Die goudkewers. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.beskikbaar gestel het. Barnato se maatskappy het kort gelede nuwe myne oopgemaak in die suide.
Interessant, dink Kit, kort gelede het daardie spesifieke grond na die suide aan ou Kurt Mannheim behoort. Barnato en Mannheim moet tot ’n vergelyk gekom het. Die rif daar loop glo dik met gouderts. Dis onwaarskynlik dat ou Mannheim met sy vlymskerp sake-instink nie daarvan bewus was nie. Hoe sou Barnato die ou man oorgehaal het om te verkoop?
Kit steek die plein oor na die hoek van Simmondsstraat, waar ’n splinternuwe gebou opvallend uitstaan in sy blosende glorie van rooi bakstene en roomkleurige stukadoorswerk. Die gebou huisves sy nuwe maatskappy – bo die ingang staan daar Malloy Property Development & Investment Corporation in groot koperletters. Hy kyk trots na die sierlike gebou. Hy wou aanvanklik die gebou koop, maar op die nippertjie het hy besluit om liewer te huur. Nadat hy die artikel uit Skotland onder oë gehad het, het hy besef dit sou verstandig wees om sy kapitaal los te hou vir sy planne.
Goeie ou Mac! Van Mac kan hy nie ’n bydrae verwag nie, want sy bates is vas. Hoewel Mac op ’n ad hoc-basis sy gewig begin ingooi by Kit se nuwe maatskappy, twyfel Kit of die versigtige Skot ooit weer met die entoesiasme van vroeër waagstukke sal aandurf. Die jare van sekuriteit wat sy huwelik meegebring het – en waarop Megan MacIntyre ongetwyfeld aangedring het – het weldeeglik daarvoor gesorg.
Meg. Kit se gesig verdonker toe hy die wit marmertrappe voor die ingang bestyg. Hy kon homself nog nie sover kry om die vrou te vergewe nie. Mac was ook weke lank stuurs teenoor sy vrou. Hy het selfs ’n tyd lank uitgetrek uit hul kamers in die Arms and the Soul. Meg bedryf die Arms nou op haar eie. Miskien is dit soos wat sy dit graag wil hê … Maar nou ja; wat hom aanbetref, hoop hy om haar nooit weer te sien nie.
Kit knik vir die deurwag; die man buig en hou die deur vir Kit oop. “Goeiemôre, my heer!”
“Môre, meneer Kenneth. Het my besoeker al opgedaag?”
Die deurwag knik eerbiedig. “Ja, meneer Malloy. Ek het meneer Cohen persoonlik na u kantoor begelei. Hy wag daar by u sekretaris.”
Kit haas hom by die trap op. Hy het Cohen ’n paar weke gelede aangesê om ’n kontrak op te stel vir die stuk grond by Onderkopjes wat hy as geskenk op Deborah se naam wil laat oorplaas. Indien hy nie teruggekom het uit Lourenço Marques nie, sou sy die grond in elk geval geërf het. Hy was ’n week of wat gelede op Onderkopjes, maar die pyn om daar rond te loop, om die een hemelse dag wat hy daar saam met haar deurgebring het te onthou, was byna te veel om te verduur. Dit is waar die idee die eerste keer posgevat het. Kit se hart klop swaar. Die skenking is nie sonder bymotiewe nie. Hy hoop met sy hele wese dat sy op die een of ander manier daarop sal reageer. Sy móét net. Mens ontvang tog nie so iets ligtelik nie, sonder om na die een of die ander kant reaksie te toon nie! In sy wanhopige pogings om met haar te probeer kontak maak, het hy nou bykans alles onder die son gedoen om haar alleen te siene te kry. Tot dusver kon hy niks regkry nie.
Hy weet dat sy byna daagliks saam met ou Mannheim na die myne toe uitry; daar word nogal heelwat daaroor gepraat in Johannesburg se sosiale kringe. Die kletsers beweer dat ou Mannheim besig is om van sy skoondogter ’n mannetjiesvrou te maak om te vergoed vir Karl se gebrek aan belangstelling in die Mannheim-ondernemings. Kit ken Deborah beter; hy weet dat Kurt Mannheim nie ’n beter koers kon ingeslaan het om sy skoondogter se aandag en lojaliteit te wen nie, en dit frustreer hom. Met haar sin vir die praktiese en haar skerp brein, is Deborah waarskynlik in haar element op die myne. Sou dit Kurt Mannheim se manier wees om op te maak vir Karl se gedrag?
Die jong Mannheim is nou reeds meer as ’n maand soek. Ou Kurt het diskreet vir Von Brandis versoek om navraag te doen. Kit weet dit omdat Von Brandis hóm eerste kom ondervra het, na aanleiding van die debakel die aand in die Theatre Royal toe hy en Karl slaags geraak het. Kit sug bedruk. Watter fiasko was dit nie! Hoe dit ook al sy, Mannheim junior is sedert daardie nag skoonveld. Von Brandis het Kit nie weer lastig geval nie, hy was tevrede met die verklaring wat Kit afgelê het. Sy storie is gestaaf deur Gladys en Mac, wat omgesien het na die onkapabel gesuipte Kit. Kit voel hernude ergerlikheid met homself toe hy die laaste stel treetjies na sy kantoor op die derde vloer begin klim. Von Brandis se nuus dat Karl Mannheim weg was, het hom laat wonder of sy kwetsende woorde oor Deborah en hul dag saam moontlik daartoe aanleiding gegee het. Sou hulle ’n rusie gehad het? Von Brandis het aan Kit erken dat dit na sy mening die rede is waarom die jong Mannheim sy vrou verlaat het. Kit treur geensins daaroor nie; hoe langer Karl wegbly, hoe groter is sy kans om haar terug te wen. Sy kan tog nie vir ewig vir hom kwaad bly nie!
