Sirkus. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Sirkus - Irma Venter


Скачать книгу
kort ’n onderskeiding. Saterdag begin ek as kelner by die Four Seasons werk. Ek moet volgende jaar net vir myself sorg, my PetroChem-beurs gaan vir my BSc-kursus betaal. Ek behoort dit te maak. As jy by die Seasons reg glimlag, die spyskaart uit jou kop ken en vooruit kan sien wat mense nodig het, tip hulle fantasties. Veral sakemanne oor veertig wat sonder hulle vrouens kom uiteet.

      Ek hoor ’n gekletter in die garage. Wat maak die Hollander?

      Ek loop agter die geraas aan.

      Die blou gereedskapkis staan in die verste hoek. My pa is besig om dit toe te pak met ’n klomp ou dakteëls. Hy kom regop asof sy rug seer is. Ek vergeet soms hy’s al vyftig.

      “Pa?”

      Hy skrik, glimlag verlig toe hy my sien. “Dis jy. Haai.”

      Hy het ’n netjiese broek en hemp aan. Sy beursie en motor­sleu­tels lê op die werkbank.

      “Waarheen is Pa op pad? Ek gaan aandete maak. Ma slaap al.”

      “Ek weet. Jy hoef nie kos te maak nie. Ons gaan uit.”

      “Nou?”

      “Wil jy nie bietjie gaan uiteet nie? Ons kan Hillbrow toe. En hoekom hoor ons nie of Tiny en Daisy wil saamgaan nie.”

      Hy kom nader, sit sy hand op my skouer. “Ek het goeie nuus. Ek gaan môre bedank.” Hy lyk verlig, die glimlag laat sy oë blink.

      “Kan ons dit bekostig?”

      “Ons sal okay wees. Ek wil meer tyd saam met jou en jou ma deurbring.”

      “Nou skielik? Noudat sy beter is en ek universiteit toe gaan?” Die woorde borrel uit voor ek kan keer.

      “Ek weet, meisje. Ek’s jammer.”

      Ek bly stil. My nerwe is te dun om nou hierdie gesprek te hê.

      “Ek’s regtig jammer, Adriana. Die laaste paar jaar … Maar die tyd is uiteindelik reg. Dinge begin verander. Alles gaan verander. Hierdie land … Dit gaan beter word.”

      Ek glo hom nie.

      Hy vat sy beursie en sleutels. “So, ons kan gaan uiteet?”

      “Ek moet swot.”

      “Dit sal gou wees. ’n Uur en ’n half.” Hy knyp my wang asof ek ses is. “Buitendien, dis jou laaste vraestel, en soos ek jou ken, is jy lankal deur jou werk. Wiskunde is mos jou beste vak.”

      Ek is verbaas dat hy dit weet.

      “Moet ek regtig so smeek?” praat hy weer, glimlag.

      Seker nie. Dit sal lekker wees om saam met hom te kuier. Ons het lank laas uitgeëet. En hy is reg. Ons het iets om te vier. Ek is net so bly soos hy dat hierdie gemors met die Education Trust en die bliksemse geld nou verby is.

      “Ek gaan trek gou aan. Gee my tien minute.”

      Die dag se laaste lig breek rooi en oranje tussen Hillbrow se woon­stelblokke deur. Die strate is raserig en besig. Mense van elke kleur en taal kom huis toe of maak reg om uit te gaan.

      Ons ry verby Café Three Sisters, Look & Listen, Exclusive Books en Hillbrow Records tot in ’n systraat. My pa parkeer oorkant Roxy’s en ons stap oor die pad. Sou hy weet ek glip gereeld weg hiernatoe? Hy het nie eers gevra waar ek wil eet nie.

      Ons loop tot in die stegie. Binne is Roxy’s nog stil. Ek kyk na die program teen die muur. Oor ’n uur gaan ’n jazz-orkes van Soweto begin speel, die een waaroor ek so mal is.

      Ons gaan sit by ’n tafel wat vir vier mense gedek is.

      “Tiny en Daisy kom netnou,” sê my pa. “Vir nagereg.”

      ’n Kelnerin kom nader, notaboek in die hand.

      “Sjampanje,” bestel hy.

