Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus

Читать онлайн книгу.

Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus


Скачать книгу
Zeits jou ’n bloue duit sal gee van wat hy uitgekry het.”

      Wat die Skot sê is waar. Hoewel Zeits haar oor die jare af en toe uit die geldlaai gehelp het, het sy bloedweinig oor, en hy het haar nie ’n pennie gegee van die fortuin wat Malloy hom betaal het nie.

      Malloy! Malloy is haar weldoener, besef Liz skielik. Sy weet dat die geld nie van hierdie skigtige Skot, wat met moeite sy grillerigheid vir haar versteek, af kom nie.

      Sy skeur die koevert oop. Dit is daar! ’n Betaalstrokie vir honderd-en-vyftig pond. Sy kyk gefassineer daarna.

      “Dis genoeg om terug te gaan na waar jy ook al vandaan kom, Liz, en miskien oor te begin,” sê Mac sag.

      Sy kyk op en lag hees. “Ek kom van nêrens af nie en ek gaan nêrens heen nie … daar is nie tyd daarvoor nie, Mac MacIntyre!” Vinnig druk sy die koevert met sy inhoud by haar laaggesnyde bostuk in.

      “Ek het nooit geleer dankie sê nie. Dit was nog nooit nodig nie. Maar sê jy vir Malloy dat hy ’n vrypas het by my.” ’n Skuurpapierlaggie skeur uit haar keel. “Ek weet dat ek te lank in die tand is om sy kliere te prikkel, maar daar is ander maniere … ek weet van almal. En ek weet hy is nuuskierig. Sê dit vir hom!”

      ’n Hoesbui oorval haar en laat haar wegdraai. Sy kyk nie weer om nie, loop net stadig die trappe van die Parisienne op, uitgeteer en afgeleef.

      Eenmaal, nie so lank gelede nie, was sy die koors in die bloed van al die delwers van Pelgrimsrus, dink Mac. Daar word gesê sy is een aand uitgeloot vir die ongelooflike som van tweeduisend pond. Mac weet nie of dit waar is nie, maar terwyl hy haar agternakyk, vorm daar ’n ongemaklike knop in sy keel.

      Voor die poskoets van Hay’s Coaching Services staan die perde gedweë in die stowwerige hitte wat oor die markplein hang. Die berg possakke op trollies word flink gelaai, want die posdiens tussen Johannesburg en Kimberley kry voorkeur bo die passasiers se bagasie.

      Elke reisiger word hoogstens veertig pond bagasie toegelaat, maar Solomon Zeits bekommer hom nie oor sy bagasie nie. ’n Stywe omkoopfooi het daarvoor gesorg dat sy trommels net soos die possakke omhul is in kakiebruin seilsakke, onopvallend tussen die res. Die omkoopgeld het ook gesorg vir twee van die beste sitplekke in die koets.

      “Solomon Zeits!”

      Hy draai om. Op ’n afstand herken hy Kit Malloy se vennoot. Zeits voel half verlig. Hy was Malloy te wagte. Sy wrewel teenoor die Ier ken skaars perke. Malloy se aanbod vir die Parisienne word dalk deur ander as ruim beskou, maar Zeits sal die vernedering nooit vergeet nie.

      Mac kom nader en hou ’n trommel na die Litauer uit. “Kontant …” sê hy. “Honderd-en-vyftig, soos afgespreek. Maar verstaan mooi, Zeits, Malloy was dié keer genadig. As jy ooit weer jou gesig op die dorp wys, sal hy jou trap, en hy sal trap om dood te trap!”

      Zeits vat die trommel, maak dit oop om homself te vergewis van die inhoud en sluit dit weer toe. Hy knik formeel en draai dan weg om sy plek in die koets in te neem.

      Geelrooi stof, verpoeier deur baie voete en wawiele, hang swaar oor die markplein. Die reuk van konkavure en vleis vol maaiers van die swetterjoel brommers en die hitte hang swaar in die lug.

      Naby die pasgeboude poskantoor drom mense saam om die vrugte- en groentesmouse se waens. Sommige van die boere wat hulle ware een maal per week na die dorp bring, is besig om ’n fortuin te maak.

      Kit stap skoongeskeer uit die barbierswinkel. Hy kyk op sy sakhorlosie: byna tyd vir die poskoets om te vertrek. Hy is dankbaar dat Mac bereid was om die geldsaak namens hom te verrig, want sy begeerte om die onsmaaklike Zeits se gesig vir hom te herrangskik, is byna onweerstaanbaar.

      Johannesburg het oorgenoeg rampokkerbaronne. Von Brandis het reeds sy hande vol. Niemand sal dit regkry om die dorp ooit heeltemal skoon te maak nie, maar met Zeits en die Bowry-broers uit die weg, het hulle darem vordering gemaak.

