Die goudkewers. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.deurstaan nie, dink sy, bewus van ’n eindelose hartseer wat dreig om haar te oorweldig terwyl sy Mac se verduideliking stilswyend verder aanhoor.
“Kit was siek, Deborah, tot die dood toe siek. Jy kan jou skaars indink hoe hy daar uitgesien het. Ligblind ná die lang weke in die donker. Uitgeteer en oortrek van swere. Omdat sy gestel so swak was, het die katshale septies geraak. Bloedvergiftiging het ingetree. Meer as drie weke lank was hy op die rand van die dood. Dit het Joaquim Tristão my nóú eers in ’n brief vertel. Volgens hom was die Portugese dokters raadop, en was dit nie vir ’n eksentrieke bosdokter wat geweier het om op te gee nie, was Kit nie vandag hier nie …”
Mac staan stadig op en beweeg stil na die roerlose figuur voor die venster. “Ek glo dit was nie net die kruiedokter wat ’n rol gespeel het nie,” sê hy saggies. “Dit was Kit se wil om te oorleef wat hom deurgehaal het.” Mac se Skotse aksent raak ruier. “Hy wou leef omdat hy na jou toe wou terugkom. Kit het my self vertel dat dit jóú beeld was wat hom laat terugveg het, hom aan die lewe gehou het onder in die slymerige kerker waar hy gelê het. Gestroop van alle hoop om ooit weer die daglig te aanskou. Dit was jóú beeld wat hy in die oomblikke van wanhoop herroep het, wat hom nie laat tou opgooi het nie. Jóú beeld wat hom sy verstand laat behou het!”
Hy plaas sy hande op haar skouers en dwing haar om na hom om te draai. “Deborah? Kyk na my!” Nou eers merk hy dat haar wange nat is van trane. Deborah is onbewus daarvan dat sy huil. Sy wend geen poging aan om die trane weg te vee nie.
Daar is ’n matelose treurigheid in Mac toe hy skuld bely oor sy vrou se aandeel. Meg, wat op die vooraand van Deborah se troue die berig dat Kit leef, onderskep het.
“Ek weet nie watter duiwel in Meg se kop ingevaar het om daardie telegram te vernietig nie. Dinge kon so anders gewees het as dit nie daarvoor was nie. Omdat ek weet dat Meg nooit die nederigheid sal hê om so iets te doen nie, vra ek jou nou namens haar om verskoning.”
Deborah antwoord hom nie. Sy kan nie. Sy draai weer weg, skielik skaam bewus van die nattigheid op haar wange. Sy vee die trane met ongeduld weg, bewus van ’n gevoel van totale verlorenheid. Wat help Mac se belydenis nou? Wat baat dit haar om nóú al hierdie dinge te weet? Maak dit enigsins iets ongedaan?
Mac merk die verslaentheid in die jong vrou se houding en besluit om dit verder te waag. “Miskien sal jy simpatie en vergifnis in jou hart vind vir ’n man wat soveel gely het. Daardie selfde man moes die dag van sy tuiskoms uitvind dat hy die spil verloor het waarom sy hele wese wentel, dat sy aan iemand anders behoort. Daar het daardie aand ’n duiwel in Kit ingevaar, Deborah, glo my! Glo my ook dat Kit bitter berou het oor sy gedrag …”
“Asseblief!” roep Deborah uit toe sy uiteindelik weer beheer oor haar stembande herwin. “Ek wil nie nou daaroor praat nie, nie nou nie, hoor jy?” Sy ervaar skielik ’n onverklaarbare woede, ’n woede gerig teen haarself en haar eie kortsigtigheid. Sy moes geluister het na haar hart, ten spyte van vader John se berading. Sy moes na Kit toe gegaan het die oomblik toe sy gehoor het van sy aankoms. Maar haar trots het haar weerhou. Wat daarna tussen hulle gebeur het by die Theatre Royal sal waarskynlik nou vir ewig tussen hulle staan. Niks wat Mac sê kan die woorde wat Kit haar daardie aand toegevoeg het ongedaan maak nie. Sy bedek haar gesig met haar hande en draai weg van Mac MacIntyre met sy pleitende uitdrukking. Hy moet loop … loop voordat sy haar selfbeheersing finaal verloor.
Mac begryp die boodskap toe sy haar rug op hom keer. Daar bly in elk geval niks verder oor om te sê nie. Woordeloos draai hy om en verlaat die vertrek.
Hoofstuk 2
Dis al sterk skemer toe vader John uitgeput sy perdekarretjie teen die laaste skuinserige hoogtetjie voor die kerk opstuur. Vir ’n Saterdag was dit ’n bedrywige en vermoeiende dag. Die winter het gemaai onder sy mense, wat in hul ontoereikende sink-en-sakskuilings skaars bestand was teen die ysige nagtemperature. Kroep en brongitis is aan die orde van die dag, en hy het amper-amper ’n kind aan longontsteking afgestaan. Toe hy sy gehawende rytuig tot stilstand bring voor die stalle, lui die eerste klokke al vir die aandmaal. Sy moegheid is vanaand egter groter as sy honger. Die vooruitsig van sy bed direk ná die aandmis is vir hom veel aanlokliker.
