Sirkus. Irma Venter
Читать онлайн книгу.sandale uit en trek my knieë op tot onder my ken. Ek is honger, en wat Adriana ook al maak, dit ruik lekker. Dit lyk soos tuisgemaakte vla op die stoof en ’n hoender in die oond. My laaste ete was drie ure gelede op die vliegtuig, ’n droë SAAbroodjie waarmee ek die vlieënier kon doodgooi as ek wou. Hoekom dodelike wapens aan boord verbied as die vlugkelners dit uitdeel?
Sy haal ’n mes uit die laai en hou dit na my uit. “Help jy met die slaai. Ons moet gou maak, ek wil nog koffie ook hê voor die krag afgaan. Dankie, Eskom.”
Ek trek die kapbord en slaaigoed nader. “Het jy nie ’n generator nie? Ek sou, al hierdie load-shedding maak my mal.”
“Nee wat, ek kook met gas. En geen mens moet te gereeld nuus kyk nie.”
Ek werk stadig en versigtig, my kop besig.
“Alex wil kinders hê,” sê ek uiteindelik. “Of eerder, hy dink daaraan.”
“En jy wil nie?”
“Nie só nie. Nie met die polisie wat so knaend is nie.”
“Hulle soek mos nie meer na jou nie. En jou ID en paspoort is heeltemal wettig. Dit sal moeilik wees om te bewys jy’s nie Francis Beekman nie.” Sy vee haar mes skoon aan ’n afdrooglap. “Is dit die enigste rede hoekom jy nie kinders wil hê nie?”
“Seker nie.” Ek los die wortels wat ek besig was om te kerf. Wonder of ek eerlik moet wees. “Ek’s bang. Vir my … jy weet, vir wie ek is. Hoe ek sal wees.” Ek sug. “Om te settle.”
“Hmm …”
Ek soek in haar oë na die ongesêde woorde. Soos gewoonlik kan ek niks daarin lees nie. Hoe kan hierdie vrou tegelykertyd so warm en so geslote wees?
“Kan ek hier bly tot Alex terugkom? Ek’s nie lus vir my eie geselskap nie.”
“Sekerlik.” Sy sit haar hand vlugtig oor myne. Glimlag effens. “Maar jy kook môreaand.”
ADRIANA
1
Johannesburg, vandag
Ek leun by die kombuisdeur uit om seker te maak ek sien reg. “Van wanneer af is hier kraaie in die tuin?”
Zenani is besig om ’n eend te ontbeen. Sy antwoord nie. Maandag is nie haar gunstelingdag van die week nie.
“Wat’s fout? Is een van die kelners weer laat?” Dis altyd een van haar groot kopsere ná die naweek.
“Daar’s nie fout nie. Nie met mý nie.”
Ek staar na die voël op die telefoondraad wat my met inkswart oë dophou. Hy kras skerp, asof hy my tart. Sal dit iets beteken dat dié aasvreter so skielik hier opgedaag het?
“Hoe lank is die kraai al hier?”
“Van gister af. Daar’s twee, lyk of hulle wil nes maak.”
“Jy weet ek haat kraaie.”
Sy kyk fronsend na my. “Hoekom dan die restaurant Crow’s Feet noem? Ek weet amper als van jou, maar nie dit nie. Hoekom nie?”
Sodat ek altyd sal onthou. Maar ek sê dit nie. “Waar’s die duiwe? En die geelvinke? Laas jaar het daai arme vinkie dertien neste gebou voor die wyfie ingetrek het. Selfs hadidas is beter.”
“Los die kraai. Jy moet kom sous maak, ons eerste bespreking is halftwaalf. En Katlego Tlali gaan ’n draai kom maak oor daardie verjaarsdagete vir haar man.”
“Is dit môreaand?” Ek kan nie glo dis al November nie.
“Ja. En doen moeite. Sulke partytjies is goeie besigheid, veral hier teen die einde van die jaar.”
Sy beduie na my nuwe, duur hakke. Swart, om by my noupassende swart-en-room rok te pas. “Gaan jy heeldag in daai skoene werk?”