      ’n Oorgretige skoenpoetsertjie neul knaend om Kit se ore. Kit glimlag goedig en lig sy voet op die seepkissie wat die maer swart kind haastig nader sleep. Hy kyk ’n paar oomblikke lank hoe die seun met vlytige hande vinnig die ergste stof van die gepunte skoene afvee voordat hy daarop spoeg en die leer begin poleer.

      Oorkant die markplein en net skuins regs van Becket & Sons se Gentleman’s Emporium hang Hay’s Coaching Services se uithangbord. Die voorste koets is duidelik gereed om te vertrek. Die koetsier laat die sweep klap, en die perde reageer onmiddellik. Die skommelende rytuig rol vorentoe. Die koets moet om die markplein ry, vlak verby die plek waar die seun nou Kit se skoene poleer. Zeits sal in daardie koets wees. Kit het geen begeerte om die vent se gesig vir oulaas weer te sien nie.

      Deur die stofwalms wat oor die plein hang, sien Kit vir Mac aangeloop kom. Hy klop die poetser op sy kop, haal sy voet van die kissie af en stop ’n muntstuk in die seun se hand. Die kind se gesig verhelder in ’n breë glimlag wat hom soos ’n uitbundige hondjie laat lyk. Van mister Malloy ontvang hy altyd meer as wat hy in ’n week van al die ander verdien!

      Kit lag en stap Mac tegemoet.

      Mac lyk bedruk. Dit was nodig, maar ook vir hom was die ontmoeting met Zeits nie ’n aangename taak nie. Hy sug. “Dis nie die laaste wat ons van hom gaan sien nie. Zeits gaan terugkom, Kit, daarvan kan jy seker wees.”

      “Skeel my min!” glimlag Kit. Hy slaan ’n vertroostende arm om Mac se skouers. “Tot dan is hy uit die pad uit. Dink aan die nuwe salon. Jy en Meg sal ’n groot aandeel besit. Wat stel jy voor noem ons dit?”

      Mac se sproetgesig verhelder. Hoewel dit Kit se geld is wat Zeits uitgekoop het, het hy aangedring dat die salon aan hul al drie behoort, en dat Mac en Meg dit ook moet bestuur.

      Mac en sy vrou het reeds ’n hele paar aande en nagte lank opgewonde begin herkou aan die veranderinge wat hulle wil aanbring. Die gebou is stewig, en met die goeie smaak van sy Meg kan hulle dit omskep in een van die dorp se deftigste plekke, en sodoende die stigma wat daaraan kleef vir goed verwyder.

      Daar is ’n nuwe waardigheid in Mac se kort, ronde gestalte te bespeur. “Die naam? Ja wel, ek en Meg het gereken ‘The Arms and the Soul’ sal nie onvanpas wees nie.”

      Kit skater van die lag. “Soos in die goeie ou dae op Pelgrims!” Hy reik Mac die hand. “Puik, my vriend. Dis per slot van sake waar ons vriendskap finaal sy beslag gekry het. Kom! Kom ons gaan drink daarop!”

      Hoofstuk 5

      Die koggelmandermannetjie blaas sy keel sissend op tot ’n persblou ballon, en dan begin hy stert omhoog om die wyfie te sirkel. Deborah, uitgestrek op die rotsplaat, hou die twee bloukopdiertjies se paringsdans geamuseer dop. Hoe kontant is die mannetjie nie! Sy wonder of sy opgeswelde pers wange hom vir die wyfie onweerstaanbaar maak, want dié stomme ding sit nou betower in roerlose afwagting na hom en staar.

      Blaas-blaas nader die mannetjie haar. Haar kop begin ritmies knik, op en af, op en af, asof sy haar gewilligheid wil beklemtoon. Die mannetjie blaas nog nader. Dan lig sy haar stert. Die paar koppel met ’n verbete drif.

      Terwyl Deborah na hulle kyk, word sy intens bewus van die loom hitte van die warmgebakte rotsplaat teen haar klam lyf. Dis asof haar liggaam deur die gladde warm rots geabsorbeer word, asof sy so deel word van Sorgenfrei se aarde. Sy laat haar kop op haar hande sak en vertroetel die vreemd erotiese gevoel.

      Haar liefde vir haar geboortegrond is iets wat sy nie kan verwoord of selfs heeltemal verstaan nie. Dis soos om smôrens vroeg die dag te sien breek oor die skurwe kliprantjies, en om dan met verwondering te besef dat daar tog ’n God moet wees om iets so wonderlik te laat gebeur.

      Deborah sou daarvan hou om een te word met hierdie onvernietigbare gesteente, om uit die rots se oeroue molekules die magiese krag en wysheid van ’n miljoen jare te trek. Sy en die aarde sou deur die onsigbare stroming die een uit die ander kan put en eendag, wanneer sy oorneem by haar pa, sal sy hierdie passie wat sy nou ervaar herroep; dit sal haar lei hoe om besluite te maak, hoe om Sorgenfrei te bestuur.

      Sy lig haar kop. Die twee koggelmanders spat uitmekaar en skarrel weg.

      Deborah


Скачать книгу