Sirkus. Irma Venter
Читать онлайн книгу.Een se oë bly op ons, die ander hou die hek dop.
Ek maak alles wat ek van Themba Zungu weet in my kop bymekaar. Wie sou sy gas wees? As Pearl by was, sou sy lyfwagte hom en die TV-aanbieder meer privaatheid gegee het.
“Wat van ’n dubbel-Yamazaki?” As ek reg onthou, drink hy graag dié agtien jaar oue Japannese whiskey.
“Asseblief.”
“Twee?” Ek beduie na die leë stoel.
“Wat drink jy nou weer? Ek kan nie onthou nie.” Hy vryf oor sy voorkop, klap dan sy vingers. “Ah, Grey Goose Premium Vodka.”
Hy onthou goed. Ons het mekaar amper vyf jaar laas gesien. Hy het by Crow’s kom eet en kwaad uitgestorm aan die einde van die aand. Ek weet baie meer as wat goed is vir hom en sy sakeryk. Uit die tyd lank voor sy huise in Hyde Park en Umhlanga, duur whiskey en etes by restaurante soos dié in Johannesburg se noordelike voorstede.
Moet ek bekommerd wees? Sal Boris twee lyfwagte kan hanteer? Hy is ouer, maar ek is seker hy is vinniger.
Ek kry dit reg om vir hom te glimlag. “Ek sal saam met jou whiskey drink. Ek’s nou terug.”
Ek loop kroeg toe. Zenani steek haar kop by die kombuisdeur uit. “Als reg?”
“Ja. Net ’n ou vriend wat kom kuier het.”
“Hoe oud?”
Ek weet sy dink aan verlede jaar, toe ’n ongenooide gas gewapen hier opgedaag het.
“Van vroeër. Voor Crow’s.”
Sy frons. “Niemand van daai tyd kom meer hiernatoe nie.”
Ek trek my skouers op en draai om. Zenani is reg.
Ek loop kantoor toe en roep Boris op die tweerigtingradio. “Het Themba iets vir jou gesê toe hy ingekom het?”
“Net dat hy ’n eteafspraak het.”
“Met wie?”
“Met jou. Het hy gejok?”
Boris ken Themba, daar’s geen rede om hom toegang te weier nie. Maar hoekom het die man hoegenaamd hier opgedaag?
“Adriana, is jy okay? Moet ek inkom? Ek het reeds die kameras geskuif dat ek julle in die oog het.”
“Vergeet van ons. Themba het twee lyfwagte in die tuin, hou hulle dop.”
Ek bêre die radio. Sluit die kluis oop en haal twee gooimesse uit. Ek maak hulle aan die binnekant van my linkerbobeen vas, die koue staal bekend en gerusstellend teen my vel.
By die deur draai ek terug. Geen mens kan in Manolo Blahniks hardloop nie. Ek ruil hulle vir ’n praktiese paar met laer hakke wat ek altyd in die kantoor hou. Kyk op my horlosie. Oor 27 minute gaan die volgende gaste opdaag.
Dit gaan ’n lang halfuur wees.
Op pad stoep toe agtervolg Billie Holiday se stem my. 1958. “Tomorrow may never come, for all we know …”
Themba vra nie hoekom ek so lank weg was nie. Ek oorhandig sy whiskey.
“Dankie.”
Ek bly staan, glas in die hand. Soek oor sy skouer na Boris. Hy staan net binne die ingang, naby die nuwe sekuriteitskantoor.
Ek fynkam die hoë wit grensmuur. Skote gaan aandag trek. Elke huis en besigheid in die area het duur, goed opgeleide sekuriteit. En die polisie is besonder wakker. Geld hardloop vinnig na die koerante en sosiale media.
Themba maak die kristalglas met een teug leeg. “Ek kon nog nooit uitwerk wat jy dink nie. Maar iets sê vir my jy’s bekommerd.”
“Glad nie.”
“Sit dan. Kuier saam met ’n ou vriend.”
