Diep spoor. Jeanette Stals
Читать онлайн книгу.het.” Wat meer het sy om vir hulle te gee? Toe onthou sy. “Gerrit se viool moet liewer hier by julle bly. Ek glo nie daar sal iemand wees wat kan speel of vir Fransie kan les gee nie.”
“Ja, julle gaan baie ver weg.” Die ou stem breek en Katrien weet dis vir Fransie wat die ou mense die ergste gaan mis. Hulle kleinkind, Gerrit se seun. En sy is bly sy kan die viool vir hulle gee. Gerrit se pa het dit destyds gekoop en dis niks minder as reg nie. Dis ook iets van Gerrit wat hulle sal koester.
“Alles reg?” vra Stefaans toe hy hom by haar kom aansluit.
“Ja.” Nou is dit. Met hom langs haar is alles makliker, asof sy sterk liggaam die skaal nie toelaat om anderkant toe te sak nie.
Dina is by haar ma in die kombuis. Haar hart lê swaar agter haar ribbes. Sy wou nie saam kerk toe gaan nie, want Aurora is vandag alleen hier in die kombuis en hoewel daar baie minder gaste is, wou sy haar help kook. Hulle twee het tot gisteraand nog silwer gepoets, ’n bos blomme ingesit, die drie groot tafels bymekaar gestoot en gedek. Die kinders eet weer buite onder die eikeboom, maar sal hulleself moet help.
Dis warm voor die oop vuurherd en die twee vroue praat min.
Dina sny die boud in skyfies, dra dit op die vleisbord binnetoe en sit dit op die tafel neer. Sy kyk op, sien hoe Katrien in Stefaans se oë kyk en stamp per ongeluk teen ’n wynglas. Sy skrik haar lam, maar die glas is gelukkig nog regop.
Versigtig spasieer sy die bakke groente sodat almal dit kan bykom en eers toe sy daarmee klaar is, kyk sy weer na Katrien. Die grys oë gooi haar blydskap uit na Dina en sy gaan met ’n effens ligter hart terug kombuis toe. As Katrien gelukkig is en kans sien vir die onbekende wat voorlê, kan sy ook. Fransie gaan tog saam en buiten haar ma en pa is daar niks wat haar hier hou nie.
Watse groot verlies lê dan binne-in haar? Is dit die weggaan, of is dit die troue? Of dalk iets anders, iets wat nog vorentoe wag?
Halfvyf staan Stefaans langs Katrien om die laaste gaste te groet. Toe die kapkar die pad vat, sit hy sy arm oor haar skouers. “Ek maak gou ’n draai by die osse, Katrien. En ek wil ook met Abel praat.”
Abel kom ’n lang pad saam met sy familie, het Stefaans vir haar vertel.
“Ja, ek het ook nog een en ander om in te pak.”
“Ons moet vroeg in die pad val. Die groot reëns kan enige dag in die berge uitsak en daar’s driwwe, ’n rivier of drie ook op ons pad. Pa kom ook beswaarlik reg sonder my en Abel.”
Katrien knik en gaan kamer toe, verklee gou en gaan weer uit om die plaas vir oulaas in daglig te sien. By die werf se hek bly sy staan en kyk terug oor die berge. Sy onthou hoe mooi dit was, lank gelede toe Gerrit haar gevra het om te trou. Dis nou later in die dag en donker skaduwees hang tussen die boonste kranse. In hierdie laat skemering het meer as net die dag aan sy einde gekom. Iets is vir altyd verby.
Hier op haar ouers se plaas het sy haar eerste treë gegee en deel van haar kindwees is aan die groot bome, die gewelhuis en die blougrys berg vasgegroei.
Sy sal seker nie gou weer hier kom nie, dalk nooit.
Gelukkig gaan Dina saam.
Uiteindelik is dit aand en die huis word stil.
Stefaans kom in en stoot die kamerdeur agter hom toe.
Katrien staan met die kers in haar hand en voel skielik selfbewus. Haar oë vlug van die bed na die spieëlkas teen die oorkantste muur, soek of daar nie nog iets is wat eers ingepak of gedoen moet word nie.
Stefaans kom tot by haar en vat die blaker uit haar hand, sit dit op die bedkassie neer en draai terug. “Dis laat, lief,” sê hy saggies.
Sy kyk op, sien die donker skadu’s wat die kers oor sy wangbene gooi en hoor in sy stem hoe hy haar begeer. Haar asem steek in haar keel vas.
