Vloek. Rudie van Rensburg
Читать онлайн книгу.staar na haar beeld in die spieël, haar oë skielik nat. Sluk die trane weg en draai die wasbakkraan oop, spoel haar gesig met yskoue water af. Sy vryf haar gesig naarstig droog met ’n handdoek.
“Help nie jy grens nie, Sarahtjie,” mompel sy met ’n wrang glimlag.
Op pad kombuis toe stop sy vlugtig by die spaarkamer se deur. Dewald sit gekrom oor sy lessenaar, ’n hoop vraestelle langs hom opgestapel.
“Kan ek vir jou ook koffie maak?” vra sy.
Hy kyk nie op nie, skud net sy kop.
Sulking Dewald, dink sy toe sy kombuis toe stap. Soos ’n verdomde tiener wat nie sy sin kry nie en homself nou bejammer.
Sy sit die ketel aan. Volgende maand sal hulle al vier jaar saam wees – die langste wat sy met een man kon uithou.
Verlede jaar hierdie tyd was sy nog gelukkig. Wel, relatief gelukkig, want eintlik het die eerste krake in hul verhouding toe al verskyn.
“Julle is die kampus se glanspaartjie,” het haar kollegas gereeld vir haar gesê.
En hulle is seker só ervaar. Dewald, die gerekende jong wiskundeprofessor, en sy die kenner van wêreldpolitiek wat al meer op TV verskyn het as enige ander dosent of selfs die rektor. Of dit nou ’n krisis in die Midde-Ooste is, ’n terreuraanval in Europa of ’n presidentsverkiesing in Amerika, doktor Sarah Greyling, senior lektor in internasionale politiek, word telkens gevra om haar mening op die kassie te lug.
“Dis omdat jy so ’n looker is,” terg Dewald altyd. “Hulle kan nie hulle geluk glo nie, dat so ’n perfekte TV-gesiggie ook ’n oorvloed breinselle het.”
Sy skep koffiepoeier in ’n beker, skink dit vol kookwater en gooi ’n leksel melk by, gaan sit by die kombuistafel.
Wanneer het haar gevoel vir Dewald verander?
Sy staar peinsend na die tafelblad. Dit het in die laaste helfte van verlede jaar begin. Sy het ál meer vasgedruk en geknel gevoel – ’n verdomde voël in ’n bitter klein koutjie.
Soggens saam met hom kampus toe gery. Hy wat daarop aandring dat hulle mekaar tydens af periodes in die kafeteria kry. Saans weer saam terug woonstel toe. Dewald altyd teenwoordig: eers saam met haar om die kospotte, daarna voor die TV, dan saam bed toe.
Dit het net te veel geraak. Sy het soos in soveel vorige verhoudings na haar persoonlike ruimte begin smag. Dit het amper desperate afmetings begin aanneem.
En dit was beslis die grootste rede waarom sy aan die begin van die jaar die nuwe werksaanbod so vinnig aanvaar het. Weg van die kampus, sodat sy ten minste bedags van Dewald se versmorende alomteenwoordigheid kan ontsnap.
Die feit dat haar salaris byna verdubbel het, het Dewald se goedkeuring weggedra. “Nou kan ons daaraan dink om ’n huis te koop,” was sy eerste reaksie.
Met Dewald ses-en-dertig en sy vier-en-dertig is dit seker die volgende natuurlike stap. Hy’t darem lankal daarin berus dat sy nie wil trou nie, maar hy het dit as vanselfsprekend aanvaar dat hulle onafskeidbaar saam gaan wees tot aan die einde van hulle dae.
Terwyl sy die afgelope tyd al hoe meer daaroor twyfel. Wat sy wel duidelik weet, is dat sy nie van plan is om binne die afsienbare toekoms saam met hom huis op te sit nie. Dit sal ’n soort finaliteit aan ’n langtermynverbintenis gee waarvoor sy nog nie gereed is nie.
Maar dis nie haar verhouding met Dewald wat haar vanoggend al halfvier laat wakker lê het nie.
Sy neem ’n groot sluk koffie. Die vloeistof brand in haar keel af.
Dis die nuwe werk.
Ná amper ses maande by Mercurius is sy steeds uit haar gemaksone. Dis die geheimsinnigheid, die duisterheid en geslotenheid van die plek wat haar ongemaklik maak.
Dis net ’n vierpersoonkantoor op die tweede verdieping van ’n redelik afgeleefde gebou in Loopstraat in die Kaapse middestad, maar een van sewe-en-veertig Mercurius-takke wêreldwyd. Hoofkantoor in New York.