Tog, hy durf homself nie kul nie, dink hy vir die soveelste maal met skaamte en selfverwyt. Sy het die volste reg om hom te haat. Hy onthou sy skandalige gedrag die aand van sy tuiskoms uit Lourenço Marques, toe hy uitgevind het dat Deborah met Mannheim getroud is. Hy het homself waansinnig gesuip, en daarna wou hy alles breek en almal uitmekaar slaan. Daardie aand het hy ook vir Deborah, die mens wat hy die liefste op aarde het, in die openbaar tot in die afgrond verneder.
Vandat hy die dag daarna tot sy sinne gekom het, het hy alles gedoen wat hy kan om haar te sien en haar om vergifnis te smeek. Maar tot dusver kon hy nie naby haar kom nie. Kurt Mannheim en sy bediendes omsluit haar soos ’n bastion. Dit het Kit net meer vasberade gemaak. Hy stuur daagliks briewe en bosse blomme om haar hart te versag. Enkele dae ná die voorval – toe die ergste swelsel aan sy dik geslaande gesig gesak het – het hy selfs die Mannheim-woning stormgeloop, waar hy kil weggewys is deur die huiskneg.
So was dit ook die ander kere – Sam Naudies het hom elke keer ferm meegedeel dat mevrou Deborah nie beskikbaar was nie. Sy sou ook nóóit vir hom beskikbaar wees nie, nie as Sam Naudies dit kon verhelp nie. Dit het die swart man se vyandige gesig duidelik gewys. Op ’n keer het hy aangedring om met Ma-Fytjie te praat, maar ook sy was nie beskikbaar nie. Kit is oortuig dat die liewe ou vrou, met wie hy ’n rapport opgebou het voor sy vertrek na Lourenço Marques, hom nie sonder meer sou wegwys nie. Ongelukkig is Sam bedags die nie-amptelike baas en deurwag van die Mannheim-huis.
Kit het dit selfs al oorweeg om gedurende die nag ongenooid toegang tot die huis te kry, maar ná oorweging het hy dié idee verwerp. Ná sy gedrag daardie veelbewoë aand vermoed hy dat so ’n agterbakse besoek sake beslis nie sal verbeter nie.
Met die hulp van April, Sorgenfrei se ou perdeman, het Kit kort gelede wel daarin geslaag om Ma-Fytjie te siene te kry. Ma-Fytjie het geen doekies omgedraai nie. Sy het Kit goed die kop gewas omdat hy, volgens haar, haar missie Deborah en haarself in die steek gelaat het. Ma-Fytjie was duidelik diep bedruk. Vir haar was daar nou geen salf meer te smeer nie.
Dit was daardie selfde dag dat hy Onderkopjes in sy eensame frustrasie weer vir die eerste keer alleen besoek het. Dáár het die idee posgevat. Deborah kan tog nie onaangeraak bly as hy die grond aan haar skenk nie; sy weet wat hy op daardie groot stuk grond teen die koppe noord van die stad vir hulle beplan het.
Kit maak die deur na die ontvangskamer van sy kantore oop. Sy hoop is volkome gevestig daarop dat die oordrag van die grond op haar naam haar sal dwing om te reageer. Hy het ook ’n brief aan haar geskryf, en hy sal dit aan Cohen gee met die uitdruklike bevel dat sy dit ín sy teenwoordigheid moet oopmaak en lees. Dis om te verseker dat sy dit nie ongelees opskeur of wegsmyt nie, want dis wat sy volgens Ma-Fytjie met al sy ander briewe gedoen het. Sal Deborah nog so onvergewensgesind teenoor hom wees nadat sy sy verduideliking in die brief gelees het? Ten spyte van die brose gevoel van hoop waarmee hy sy frustrasie probeer besweer, spook Ma-Fytjie se afskeidswoorde nou opnuut by hom: “Sal nie help nie, mister Kit, die koeël het geklap en hy’s deur my missie Deborah. Dié is nou gekerk en sy is gekerk met mister Karl. Al huil sy saans haar oë uit en al is mister Karl weg, is dit soos dit is. Sal beter wees as jy polshoogte van jou eie lewe begin neem en vergeet van my missie Deborah.”
Maar hoe kan hy haar vergeet? Net so afstand doen van haar? Hulle hóórt bymekaar. Karl Mannheim het haar omgekonkel toe sy emosioneel weerloos was, daarom gaan hy alles in sy vermoë doen om haar vir homself terug te wen. Wat dit ook al van hom mag verg.
* * *
Saterdagmôre, dink Deborah, en kom traag uit die warm bed orent. Hoewel dit reeds ná agt is, is die lig wat deur die vensters syfer troebel en grys. Dis betrokke, merk sy op, ongewoon vir dié tyd van die jaar. Sy drink die glas kookwater en suurlemoensap