Sondag. Irma Venter
Читать онлайн книгу.onder die halfpadmerk.
Dis genoeg kos en drinkgoed vir drie dae, dalk meer as ek versigtig is.
Hoe lank kan mens nou weer sonder water oorleef? Drie dae?
Ek gaan sit op die matras op die vloer. Die laken was skoon toe ek hier aangekom het, maar die wit is nou so ’n lelike roomkleur. Dit ruik ook anders. Van skoon na sweet en stink, na hierdie plek se klam mure, die sanderige pleister en nat rooi bakstene onder dit.
Wanneer gaan hy terugkom? Hy móét terugkom, want ek kan nêrens heen nie. Die deur is met ’n ketting en ’n groot slot gesluit.
Help nie ek dink nou weer daaraan nie.
Al om en om met die blikoopmaker. Dis nog die ou soort, daai met die skerp punt wat jy in die blik inkap en dan op en af wikkel om die metaal te sny. Teen dié tyd weet ek al hoe.
“Stadig, Maria! Moenie jouself seermaak nie. Ons moet jou mooi oppas.”
Ek haat dit om Maria genoem te word. Ek weet nie hoekom hy dit doen nie. Dit klink soos iets uit die Bybel. En ek haat hierdie vuil, stinkende plek. En ek is nie lus vir boontjies nie.
Ek wil huil, maar ek baklei teen die trane. Huil help niks.
Ek buig die los metaalflap versigtig oop en steek die teelepel in die rooi tamatiesous. Ek moet eet. ’n Mens weet nooit wat môre gebeur nie. Dis wat Ma altyd gesê het, voor sy …
Ek vee oor my wang, sluk aan die hartseer wat in my keel opstoot oor Ma. Oor Pa. Oor doodgaan. Oor als. Dan los ek dit en huil maar in elk geval. Hier is tog niemand wat kan sien nie.
AJ
1.
Donderdag 8 Februarie, 14:00
“Hoe vorder jy?” Reggie Ndlovu se stem klink nes hy, wakker, dun en aggressief.
“Kolonel, die saak is nog nie eers twee dae by my nie.”
Ek druk my selfoon tussen skouer en nek vas en trek die rooi Merc 300D uit die ry motors wat by die Stables se hoofhek wil ingaan. Hou stil in die naaste besoekersparkering en draai die venster oop dat die middaglug my kan afkoel.
“Jy’s seker reg, ja.” Hy sug. “Dis net te veel … al hierdie dêm honde.”
Die media en die polisiekommissaris blaas in Ndlovu se nek. Misdaad is altyd meer spesiaal as die buurt stinkryk is. Boonop is die slagoffer ’n bekende voormalige avonturier met ’n beeldskone blonde vrou met ’n Amerikaanse paspoort. Die kinders is net so erg. Wandelende wilgerlat-langkuif-advertensies vir modehuise wat jy net in Sandton City se Diamond Walk kry – Gucci, Ferragamo, Louis Vuitton.
Maar dit verstaan ek. Kinders is spesiaal, oor hulle moet ons worry. Hulle het nog ’n kans. Hulle kan nog iets met hulle lewe doen, iets goeds en moois, nie soos die res van ons wat al te veel keer drooggemaak het nie.
“Dis al ses weke en ons het niks om te wys nie,” kla Ndlovu. “Moes Sydney juis nóú siek raak?”
Die hoof van Brooklyn-polisiestasie se speurdiens spreek die woord “siek” met ongekende respek uit. Mooipraat word gewoonlik vir sy familie gehou, of vir wanneer een van sy troepe ’n wonderwerk verrig het. Nie dat ons noodwendig saamstem oor hoe gereeld dít gebeur nie.
Maar ek voel nes die kolonel, en ek praat oor kaptein Sydney Mthembu met dieselfde respek. Wat met hom gebeur het, kan met enige een van ons gebeur. Net ná agtuur op ’n Dinsdagaand vroeg in Januarie het ’n dronk donner by Brooklyn-polisiestasie ingeloop, op soek na sy vrou wat daar gaan skuil het. ’n Middeljarige prokureur, die vrou sy derde. Hy is swaar gewond, maar nie voor hy sy blinknuwe Glock leeggemaak het op al wat polisiebeampte is nie.