Vader John se hoop word verydel die oomblik toe hy van sy kapkarretjie afklim. ’n Figuur tree uit die skadu, en in die lig van die stalle se lanterns eien hy die jong Sjinese seun as die kind van een van sy gemeentelede in Happy Valley. Die seun stotter in sy gebroke, sangerige Engels sy boodskap uit: Iemand het sy ma gevra om ’n brief aan die priester te skrywe. Hy oorhandig die opgevoude brief aan vader John. “As u nie na die man gaan omsien nie, sal hy vannag nog doodgaan!”
Vader John kan die boodskap skaars ontsyfer, maar hy kom nietemin daaruit agter dat ’n man in ’n bedenklike toestand in een van die agterkamers van Rosie’s Eating House in Ferreira’s Dorp lê.
“Vader!” dring die seun se stem weer tot hom deur. Die donker blik is pleitend op die priester gerig. “Vader, moet asseblief vir niemand sê dat ek jou gesê het nie. Baie slegte joss vir my dan, ook vir my ma en ander kinders. Hulle sal ons kom doodmaak.”
“Wie sal julle doodmaak?” vra vader John fronsend. Die kind antwoord nie. Sy donker oë bly pleitend op die priester gerig. Vader John sug en knik gerusstellend vir die knaap. Dit was in elk geval ’n onsinnige vraag – Happy Valley is vrot van bendes en sindikate wat die inwoners se reeds miserabele lewens nog verder versuur.
“Asseblief, vader …” Die seun prop ’n paar toegebinde muntstukke in sy hand. “Dis vir die man, eerbare vader …” Net so onverwags as wat hy sy verskyning gemaak het, verdwyn die kind weer die donker nag in.
Vader John bly ’n oomblik nog beteuterd staan voordat hy sugtend omdraai. Hy sal eers sy twee staatmakerperde moet versorg en kos en water gee. Hulle is waarskynlik moeër as wat hy self is. Dit sal dalk beter wees as die ab sy toestemming gee dat hy twee vars perde mag gebruik. Skaars ’n halfuur later, toe die eerste gelui vir die aandmis opklink, ry vader John weer by die kerkgrond se hek uit op die tweesitplektreppie, dié keer getrek deur die ab se eie uitgeruste merries.
Gelukkig weet hy waar Rosie’s Eating House in Ferreira’s Dorp is, dink vader John toe hy spoed optel teen die afdraande af. As die man so siek is soos wat die kind beweer het, sal hy hom moet oorneem na die nonne se kloosterhospitaaltjie teen die heuwel wat nou Hospitaalheuwel heet. Dit lê reg aan die ander kant van die dorp. Hoe wens hy nou die kind was nie so oorhaastig en verskrik nie. As hy meer inligting gehad het oor die man se toestand sou hy beter toegerus gewees het om die arme siel te probeer help.
Vader John word deur die lywige Libanese eienares van Rosie’s Eating House begelei. Hy luister geamuseer na die vrou, wat haar man in sy afwesigheid genadeloos uitkryt. Sy sou die vieslike stommerik nooit oor haar drumpel toegelaat het nie, maar haar idiotiese man het hom natuurlik weer laat ompraat!
“Mans dink met hul agterstewes!” tier sy voort. “Nou sit ek opgeskeep met ’n sterwende opiumverslaafde in my agterplaas!”
“Opiumverslaafde?” roep vader John skerp uit, en hy het skielik ’n sterk vermoede wie hy in die kamer gaan aantref.
“Deurtrek van die duiwelsdrek!” sê Rosie snedig toe sy die deur oopmaak en die lantern hoër ophou sodat die priester die man op die kaalgestroopte matras beter kan sien. Sy het die linne verwyder. Sy wil niks wat aan haar behoort, bevlek hê met die stink afskeiding wat uit die skepsel se liggaam syfer nie. Die matras is ’n voos ou ding, dié sal sy na die tyd weggooi. Sy hoop en bid net dat die priester die man hier gaan wegneem, en gou ook.
Vader John vee die gelerige skuim om Karl se mond af en voel met ontsetting hoe flou en onreëlmatig die jong man se pols onder sy vingerpunte fladder. Met die eerste oogopslag was dit duidelik dat Karl se lewe aan ’n baie dun draadjie hang. Vader John haas hom na buite om komberse uit sy kapkar te gaan haal. Karl is duidelik ook aan die verkluim, en dit gaan sy toestand beslis vererger. Hy sal hom so gou moontlik in die hospitaal moet kry.
Kurt Mannheim! dink hy met ’n skok. Sy skaakvriend is ’n vooraanstaande man. Al probeer hy om dit dig te hou, sal dit tog op die een of ander manier uitlek dat die jong man as gevolg van ’n opium-oordosis in die hospitaal