Sy onthou hoe verbaas sy was toe hulle haar uit die bloute die pos van politieke analis aanbied. Terwyl sy nie eens bewus was van die organisasie se bestaan nie. Maar tydens die onderhoud was dit duidelik dat hulle alles van háár weet – haar hele lewensgeskiedenis van haar geboorte af.
O’Reilly, die baas, het die vertroulikheid van die werk telkens beklemtoon.
“Ons werk in tandem met verskeie lande se intelligensiedienste. Mercurius is die wêreldwye, gesiglose arm van onder meer die CIA, MI6, Mossad en talle ander – hoofsaaklik Westersgesinde inteldienste. Ons verskaf aan hulle inligting oor situasies waarby hulle nie betrokke kan raak nie. CIA-inmenging in ’n Suid-Afrikaanse aangeleentheid sal byvoorbeeld nie deur ons owerheid of die Staatsveiligheidsagentskap geduld word nie. Regerings het boonop hulle eie agendas. Daarom monitor ons binnelandse politieke tendense namens hierdie agentskappe: ongerymdhede wat onder die radar van die mediakollig plaasvind en wat internasionale gevolge kan hê, radikale onderstrominge in die gemeenskap en so meer. En só opereer Mercurius se takke wêreldwyd in sewe-en-veertig lande.”
O’Reilly het dit ook duidelik gestel dat haar dae op die kassie getel is.
“Mercurius se werknemers vermy openbare blootstelling oor politieke kwessies. Vir die buitewêreld is ons bloot ’n niewinsgewende waghondinstansie wat waak oor basiese menseregte en soms uitsprake daaroor maak.”
Sarah moes ’n vertroulikheidsklousule teken.
Aanvanklik was die werk opwindend. Geheime inligting oor internasionale politieke woelinge het haar gereeld verras en nuwe perspektiewe gegee. Dis ver verwyder van die akademie, waar uitsprake en gevolgtrekkings in haar vakgebied bloot op wêreldnuus gegrond word. Nou is sy in die masjienkamer van die werklikheid, wat soms aansienlik verskil van dit wat in die massamedia opgedis word.
Tog hinder die atmosfeer in die kantoor haar. Dis sinister, om die minste te sê. Daar word nooit openlik oor politieke woelinge geredekawel nie. Dis asof O’Reilly en die ander twee huiwerig is om enige uitsprake te maak, asof hulle hul woorde altyd versigtig weeg. Dit voel heeltyd vir haar of een of ander Big Brother oor die span se skouers loer. Asof hulle gemonitor word deur ’n onsigbare meeluisteraar van wie haar kollegas weet, maar sy nie.
Toe vind die eerste moord bietjie meer as ’n maand gelede plaas. Kort daarna ’n tweede. En dit word ’n Mercurius-aangeleentheid omdat dit in Suid-Afrika gebeur het en omdat die polisie nie ’n verband tussen die moorde kon trek nie. As politieke analis is sy ook ligweg betrek, op wat vir haar wildvreemde terrein is. En dis iets wat haar om verskeie redes onrustig stem. Politieke ontleding is een ding, maar motiewe vir moord is nie haar veld van kundigheid nie.
Boonop ontvang sy gisteraand net voor sy bed toe is ’n SMS van O’Reilly: Derde man vermoor. Dringende vergadering môre. Vergeet van kongres.
Sy sou van vandag af die week lange Afrika-kongres namens Mercurius bywoon, met verskeie Afrika-staatshoofde en ministers wat spesiaal daarvoor Kaapstad toe gekom het. O’Reilly het gesê dis belangrik dat sy dit bywoon – nie noodwendig oor wat op die verhoog gesê word nie, want daaroor sal die media verslag doen. “Maar monitor vir ons watter staatshoofde buite kongresure saam vergader. Let ook op na die interpersoonlike verhoudings tussen hulle – monitor hulle lyftaal, of dit spontaan of stram is.”
En nog ’n hele string opdragte wat vir haar soos basiese spioenasiewerk geklink het. Maar volgens O’Reilly sal dit uiters waardevol wees vir Mercurius om die verhoudingsprofiel tussen Afrika-state op te dateer.
Nou is die kongres skielik nie meer belangrik nie.
Want ’n derde man is vermoor.
4
Donderdag 21 Junie 2018 – Kaapstad
Wim O’Reilly kan vanoggend beswaarlik sy opgewondenheid beteuel. Uiteindelik het Mercurius in Suid-Afrika ’n saak waarin hulle New York-hoofkantoor groot belangstelling toon.
In die verlede het Wim altyd die indruk gekry Suid-Afrikaanse kwessies