Sondag. Irma Venter
Читать онлайн книгу.Sy vriende sê hulle weet niks nie.”
“Meisie?”
“Al sy elektroniese inligting sê daar’s nie ’n meisie nie.”
“Dalk het hy Uber gebruik?”
Ek kyk na Farr.
“Daar’s niks op sy selfoonrekord nie,” gee sy toe.
“En daar was nooit weer enige teken van hom nie? Niks in die ses weke sedert die aanval nie?”
“Nee,” sê ek.
“Ook nie van Katerien of Cath nie?”
“Niks.”
“So wat de hel het gebeur?” Alex skud sy kop. “Dalk is jy reg, dalk ís die vroue ontvoer. Dalk is Willem afgedreig om iets te doen om hulle veiligheid te verseker. Dalk was daar iemand agter in die motor by hom – iemand wat jy nie op die CCTV kan sien nie.”
“Maar weer eens, dis weke ná die aanval en Willem is steeds skoonveld,” stry ek. “Dieselfde geld Cath en Katerien. Nie eers ’n lyk in sig nie. Drie mense, en geen spoor nie.” Ek beduie na die huis om my. “En wat moes Willem gaan doen? Daar’s niks in die Van Zyls se lewe wat suggereer dat hulle by iets duisters betrokke was nie.”
Wel, nog nie.
“Okay, goeie punt.” Alex haal weer die Bic uit sy hemp se voorkant, speel ingedagte daarmee. “Kom ons gaan terug na die eerste, meer logiese teorie. Willem is die skuldige. Die media spekuleer dat hy die lyke van sy ma en suster in die BMW se kattebak gehad het toe hy hier uitgery het. Wat as hulle reg is?”
“Dit ís ’n moontlikheid,” gee ek toe. “Maar hoekom dan nie terugkom en sy pa ook inlaai nie? Willem is soos Lafras gebou, lank en sterk. Hy kon van al die bewysstukke ontslae geraak het. En die vraag bly: hoekom sou hy dit wou doen? Wat van die lewensversekering?”
Alex vryf oor sy ken. “Dit was ook nie ’n skielike woedeuitbarsting nie. Die inbrekers se bewegings wys dat hierdie ding vooraf beplan was.”
“Korrek. Die ander teorieë maak meer sin. Reël die hit op jou gesin. Kom terug huis toe en loop jou vas in die rowers wat besluit het om van jou ook ontslae te raak. Dalk het hulle baklei oor die verdeling van die geld, wie weet.”
“Wat dan van Cath en Katerien? Waar is hulle?”
“Ontvoer. Gevat. Maar nie vir geld nie.”
Ek kan sien hy dink skielik aan iets.
“Julle is seker die gesin was wel hier, by die huis?” vra hy.
Ek knik. “Ons is. Die CCTV wys hoe die Van Zyls so teen sesuur by die hek uitry op pad met vakansie en teen seweuur terugkom. Almal is in die motor. Dis nog lig en mens kan dit duidelik op die kameras sien. Die enigste een wat daarna weer vertrek het, was Willem. Te voet.”
“Okay, so hulle was wel hier, en toe verdwyn hulle.” Hy laat klik die pen in en uit, in en uit.
Die goedkoop swart Bic fassineer my. Ek sou dink dat hy met iets duurders sou skryf.
“Wat wonder jy?” vra ek.
“Iets … nóg iets wat nie vir my sin maak nie, is hoekom ’n twintigjarige man moet uitglip uit sy ouerhuis. Hoekom nie net ry nie?”
“Ek verwelkom enige teorieë.”
Hy lag, gooi sy hande in die lug. “Goed, ek gee op. Mens kan mal raak om so in sirkels te loop, en dis nie my werk nie.”
Hy haak die pen voor by sy hemp in. “Kom ons los eers hierdie deurmekaarspul. Julle het Willem se rooi BMW dae later by die Menlyn-sentrum gekry. Dieselfde motor wat sy pa besig was om te verkoop?”
“Ja.”
“Was daar bloed in die motor?”
“Nee.”
“Jy kan mos nou nie …” stry Farr.
