Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.plant ’n venynige regter in sy opponent se solar plexus.
Die spanning laai op. Die elegante klandisie van die Arms and the Soul raak verruk. Baie geld is wedersyds op die twee boksers verwed.
Die Spanjaard, wat uit een van die plakkerskampe geruk is, het ’n formidabele reputasie as ’n straatvegter. Daarby het hy, met sy armreikwydte, beslis ’n aansienlike voordeel bo Barnato.
Die lojale Barnato-ondersteuners, wat hulle man al in Kimberley in aksie gesien het, is nie hierdeur beïndruk nie. Volgens hulle is die vegtertjie uit Whitechapel onoorwinlik. Luidkeels moedig hulle hom aan.
“Pasop vir sy hotklou, Barney!” gil die andersins besadigde ingenieur John Hays Hammond. Dié waarskuwing kom net te laat, want Enrico se groot poot tref Barney teen die kop en laat hom steier.
’n Kreun styg uit die helfte van die salon op.
Barnato herwin blitsvinnig sy ewewig. Hy dans weer vernuftig uit die pad van die verwoestende lang arm uit. Hy tart nou sy opponent met ’n skelm regter, maar Enrico weer dit suksesvol af.
En dan kom Enrico tot sy spyt agter hoeveel krag daar agter Barnato se linkerhou lê, want skielik ontplof dit teen sy wang.
Hy brul en storm op Barnato af, maar dié maak hom weer met ’n netjiese systap uit die voete en plant ’n stewige hou teen die Spanjaard se ribbes.
Barnato kom egter nie skotvry daarvan af nie. ’n Opstopper van Enrico tref hom wel en bloed uit sy neus spat oor die salon se blinkgevryfde eikehoutvloer.
Meg sluit haar oë. Om haar gaan die spul mans soos oorgroeide skoolseuns te kere.
“Schweinerei! Barnato, hou op mit tanzen und baklei toch!” hoor sy Eckstein met sy swaar aksent skreeu.
“Vreet hom, Enrico. Vreet Barnato!”
Barnato verstyf merkbaar. Hy swaai om en vang vir Julius Wernher uit wat nog met sy hande bak om sy mond staan. Vir daardie breukdeel van ’n sekonde wat sy aandag nie by die geveg is nie, word hy deeglik gestraf. ’n Magtige hou tref hom en gooi hom vir ’n tweede keer van balans af. Dit stuur hom vloer toe.
Enrico se aanhangers raak buite hulleself van vreugde.
Effens duiselig, is Barnato nietemin gou weer op die been. Dis nou duidelik dat hy ná Wernher se beledigende aanmerking met hernude ywer baklei. Hy lok die Spaanse reus met vinnige voetwerk kruis en dwars in die kryt rond. Die man begin wild en woes te slaan na die kleiner vegter, maar dié ontwyk hom voortdurend.
Toe Enrico dit die minste verwag, storm Barnato nader en plant ’n magtige regter in sy midderif. Die langer man vou inmekaar, en voor hy kans het om te herstel, tref Barnato se linkervuis die massiewe kinnebak met soveel geweld dat die naaste omstanders, ten spyte van die geraas, ’n klapgeluid hoor soos die Spanjaard se kakebeen breek.
Enrico brul van pyn, maar Barnato ken nou geen genade nie. ’n Tweede regter tref sy opponent volskoot op die lelike, breë neus; bloed spuit soos ’n fontein.
Die Spanjaard se bene vou onder hom. Soos ’n afgekapte boom slaan die man neer, en die gehoor rondom Meg raak waansinnig van opwinding.
Sy merk verontwaardig dat haar Mac net so opgewonde is soos die ander spul barbare om hom. Hy juig nou ook luidkeels en klap hande vir Barnato wat grynslaggend sweet en bloed van sy gesig staan en afvee. Mans is almal eenders, besluit Meg bitter. Blote diere!
Sy kyk na die donkergroen kunsblare van die lourierkrans wat steeds in haar skoot lê. ’n Idee begin by haar posvat.
Tussen die rooi en silwer gespande linte van die kryt lig Karl Mannheim triomfantlik die laggende Barnato se hand as die oorwinnaar omhoog. Dan buig hy spottend in Meg se rigting.
“Geëerde dame en here, die oorwinnaar vanaand is Barney Barn-, ag, ek bedoel, sir Walter Raleigh!”
Die mans lag uitbundig. Applous en uitroepe klink dawerend op.
