Sirkus. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Sirkus - Irma Venter


Скачать книгу
landskaptonele, geskilder deur E Fey. Rye foto’s hang teen die ander muur. Op die vloer lê ’n geweefde rooi mat.

      Weer dink ek aan Adriana. Dié vertrek lyk amper asof sy dit ver­sier het. Ek sweer hierdie vrou is familie van haar.

      Liesbet maak die deur sag en beslis toe. Sy loop verby my en gaan sit, beduie na die stoel oorkant hare. Daar is geen lessenaar nie. Niks om dit soos ’n onderhoud te laat voel of jou bang te maak dat iemand in jou kop gaan rondkrap nie.

      ’n Foto van ’n jetty wat ver die see in strek, trek my aandag. In die voorgrond staan ’n ou man met wit hare en skerp blou oë langs ’n Land Cruiser. Ek sweer ek ken die plek.

      Ek draai na haar. “Swakopmund?”

      “Ja. Ek was ’n proponent daar tot so vyf maande gelede. Nou is ek hier, een van drie leraars vir hierdie kerk.”

      Ek staar weer na die foto. “Ek sou die see te veel mis om hierheen te kom.”

      “Wil jy nie maar sit nie? Ek sal nie byt nie.”

      Deur die oop venster hoor ek hoe die grassnyer stil word. Veraf klap ’n bal teen ’n krieketkolf.

      Ek gaan sit onwillig.

      “Jy’t gesê jy wonder oor kinders. Waaroor wonder jy?”

      Ek kruis my arms, sug. “Of ek kinders moet hê. Wil hê.”

      “Dis nogal ’n belangrike verskil.”

      “Nie regtig nie … Wel, ja, miskien.”

      “Is jy getroud?”

      “Ek bly saam met iemand. Ek dink hy wil kinders hê.”

      “Dink?”

      Hmm, uitgevang. Alex was nie seker van sy saak nie.

      Sy leun vorentoe. “As jy moet praat sonder om te dink, wat sê jou hart?”

      “Ek weet nie. Ek raak ouer, die tyd raak minder. Maar my ouerhuis … dit was nie maklik nie. Leer mens nie meeste van jou slegte gewoontes by jou ouers aan nie?”

      “Party gewoontes dalk, maar nie almal nie. Sommige is maar ons eie. En ook ons eie skuld.”

      “Jy’s seker reg.”

      Ek skuif ongemaklik rond. Wat moet ek doen? Ek wil vir seker nie verder oor kinders praat nie. “Ken jy regtig nie ’n Adriana nie?”

      “Jy sê haar van is De Klerk?”

      “Ja.”

      ’n Stem praat skielik by die venster. Ek skrik. Soek na die wapen agter my rug.

      “Totsiens, dominee,” groet die ou man wat netnou nog gras gesny het. “Sien dominee oormôre weer.”

      Liesbet draai na hom dat hy haar lippe kan lees. “Dag, oom Freddie. Mooi ry.”

      Toe sy terugsit in haar stoel, weet ek ek het die Glock te laat gelos.

      Sy huiwer ’n oomblik. “Wat is agter jou rug?”

      “Niks nie.”

      “Is dit ’n pistool? Ons laat geen wapens in die kerk toe nie.”

      Ek antwoord nie. Wat moet ek sê?

      “Frankie … Is jy regtig hier om te gesels?”

      Ek skud my kop stadig, versigtig. “Nee.”

      Die hek skuif oop, dan toe. Seker oom Freddie wat sy fiets vat en ry.

      “Wie is jy?”

      “Polisie.”

      “Wys my jou identifikasiekaart.”

      Ek hou my hande op. “Okay, wag. Adriana de Klerk het my gestuur.”

      “So jy’s nie van die polisie nie.”

      “Nee.”

      In die stilte hoor ek ’n deur oopgaan. Het oom Freddie iets vergeet?

      Ek is dadelik op my voete. Besef nou wat nog heeltyd in my agter­kop krap: Liesbet het nie die sydeur gesluit nadat ons ingekom het nie.

      Sy laat sak haar regterhand tot langs haar stoel, haar oë heeltyd op my. Sy soek deur haar handsak, haal ’n selfoon uit. Maar sy gebruik nie die foon nie, staar net kalm na my.

      “Daar’s geen geld in die gebou nie. Ek belowe jou dit.”

      Ek skud my kop. “Ek soek nie geld nie. Adriana …”

      Die voetstappe wat nader kom, is versigtig, maar swaar genoeg om die vloerplanke te laat kraak. Ek kan drie pare uitmaak. Ses voete.

      Dit kan nie die blomme wees nie, dit neem nie drie mans om ’n begrafnisruiker af te lewer nie.

      Liesbet se vraende oë sê sy het ook die voetstappe gehoor.

      Ek is met twee treë by die kantoordeur, maak dit oop en bereik die konsistoriedeur, draai die sleutel in die slot.

      My foon lui. Ek ruk dit uit my sak. “Adriana?”

      “Kry vir Liesbet en gee pad. Nou dadelik!” Sy klink uitasem.

      “Wat gaan … Is jy okay?”

      “Liesbet. Maak gou!” Die foon gaan dood.

      Ek trek die Glock uit die holster agter my rug en haal dit oor. Beduie vir Liesbet: Kom.

      Die kalmte wyk uit haar gesig. “Wag nou, ek …”

      “Sjuut!” fluister ek dringend. “Daardie voetstappe wat jy hoor … Dis mans wat kom om jou seer te maak.”

      “Dis dalk die blomme …”

      “Dit is nie.” Ek trek haar hardhandig op. “Is hier ’n buitedeur?”

      Sy beduie na die oorkant van die konsistorie. “Daar agter die gordyn. Maar ek …”

      “Kom!”

      Sy rem terug, haar lyf swaar en onwillig.

      Ek dwing myself om kalm te praat. “Liesbet. Vertrou my. Asseblief.”

      Sy ruk my hand los, mik terug na die konsistoriedeur.

      “Dominee Fey?” Die stem aan die ander kant van die deur is diep, ongeduldig. “Ons moet dringend met jou praat.”

      Sy vries in haar spore.

      “Kom, in hemelsnaam,” sis ek.

      Die deur voor haar se koperhandvatsel beweeg.

      “Dis gesluit. Breek dit af,” sê dieselfde stem.

      ’n Harde stamp laat die deur in die kosyn sidder.

      Dit laat Liesbet lewe kry. Sy spring om, gryp haar handsak, hardloop na die buitedeur, grawe vir sleutels.

      Die konsistoriedeur splinter in die middel.

      Liesbet druk ’n sleutel in die slot. Verkeerde een.

      Ek draai om, my rug teen hare, pistool gereed.

      Sy hou aan soek, haal vlak en vinnig asem.

      “Komaan, komaan, komaan,” bid ek sag.

      Nog ’n harde stamp teen die deur. “Dominee Fey, kom nou. Moenie moeilik wees nie.”

      Uiteindelik, die regte sleutel. Liesbet sluit die deur oop, dan die veiligheidshek.

      Agter ons gee die konsistoriedeur mee.

      Ons hardloop uit. Liesbet mik na die Renault.

      “My kar is beter,” sê ek.

      Sy swenk agter my aan in die rigting van die Hilux, kry in die hardloop die afstandbeheerder. Die hek skuif oop.

      “Shaquel! Keer!” roep ’n stem agter ons.

      Ek grawe in my baadjiesak na die bakkie se sleutels.


Скачать книгу