Sondag. Irma Venter
Читать онлайн книгу.solank vir Sarah of sy haar rekenaar aan die gang kan kry.”
“Hoekom?”
“Ek wil hê sy moet iets vir my soek. Dink jy sy sal?”
“Sy sal enigiets vir jou doen, jy weet mos.”
Ons groet en ek bel vir Jasmine, NewsNow se nuusredakteur. Sy is ’n vrou met ’n groot vrees vir klein spasies en ’n obsessie met Madonna en die Britse koningshuis.
“Jy ’n storie vir my?” vra sy.
“Ja.”
“Great! Ek het niks om môre op die sites mee te lead nie, geen kak en drama nie. Selfs die blerrie howe is doodstil. Wat sê die cop?”
“Nie veel nie, sy het die saak pas oorgeneem. Daar’s geen nuwe leidrade nie.”
“Net sy?”
“Nee, daar was ’n vrou van forensies ook by die huis. Lyk of kaptein Williams ’n span het, maar ’n veel kleiner een as vroeër. En net dat jy weet: ek mag haar nie aanhaal nie.”
“Fok hierdie mense. Hulle het hierdie onderhoud gereël.”
“Ek het ten minste uitgevind hoekom. Hulle soek hulp. Willem van Zyl was uit daai aand tussen nege en een en niemand weet waar hy was nie.”
“Die seun? Dis interessant. Skryf jou storie. As jy roer, kry ons dalk plek op die voorblad.”
AJ
1.
Donderdag 8 Februarie, 18:15
“Vertel my van jou familie.”
“Hoekom?” Ek kyk agterdogtig na doktor Kayla Arendse.
“Want dis wat ons hier doen: ons gesels.”
“Ek sal luister. So, raas as jy wil, maar ek wil nie gesels nie.”
“Dis nie hoe dit werk nie.” Sy glimlag. Haar wakker bruin oë verhelder en haar mond versag. Sy vee deur haar lang swart hare waarin die grys reeds prominent vertoon. Haar hande beweeg doelbewus en presies terug na haar ruim skoot, waar sy hulle weer mooi netjies saamvou.
In beheer, nes almal hier by Tuks se sielkundedepartement. Ek begin vermoed die heelal is besig om my iets oor beheer te leer. Of my gebrek daaraan.
Ek hoop ek is verkeerd.
“AJ. Ek het vir jou hokkieafrigter gesê dat ek met jou sal gesels. En jy het jouself daartoe verbind. Dis nie terapie nie, dis gesels. Nét gesels. Die alternatief is …”
“Ek weet. ’n Klag van aanranding.”
“Jy het hom geslaan.”
“Ek het nie bedóél om hom te slaan nie. Daar’s ’n groot verskil. Die reg sê ook so.”
“Was dit werklik die geval? Was dit werklik ’n ongeluk?”
Ek sê niks nie.
“Die bal het aan jou voet geraak en toe Joe jou fout blaas, het jy met hom gestry en sy voet met die hokkiestok geslaan.”
“Ek het bedoel om die gras te slaan. Ek was gefrustreerd. Dit wás ’n doel. Vir seker was dit ’n doel. En ek was seker my voet het nie aan die bal geraak nie.”
“Jy was woedend en buite beheer. En dis nie die eerste keer dat so iets gebeur het nie.”
“Dan moes Joe die afrigter gebly het en nie skeidsregter gespeel het nie.”
“Dit was ’n vriendskaplike wedstryd, AJ,” vermaan doktor Arendse my. “Tussen twee klubspanne wat die Nederlanders gaan gebruik om teen op te warm voor hulle wedstryde teen die SA vrouespan.”
“Dit maak nie saak nie. Die game is die game. As jy nie wil wen nie, moenie speel nie.”
Die effense sug verraai haar. “Jy’s ’n kaptein in die polisie. Ek ys om te dink wat sal gebeur as jy jou humeur só verloor terwyl jy jou vuurwapen dra. Maak dit jou nie bang nie?”
“Ek doen nie sulke goed as ek ’n vuurwapen dra nie. Glad nie.”
“Maar wat as dit eendag wel gebeur? As jy moeg is en nie mooi dink nie?”
“Dan sal ek heel waarskynlik dood wees.”
“En maak dít jou nie bang nie?” Doktor Arendse se oë kyk stip in myne. “Die idee van doodgaan? Só doodgaan?”
“Nee. Daar is erger maniere om dood te gaan.”
“Soos?”
Ek staan op uit die rooi gemakstoel. Stap tot by die venster. Studente loop en gesels, sit op die gras en kuier in die vroeë aandlug.
“Okay, kom ons praat oor iets anders,” sê doktor Arendse. “Waar kom die woede vandaan? Joe sê jy lyk erg gespanne die laaste ruk. Dat jy baie aggressief speel.”
Ek draai om, leun teen die vensterbank. “Ek het ’n groot saak geërf. Bo en behalwe die neëntig dossiere wat reeds by my lê.”
“Dis baie.”
Ek knik, kyk op my horlosie. Ek wil so gou moontlik weer by die Van Zyls se huis ’n draai gaan maak.
“Is jy moeg?”
“Nee. Ek geniet my werk. Baie.” Ek keer met my hande. “Moenie daar gaan krap nie.”
“Niks van jou werk pla nie?”
“Nee.”
“Nie eers die feit dat jy oorwerk is nie? Of dat jy kan doodgaan nie? Dat jy elke dag die dood in die oë moet kyk nie?”
“Nee. Almal van ons moet eendag doodgaan.”
Daar was ’n huiwering voor my antwoord.
’n Flikkering in doktor Arendse se oë sê sy het dit gehoor.
“Joe sê vir my dat drie van jou kollegas vroeër vanjaar in ’n aanval by die polisiestasie doodgeskiet is. Twee van hulle was jou vriende. Die een wat die aanval oorleef het ook.”
Dalk moes ek eerder terapie gekies het, waar iemand al jou nonsens stadig uit jou uit trek. Waar jy betaal vir ’n proses, nie hierdie ruk-die-pleister-af-en-kyk-hoeveel-jy-bloei nie.
“Joe praat te veel.”
Ek weet sy kan die woede in my stem hoor. Ek kyk weg, sug.
“Hoe kwaad is jy, kaptein? Op ’n skaal van een tot tien.”
“Vir die man wat by die stasie ingestorm het? Elf. Almal van ons is.”
Sy knik. “En wat sal jy maak as jy hom in ’n stegie raakloop waar niemand julle kan sien nie?”
Ek steek my hande in my sakke. “Niks nie. Hy’s in die hospitaal. En hy gaan lank in die tronk sit.”
“Maar jy sit nog steeds met die woede.” Sy draai haar kop skeef. “Drie van jou kollegas is dood en die skieter leef nog.”
Ek kruis my arms, moeg vir die spul vrae. “Hoe voel jý oor die dood, doktor?”
Sy trek haar skouers op en ek wil amper lag.
“Dis buite my beheer,” antwoord sy. “Ek kan niks daaraan verander nie.”
“Ek dan seker ook nie.”
“Maar jy kan jou kanse verbeter om ouer te word. Jy kan van die geweld en die doodslag wegloop. ’n Ander werk kry. Gelukkiger wees.”
Ek dink aan die Van Zyls. Aan Cath en haar drome. Aan die ander neëntig dossiere op my lessenaar.
“Nee. Nee, ek kan nie.”
ALEX
1.
Donderdag 8 Februarie, 19:15
Ek