Sondag. Irma Venter
Читать онлайн книгу.
SONDAG
Irma Venter
Human & Rousseau
Hierdie een is vir Jeanette C
En vir Paula, Ammi en Hilda
One Mississippi becomes a study of how identity, in a family, is a group project – we often edit our loved ones into the people we want them to be.
– “Have You Heard the One About the Grieving Daughter”, James Poniewozik, New York Times, 8 September 2016
I did the calculations, they were wrong. They were wrong because life cannot be calculated. That’s the big mistake our civilisation made. We never accepted that randomness is not a mistake in the equation – it is part of the equation.
– Jeanette Winterson, The Stone Gods
We need myths to get by. We need story; otherwise the tremendous randomness of experience overwhelms us.
– Robert Coover
Hoofkarakters in alfabetiese volgorde:
Ranna Abramson is ’n konflikfotograaf en joernalis. Sy word deur die polisie gesoek vir verskeie moorde wat sy nie gepleeg het nie, insluitend die moord op Tom Masterson (sien Skoenlapper). Volgens haar vervalste ID is sy Francis (Frankie) Beekman. Sy is onseker of die polisie haar werklike identiteit kan bewys.
Alex Derksen is ’n joernalis. Hy en Ranna is in ’n verhouding. Hulle het mekaar in Dar es Salaam, Tanzanië ontmoet (sien Skoenlapper).
Sarah Fourie is ’n kuberkraker wat as sewentienjarige tot agtien maande gevangenisstraf gevonnis is. Sy het Alex ontmoet toe hy haar hofsaak vir sy koerant gedek het. Sy het Alex en Ranna al met verskeie ondersoeke bygestaan (sien Skrapnel, Sondebok en Sirkus).
Kaptein AJ Williams is ’n speurder in die polisie. Sy het vroeër opdrag gehad om Ranna Abramson op te spoor, maar Ranna het haar ontglip (sien Sondebok).
AJ
1.
Woensdag 7 Februarie, 19:14
Die voordeur swaai geruisloos oop toe ek die knip afdruk. Ek staan vir ’n oomblik stil in die skemerte van die dag, luister hoe die geelvinke kwetter in die tuin se wuiwende luiperdbome, swaar van voëlneste, asof ek ’n indringer is. Asof hulle die huis se mense wil waarsku dat hier ’n ongenooide gas is.
Te laat om dit nóú te wil doen.
Ek skop my gemaklike swart skoene uit, leun af en rol wit materiaalsokkies oor my kouse. Trek latekshandskoene aan en raak van my baadjie ontslae. Die aand bied geen genade teen die hitte nie en hier is niemand om vir die pistool aan my sy te skrik nie.
Ek maak my hare in ’n poniestert vas en tree tot in die voorportaal van die ruim dubbelverdiepinghuis in Brooklyn.
Die vinke skree blou moord.
Binne die huis is daar minder stof as wat ek sou dink. Die plek staan al ses weke toe. Die reuk verras my ook. Laventel en suurlemoen. Niks van die sweet of bloed wat ek sou verwag nie, die kloustrofobiese paniek van mense wat wegskarrel voor geweld nie.
Ek sit die sitkamerlig aan, soek die reuk se oorsprong. Vind dit op die televisiekas: ’n aërosol wat kort-kort parfuum die lug in blaas. Sjjjt, sê dit toe ek verbyloop, die reuk skerp in my neus, die sproei wat in fyn druppels op my val.
Ek stap verby die leerrusbanke, die Kersboom wat steeds rooi-geel-groen flikker. Verby die kombuis. Ek tree versigtig oor die bloed – so baie bloed – op die trappe, teen die muur.
Dis lankal nie meer rooi nie, eerder amper swart.
Ek mik na die boonste verdieping, waar een van hierdie saak se grootste raaisels lê. Die een wat my eerste in die dossier opgeval het toe ek dit vanoggend ontvang het.
In by die eerste deur aan die linkerkant. Cath van Zyl se kamer. Ek skakel die lig aan, gaan sit op die deurmekaar bed. Die spierwit beddegoed lyk nog nuut.
