Grenslose liefde. Malene Breytenbach
Читать онлайн книгу.is naby Inverness. Die Mackenzies was prominente Jakobiete en hulle het in die opstande teen die Engelse koning geveg. Van hulle het by Culloden gesneuwel en daar is ’n steen opgerig waarop hulle name staan. Strahan Castle is deur die Engelse beleër en die clan se hoof, Mackenzie, is verslaan. Sy eiendom en titel is afgevat. Later het die Mackenzies trou gesweer aan die Engelse kroon en toe kry hulle al die besittings, titel en voorregte terug. As hulle nie by die Engelse gaan kruip het nie, het my neef nie nou die groot kasteel gehad nie.”
Carly kyk uit die hoek van haar oog na Duncan Urqhart. Dit klink vir haar asof hy ’n goeie dosis afguns ingekry het. Colin Mackenzie is wel die erfgenaam, maar nie die direkte afstammeling van die vorige lord nie en dalk grief dit Duncan dat die neef hierheen kon kom en alles inpalm. En toe maak hy boonop van die kasteel ’n kliniek.
“Lady Barbara is jou tipiese snob,” sê hy. “Sy wou hê Colin moet in die House of Lords gaan sit en ’n politikus wees, of minstens in die Skotse parlement dien, maar hy verkies om as psigiater te werk. Vandat sy saam met Colin in die kasteel ingetrek het nadat hy alles geërf het, wil sy haar wát verbeel. ’n Mens sou sweer haar man was die laaste hertog en sy die hertogin. Maar sy het nie die titel van lady nie. Sy is ’n gewone mevrou.”
Carly hou nie van ’n geskinder nie, maar hierdie inligting is tog insiggewend, al word dit venynig oorgedra.
Hulle ry oor ’n brug en al langs ’n rivier. Die pad kronkel deur hoë bome. Om ’n draai is daar ’n kennisgewing: Strahan Castle and Clinic.
Carly se hart begin sommer vinniger bons. Duncan Urqhart hou stil voor ’n reusagtige gietysterhek tussen twee mure wat grotendeels deur smaraggroen klimop bedek word. In die gietyster van die hek staan die naam Strahan Castle. Langs die hek is ’n kennisgewing wat sê: Private. Trespassers will be prosecuted.
“Daar kom alewig nuuskierige toeriste hier aan wat die kasteel wil besigtig,” sê Duncan. “Ons moet dit duidelik maak dat hulle nie kan inkom nie. Maar as jy my vra, is dit jammer dat ons daardie inkomste moet verbeur. Ander kastele vra toegang en alles help om die landgoed aan die gang te hou.”
Hy haal ’n afstandbeheerder uit sy sak en druk ’n knoppie. Die hek skuif rammelend oop. Hulle ry deur en dit skuif weer agter hulle toe. Hulle is nou op ’n geplaveide pad. In die verte doem die kasteel op wat Carly in die foto’s gesien het. In die werklikheid is dit veel mooier, omring deur groen gras en hoë bome.
“Sjoe, dis mooi hier,” sê sy.
“Jy is gelukkig dat die son vandag skyn. Dit kan somber op reëndae wees. Ek hoor julle mense van Afrika kry swaar wanneer die son nie skyn nie.”
“Ag nee wat, ek gee nie om nie. Baie reën maak die landskap groen en waterryk.”
Hulle ry by ’n klein loch verby waar die water stil soos ’n silwer spieël lê.
Hoe nader hulle aan die kasteel kom, hoe groter lyk dit. Carly sien vir die eerste keer mense. ’n Vrou in ’n wit uniform stoot iemand in ’n rolstoel oor die grasperk. Daar is bankies onder bome en op een sit ’n man roerloos. Duncan ry tot voor ’n ingang waar deure so groot soos dié van ’n katedraal oopstaan.
“Ons klim hier uit,” sê hy. “Ek moet jou eers na dokter Mackenzie toe neem. Moenie jou oor jou bagasie bekommer nie, ek sal sorg dat dit na jou kamer geneem word. Jy sal tuisgaan in een vleuel van die kasteel saam met die ander verpleegster uit Suid-Afrika. Die res van die personeel bly in kothuise op die terrein.”
Hy skakel die voertuig af en kyk met ’n frons na haar. “Ek hoop jy kan dit hier uithou. Jy lyk vir my gans te mooi en broos vir dié soort werk. Waarom het jy nie liewer ’n ander beroep gekies nie?”
“My werk is vir my ’n roeping,” vat sy hom kort. “En ek is taaier as wat ek lyk.”