“Dis baie gaaf van jou, maar ek moet kos maak. Die res van die gaste gaan binnekort hier wees.”
“Ontspan, Adriana. Ek sal jou nooit skade aandoen nie. Inteendeel, ek’s hier om my skuld te betaal.”
Ek proe aan my whiskey. “Daar’s geen skuld tussen ons nie.”
“Jy bly ’n uitsonderlike leuenaar.” Hy sit sy hande op die tafel, palms na onder. Sy stem sak. “Jy kan my besigheid sink met wat jy weet. Alles wat ek oor die jare opgebou het, kan jy oornag laat verdwyn.”
“Ek sal dit nooit aan jou doen nie.”
“Jy sal. Wanneer dit jou pas. Of jy sal dit gebruik wanneer jy ’n guns wil hê. Ek’s nie onnosel nie.”
Ek bly stil.
“Soos ek sê, ek’s hier om my skuld te betaal.”
“Waarvan praat ons, Themba?”
“Ons ooreenkoms van laas keer toe ek hier was. Ek soek die video. En enige kopieë wat jy dalk gemaak het.”
“In ruil vir … ?”
“Inligting. Soos belowe.”
“Ek luister.”
Hy kyk stip na my, asof hy probeer bepaal watter waarde sy inligting vir my het. “Yasen Todorov is hier.”
Ek vat die stoelleuning voor my vas. Ek wil nie, maar iets in my wankel onwillekeurig. Ek staar na my hande. Daar is ’n trilling in my vingers, soos die vlerke van ’n mot wat te bang is om te beweeg, wat wonder of dit veilig is om te vlug.
“Hier? In Suid-Afrika?”
“Kaapstad. Hy’t ’n week gelede geland. Direkte vlug van Dubai af.”
“Is jy seker?”
“Heeltemal.”
Ek bereken die tyd wat reeds verby is. Die afstand na die kusstad. “Hoe weet jy dit?”
“Jy’t laas voorgestel dat ek hom onder oë hou.”
“Ek bedoel, hoe het jy uitgevind? Niemand het my iets laat weet nie.” Was al die jare se omkoopgeld dan verniet? Te min?
“My kontak by Staatsveiligheid het my laat weet. Duitsland bly senuweeagtig oor Yasen Todorov.” Sy oë vernou. “Ek wil daai video hê. Of het jy gelieg? Dat jy vir my die video sal gee in ruil vir die regte inligting?”
“Natuurlik nie.”
“Wat pla jou dan?”
“Ek wonder net … Hoekom sou Yasen Kaapstad toe gaan? Hoekom nie Johannesburg nie?”
“Ek weet nie. Al wat ek weet, is dat hy laas maand vrygelaat is. Bulgarye moes hom uiteindelik laat gaan. Hy’s amper sestig en sieklik en almal hoop hy sal doodgaan voor hy weer moeilikheid maak.”
“Hy’s nie siek nie. Dis twak. Aansit.” Ek het Boris vroeg vanjaar gestuur om met sy eie oë te gaan kyk. “En as hy vrygelaat sou word, moes hy in Bulgarye bly. Dit was die ooreenkoms.”
“Hy’t blykbaar ’n nuwe paspoort in die hande gekry. Dis onder die naam Viktor de Klerk.”
De Klerk. Soos my huidige van. Adriana de Klerk.
Ek vat ’n sluk van my whiskey. Kyk na my hand wat die glas vasklem. Weer die motvlerke wat tril, beur.
Themba leun oor die tafel na my. “Ek wil die video hê.”
“Kom ons kyk eers of jou inligting korrek is.”
Hy staan op. “Adriana … Jy kan nie langer my toekoms gyselaar hou nie.”
“Ons praat later.”
“Wie sê daar’s ooit ’n later? As Todorov hier opdaag …”
“Is ek dood en het jy niks om te vrees nie.” Ek lag, vang die vrees in die krop van my maag vas en hou dit daar. Haal oor dit asem, egalig en