Sirkus. Irma Venter
Читать онлайн книгу.al weer aan flarde.
Ek trek my tekkies aan, ’n ligte baadjie bo-oor die T-hemp. Sit die Glock in sy holster en skuif dit tot in my rugholte. Pak die Nikon in my rugsak, Adriana se verkyker, ’n fles koffie.
Hoekom het ek my nou weer in hierdie gemors begewe?
Seker omdat ek verveeld is. En, as jy in ’n Afrikanerhuis grootgeword het, raak jy nooit heeltemal van jou skuld en sonde ontslae nie.
Wat op aarde het Adriana so op hol? Moet iets ernstigs wees.
Ek gooi die rugsak oor my skouer, vat die bakkie se sleutel. Adriana het gesê ek moet die restaurant se wit Hilux gebruik. Daar’s soveel van hulle op die pad dat ek maklik in die verkeer kan verdwyn as dit nodig is.
In die ry bel ek vir Boris. Die Bulgaar is stil en nukkerig soos altyd. Ja, Adriana het met hom gepraat, hy sal vanaand agtuur by my oorneem.
Ek kyk op my horlosie. Dis nou vieruur. Hopelik gaan die tyd vinnig verby.
’n Hoeksteen van rooskleurige marmer verklaar dat mevrou Hester de Bruin die eerste sooi vir die gebou voor my gespit het. Dit sê nie wie sy was nie.
Ek praat kamstig op my foon terwyl ek die NG kerk agter die groen palissadeheining dophou. Ek sit al ’n halfuur lank hier en wonder wat om te doen. Dis warm in die bakkie en die Novemberson steek. Die belofte van ’n laatmiddag-donderstorm is besig om in die ooste te verdwyn, donker en rammelend.
Die kerk is van bruin bakstene, die ontwerp vierkantig, die deurkosyne wit geverf. Die dubbeldeure – lyk soos geelhout – het ’n veiligheidshek en die vensters diefwering. Alles is van dik staal wat rondlopers reeds van die sypaadjie af waarsku om verby te hou.
Langs die kerk staan madeliefiebosse in blom onder digte kareebome, al langs die grensmuur af. Die beddings is netjies afgespit en wit stene skei die grasperk van die parkeerarea. Onder die boom naaste aan my staan ’n stokou vuilbruin Renault. Nie ver daarvandaan nie is ’n fiets aan die heining vasgeketting. ’n Ou man stoot ’n grassnyer heen en weer oor die gras.
Ek het die telefoonnommers wat Adriana my gegee het – een selfoon en twee landlyne in Pretoria – geskakel, gereed met ’n verskoning van “verkeerde nommer”. Geen antwoord. Al drie fone het net gelui.
Hoe moet ek Elizabeth Fey oppas as ek nie weet waar sy is nie?
Ek fynkam die straat in die truspieëltjie. ’n Ent weg het nog twee motors stilgehou. Seker ouers wat wag dat die krieketwedstryd by die laerskool oorkant die pad klaarmaak.
Ek klim uit en loop teen die heining af. Toets die hek, maar dit wil nie roer nie. Die ou man hou aan met gras sny, sy rug na my.
Orrelmusiek klink skielik op; dit vloei deur die kerk se oop vensters. Klink soos Bach se Toccata en Fuga in D-mineur. Mooi. Heftig.
Ek klim terug in die bakkie. Die krieketspelers jil asof iemand been voor paaltjie betrap is. ’n Skaatsplank tref die teer hard. Ek sien in die kantspieël hoe ’n seun ’n 360º-flip probeer doen. Hy val, spring vinnig op, draf weg met die skaatsplank onder sy arm.
Dalk moet ek die ander adres op die papier gaan soek.
Nee. Maak eers seker van hierdie adres, anders hardloop ek en Boris heeltyd soos mal goed rond.
Dis jammer ek mag nie Sarah se hulp vra nie. Sy sou die selfoon vinnig kon trace.
Dan bly net een opsie oor. Ek druk die toeter. Die man met die grassnyer hoor blykbaar niks, gaan net aan met sy werk. Bo-oor die gedreun hoor ek steeds die orrel.
Ek toet weer, harder, aanhoudend. Die orrel raak stil, die grassnyer dreun voort.
