Die goudkewers. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.en daarby het sy dit te koud laat word. Deborah mis haar oggendkoffie, maar dit akkordeer om die een of ander rede nie meer in die oggend met haar nie. Doelloos loop sy na die venster en staar deur die deels toegewasemde ruit. Die grysheid van die dag buite die kamervenster bedruk haar nog meer en laat haar onwillekeurig ril. Sy draai weg. Die dag strek eindeloos lank voor haar uit. Dis Saterdag, daarom sal sy nie soos gewoonlik die myne saam met haar skoonpa besoek nie. Kurt gebruik gewoonlik sy naweke om op datum te kom met sy bank- en ander handelstransaksies se inskrywings. Sy het aangebied om hom daarmee te help, maar hy het beleefd haar hulp van die hand gewys. Hy vertrou haar waarskynlik nog steeds nie genoeg nie.
Haastig was sy en trek haar onderklere aan, iets wat sy verstommend vinnig bemeester het ná daardie nag met Karl, toe sy nie wou hê dat Ma-Fytjie haar liggaam moes sien in die toestand waarin dit was nadat Karl met haar klaar was nie.
Karl … Sedertdien het hy verdwyn. Aanvanklik het sy gedink dat hy haar verlaat het, moontlik gaan wegkruip het in sy eie kwartiere in die Palace Towers, maar hy was nie daar nie. Dit het die diep bekommerde Sam Naudies vir haar en Kurt meegedeel. Daarby het Karl ook nie sy opwagting gemaak by die Theatre Royal se repetisies nie. In die laaste paar weke kon sy sien hoe sy verdwyning Kurt en Sam al hoe onrustiger maak. Sy gee self nie om waar hy is nie. Nie dat sy daardie nag se gebeure teen hom hou nie; dit is eerder asof sy ’n gordyn daaroor getrek het, om te kan vergeet. Sy het Karl doelbewus uit haar gedagtes gesluit en haar aandag op ander dinge toegespits. Dit was die enigste manier waarop sy kon voortgaan, voortleef, asof niks gebeur het nie.
Deborah maak die kas oop en haal ’n donker geruite wolstof-uitrusting uit omdat die mantel wat daarby pas, die koue buite sal besweer. Geoefen lig sy kledingstuk ná kledingstuk oor haar kop, terwyl gedagtes aan die verloop van die laaste paar weke deur haar kop bly maal. As dit nie vir haar skoonpa was nie, sou sy beswaarlik daarin geslaag het om haarself so gou reg te ruk.
Sy onthou daardie eerste oggend ná die verkragting, toe sy haar skoonpa na die myne vergesel het, maar te goed. Die skommeling van die Mannheim-koets het haar pyn en ongemak byna onuithoudbaar gemaak. Tog was dit nie haar misbruikte liggaam wat haar die meeste lyding veroorsaak het nie. Veel erger was die gevoel van skaamte en vernedering waarvoor Kit Malloy verantwoordelik was. Sy sluit haar oë en sien voor haar geestesoog weer hoe hy daardie aand gelyk het: hoekig en skraal, in sy verbitterde woede teenoor haar selfs aantrekliker as ooit. Watter reg het hý gehad om vir háár kwaad te wees? Maar wat maak dit nou in ieder geval saak? Dis verby.
Sy verban alle gedagtes aan Kit Malloy met mening en fokus haar gedagtes eerder op daardie eerste dag toe sy saam met haar skoonpa na sy myne begin uitry het. Dit het nie net ontvlugting uit die dorp gebied nie; maar soos sy hom in die dae daarna na die myne vergesel het, het Kurt Mannheim haar belangstelling daagliks gevoed met wat hy aan haar uitgewys het. Sy respek en die manier waarop hy haar behandel het, het haar verflenterde selfvertroue geheel, want hy het haar van meet af nie as ’n blote vrou gesien nie, maar eerder as ’n soort leerling of vertroueling. Kurt het haar rondgewys en touwys gemaak asof sy ’n man is. Hy het elke myn se uitleg aan haar verduidelik en haar vertel watter probleme hulle op daardie oomblik die hoof moes bied, maar tegelyk ook trots die suksesvolle implementering van nuwe tegnieke aan haar uitgewys, waagsame nuwe tegnieke wat hy as myneienaar moes bedink om sy myne meer mededingend te maak met die res van die nuwe goudkewers s’n.
Kurt het Job se geduld gehad en was meer as bereid om alles in detail aan haar te verduidelik tot hy oortuig was dat sy dit ten volle verstaan. Hoe meer sy te wete gekom het van die groeiende mynbedryf, hoe meer het dit haar gefassineer. In haar honger na nuwe kennis het sy saans, en soms snags ook, tot laat boeke verslind wat sy uit Kurt Mannheim se biblioteek geleen het. Dit het die tyd verdryf en haar lang nagte verkort, want dit was snags alleen in haar kamer dat sy getob het oor wat gebeur het.