Drie van ons mense is op die toneel dood. Sydney was gelukkig, sê die dokters.
Hy het lank probeer, maar op die ou end het die swart hond hom beetgepak.
En die media het geen respek nie. Hulle vra heeltyd wat van die Van Zyls geword het, hoekom die polisie weke later nog niks weet nie. Hulle omgee vir kaptein Sydney Mthembu het 48 uur gehou, en een Sondagmiddag se diepte-onderhoud met sy vrou net ná hy op verlof geplaas is.
“Jy moet hulle kry, kaptein Williams,” sê Ndlovu.
“Ja, kolonel.”
“Jy weet sersant Josephs gaan jou help? Sy’t die misdaadtoneel saam met Sydney gedoen daai week. Sy was deel van die oorspronklike taakspan.”
“Net sy?”
“Forensies en hi-tech sal jou prioriteit gee. Kry iets konkreets en ek gee vir jou meer mense.” ’n Oomblik se stilte. “Tensy jy die Valke of provinsie op jou turf wil hê? Hulle dreig hoeka om die dossier oor te neem.”
“Nee, dankie.”
“As jy nie binne die volgende week iets kry nie, is die saak seker in elk geval hulle s’n.”
“Ek hoor.”
“Josephs het al die forensiese uitslae. En hi-tech is klaar met die rekenaars. Die fone ook.”
“Wat van die toks?”
“Dit het vanoggend deurgekom. Lafras van Zyl lyk skoon.”
Ndlovu moes elke moontlike toutjie getrek het om dit só gou te kry. Toksikologie-verslae kan maande neem, selfs jare. En soms kry mens niks nie, want die monster is te verweer, of gekontamineer.
“AJ? Daar’s nog iets.”
Ek hou nie van die skielike huiwering in sy stem nie.
“Kolonel?”
“Ons moet die media betrek.”
Dis ’n verrassing. “Die media? Hoekom?”
“Die Amerikaanse poniekoerante wil nie los nie, al is Katerien van Zyl hier gebore en eintlik Afrikaans. Hulle skryf ellelange artikels oor die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika. Die Amerikaanse ambassadeur het blykbaar die kommissaris by ’n formele ete daaroor gekonfronteer.” Hy skel onderlangs. “Die Afrikaanse koerante is net so erg. Hulle looi ons heeltyd. Sê ons gee nie om nie.”
“Baie mense sê dit. Hoekom is húlle spesiaal?”
Hy ignoreer my sarkasme. “Katerien van Zyl se suster is ook nie gelukkig nie. En dis sagkens gestel.”
“Wat wil kolonel hê moet ek doen?”
“Jy moet ’n onderhoud of twee gee. Begin by NewsNow. Een joernalis gaan die storie vir al hulle koerante en webwerwe doen, die Afrikaanses ook. Jy kry hom drieuur by die Van Zyls se huis. Hulle stuur vir ons iemand senior wat weet wat hy doen. Hy’t blykbaar al baie misdaadstories gedoen.”
“Hoekom kan die media-ouens dit nie doen nie?”
“Want ek wil iets in ruil hê. Dalk het iemand daarbuite iets gesien wat ons kan help. Dit het ons tot dusver niks gehelp om stil te bly nie. Sydney het die joernaliste op ’n afstand gehou, maar ons kan dit nie meer bekostig om niks te sê nie. Gebruik die media. Maar moenie dat iemand jou aanhaal nie, anders gaan ek nooit die einde daarvan hoor nie.”
“Is kolonel seker?”
“Klink ek onseker, kaptein?”
“Nee, nee. Ek maak so. Wie’s die joernalis met wie ek moet gesels?”
“Alex Derksen.”
Derksen? Ek kan dit nie glo nie. Die vrou wat ek bietjie meer as ’n jaar gelede gejag het se ander helfte. Die reeksmoordenaar Ranna Abramson se kêrel. Daai Alex?
“Onthou kolonel hom?” Ndlovu het my destyds op Abramson se spoor gesit.
Ek hoor papier oor papier skuif aan die ander kant van die verbinding. Ndlovu is ooglopend reeds met iets anders besig.
“Ons moet die regte inligting op die regte tyd daarbuite kry. Moet niks weggee nie, sê net wat gebeur het. Vra vir tyd, ’n bietjie speling, die regte hulp. Los ’n been