      “Nie vir my nie,” keer ek. “Ek is nie mal oor sjampanje nie.”

      Hy lyk afgehaal. Ten minste vra hy nie hoe ek weet hoe sjampanje proe nie.

      “ ’n Glasie wyn dan?”

      “Cabernet sauvignon, asseblief. Wat ook al hulle per glas het.” Eendag gaan ek ’n hele bottel bestel. ’n Duur, goeie bottel.

      Die kelnerin kyk my op en af.

      Ek wens ek het my hakke aangehad. Ek het hulle in die kas gelos, voor my pa allerhande vrae vra. Die bietjie grimering en swart rok is nie genoeg om my ouer te laat lyk nie. Vir die honderdste maal wens ek ek was langer.

      “Twee glase cabernet, asseblief,” sê my pa vir die kelnerin.

      “Hoe oud is sy?”

      Ek vererg my. Kan die vrou nie met my praat nie?

      “Agtien.”

      Die kelnerin glo hom nie.

      “Ek belowe. Sy verjaar vandag.”

      Toe die kelnerin wegloop, haal hy ’n toegedraaide boksie uit sy sak. “Het jy gedink ek het vergeet?” Hy gee dit vir my, leun oor en soen my op die wang. “Ek hoop dis ’n wonderlike jaar vir jou.”

      “Dit was nou lekker.” Oom Tiny lig sy glas. “Op Adriana.”

      “Op Adriana,” eggo Daisy.

      Tiny glimlag breed. “Jy lyk pragtig. Ek kan nie glo jy’s agtien nie. Dit voel soos gister dat jou pa jou die eerste keer by die gym afgelaai het. Hoe oud was jy? Elf?”

      “Nege.”

      “Nege? Jislaaik!”

      “Ja, toe nou,” lag Daisy. “Jy gee net jou ouderdom weg.” Sy klink haar glas teen myne en my pa s’n.

      Sy lyk gelukkig. Die Hollander lyk gelukkig. Dit maak my gelukkig, al wil ek dit nie hardop sê nie. Al voel dit kortstondig en buite my beheer. Gevaarlik amper, om so bly te wees omdat ander mense bly is.

      Die eerste dralende note van Miles Davis se Blue in Green klink van die verhoog af op. Die geruis van stemme raak stil. Die swart man met die dikraambril wat die trompet speel, maak sy oë toe. Hy speel asof ons nie saak maak nie, asof hy van ons vergeet het. Asof hierdie land en sy geweld nie bestaan nie.

      Ek is skielik lus om te loop. Dalk hou die oomblik vir ewig aan as ek nie hier is wanneer die musiek stop nie.

      Ek leun terug in my stoel, ruik die parfuum wat ek in die kleedkamer aangesit het. Chanel. Die Hollander het dit nie gekies oor die geur nie, sê hy, maar oor die sterk, flambojante vrou na wie dit vernoem is. Oor ek glo soos sy is.

      Ek voel sy oë op my. Dis asof hy weet wat ek dink. Hy wys met sy ken deur se kant toe, lig sy wenkbroue. Ek knik. Sodra Miles verby is.

      Daisy leun oor na my, fluister: “Ek gaan badkamer toe. Gaan julle waai?”

      “Ja. Net hierna.”

      “Dan groet ek solank. Jy weet hoe lank die rye daar binne is.” Sy druk my hand en blaas ’n soen vir my pa.

      Buite Roxy’s blink die strate van die reën en olie op die teer wat boontoe skif in die nattigheid. Die lug ruik na nat sement en grond.

      Ek haak by my pa in. “Dankie. Dit was ’n heerlike aand.”

      Ons kies koers na waar die motor oorkant die pad staan.

      Ek hoor die voetstappe voor ek sien wie dit is, die hardesool­klank van netjiese skoene. Voor in die pad verskyn ’n man tussen twee geparkeerde motors. Hy kom vinnig in ons rigting, sy hande in sy baadjie se sakke gedruk.

      Daar is niemand anders op straat nie. Ek hoor ’n vrou iewers naby lag. Sy lag soos ek al dikwels in Hillbrow gehoor het – te hoog en waarderend, asof sy betaal word om dit te doen.

      Die man kyk op soos ons


Скачать книгу