Haar sin vir regverdigheid het haar Karl se kant van die saak laat insien. Dit wat Kit kwytgeraak het in die foyer van die Theatre Royal, toe hy haar openlik uitgekryt het vir ’n hoer wat hý eerste gebruik het, moes Karl se eergevoel ’n geweldige knou toegedien het. Waarskynlik het hy na sy eie mening rede gehad om hom op haar te wreek. Tog kon sy geen verskoning vind vir Kit se gedrag nie. Hy het dít wat sy as heilig tussen hulle beskou het, onder sy voete vertrap. Selfs nou nog vreet die herinnering daaraan soos bytsoda aan haar siel. Sy het gehoop dat sy hom nooit weer sou sien nie, maar daarvoor is Johannesburg te klein. Twee maal ná daardie aand het sy hom op ’n afstand gewaar, en beide kere het die onstuimigheid van haar gemoed verraai dat haar voorneme om hom te vergeet geensins so eenvoudig is nie. Deur Sam weet sy ook dat Kit verskeie kere probeer het om haar te sien. Sam kon hom tot dusver elke keer wegwys – soos sy uitdruklik beveel het, want sy wil Kit Malloy onder geen omstandighede weer in die oë kyk nie. Altans nie voordat sy seker is dat sy haar onsinnige gevoel vir die man onder beheer het nie. Of sy ooit daarin gaan slaag weet sy nie, want gedurende die lang nagtelike ure wanneer sy weerloos is, loop Kit sonder uitnodiging haar gedagtes en drome binne. Dan is haar verlange so fel dat sy op haar tande moet kners om nie sy naam uit te roep nie. Om nie deur alle deure en hekke wat haar inperk te storm om haarself voor sy voete te gaan neergooi nie.
In watter onuitspreeklik idiotiese wese verander liefde ’n vrou nie, dink sy weer bitter. So was dit destyds met haar ma en John Digby, vir wie Alisha niks op aarde kon weier nie. Met hoeveel minagting het sy nie haar ma se swakheid bejeën nie – en nou? Wat anders as juis dít het nou met haar gebeur? Sy self was verantwoordelik vir hierdie onmoontlike situasie waarin sy beland het. En dit alles deur haar sogenaamde groot liefde vir Kit! Deborah sluit haar oë en onthou die dierlike geveg wat tussen hom en Karl losgebreek het ná Kit se smalende aanmerkings. ’n Goedkoop bakleiery wat later uitgeloop het op ’n algemene vuisslanery soos wat mens te wagte kon wees in ’n derderangse kroeg. Hoe het die Johannesburgers nie dae lank daarna nog daaroor geklets nie! Sy is nou nog sku om mense in die oë te kyk. Dít het sy te danke aan die man wat sy met hart en siel en liggaam liefgehad het – en nog steeds liefhet.
Die ontbytklok klink op uit die eetkamer. Deborah swaai haar mantel om en knoop dit vas. Vervlaks! Sy moet haar regruk! Ma-Fytjie met haar skerp ou oë sal alte gou agterkom dat daar iets skort. Haar skoonpa ook. Hoewel hulle nog nooit gepraat het oor wat daardie aand gebeur het nie, weet sy dat hy weet. Die hele Johannesburg weet trouens, want die sappige berig oor die bakleiery het die koerante se voorblaaie gehaal. Sy en Kurt Mannheim het gemaak asof hulle dit nie raaksien nie. Sy het hom ook nooit vertel wat daardie selfde nag nog tussen haar en Karl gebeur het nie. Sy het aangevoel dat dit die ouer man se siel sou kwets om so iets te hoor. Hy was net goed vir haar die afgelope ruk, dink sy met deernis toe sy die deur oopmaak en na die eetkamer stap.
“Môre, mevrou,” groet Sam en trek haar stoel vir haar uit. Deborah loop hom tegemoet.
“Môre, Sam,” antwoord sy. Sy glimlag ook vir die twee tafelmeisies, Agnes en Miriam, wat nou in hul eenderse dagdrag met die wit en blou strepies respekvol kniebuig, soos Sam hulle geleer het.
Kurt se swaar voetstappe klink in die gang op. Hy maak sy verskyning en neem sy plek in. Die dag en die ontbyt mag begin.
Deborah het haar vroeëre somber gedagtes verban en slaag nou daarin om ’n lewendige gesprek met Kurt te voer, hoofsaaklik oor die boek wat hy twee aande gelede aan haar geleen het, ’n boek wat handel oor die sensasionele tonnelmyntegnieke van die Kanadese mynbedryf. Sy het dit uiters insiggewend gevind.
Kurt is onbewus van die lang, eensame nagte wat Deborah soms dwing om tot ligdag te lees, en hy verstom hom opnuut oor haar intense belangstelling in mynbou. Hoeveel plesier dit hom verskaf, sal hy vanweë sy natuurlike stugheid waarskynlik nooit aan haar kan oordra nie, maar haar teenwoordigheid by die myne het vir hom geword soos reën wat ’n barre woestynlandskap verkwik.
Kurt se blik rus konstant op sy skoondogter. Hy is intens bewus van die kruiegeur van haar hare, wat vanoggend in ’n stewige chignon vasgepen is. Enkele krulletjies het tog daarin geslaag om uit die streng kapsel te ontsnap en omraam nou haar gesig en nek soos ’n stralekrans. Hy voel skielik ’n byna onweerstaanbare begeerte om daaraan te raak, maar hy bedwing homself en kom vinnig orent.
“Ek moet gaan. Ek is reeds laat,” sê hy kortaf.
Deborah lyk verbaas, maar knik dan. Sy kom ook eerbiedig orent. Hy draai om en loop deur toe sonder ’n