Diep spoor. Jeanette Stals
Читать онлайн книгу.die afgebrande kraal, maar sê niks en kyk net rond. Toe wys hy: “Kyk daar!”
Sowaar, daar staan ’n bok. Nee, meer as een. Nog ’n paar bene steek uit onder die laaghangende tak waaraan die bokke vreet. Hulle wat vir geslagte al die voorvaders se ore oopmaak vir hulle kinders se klagtes, staan springlewendig daar en vreet. En die een bok se uier is groot.
“Ons kan melk kry?” vra Nzibe.
Hulle is net aan beesmelk gewoond, maar hier het die voorvaders sekerlik vir hulle kos voorsien en Thabisa huiwer nie. “Ja. Ons het die melk nodig.”
Nzibe loop ’n wye draai en benader die bokke versigtig van die kant af terwyl hy die stok waarmee hy die hele dag al stap grondwaarts hou. “Ek kom nie moeilikheid maak nie,” praat hy mooi met die bokke. Hulle hou hom net uit die hoek van hulle oog dop terwyl hulle driftig kou. “As jy mooi staan, maak ek daai swaar uier vir jou leeg. Thabisa en ek het ver geloop. Ons is honger en dors.”
“Ek sal iets gaan soek om in te melk,” sê sy toe Nzibe die bokke se vertroue gewen het en sy loop na die uitgebrande kraal toe.
Dit lyk nie veel anders as by hulle plek nie. Die mans lê hier ook met blinde oë en oopgesperde monde, stokke en knopkieries langs hulle. Maar dit moes gister gedurende die dag gewees het toe hulle wou eet, want die kookpotte is omgeskop en blaarbredie het bruin gestol in die son. Liggame waaruit ingewande peul, is saam met kookgerei in die grond ingetrap.
Thabisa wil liewer padgee, ver weg, maar sy skep diep asem.
’n Houer vir die melk, ’n heel houer vir die melk, hou sy haar gedagtes styf teen haar vas terwyl sy die verskriklike probeer miskyk. Aan die buiterand van die kraal is ’n kleiner hut wat die brand vrygespring het; dis waar sy moet gaan soek.
Dis baie donker binne en sy bly eers op haar hurke sit.
’n Rilling skiet deur haar. Iets, of iemand, is in die hut!
Voor sy genoeg kan herstel om pad te gee hoor sy ’n gekerm diep onder die aarde uit. Sy wil vlug, maar haar bene is lam.
“Eiaaii,” kom die kinderstem weer en dit klink nes haar eie hart se huil.
“Wie’s daar?” vra sy hees. “Ek is Thabisa,” probeer sy. “Wie is jy?”
“No … Nomusa,” snik ’n stemmetjie en twee wit oë loer uit die donker na haar.
“Kom hier dat ek jou kan sien.”
’n Dogtertjie kruip huiwerig onder ’n vel uit en skuifel nader. Haar wange is dikgeswel en haar oë dof van baie trane.
“Nomusa, my naam is Thabisa. Ek kom van ’n ander kraal af. Ons mense is ook dood.” Die kind se gesig vertrek. “Wag nou, moenie huil nie. Help my om ’n houer te kry vir die bok se melk.”
Die kind kyk eers vraend na haar, toe verhelder die gesiggie. “Hier.” Sy draai om en gaan haal ’n lang, smal kalbas. “Hierdie een?”
“Dis reg. Kom, ons gaan gee dit vir Nzibe.” Sy vat die kind se hand en lei haar van die hut af weg, verby die dooies waar die brommers saampak en teen die bult uit tot by Nzibe en die bokke.
Die seun se vingers is dom, want hy was tot nou toe net ’n handlanger en leerling van die ouer seuns, maar hy het dopgehou wanneer hulle die koeie melk en hy slaag daarin om straaltjies melk uit die bok se spene te trek.
Dit sal die ergste honger stil, dink Thabisa terwyl sy hom dophou. Maar waar gaan ons slaap? Hier kan ons nie bly nie. Nie eens naby hierdie plek, waar die dooies rondlê nie. En dié wat vermoor is, sal nie rus nie. Maar waar anders?
Sy besluit op die klein hutjie, want dis te laat om voor donker ’n ander plek te kry.
“Die bokke kan vanaand by ons in die hut slaap,” sê sy later toe Nzibe die stukkende bokkraal met doringtakke probeer heelmaak. “Takke sal nie help as roofdiere kom nie.” En kom sal hulle beslis, agter die bloedreuk aan.
