Die fortuinsoekers. Lerina Erasmus

Читать онлайн книгу.

Die fortuinsoekers - Lerina Erasmus


Скачать книгу

      Die lampligte van die Arms se veranda glim op sy blonde hare. Barnato merk weer hoe opvallend aantreklik – nee, in Karl se geval is “mooi” ’n pasliker woord – hoe opvallend mooi sy hedonistiese jong vriend is. Hy knipoog en glimlag goedig.

      “Hóé stimulerend, my liewe Karl, gaan ek nie sê nie … veral nie vir jóú nie! Jy hou jou hande van Maisie af, verstaan! Daar is genoeg – eintlik te véél – dames wat om jou draai!”

      Karl lag.

      Barney verander sy stemtoon en fluister soos ’n samesweerder. “Het jy toe die Spanjaard omgekoop?”

      Karl knik. “Hy en die vier draers wag in die kleedkamer. Alles is gereed. Was nogal ’n ding om die kajuitkoffer, die bokser en die vier draers in te smokkel sonder dat Megan MacIntyre lont ruik!”

      Die twee mans loop laggend die trappe op.

      Die Arms se portier buig verwelkomend en maak die deur vir hulle oop. Hy staan ook gereed om die twee here se mantels en pluiskeile te neem. Die opgewonde Barnato steur hom min aan die nougesette portier.

      “Ek het ’n voorgevoel, Mannheim, dat ons die aand van ons lewe gaan hê,” fluister hy. “Ons gaan hierdie saaie hool opwinding besorg soos nog nooit tevore nie!”

      Karl glimlag en beduie met sy kop in die rigting van die kleedkamers. “Komaan! Laat ons van vere gaan verwissel. Die ander wag al vir ons.”

      Geklee in sy gebruiklike deftige aandpak waarin sy korpulente figuur ten beste vertoon, staan Mac MacIntyre met sy hande agter sy rug sy gaste in die salon en dophou – deur en deur ’n suksesvolle saloneienaar.

      Maar vanaand voel hy op ’n snaakse manier onrustig. Hy kan nie sy vinger daarop lê nie, maar hy is al van vroegaand af bewus van ’n vreemde soort geladenheid in die lug, ’n soort afwagting wat onder die gaste heers. Miskien het dit iets te make met die feit dat die salon so ongewoon vol is. Maar waarom is dit vanaand dan so vol? Daar is skaars plek vir ’n muis, en steeds stroom deftig geklede here by die deure in.

      Sy oë flits takserend oor sy gaste. Hulle is almal hier: Julius Wernher, George Albu; Hermann Eckstein het pas aangekom met J.B. Robinson kort op sy hakke.

      Die Kimberleyse diamantbaronne is nou byna voltallig, met die uitsondering van Barney Barnato. Dié skitter in sy afwesigheid. Mac frons. Dis eienaardig om Barney nie vanaand in hulle geledere te sien nie.

      Dit het Barnato ’n week se mooipraat en daarby bosse en bosse blomme gekos om Meg sover te kry om haar hart weer teenoor hom te versag nadat hy haar salon amper in ’n bokskryt omskep het. Sy het hom die plek verbied.

      Sy verbanning is egter sedert verlede Vrydag opgehef. Daarom is dit uiters vreemd om hom nie hier tussen die lede van die berugte Barnato-kliek op te merk nie.

      Simmer – van Simmer & Jack – stap by die deur in. Mac kyk hoe hy geesdriftig vir David Marshall op die skouer klop. Marshall, ’n lid van die Barnato-kliek, draai om by die faro-tafel waar hy pas ’n weddenskap aangegaan het. Die twee mans praat haastig onderlangs, dan bars Marshall hard uit van die lag.

      Mac merk dat hulle grappie van tafel tot tafel oorvertel word. Hy frons. Die opgewonde gelag word nou van oral af gehoor. Die stemming bereik ’n byna frenetiese intensiteit, en steeds kan Mac nie begryp wat aan die gang is nie.

      Hoe wens hy nie dat Kit Malloy terug was nie! Verdomp! Die kêrel is nou al ’n hele paar maande weg op sy geheimsinnige sending na die Oos-Kaap. Dit is hoog tyd dat hy moet terugkom. Kit sou dadelik sy vinger op die aand se pols kon geplaas het. Mac sug en betrag die crème de la crème van die nuwe Johannesburgse sakelui met al hoe meer agterdog.

      Sy gereelde klandisie bestaan uit manne van oor die hele wêreld, manne wat, ná die berigte oor hoe George Harrison se ryk vonds die Ou Wêreld aan die brand gesteek het, hier kom nesskop het in die hoop om ’n fortuin te maak.

