Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus

Читать онлайн книгу.

Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus


Скачать книгу
nesmaak in sy kop. Die Volksraad is immer gereed om klippe na hom te gooi. En daardie verduiwelse Piet Joubert lê al lankal agter sy amp, hy weet dit. Piet is ’n geleerde man. Sê nou net Malloy gaan staan en praat met hom ook? Die blikskaterse Ier is ’n kêrel met ’n onkantstreep. As jy nog dink hy’s aan die hotkant, dan sit hy hoeka hoog en droog aan die haarkant vir jou en lag.

      Die president sit bewegingloos. Sy stiksienige oë rus ingedagte op die briewe wat Malloy as bewysstukke saamgebring het. Stadig begin ’n idee posvat, ’n idee wat hom al hoe meer begin aanstaan. ’n Diep geroggel klink op uit sy borskas toe hy keel skoonmaak, en ’n geel tabakstraal tref die spoegbakkie op die porseleinhond se kop, van waar dit stadig begin afsyfer.

      Die bonkige gestalte begin ruk. Kruger lag tot die trane oor sy gesig rol. Hy tel sy geliefde pyp op. “Ek sal jou jou eige medisyne laat proe, neef Malloy!” prewel hy.

      Die lag sit nog steeds in die growwe stem toe hy bulderend uitroep: “Rensburg!” Hy suig behaaglik aan die koue pyp toe die adjudantjie haastig inkom en salueer. Kruger wuif die eerbetoon goedig weg.

      “Gou, kêrel, bring jou pampier en pen. Ons gaan dadelik ’n brief skrywe!”

      * * *

      Twee dae ná Kit se besoek aan die president lewer ’n koerier die brief vanuit die Pretoriase Residensie by die Red Hussar af. Gladys bring dit na Kit se kwartiere. Hy is pas terug van Ferreira’s Camp, waar hy om ’n stuk grond onderhandel het.

      Hoewel sy nie nodig het om te wag nie, talm die rooikopmeisie in die sitkamertjie met sy leerstoele en donkerrooi fluweelgordyne. Dit is syne. Kit Malloy se persoonlikheid straal uit alles in die vertrek. Die geur van ’n man wat baie in die buitelug leef, vul elke duim daarvan. Op sy perd, die vurige Caesar, is Kit vir haar ’n heel ander man, ’n soort prins, ’n sonruiter, soos dié waarvan sy gelees het in meneer Spenser se feëverhale oor Britomart en die towerspieël.

      So droom Gladys oor haar weldoener wanneer sy hom soggens agternakyk terwyl hy die groot hings die agterplaas uit stuur op ’n onbekende sending. En wanneer hy uiteindelik terugkom, ruik sy die son en die wind aan hom, gemeng met die geur van sy sweet.

      Gladys het uit haar eie die taak op haar geneem om te sorg dat Moses, die Mosambieker wat na die perde omsien, laatmiddag ketels stomende water opdra sodat Kit hom in die sinkbad kan reinig voor hy die aand sy rondtes maak by sy dobbelsalonne.

      Die warm glimlag waarmee hy haar die eerste keer bedank het, was ’n ryke beloning. Sy wou sy guns so graag wen, en sy het vuriglik gehoop dat hy haar sou vra om hom te bedien, om die lampetbeker met die stomende water te lig en oor sy soepele, ingeseepte liggaam te stort. Maar hy het haar nooit gevra nie.

      Kit glimlag vir Gladys. Haar koel, wêreldwyse oë laat haar ouer lyk as wat sy werklik is. Die toegewydheid waarmee sy haar werk doen en haar vlugheid van begrip by die roulette het hom beïndruk. Jonk soos sy is, dwing sy beslis meer respek af by hulle klandisie as enige van die ander meisies. Hy het dit nog nie met Mac bespreek nie, maar Kit is oortuig daarvan dat Gladys met ’n bietjie meer ondervinding ’n suksesvolle bestuurderes by een van sy salonne sou kon word.

      “Sal ek Moses sê om die water te bring?” vra sy, die Cockney-aksent onmiskenbaar.

      “Dankie. Jy begin jouself onmisbaar maak, Gladys.” Kit lê sy hand ’n oomblik teen haar wang.

      Gladys voel hoe die hitte na haar gesig styg. Onthuts draai sy weg. “Wel, jy wil die salon seker nie vol stof en perdesweet binnekom nie!” sê sy.

      “Dis maar hoe die meeste van ons kliënte ruik,” lag Kit. “Maar ek waardeer die bad saans … sê dus vir Moses hy kan maar begin opdra.”

      Sy knik, draai woordeloos om en kies koers.

      Kit hou haar dop toe sy die trap afgaan. Sy het ’n natuurlike grasie, en ’n mooi figuur. Die groen-en-swart tafsyrok met sy kantboesel staan haar goed. Hy wonder geamuseer hoe lank hy haar dienste sal kan behou. In ’n dorp soos dié is mooi jong meisies soos Gladys skaarser as goeie maniere.