4
Carly volg Duncan Urqhart by die gebou in. Hulle loop deur ’n reuseportaal. Sy kyk verstom om haar rond toe sy binnekom. Dié plek lyk nie na ’n kliniek nie, eerder na die Middeleeuse kastele wat sy op foto’s en in films gesien het. Die meubels is van donker hout, en ’n paar groot tapisserieë hang teen die mure. Oral pryk die heraldiese wapen van die Mackenzies en daar is selfs ’n wapenrusting in die portaal. Teen die mure is spiese en claymores, die slagswaarde wat die Skotte gebruik het om teen mekaar te veg.
Die vloer is yskoud.
Daar is verskeie skilderye van Skotse here wat in volledige Skotse drag met kilt en sporran pryk. Die een naaste aan haar is van Colin Mackenzie. Dit lyk soos die foto wat sy op die internet gesien het. Sy blou oë kyk haar direk aan en dit voel asof hy in haar hart en siel kan inkyk. Binnekort sien sy hom weer in lewende lywe.
Hulle loop deur die portaal en groot saal, dan deur ’n deur in ’n heel ander opset in. Hier is ’n ontvangstoonbank waar daar ’n jongerige vrou met donker hare by ’n rekenaar sit. Op die vloere is liggroen matte en skilderye van landskappe hang teen die muur. Agter teen die muur staan ’n ry staalkabinette.
“Jessie, ek het ons nuwe verpleegster, Carly O’Neill, gebring,” sê Duncan.
Hy stel hulle voor. “Jessie Hart is die ontvangsdame en algemene sekretaresse.”
Die vrou kyk met vriendelike grys oë na Carly. “Welcome. I hope you will be happy here with us.”
Carly hou sommer dadelik van haar. “Dankie, dit is vir my baie opwindend om hier te wees,” antwoord sy in Engels.
Jessie Hart staan op en loop om die toonbank. “Dis ook ’n hele gesukkel vir ’n buitelander om by ons te kom werk, nè? Soveel reëlings en rompslomp. Maar ons is bly jy is hier. Ons ander Suid-Afrikaanse verpleegster is Dudu Khumalo. Sy kom van Durban af en dit was net so ’n gedoente vir haar om hier te kan kom werk. Maar dokter Mackenzie sê die verpleegsters met wie hy in Suid-Afrika saamgewerk het, is die beste en hardwerkendste wat hy ken.”
Sy draai na Duncan. “Dankie, meneer Urqhart, ek sal vir verpleegster O’Neill na dokter Mackenzie neem.”
Hy lig sy hand na sy voorkop in ’n groet. “Goed. Ek sien jou seker die een of ander tyd weer, juffrou O’Neill? Lekker werk.”
“Dankie, meneer Urqhart.”
Sy en Jessie Hart loop in ’n gang af.
“Ons spreekkamers is hier,” sê Jessie. “Julle drie verpleegsters deel een groot kantoor en dokters Fraser en Mackenzie het natuurlik elkeen ’n kantoor. Ander personeellede is elders.”
Hulle kom by ’n bruin houtdeur waarop die naam Dr Colin Mackenzie in geelkoperletters aangebring is.
Carly se hart rumoer in haar keel.
Jessie klop, ’n stem antwoord, en hulle gaan binne.
Colin Mackenzie sit in sy wit jas agter ’n lessenaar met ’n skootrekenaar oop voor hom. Hy kyk op toe hulle inkom, staan op en glimlag.
Carly se hart tol behoorlik. Sy kon daardie tanzanietoë in al die jare nadat sy hom ontmoet het, nie vergeet nie. Hier kyk hulle weer oor ’n kort afstand na haar. Hy kom agter die lessenaar uit en steek sy hand uit. Dit omvou hare warm en stuur skokke deur haar arm en lyf. Sy kyk op na hom. Die mooi mond met wit, reëlmatige tande glimlag vir haar. Hy lyk nie so bruingebrand soos toe sy hom laas in Afrika gesien het nie, maar sy skouers is steeds ongelooflik breed en sy rooibruin hare, soos die pels van ’n vos, blink.
Sy probeer wegsteek dat hy haar van voor af oorweldig.
“Welkom,” sê hy. “Uiteindelik is jy hier.”
Sy glimlag. “Ja, uiteindelik, en baie bly om hier te wees.”
Hy beduie dat hulle op twee gestoffeerde donkergroen gemakstoele by ’n lae houttafel moet gaan sit, en hy gaan sit oorkant hulle. Die vertrek is in rustige lig- en donkergroen en wit gemeubileer. ’n Groot skildery van ’n Hooglandse toneel met langhaarbeeste oorheers een muur. Daar is ook kaste teen die mure.
“Jy moet jou tuismaak,” sê hy. “Jessie sal