Versigtig voel hy oor haar kop, haal die haarnaalde een vir een uit en laat gly sy vingers deur haar los hare. “Hoe lank het ek nie gewag nie—”
“Die lig,” fluister sy. “Blaas dood die kers.”
Hy hou haar effens weg van hom en kyk na haar gesig. “Weet jy hoe mooi jy is?” Sy oë gaan af tot by haar voete en weer terug. Eers toe gaan die sterk hand, wat sy so lank al in haar kop saamdra, uit na die kers en dit bewe toe hy die vlam tussen sy duim en voorvinger doodvryf.
Die kamer is swart fluweel.
Sy ruik die laaste rook van die kerspit. Toe vir Stefaans wat oor haar buk.
“My vrou, my lief,” kreun hy teen haar mond en af langs haar nek.
Rillings loop deur haar lyf en sy gryp hom vas.
Hulle tuimel af na waar die twee helftes oplaas een kan word.
Die huis en werf is nog toegevou in nanagstilte toe Stefaans opstaan en die kers aansteek. Die vlammetjie flikker oor sy lenige rug en bene terwyl hy aantrek en Katrien verbaas haar dat ’n man so mooi kan wees. Toe hy klaar is, gaan sy in haar nagrok na die wastafeltjie om te was. Hy kom vlak agter haar staan, vou sy arms om haar. “Dankie, Katrien.”
Dankie? Sy bly stil in sy omhelsing.
“Dat jy kans gesien het om met my te trou; saam met my gaan.”
“Ook maar goed jy’t gevra.” Sy lag verleë. “En dat ons kon trou. Anders weet ek sowaar nie.”
“Katrientjie, Katryn,” sê hy in haar hare, druk haar styf teen hom vas.
Sy sê niks, maar die angstigheid om afskeid te neem maak plek vir die gevoel van die plankvloer onder haar kaal voete, Stefaans se lyf teen hare. Die haan kraai een keer toe sy omdraai in die omhelsing en haar hande na sy gesig lig.
Begeerte vlam weer op. Toe lag hulle albei en laat mekaar los.
“Ek moet vir Abel gaan help inspan,” sê hy en gaan uit.
Die deur gaan toe agter hom en Katrien trek gou aan. Sy moet nog die laaste goedjies bymekaarsit. Padkos is gisteraand buite in die melkkamer gelos om goed af te koel en sy kyk in die kamer rond om seker te maak niks bly agter nie. Dit kan twee of drie jaar, dalk langer wees voor iemand weer hier kom.
Die bont donskombers moet sy nog inpak. Gerrit het dit altyd van hom afgegooi, gesê dit hoort by die sneeu. Gerrit, wat altyd bedagsaam en beheers was, ook in hulle liefde. Soos ’n waterstroom wat oor klippe kabbel, het hy plek gemaak vir gras en blomme om aan sy oewer wortel te skiet. Saam met hom kon sy van kind tot vrou groei.
Stefaans, daarenteen, is ’n rivier wat haar meesleur.
Sy tel die dik kombers op en streel oor die bont lap. As hierdie blomme van gisteraand kon praat. Haar nek word warm en sy rol die kombers vinnig op. Sit die bondel versigtig bo-op die agt glase met die kraffie wat sy reeds toegedraai en op ’n beskutting van linnegoed en tafeldoeke ingepak het.
Johannes het vir haar gelag toe hy hoor sy gaan die kristalgoed saamvat, gevra wat sy daaruit gaan drink, want daar in die Oos-Kaap waarheen hulle gaan, word nie wyn gemaak nie. Maar dit was ’n geskenk op haar eerste troue en so mooi, sy kan dit nie hier los nie. Wie weet, miskien kom dit tog eendag te pas.
En wat sal Johannes daarvan sê as hy moet weet sy vat die verfkissie saam? Dit is die eerste ding wat sy ingepak het, heel onder in die groot kis. Haar kosbaarste besitting.
Die haan het weer gekraai en hulle moet groet. Sultan, met Johannes op sy rug, gee ongeduldig ’n paar systappe. Haar broer sal hulle tot by die grootpad vergesel.
Katrien se trane lê vlak, maar sy wil nie huil nie en skuil agter Fransie se opgewonde gebabbel. Die plaaswerkers vorm ’n buiterand van waar hulle groet en die afskeid beskou. Aurora klou krampagtig aan Dina vas en toe Katrien haar eie ma se arms om haar voel, kan sy die trane nie langer keer nie.
Ná ’n rukkie vat Stefaans haar sag aan die arm. “Kom, lief.”
Hy help haar op die wa en klim self ook op.
“Witpoot! Alkant!” roep hy en die twee voorosse beur in hulle