Sirkus. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Sirkus - Irma Venter


Скачать книгу
die flou son teen die laatwinter se koue baklei. Die grond was seker hard toe hulle die graf gegrawe het, alles is so droog. ’n Bietjie reën sou dit makliker gemaak het.

      Nie dat daar veel was om te begrawe nie. Konstabel Petrus Johannes van Vuuren, negentien jaar oud, dood in ’n bom­ont­plof­fing. ’n Kleefmyn, by die winkel waar hy gou middagete gaan koop het.

      Ek en die Hollander het dadelik daarheen gery toe ons die nuus kry. ’n Man met kortgeskeerde hare, stofbruin skoene en ’n wit kortmouhemp het gesê hy is van die veiligheidspolisie. Dis die ANC se werk, het hy gesê en met sy sigaret beduie na die bloed, die glasskerwe, die stukke verwronge staal wat oral gesaai gelê het.

      Die Hollander het agter in sy keel gesnork, omgedraai en weggeloop, wit om die mond. Ek het nie eens geweet hy hou van Peet nie. Ek onthou net hy was baie ontsteld toe Peet se pa hom gedwing het om by die polisie aan te sluit.

      Peet se pa het nie eens by die graf gehuil nie. Peet se broers ook nie. Nee, wag, die jongste een het onder sy ma se arm gestaan en snik.

      Sandra het ook gehuil. Onophoudelik.

      Sy is swanger. Haar ma weet nog niks nie. Peet se familie ook nie.

      3

      Johannesburg, Augustus 1989

      Ek lê en luister na die voetstappe in die gang, stadig en versigtig om niemand te steur nie.

      My slaapkamer se deur gaan oop. Dis die Hollander.

      Hy het gister van Duitsland af teruggekom, moeg en beneuk. Iets is nie lekker nie, maar ek weet nie wat nie. Die spanning sit stokstyf in sy skouers.

      Ek hou my asemhaling rustig en kalm, maak asof ek diep slaap.

      Die deur gaan toe. Die groen wysers van die wekker sê dis half­een. Ek wag. Hoor die agterdeur oopgaan. Toeknip.

      Ek staan op. Ek het tot elfuur geleer, maar die slaap wou nie kom nie. Ek is bekommerd. Te veel dinge is besig om te verander. En die dinge wat moet verander, bly presies dieselfde.

      Jonas het weke laas by die gym geoefen. Daisy dink die polisie het hom weer gevat, maar as oom Tiny probeer uitvind wat aangaan, trek hulle net skouers op en sê hulle weet niks.

      En Peet is dood en Sandra se dogtertjie is kort voor lank hier. Peet se pa drink asof hy homself wil dooddrink. Sy broers spoeg haat. Hulle praat van die AWB, van baklei.

      Die land is aan die brand, hoor ek orals waar ek gaan. Net die TV en die Afrikaanse koerante laat dit klink asof alles onder beheer is.

      Iemand lieg.

      Al wat ek wil doen, is om te gaan swot. Om graad te kry en weg te kom. Die Hollander kan na my ma kyk. Is dit nie bietjie sy beurt nie?

      Hy moenie my nou drop deur simpel goed aan te vang nie.

      Ek trek my pantoffels aan, maak my kamerdeur versigtig oop en loop in die gang af, tot in die kombuis en by die agterdeur uit. Sluip oor die koue gras na die garage toe. Lig skyn onderdeur die deur, maar dis doodstil binne.

      Ten minste is daar nie ’n ander vrou by hom nie.

      Ek maak die deur oop.

      Die Hollander skrik. Vee stapels papier – geld? – oor die werktafel tot in ’n blou gereedskapkis en slaan dit toe.

      “Adriana! Wat maak jy hier?” Hy kyk op sy horlosie. “Kan jy nie slaap nie?”

      Ek staar na die gereedskapkis. “Nee.”

      Hy staan op, plaas sy lyf tussen my en die kis. “Sal ek vir ons gaan tee maak? Dit sal jou help om te slaap.”

