinic), cleaners and assistants.
Since the opening of the clinic, the castle has not been open to the public. Patient confidentiality is strictly maintained.
Colin Mackenzie het sowaar nie sy beroep laat vaar nie. Hy kon die lewe van ’n ryk grondbaron gelei het, maar hy wil eerder steeds sy medemens help. Carly wens sy kan hom weer te siene kry.
Toe kry sy ’n blink idee. Waarom doen sy nie aansoek vir ’n pos daar by sy kliniek nie? Vanweë haar pa se Ierse afkoms het sy ’n Britse paspoort in haar besit. Sy het boonop nou die regte kwalifikasies vir daardie soort kliniek.
Opgewondenheid laat haar hart