Barnato, gesoute akteur en bokser, aanvaar hierdie lofuitinge soos ’n ware kampioen. “Sjampanje asseblief, meneer MacIntyre. Die spel is verby!” roep hy uit.
Meg staan stadig op.
Mac sien dit. Hy merk ook benoud aan die ysige uitdrukking op haar gesig en aan haar houding die omvang van haar toorn. Sy Meggie is die liefde vanself, maar as sy die dag kwaad is, dan is die hel ’n koel plek teenoor die inferno van haar woede!
“Sjampanje! Sjampanje!” kom dit van alle kante af. “Bring nog sjampanje! Laat ons op die oorwinnaar drink!”
“Stilte!” Meg se stem weergalm soos ’n waarskuwende sirene oor die rumoer. Die manne merk nou eers haar dreigende gestalte wat bo menige van die mans om haar uittoring.
“Die spel is nóg nie verby nie, menere!”
Die Spanjaard, wat dronkerig regop sit, skud sy kop verdrietig. Hy streel oor sy seer kakebeen. “Over … it eez! Overz, pleeze!”
Die manne begin opnuut lag, maar hulle lag verdwyn baie vinnig toe Meg se stem weer die vertrek deurklief.
“Ek móés teen wil en dank die rol van liewe koningin Bess vertolk! Die hóófrol, as ek u mag herinner! As koningin Bess, eis ek my reg op om die oorwinnaar te kroon met hierdie lourierkrans!”
Sy kyk Barnato stip in die oë. Hy versit nie ’n voet nie.
“Of is die dapper sir Walter Raleigh, ons held, nou skielik bang vir sy liewe koningin Bess?” vra Meg snedig.
Die spottende gelag wat nou opklink, laat Barnato geen ander uitweg as om die siedende Meg te nader nie. Sy staan soos ’n standbeeld daar met die lourierkrans in haar hand, gereed om dit op sy hoof te plaas.
Barnato grinnik verleë en stap traag nader. Dit laat hom nog meer na ’n apie lyk, dink Meg venynig. Nee, hierdie apie sal sy regsien; sy sal hom ’n les leer wat hy nie maklik sal vergeet nie!
Barney steek ’n entjie van haar af vas en buig oordrewe. “Die eer vir u nederige dienskneg is te groot om uit u fraaie hand –”
“Ek wág, meneer Barnato!” sê koningin Bess afgemete. “Kom nader! Soos u seker kan sien, is ek nie geseënd met arms soos die Spanjaard s’n nie!”
“Komaan, Barney!” moedig ’n omstander hom aan.
“Die sjampanje word warm!” skreeu ’n ander.
Barnato tree nader, naby genoeg vir Meg om die lourierkroon met haar linkerhand op sy kop neer te plak.
“Ek slaan u tot ridder, my heer!” bulder Meg. En tegelykertyd skiet haar regtervuis uit en tref Barney vol onder die ken. Sy ogies kyk haar ’n oomblik lank in stomme verbasing aan, dan trek beide oë skeel na binne en hy slaan voor Meg se voete reg agteroor. Uitgeslaan! Meg MacIntyre het vir Barney Barnato uitgeslaan!
’n Geskokte stilte daal oor die salon neer. Dan weergalm Meg se stem soos ’n mishoring, onmiskenbaar ’n laaste waarskuwing. “Dit, menere, was die lááste spel, en die állerlaaste boksgeveg, wat óóit in die Arms and the Soul sal plaasvind!”
Meg tree koel oor die gevalle sir Walter Raleigh en wink die deurwagte nader. Sy beduie na die Spanjaard, wat nog steeds kop onderstebo sit, en die onkapabele Barnato aan haar voete.
“Neem die twee here asseblief na buite. Ek glo die vars lug sal albei van hulle ná dese goed doen.”
Die drie groot deurwagters gehoorsaam dadelik. In ’n ommesientjie is die personae non grata verwyder. Met die slinksheid van ’n oeroue Eva verras sy haar nou ongemaklike kliënte met haar mees stralende glimlag.
“Menere, ek is vas oortuig dat meneer Barnato nie sou wou hê dat enige van u honger of dors moet wees op so ’n opwindende aand nie.” Soos ’n oorlogsfregat in volle vaart, pyl sy op die eetkamerdeure af en gooi hulle oop. Sy buig verwelkomend vir die gaste.
“Eet en drink soveel as wat u kán, menere, want dié banket sal óók vir meneer Barnato se rekening wees! Hy het my vertroue beskaam, en u het self