      Ek beduie na die kis. “Wat steek Pa weg? Watse geld is daai?”

      “Dis niks nie.”

      “Pa praat mos nou onsin.”

      Hy lag, verbaas oor my woede. “Dis die werk s’n.”

      “Al daai geld?”

      “Natuurlik.”

      “Ek glo Pa nie.”

      Sy glimlag verdwyn. “Ek sal nie vir jou jok nie.”

      “Sê wie?”

      “My magtig, Adriana. Los dit!”

      Ek kruis my arms. Ek gaan dit nié los nie. Iets is aan die gang. Iets borrel en prut en dreig om oor te kook.

      Hy gee ’n tree nader, druk my arm. “Jammer. Ek het nie bedoel om so kras te wees nie.”

      Ek skud my kop. “Wys my.”

      “Dis die Education Trust se geld, ek sê mos.”

      “Dan maak dit mos nie saak as Pa my wys nie.”

      Hy dink ’n oomblik, maak dan die kis oop. My oë skeer oor die vreemde note. Stapels en stapels note. Gebruikte note.

      “Wat gaan aan by Pa se werk? Pa sit deesdae nagte om in die garage. Iets is fout.”

      “Hoekom dink jy so?”

      “Want dis die waarheid. En ek’s nie dom nie. Iets vreet aan Pa.”

      “Ek’s die direkteur van die trust, natuurlik sal ek nou en dan bekommerd wees.”

      “Oor wat? Hierdie geld?”

      Dit voel nie asof dit hier hoort nie.

      “Ek het dit van Duitsland af teruggebring. Dis alles skenkings vir die trust.”

      “Wie gee so baie geld vir kinders wat hulle nie ken nie?”

      “Ryk Europeërs wat gekant is teen apartheid en wat arm swart skoliere en studente finansieel wil help. Kom, jy moet gaan slaap.”

      “Kan mens al daai geld sommer net so die land in bring?”

      “Adriana, jy raak verniet so opgewerk. Kom nou.”

      Iets aan sy stem laat my wonder. Hy jok nie, maar hy bly stil oor iets.

      Hy kyk lank na my. Glimlag effens. “Jy sê so min, kyk net heel­tyd fyn. Al van jy gebore is.”

      “Hoekom weet ek nie van hierdie geld wat Pa van oorsee af bring nie? En weet Ma?”

      “Jy weet mos nou. En jou ma sal baie ontsteld wees. Sy … sy het haar eie probleme.”

      Hy maak die kis toe. Rus sy hand op die blou deksel. “Ek oorweeg dit om ander werk te kry. Iets wat sal maak dat ek nie so baie hoef te reis nie. Dalk kan ek weer klas gee. Iemand in Johannesburg sal seker werk hê vir ’n ou fisikaprofessor.”

      “Pa is dan al vir so lank by die trust.”

      “Dinge is nie meer dieselfde nie.”

      “Hoekom nie? Wat het verander?”

      Sy wenkbroue lig. “Al hierdie vrae. Jy weet ek praat nie oor die trust nie. Met rede. Nie almal steun my werk nie. Hoe minder jy weet, hoe beter.”

      Ek knik. Ek weet dit, al van kleins af. Maar iets oor hierdie geld maak my bang.

      Hy slaan sy arm om my skouers. “Kom ons gaan maak tee. Hoe gaan dit met die leerwerk?”

      “Ek haat skool.”

      “Byt net vas. Oor ’n rukkie is jy op Wits.”

      By die deur gaan hy staan. “Die kis … Moenie vir jou ma of iemand anders daarvan sê nie. Dis belangrik.”

      “Ek sal stilbly. Belowe.”

      4

      Johannesburg, November 1989

      My ma se asemhaling is rustig. Sy slaap in ’n bondel, op haar sy, haar linkerhand onder haar kop en haar regterhand op my pa se leë plek. Hy is al weer in die garage.

      Sy knaende bekommernis van die laaste paar maande het vrees geword,


Скачать книгу