Hulle maak nie vuur nie, drink net van die melk met die vreemde smaak en lok die twee bokke met mooipraat by die hut in toe dit donker word. Toe kruip hulle self in en Nzibe help haar om die deur met ’n grasmat en dwarslatte toe te maak. Meer as dit kan hulle nie vanaand doen nie. Hulle moet wag dat die nag verbygaan. En probeer om nie aan die dooies buite te dink nie.
Die twee kinders lê weerskante van Thabisa, styf teen haar. Haar lyf voel seer, maar dis eintlik haar hart wat rou geslaan is, weet sy terwyl sy saggies huil oor haar mense en oor haar lewe wat stukkend is.
Ná ’n ruk rol sy om en voel Nomusa se asem teen haar wang. Sy ruik die angs daarin en draai haar kop weg om te luister na die naggeluide. Paddas raas ver weg en heelwat nader klink die hol geluid van ’n uil. Droë blare ritsel voor die hut waar diertjies vroetel en skarrel vir kos. Toe brul ’n leeu, diep in die bos, en sy voel hoe die twee kinders langs haar skrik.
“Toemaar, hy’s ver.”
Lank nadat die kinders weer slaap, oorval uitputting haar ook. Die laaste ding in haar kop is dankbaarheid teenoor die voorvaders en dit spoel by haar oë uit.
Thabisa word wakker toe die eerste voëls kwetter en sy wag tot dit lig word voor sy by die hut uitkruip. In die skemerlig lyk alles nog nes gister, maar ’n afstootlike reuk laat haar ril. Hulle moet hier wegkom.
Met haar hand voor haar neus probeer sy kyk sonder om alles te sien.
Sy soek vlugtig tussen die gebreekte mense en goedere na enigiets wat bruikbaar is. Twee houtlepels, ’n roerstok en die ysterpunt van ’n gebreekte assegaai tel sy op. In die as van die uitgebrande hutte kry sy twee kleipotte wat nie gebars het nie en sit dit eenkant neer om alles eetbaar wat sy kan kry, daarin te pak. ’n Pampoen, feitlik gaar gebak van die vuur, sal hulle vandag eet. Sy kry ook ’n groot kalbas vol graankorrels en ’n kleiner een met geurige blare.
In die hoogste takke van ’n boom sit drie aasvoëls haar en dophou. Hulle wag dat sy moet padgee. Aan een van die dwarstakke laer af hang drie velle, halfpad gebrei. Wat ’n geluk hiënas het dit nog nie ontdek nie. Sy haal dit af en sit dit by die ander goed neer.
“Julle moet help aandra,” sê sy toe die twee kinders uit die hut kom.
“Waarheen?” wil hulle weet.
“’n Plek om te bly,” sê sy met meer vertroue as wat sy voel. “Ons bly nie hier nie.”
Hulle loop stroomop, sy en Nomusa elk met ’n kleipot op die kop waarin hulle alles wat hulle bymekaar kon kry, gepak het. Twee van die velle is om Thabisa se lyf vasgemaak en een om Nomusa s’n. Nzibe moet beweegliker wees om die bokke, wat van nature moedswillig is, aan te jaag.
Waarheen loop ons? Hoe lank kan ons aan die lewe bly? Sou dit nie beter gewees het as hulle vinnig saam met die familie vertrek het nie? Sy draai haar kop effens agtertoe, sien die vertroue waarmee Nomusa na haar kyk en weet sy het nie ’n keuse nie. Sy moet vashou aan hierdie lewe, al is dit net ter wille van die kinders.
“Wag eers.” Hulle het ’n oop gedeelte bereik, met ’n kol opslagboompies aan die oorkant. “Hier, dink ek.”
Sy weet self nie wat haar so laat besluit het nie en kyk rond. Hulle het nie die gereedskap of die krag om ’n ordentlike hut van pale en dekgras te bou nie, maar ’n blyplek moet hulle hê. En hierdie boompies is dalk net die regte dikte. Sommige is nie veel meer as latte nie en sy toets hoe ver dit kan oorbuig.
“As ons ’n paar hier in die middel uithaal,” dink sy hardop, “kan ons die ander so oorbuig en vasmaak.”
“Gras om te dek?” vra Nomusa.
“Ons sal nog sien.” Sy is self nie seker nie.
“Met takke toemaak,” sê Nzibe. “Ek het al gesien hoe my broers maak.”
“Nou goed dan. Laat ons vir vanaand ’n skuiling maak.”
En wanneer dit winter word? Nee, iets sal wel intussen gebeur. Iemand moet hulle tog hier kry of hulle kan self na ’n kraal gaan soek.
Die