      Hoewel sommige van hulle, soos Hermann Eckstein, die Albu’s en Kurt Mannheim met ou geld uit Europa op die Rand geland het, hopende om hulle fortuine hier te verdubbel (wat die meeste van hulle waarskynlik nou al tien keer oor gedoen het), het die meerderheid van die Rand se nuwe elite hier aangekom met bitter min van hul eie. Sommige van hulle het nie die mas opgekom nie, ander het.

      Die groep wat wel suksesvol was, is almal vanaand hier vergader – geharde manne, bereid om die pioniersdorp se uitdagings te trotseer. Hulle is wakker en geslepe entrepreneurs wat die kat goed uit die boom kan kyk, en daarbenewens beskik elkeen van hulle oor eindelose deursettingsvermoë, waarskynlik die belangrikste vereiste vir sukses in hierdie harde milieu.

      Op ’n manier reken hy hom en Kit ook onder dié garde; hulle was nou wel nooit myners nie, maar hulle het hul winste gemaak uit die goud wat die delwers boontoe gebring het. So was dit in hul Oos-Transvaalse dae destyds, en hier aan die Rand staan sake nie veel anders nie.

      Die gelag word nou te veel vir Mac; iets is beslis nie lekker nie. Hy kry doelgerig koers kroeg se kant toe om by die kroegman, meneer Benny, te gaan hoor of hy weet wat vanaand aan die gang is.

      By die tafel van die Barnato-kliek word daar vir oulaas flink in die geheim gewed. Die hele salon weet natuurlik wat aan die kom is.

      “Is Barnato al hier?” fluister J.B. Robinson.

      John Hays Hammond knik. “Ek het die portier nou-nou gevra. Hy en jong Mannheim het tien minute gelede opgedaag. Die Spanjaard is al lankal hier.”

      “Ach, warum warten wir dann?” vra Eckstein geïrriteerd.

      “Megan MacIntyre. Die dame het nog nie haar opwagting gemaak nie. Niks kan gebeur sonder haar nie!”

      Asof sy die mans in die salon afgeluister het, maak die deftig geklede eienares van die Arms haar statige verskyning op die bopunt van die trap. Blonde Meg, groot van gestalte, herinner onwillekeurig aan die Vikingvroue van weleer wat langs hul mans geveg het.

      Mac, wat nie sy vrou sien binnekom het nie, draai agterdogtig om omdat die salon skielik aansienlik stiller word, maar merk dan sy geliefde Meg boaan die trap op, van waar sy die gaste by hulle tafels waarneem.

      Toe sy die trappe afkom is Meg self verbaas om die salon so stampvol te sien. ’n Mens kan gewoonlik ná ’n groot perderesies of ander uitsonderlike gebeurtenis ’n vol salon verwag, maar vanaand …? Dis tog maar ’n doodgewone Vrydagaand.

      Skielik kom daar van die deur se kant af ’n trompetgeskal. Die dame van die Arms draai om – en haar mond val oop van verbasing.

      Twee heroute in Elizabethaanse kostuums blaas ’n triomfantlike fanfare ter aankondiging van die vreemdste prosessie denkbaar.

      Vier massiewe, halfnaakte swart mans, soos Romeinse soldate geklee, marsjeer nader met twee enorme kajuitkoffers. Kort op hul hakke volg die jong Karl Mannheim, geklee soos ’n Romeinse orator, ’n papirusrol in sy hand. Links van hom stap Barney Barnato. In sy manjifieke Shakespereaanse kostuum lyk Barnato presies soos ’n edelman uit die Renaissance.

      Barnato! Meg se oë trek op skrefies. Die ventjie is natuurlik weer besig met die een of ander gekkerny! Sy voel die bloed opstoot na haar wange en herwin haar stem. “Menere! Mag ek vra met watter soort sirkusoptog julle nou hier besig is?”

      Niemand antwoord nie.

      Die enorme swart Romeine sit hul swaar vrag neer. Op ’n teken van jong Mannheim kniel almal – van herout tot soldaat tot Barnato. Hulle strek hulle hande in ’n teatrale, pleitende gebaar uit na Meg.

      Karl Mannheim rol sy papirusdokument oop. Sy gesig word rooi soos hy sukkel om sy lag te onderdruk. Dan begin hy dramaties deklameer:

      “O, Megan MacIntyre! Skone dame van die huis,

      hier in jou Arms voel elke heer hom tuis!

      Hier heers Fortuna, koningswyn en die ambrosia

      van goeie spy-”

      “Dis nou heeltemal genoeg twak, meneer Mannheim,” roep Meg streng uit.

      “Madame! My skone madame!”


Скачать книгу