      Hy sug en kyk dan na die brief wat sy hom gegee het. Die koevert dra die amptelike seël van die president. So, dan het hy die ou man tog uit sy traagheid wakker geskud, dink hy terwyl hy die seël breek. Hy vou die dokument oop en bekyk vlugtig die inhoud van die brief wat in die hoekige skrif van die jong aide-de-camp gepen is. Hy grinnik.

      Die sluwe ou blikskottel wil duidelik nie sy hande vuilmaak met mense soos die Bowry-broers, Zeits en hul bordeelmeisies nie, en dié brief stel vir hom, Kit Malloy, persoonlik ’n strik, dink hy, en vou dit weer toe.

      Buite hoor hy hoe ’n luidrugtige Moses en Goliat die trap opkom met die swaar bekers stomende waswater.

      Vanaand nog, sodra hy sy rondtes gedoen het, sal hy ’n draai gooi by Mac. Hulle sal die saak moet bepraat. Hy is oortuig daarvan dat, indien hulle dit reg hanteer, hulle ’n slag kan slaan uit die hele ongure spulletjie.

      Half ongelowig kyk Mac op nadat hy Kruger se brief gelees het.

      “Genugtig! Verstaan ek reg wat ek lees?”

      Kit knik. “Ek het half en half dieselfde gevoel by die eerste oogopslag,” glimlag hy.

      Mac skud sy kop onthuts. “Dit kan ’n klein oorloggie uitlok tussen die kroeë. Kruger gee vir ons, vir my en vir jou, volmag om vir ses maande lank na goeddunke die dranklisensies uit te reik en terug te trek!”

      “Juis. En soos die brief ook sê, het die ou man ’n soortgelyke skrywe aan Von Brandis gerig.”

      Mac vou die dokument ingedagte op en druk dit weer in die koevert. Hy voel warm om sy ore. Ses maande … volmag oor die dranklisensies! Vir ses volle maande! Dit is asof Kit sy gedagtes lees.

      “Ek en jy gaan die ses maande wat kom óf die mees gehate óf die mees gewilde manne aan die Rand word. Kruger het ’n geniale talent om mense soos ons bloot te stel aan die versoeking. Omkopery. Hy stel vir my ’n strik, Mac.”

      “Hoekom sê jy dit? Die ses maande gaan ons tog ook kans gee om op te tree teen die Bowry-uitvaagsels en hulle trawante.”

      Kit knik instemmend. Hy gee Mac haastig ’n oorsig van sy gesprek met Kruger. Mac merk die vonkel in sy vriend se oë. Uit ervaring weet hy maar te goed dat Malloy die uitdaging volstoom gaan aanvaar.

      “Verstaan jy nou, Mac?”

      Mac knik huiwerig. Sy sproeterige hand vee oor sy ylwordende gemmer hare.

      “Hy wil kyk of ons, jy en ek, ons invloed sal misbruik.” Kit tel sy elegante swart pluiskeil op; saans neem dit die plek in van sy tam-o’-shanter. “Dis nogal ’n magtige versoeking, my maat! Daarby dink ek ons het die kans van ’n leeftyd … dit wil sê as ons ons kaarte reg speel!”

      * * *

      Kit kyk na die rooi Victoriaanse baksteengebou met die broekielace-gietysterwerk om die balkon. Dit laat hom altyd aan ’n oorversierde bruidskoek dink. Die Petite Parisienne is in een van die dorp se min stewige en professioneel ontwerpte geboue gehuisves. Dat die Bowry-broers en Zeits, hul vennoot, geld het, is nie te betwyfel nie.

      Karig geklede meisies, een met ’n vereboa wat haar soos ’n wulpse harige wurm omhels, leun oor die balustrade van die balkon. Kit weet hy is die onderwerp van die meisies se giggelende gesprek. Die blondine met die vereboa maak ’n uitlokkende tuitmondjie met haar geverfde lippe en wink hom skalks nader.

      Kit glimlag, lig sy hoed en buig formeel vir die dames op die balkon. Dit het geil gilletjies en guitige aanmerkings tot gevolg, wat nog meer meisies na buite lok.

      ’n Oomblik lank versper ’n transportwa Kit se pad, maar dan steek hy die straat oor. Op die balkon van die Petite Parisienne blom hoop en verwagting oop.

      Solomon Zeits verkleur van donkerrooi tot perkamentgeel terwyl hy die brief bestudeer. Dit is bo alle twyfel bekragtig deur die handtekening van die Johannesburgse hooflanddros, kaptein Carl von Brandis.

      Zeits kyk onthuts op na Malloy oorkant sy lessenaar. “Wat de hel beteken dit, Malloy?” probeer hy tyd wen.


Скачать книгу