Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.val langs haar in met van die bagasie. Sy oë staan stokstyf in sy beangste gesig. Hy leun benoud na haar toe oor.
“Nooientjie Deborah … watter plek is dié dan?” vra hy, en hy beduie oor sy skouer na die malende markplein. “Is mos kompleet soos die oordeelsdag … soos daai prentjie in die groot Bybel van seur Heinrich! Hoe sal onse Christenmense dan nou ooit in so ’n plek kan wortelskiet?”
’n Vlaag wind jaag skielik rooi-geel stofduiwels op en hulle moet hulle oë daarteen opskroef.
“Hulle sê hier is goud, April, sommerso vlak onder die strate. As dit so is, dan wil ek my deel hê!”
April krap sy kop onder sy hoed. “Hoi, nooientjiegoed, om mee te wat? Wat wil jy met dié maak?”
Sy kyk hom vas in die oë. “Geld is mag, April. As ons geld gehad het, sou ons nou nog op Sorgenfrei gewees het. Ek wil geld hê. Báie geld! En Johannesburg gaan dit vir my gee!”
En Deborah stap vasbeslote na die wagtende kales toe.
* * *
Sam vou die wit sykrawat om Karl Mannheim se nek en takseer die jong heer ’n oomblik krities. Geen rafel op die donker pak mag Karl se voorkoms bederf nie.
Uiteindelik is Sam tevrede. Hy tree terug, tel die swart sypluiskeil en die silwerbeslaande wandelstok op en oorhandig hulle aan Karl.
Karl tik hom goedig op die skouer. “Welgedaan, Sam. Moenie vanaand vir my wag nie. Ek sal waarskynlik eers teen hoenderkraai by die huis kom.” Hy knipoog vir sy getroue ou bondgenoot. “Terwyl my pa weg is, moet ek minstens probeer om die beste te maak van my vryheid!”
Sam knik. Teëpraat sal nie help nie, dit weet hy.
“Waar gaan seurtjie Karl vanaand wees?” vra hy so ongeërg as moontlik. Hy het wel ’n deeglike vermoede, want daar is vroeër ’n nota vir Karl afgelewer van Barney Barnato se suite in die Palace Towers af – een van die dorp se nuutste en mees sensasionele geboue. Sam hou nie van Barney nie. Nog minder vertrou hy die wilde partytjies wat dié glo nag ná nag in sy kamers hou.
Karl lig sy mantel van die kapstok af. Hy word nie geflous deur Sam se oënskynlike gebrek aan belangstelling nie.
“Ag, sommer hier en daar en oral,” antwoord hy ontwykend. “Daar is min genoeg ordentlike plekke in hierdie hool.” Hy swaai die mantel om sy skouers, plaas sy keil op sy kop en glimlag slinks vir Sam. “Toe nou, Sam, maak oop die deur en hou op om soos ’n vroedvrou om my te kloek!”
Sam gehoorsaam sonder om teë te praat. Die spaider wat voor die deur wag is reeds ingespan en gereed vir Karl se vertrek.
Karl is seker reg, dink Sam toe hy die deur toemaak. Miskien meng hy hom te veel in. Maar hy ken Karl se onvoorspelbaarheid en hy kan nie anders as om bekommerd te wees oor hom nie. Moeilikheid loop sy seurtjie altyd agterna, veral as hy in die verkeerde geselskap beland – en Barney Barnato is volgens Sam verkeerde geselskap, die tipe van wie hy Karl liefs sou wou weghou.
Vandat Karl ingeskakel het by die “Barnato-kliek”, soos die klomp mans alombekend staan, is dit ’n eindelose gebrassery, aand ná aand. Karl kan dit skaars bekostig, want Kurt Mannheim hou hom met opset kort aan kontant.
Sam vermoed egter dat Barnato vir Karl verder in die sloot in help deur hom geld te leen. Vermoedelik het hulle ’n reëling dat Karl hom sal terugbetaal wanneer hy in besit kom van sy erfporsie.
Dis nie meer lank voor sy een-en-twintigste verjaarsdag nie, en ongetwyfeld ook nie meer lank voor die rusie van alle rusies losbars nie, iets wat nou al ’n geruime tyd dreig om tussen vader en seun plaas te vind.
Oor die laaste paar weke het Sam met toenemende benoudheid gemerk dat ’n uitval soos ’n dreigende donderstorm aan die broei is. Hy glo dat Karl se nagtelike fuifpartytjies – wat hom al hoe meer onverantwoordelik maak met sy werk – een van die groot redes hiervoor is.
Hoewel die ouseur hom verbasend goed in toom gehou het, weet Sam hoe gevaarlik dit kan wees as hy sy humeur verloor. Wat Sam die meeste vrees is dat so ’n botsing vader en seun vir goed van mekaar sal vervreem. Maar dit sal hom min help om daaroor te tob; al wat hy as huiskneg kan doen, is om te probeer om vir Karl die pad te wys wanneer hy die spoor byster raak. Sam sug en hy kry koers na sy kwartiere.