“Elke dag, tot ek tagtig is en ’n loopraam rondsleep.” Ek kyk weer na die kraai. “Dis jou gelukkige dag,” fluister ek. “Volgende keer.”
Ek loop spens toe, haal my voorskoot van die haak af. “Het Ranna al gebel? Hoe laat kom sy eet?”
“Halftwee. Sy slaap laat. Sy klink nie lekker nie.” Zenani waai die mes in my rigting asof dit my skuld is.
“Aikona, dit het niks met my uit te waai nie. Sy en Alex het baklei. Kinders. En sy brand om ook Sirië toe te gaan.”
Ek loop yskas toe om botter uit te haal. Stop toe ek die voordeur hoor. Wie sal so vroeg hier aankom? Kan nie ’n kelner wees nie. Hulle kom altyd by die kombuis in.
Moet iemand wees wat Boris ingelaat het. Seker Katlego.
Ek haal my voorskoot af en stap deur restaurant toe. Verby die swaar houtmeubels, gestyfde wit tafeldoeke en lang kroegtoonbank met duur whiskies op die rak, getekende foto’s van Diana Krall en Judith Sephuma teen die muur. Die strikdas-kelners, besig om tafel te dek, knik toe ek verby hulle na die voorportaal loop.
Dit ís Katlego. Sy staan, sonbril in die hand, en blaai deur die besprekingsboek. Sy is die finansiële hoof van ’n ouditeursfirma hier naby.
“Adriana, hallo.” Sy buk af op haar hakke, hoër as myne, en soen my op elke wang. “Besigheid lyk goed.”
Sy ruik na ligte somerparfuum.
“Dit is. Ons kan nie kla nie.” Ek staan terug om haar beter te kan sien. “Jy lyk pragtig. Ek is jaloers.”
“Dankie.” Sy vee tevrede oor die donkergroen rok. “Ek het ’n raadsvergadering by OneX. Ek wil net gou hoor of alles reg is vir Alfred se ete. Daar gaan twee ander ministers ook wees, en die regterpresident.”
“Alles is gereed. Dis mos tien mense altesaam?”
“Ja. Jy maak weer jou aartappelslaai, nè? Alfred is mal daaroor. Mens sou sweer hy het in Bloemfontein grootgeword, nie Phuthaditjhaba nie.”
Ek glimlag vir die “nè” saam met die privaatskool-Engels. “Definitief.”
“Fantasties. Sien jou môremiddag. Ek sal sorg dat ek by die huis is, anders gaan sekuriteit jou nie inlaat nie.”
Sy waai haastig, loop by die trappe af.
Haar Jaguar skuur verby ’n swart Range Rover toe sy uit die parkeerarea ry.
Ek kyk op my horlosie. Seker die halftwaalf-bespreking.
Drie mans klim uit. Die middelste een – kaalgeskeerde kop, donkerblou baadjie en netjiese geruite hemp – lig sy hand in ’n groet.
Kan nie wees nie. Wanneer laas het ek hom gesien? En in lewende lywe, nie op televisie of op ’n skindertydskrif se voorblad nie.
Wat soek hy hier?
“Themba,” groet ek toe hy nader kom. Ek doen my bes om bly te klink.
“Hallo, Adriana.” Hy skud my hand, druk my voorarm met sy ander hand. “Jy lyk net so mooi soos altyd.”
“En jy lyk belangrik.” Ek wys na die twee mans in goedkoop swart pakke weerskante van hom.
Hy lag dat sy hempskraag bewe. Red die sonbril wat van sy kop wil gly en gee dit vir die lyfwag aan sy linkerkant.
“Altyd elegant en … Hoe sê julle Boere nou weer? Nie op jou bek geval nie.” Hy spreek die Afrikaans feitlik perfek uit.
“Is jy ons vroeë afspraak? Die tafel daar agter op die stoep?” Die een waar die ander gaste nie kan sien of hoor nie.
Hy knik.
“Is jy alleen? Ek hoor jy en Pearl Khumalo is uit.”
“Jy moenie alles glo wat die Sondagkoerante sê nie.” Sy regtermondhoek lig effens, asof hy wil lag.
Dis hoe hy lyk as hy iets wil hê.