Teen die oorkantste muur is twee geraamde swart-en-wit foto’s van die Amerikaanse ballerina Misty Copeland. Dit hang waar mens dit heeltyd kan sien, of jy in die bed lê of by die kas staan en aantrek. Die een waar sy reguit in die kamera kyk, is geteken. Op die ander een staan EK KAN in dik swart letters. ’n Plakkaat wat ’n uitvoering van Giselle in Londen adverteer, hang bo die bed.
Ek staan op en loop na die venster, maak dit oop. Dis ’n houtraamvenster sonder diefwering hier op die huis se boonste verdieping. My eenslaapkamerwoonstel op die tiende vloer in Hatfield het oral Trellidors, selfs voor die vensters wat nie oopmaak nie. Seker ’n polisieding. En dalk is dit nodig in Hatfield, maar sekerlik nie hiér in die Stables Estate met sy 25 luukse huise, groot erwe, sekuriteit en 24-uur-patrollies nie.
Ek leun buitetoe, soek na bewyse dat die Van Zyls se enigste dogter tydens die aanval by die venster uit is. Die driemotorgarage se dak is net onder die venster, teenaan die huis, seker so twee, drie meter ondertoe. Cath van Zyl is jonk en atleties; dié sprong sou geen moeite wees nie.
Dis te sê as sy gevlug het en nie ontvoer is soos wat die dossier suggereer nie.
Ek soek weer, maar kan niks ongewoons in die flou straatligte uitmaak nie. Geen gebreekte dakteëls of flenters klere nie.
Ek kan nie die gevoel afskud dat sy nié ontvoer is nie. Niemand het dan nog enigiets van haar gehoor nie.
Nee, iets anders het hier gebeur.
Die donkerte verbaas my. Wanneer het die son gesak? Ek kyk op my horlosie. Dis al halfagt.
Ek gaap moeg. Tyd om huis toe te gaan. Ek sal môre terugkom.
Ek trek die handskoene uit en druk dit in my jeans se sak terwyl ek ondertoe loop. Op die oog af is alles in die huis steeds nes die Sondagnag toe die Van Zyls verdwyn het.
Nee. Die nag toe Lafras van Zyl vir dood agtergelaat is en sy gesin verdwyn het.
Katerien, Willem en Cath van Zyl. Skoonveld.
ALEX
1.
Donderdag 8 Februarie, 12:00
“Sy’s weg.”
Ivanka Babikova – Miss Behave – mors nie tyd nie. Ek het nog nie eers die yskoue Castle voor my nek omgedraai nie.
Ek tel die foto op wat sy oor die tafel, taai van jare se gemorste bier en halfhartige skoonvee, na my kant toe skuif. Tuur daarna in die swak lig van die Midnight Club. Ek draai die voosgevatte papier na die verhoog waar ’n rooikopvrou met die naam Kitty van haar klere ontslae raak – nie dat daar baie was om mee te begin nie.
Sy’s mooi maar moeg, die verleiding motories en afgeleef.
Ek probeer die musiek plaas wat krakerig oor die luidsprekers speel. Vind uiteindelik die spoor: ’n techno-weergawe van “You Can Leave Your Hat On”. Dis twaalfuur op ’n weeksmiddag en Kitty swaai lyf voor vier mans en ’n vrou wat na ons staar asof sy wonder of ons van die polisie is. Die plek ruik na muf en ou, diepgebraaide kos.
Ek kyk weer na die foto. Die vrou wat by ’n stokou vaalblou Renault Clio staan, is jonk, eintlik nog ’n meisie. Ligbruin hare, nie uit ’n bottel uit nie, pienk T-hemp, denimkortbroek wat ’n paar atletiese, bruingebrande bene wys. Dit lyk of die jeans sommer self korter gesny is.
Ranna neem die foto, sit dit voor haar neer, vee die kondensasie van die Amstel-bottel en sluk diep. Dis 37 grade in Johannesburg vandag.
“Hoe oud is sy?” Ranna gee die foto terug vir my.
Ivanka snork agter in haar keel. “Sy’s jonk, sy’s mooi. Is dit nie genoeg rede om te help nie?”
Die donkerkopvrou se Russiese aksent klink nes haar naam, eksoties en skerp.
Ek vee met my duim oor die gesig op die foto asof ek ’n antwoord uit die stom beeld kan toor. Die meisie lyk bekommerd, selfs kwaad, maar sy probeer dit wegsteek deur die motorsleutels gemaak opgewonde na die fotograaf uit