Ek beduie met ’n oop hand dat sy moet bedaar. “Net die gesin se DNS was in die BMW. Geen van die aanvallers se DNS wat ons in die huis gekry het, was in die kar nie.”
“En niemand weet waarheen die aanvallers is nie? Ook nie of hulle seergekry het nie?”
“Niemand het hulle met ’n oog gesien nie. Nie waar hulle ingekom of uitgegaan het nie. En net een huis in die Stables word verhuur en dis aan ’n gesin – drie kinders, twee ma’s. So dis nie asof die rowers ’n huis gehuur het en toe tot Oukersdag gewag het om die Van Zyls aan te val nie.”
“Werkers? Verwers?”
“Daar’s aan een huis op die landgoed gewerk tydens die vakansie. ’n Nuwe tuin is uitgelê op 19 en 20 Desember, maar al die werkers is skoon. Die res is net die gewone: vullisverwydering, tuindienste, nuwe IT-koppelinge aan die veselnetwerk, meubels wat afgelewer word. Maar niks op Oukersdag nie. Dit was immers ’n Sondag.”
Alex skud sy kop asof hy dit nie kan glo nie. “Willem is die sleutel. Móét wees.”
“Ek dink ook so.”
Farr kyk op haar horlosie, loop deur se kant toe. Ek kan haar irritasie tot hier voel.
Alex kyk na haar asof hy weet hy moet probeer om haar aan sy kant te kry. “Kon julle nie iets wys word uit Willem se foon nie, sersant? Hy’t sekerlik geld nodig om kos te koop. En waar bly hy?”
Weer eens weet ek Farr gaan nie antwoord nie.
“Volgens sy vriende het hulle hom nooit weer ná die 24ste gesien nie,” sê ek. “En daar’s geen oupas of oumas om te help nie. Hulle is almal oorlede. Daar is ook nie ooms of tannies nie, behalwe Annabel. Sy bly ook hier in die Stables en sy sê Willem het haar nog nooit sedert die aanval gekontak nie. Haar e-posse en foon bevestig dit. Die gesin se bankrekeninge staan doodstil en Willem se foon is morsdood, al sedert die Sondag van die aanval. Ditto Cath en Katerien s’n.”
Farr snork agter in haar keel waar sy teen die deurkosyn leun. “En môre lê dit als die koerante vol.”
“Glad nie,” keer Alex vinnig. “Ons het ’n deal. Dis als off the record. Ek’s al vyftien jaar lank ’n joernalis. Mens oorleef nie so lank as jy nie jou woord kan hou nie.”
Hy glimlag vir Farr, warm en opreg. ’n Glimlag wat sê sy hande en gewete is skoon. Elke skoonma se droom. En elke polisiebeampte se nagmerrie. Dis sulke smiles wat maak dat mense joernaliste vertrou.
Ek beduie ons moet aanbeweeg na die volgende kamer, maar hy steek vas.
“Meeste van die gesin se fone is gesteel, maar julle kan tog uitwerk waar hulle laas gepieng het. Julle kan mos sien naby watter selfoontorings hulle vroeër die dag was?” vra hy.
Farr se een wenkbrou lig.
Een is goed. Dit beteken sy’s beïndruk. Twee – die vraagteken, die is-jy-stúpid-kyk – is sleg.
“Ek sweer, as jy ’n storie skryf …” sê sy.
“Ek sal nie.”
“Ek glo jou nie.”
“Julle het my hierheen genooi. Tog sekerlik met ’n doelwit van julle eie? Niemand is ooit net gaaf met joernaliste nie.”
Die man is goed. O, so geduldig en logies …
“Ek like hierdie niks nie.” Farr loop uit.
Ek laat haar begaan.
“Jammer,” sê ek vir Alex. “Die media kritiseer ons nog net heeltyd oor hierdie saak.”
“Dis okay. Joernaliste is nie juis gewild nie.” Hy druk ’n vinger op sy bors. “Bloedsuiers. Leuenaars. Sensasiejagters. Luigatte wat heeltyd rondflenter op ander mense se geld.”
Ek tik op myne. “Useless. Regstellende aksie.”
“Oor jy ’n vrou is. En bruin? Tel dit nog?”
“Ek’s