Daar is nie ’n koets in Johannesburg wat kan kers vashou by sy grys-en-donkerrooi rytuig nie, dink Barney Barnato trots. Hy hou sy spoggerige appelblou skimmels deur die koetsvenster dop. Ses livreiknegte, almal geklee in uniforms in dieselfde grys en donkerrooi, vergesel altyd die koets. Selfs die prins van Wallis kan waaragtig nie ’n spoggeriger rytuig hê as hy nie!
Hy, klein Barney Barnato, die snuiter van Whitechapel, het as jong man met net ’n doos sigare wat sy suster hom as afskeidsgeskenk gegee het, sy fortuin kom soek in hierdie nuwe land waarvan sy neef hom so geesdriftig vertel het.
Barnato se sukses in Kimberley het Louis se mening bevestig dat enigeen met genoeg intelligensie en durf in Afrika ’n fortuin kon maak. Barney het sy doos sigare onmiddellik omgesit in kontant en daarmee sy eerste aandele in Kimberley gekoop. Dit was veral sy wakkerheid van gees wat hom na sukses gelei het. Die harde krotbuurt waaruit hy gekom het, waar niemand – kind of volwassene – kon oorleef as hy nie sy kop gebruik nie, het hom van meet af deeglik gebrei en geleer om op homself aangewese te bly en om elke geleentheid wat hom voordoen, aan te gryp.
Geleenthede … Sou hy, Barney, eendag voor die regstroon van God staan, sou daar ten minste één argument wees waarmee hy sy bestaan op aarde sou kon regverdig: hy het die geleenthede wat hom gebied is, almal benut. Hy glimlag half treurig oor sy moeilike jeugjare. Maar hy het nooit ’n kans, selfs nie eens die geringste kans, laat verbygaan nie. Daardie oomblik wanneer die noodlot jou die geleentheid bied om ’n handvol geluk te gryp, kom meestal net een maal by ’n man verby, en wanneer dit gebeur moet jy wakker wees en genoeg waagmoed hê om dit uit te buit.
Hy wat Barney Barnato is, wás, en hy hét, dink hy tevrede. Dis waarom hy vanaand in so ’n spoggerige koets kan ry. Dis waarom hy kort voor lank die rykste man in die stad gaan wees!
Maar Barney se goeie bui is aan iets anders ook te danke: hy het ’n heel aangename middag met “high tea” deurgebring in die geselskap van die allerspitsvondigste brunet, ’n jong komediante van die Theatre Royal. Die juffroutjie met haar gewaagde stoutighede was Barney se gas in sy “snoesige nessie”, soos sy dit gedoop het.
Barney hou daarvan om met sy indrukwekkende suite in die nuutste en hoogste gebou in Johannesburg te spog. Dit beïndruk mense. En Maisie wás beslis beïndruk, dit het sy duidelik aan hom bewys!
Met haar gevatte bekkigheid en sy eie kwinkslae het hulle tussen tafel, bed en klavier ’n hoogs vermaaklike middag deurgebring. Maisie is sy soort meisie, dink hy: selfstandig, los en pretbelus. Hulle sal goed oor die weg kom.
Die Arms and the Soul, wat glo twee jaar gelede die Petite Parisienne geheet het, staan nou helder verlig in al sy gerestoureerde glorie. Barnato se koets word voor die ingang tot stilstand gebring. Die knap Skot MacIntyre en sy vrou het wondere verrig met die plek, dink hy. Dit is dan ook die enigste ordentlike plek waar bymekaargekom kan word en waar here in vrede kan dobbel en daarna ’n gourmetmaal in Megan MacIntyre se elegante eetkamer kan geniet.
Barney lag stilweg. Hy beplan groot pret vir die aand. ’n Week of wat gelede het hy ’n bloutjie geloop met die strenge Meg MacIntyre toe sy hom nie wou toelaat om ’n boksgeveg in die Arms se eetkamer te reël nie, en vanaand gaan hy die preutse Skotse dame in ’n lokval lei. Hy kan nie wág om te hoor of Karl Mannheim sy bevele uitgevoer het nie.
Die koets se deur word deur Barney se livreikneg oopgemaak en die hooflakei help hom uit. Die res van sy livreiknegte val aan weerskante van die koetsdeur in gelid in, sodat meneer Barnato tussen hulle deur kan stap.
Maar dié keer wuif Barney hulle argeloos weg, want met die uitklimslag het hy die jong Mannheim gesien wat reeds op hom wag voor die imposante ingang.
Soos Karl, lig Barnato ook sy keil om te groet. Hulle loop mekaar tegemoet en skud entoesiasties hand.
“Ek