Nie die resultaat waarop ek gehoop het nie. Laat ek liewer na die ander adres ry en kyk wat daar aangaan.
Ek draai die sleutel in die aansitter. Die kerk se sydeur gaan oop en ’n jong vrou verskyn, afstandbeheerder in die hand. Seker die orrelis. Sy laat die hek oopgly en beduie ek moet inry.
Ek wil wegjaag, maar bedink my dan. Dit sal te veel aandag trek. En hopelik kan die orrelis my sê waar om dominee Elizabeth Fey in die hande te kry.
Ek ry in en parkeer langs die ou Renault – neus hek se kant toe, soos mens leer om te doen as jy heeltyd vir alles en almal weghardloop.
Die vrou glimlag toe ek uitklim, wys na die ou man wat met die grassnyer agter die kerk in verdwyn. “Oom Freddie is al stokdoof, jy moet hom maar verskoon.”
Sy steek haar hand uit. “Aangename kennis. Ek’s Liesbet.”
“Hallo. Frankie Beekman.” Amper sê ek Ranna.
Sy lyk koel in jeans en ’n sagte wit bloes. Haar handdruk is ferm en beslis.
Agter haar woorde huiwer ’n vae aksent. Iets Europees. Duits?
Dan tref dit my. Liesbet – kort vir Elizabeth?
Adriana maak my dood. Liesbet Fey moes nie eens van my bestaan geweet het nie.
“Jy’s seker hier oor die blomme vir môre se begrafnis?” Haar gesig is oop en vriendelik, sonder die wantroue wat die meeste Gautengers met hulle saamdra.
“Blomme? Nee.” Ek soek uitkomkans. “Dan is julle seker besig. Ek sal later weer kom.”
“Dis nie nodig nie. Ek wag mos nou in elk geval vir ’n aflewering. Kom gerus in.” Sy beduie na die oop deur.
“Maar die orrel? Jy oefen seker.”
Sy skud haar kop. “Ek speel so nou en dan, maar dis net ’n stokperdjie.”
Toe ek huiwer, raak sy aan my voorarm, vlugtig en warm. “Waarmee kan ek help?”
Ek moet versigtig lieg. Hierdie vrou is wakker.
Ek meet haar met my blik: bruin oë, lang bruin hare, sterk kakebeen.
Meteens lyk sy bietjie soos Adriana. Die lyf atleties, maar effens rond, en langer.
Nee. Sy lyk dalk na Adriana, maar Liesbet Fey se lyf praat ’n ander taal, gesellig en warm. En al is haar stem ryk en diep soos Adriana s’n, praat sy meer vloeiend, minder afgemete, minder versigtig.
“Is jy dominee Fey?” kry my nuuskierigheid die oorhand.
“Ja.”
Ek kan net so wel deurdruk. “Ken jy ’n Adriana de Klerk?”
“Nee?” Haar gesig sê sy wonder wat aangaan. Haar lyf trek effe weg van my.
“Sy het my na jou verwys,” keer ek vinnig. “Hierdie vrou. Adriana de Klerk. Blykbaar kan jy my help.”
“O.” Die glimlag keer terug. “Met wat?”
“Ek wil sommer net gesels.” Ek skrik vir die woorde. “Oor kinders. Ek wonder oor kinders.”
ADRIANA
1
Johannesburg, vandag
Dis spitstyd en die verkeer op pad lughawe toe is swaar. Volgelaaide vragmotors kruie in die twee linkerbane van die vierbaansnelweg en alles wat net effe vinniger beweeg, probeer dit verbysteek.
“Komaan,” por ek ’n vaalrooi minibustaxi aan.
Ek kyk weer in die truspieëltjie. Die Nissan wat al van die Grayston-afrit af agter my ry, neem die N1 Pretoria toe. Goed so.
Ek klim op die N3 in die rigting van die lughawe. Hier beweeg die verkeer nóg stadiger. Dis amper vyfuur. Kortpad deur die voorstede is gewoonlik vinniger, maar danksy Eskom is ’n aantal voorstede se krag afgeskakel en werk die verkeersligte nie.
Die metropolisiebakkie wat net agter die Nissan was, volg my op die N3. Sou dit dieselfde een as vroeër vanmiddag wees? Seker nie. Daar is deesdae polisie by elke snelwegafrit