Diep spoor. Jeanette Stals

Читать онлайн книгу.

Diep spoor - Jeanette Stals


Скачать книгу
die seun se hand en loop met hom nader aan wat gister nog hulle umuzi was. Daar is net smeulende hope as, bloed en liggame. Ook ’n sterk brandreuk van dié wat nie betyds by die hutte kon uit nie. Ugogo sal een van hulle wees.

      Op die grond klou die baba, Noxolo, nog aan haar ma vas. Die kort assegaai wat hulle heg en die rooi streep teen die ruggie wys dat hulle nie slaap nie.

      Thabisa soek verder en kry haar eie mama, gesig boontoe gedraai. Flou sonstrale op haar wange, haar neus, in haar oop oë. Leeg.

      Sy bly staan, wag vir iets. Maar niks gebeur nie.

      Lewe ek nog? Sy kyk weer af na haar eie lyf.

      Ja, sy is hier. Sy lewe, maar nie hulle nie.

      Die leerbandjie is nog om mama se arm; sy wil dit vir my gee.

      Sy buk en trek die bandjie oor die koue vingers af. Kyk weer in die gesig wat sy so goed ken, maar kry niks daar nie. Toe druk sy saggies op die ooglede, stoot dit oor die leë oë om te keer dat die son later daarin brand.

      Wat kan sy nog vir haar doen? Niks.

      Sy dwaal verder. Die beeskraal is leeg. Hekpale lê eenkant en die heining leun skeef waar die beeste met geweld uitgedryf is.

      In die hek lê iets en sy gaan nader om te kyk. Ruk weer weg.

      Dis die Oudste. ’n Gedeelte van sy gesig is nog heel. Soos ’n verflenterde slaapmat lê hy, deur die verskrikte diere in die kraalmis ingetrap.

      Sy maak haar oë toe. Is hierdie kryger wat hy eenmaal was, deur ’n assegaai gedood voor hulle hom daar in die kraal gegooi het? Of het hy probeer keer? Hy was oud, maar sou nie net gaan lê het dat hulle die beeste vat nie.

      Sy dwaal terug, tussen die afgebrande hutte deur.

      Wat moet sy doen? Die son is op, maar dag lyk nie só nie.

      Voor haar voete lê ’n grasbesempie en sy tel dit op. Sy wil tussen die hutte vee, nes ander oggende, maar daar is nie hutte nie. Daar is niks.

      Sy sak af op haar knieë en lig haar kop. ’n Kreet uit haar binneste maak twee voëls wat in ’n boom kwetter stil. Toe val sy vooroor en huil dat haar trane voor haar in die stof val.

      “Thabisa?”

      Sy weet sy moet opstaan, daar is nie ’n ander uitweg nie.

      Nzibe loop saam met haar rivier toe. Die water stroom voor hulle verby. Duiwe koer en die seekoeie in die diep poele stroomaf blaas nes ander dae.

      Weet julle nie wat gebeur het nie! wil sy skree. Kon julle nie keer nie?

      Sy kry geen verligting van haar gedagtes wat heen en weer spring nie, want sy is in ’n doringbos vasgevang. Wie het hulle so hard geslaan? Moet hierdie ding nog by haar en Nzibe kom? Of het die vaders gesorg dat hulle twee buite in die bos was? Moet sy wag of moet sy planmaak vir vorentoe? Watse plan?

      Hoe kan hulle bestaan sonder ’n familie?

      Onsekerheid bind haar voete en hande vas. Sy is oneindig moeg en gaan onder ’n boom sit met haar broertjie langs haar. Wind roer die blare bokant haar kop, teken spookbeelde op die grond. Sy maak haar oë toe. As sy maar vir altyd kan slaap.

      “Thabisa!” Nzibe pluk aan haar arm en wys na twee diere met stink asems en gespikkelde lywe wat ’n entjie van hulle af onder ’n boom staan. Is dit die moordenaars wat in die gedaante van hiënas gekom het om na ons te kom soek? Lam van vrees bly sy sit.

      Die diere bly gelukkig op ’n afstand en snuif net in die rigting van die afgebrande kraal. Ná ’n rukkie draai hulle om en sluip deur die bosse weg. Maar hulle sal weer kom, vanaand wanneer dit donker word.

      “Wat het jy daar?” vra Nzibe.

      Sy kyk af. Haar ma se bandjie is nog steeds in haar vuis geklem. Snaaks dat sy dit nie in die rivier laat val het toe sy water gedrink het nie.

      Sy vryf met haar duim oor die stukkie olifanttand wat tussen die riempies ingevleg is. Toe skuif sy die bandjie oor haar hand. Dit voel reg so aan haar eie arm en sy staan op. “Kom. Ons gaan na isangoma se kraal toe.” Sy hou nie van die plek nie, maar dis die enigste heenkome waaraan sy kan dink. En Nzibe is klein, hy sal niks weet van wat laas somer daar gebeur het nie.

      Vir oulaas loop sy om die uitgebrande umuzi. Wat nie verbrand het nie, is flenters. Al die hutte lyk nou soos Lungile se hut nadat sy uit hulle lewe gesny is. En hierdie verwoesting is nie háár skuld nie.

      Twee vuurmaakstokkies lê op die werf en sy tel dit op. Mansmense werk daarmee, maar miskien kry sy dit nodig.

      Sonder om verder te talm val sy in die pad, Nzibe kort op haar hakke. Hy is ’n stewige knaap en gewoond aan stap. Maar hy sal al honger wees en sy hou haar oë oop vir vrugte of eetbare bessies.

      Noudat hulle in ’n rigting beweeg, voel sy beter, maar die gebeure spook in haar kop. Watter bose mag het in die nag geloop? Was die inyanga se muthi van destyds nie sterk genoeg nie? Of is dit ’n vreemde stam wat van ver af kom en hulle uitmoor? Shaka het dit met ander mense gedoen en miskien neem hulle wraak, soek hulle die bloed van almal wat hier om Shaka se vure sit.

      Sy gaan staan in die voetpaadjie en bekyk die bosse. Sê nou die impi is nog hier en sy loop reguit op hulle af? Sy luister met al haar sintuie, hoor net die rustige koek-koer-doek van die duiwe. Verder weg raas en skel ander voëls uit ’n boom asof hulle haar gedagtes probeer stilmaak.

      Haar skouers sak en sy begin weer aanstap. Sy moet net wag dat die impi padgee. Sodra hulle baie beeste het, sal hulle teruggaan na hulle eie plek toe. Dan kan sy en Nzibe weer aangaan.

      Sonder familie?

      Nee. Hulle sal ’n ander kraal moet soek, mense wat hulle oor hulle sal ontferm.

      En sê nou dit was nie ’n ander stam nie? kom die bang weer aan haar lek. Dalk was dit handlangers van ’n heks. Of miskien Shaka self wat sy woede op hulle losgelaat het, glip nog ’n gedagte deur haar kop. Maar hoekom?

      Msengi en Fana! Haar twee broers wat soldate geword het. Het hulle dalk iets verkeerds gedoen? Of haar ander broer, Jabu, wat sy eie vrou doodgeslaan het …

      Nee, keer sy haar gedagtes. Sy verstaan niks meer nie. Net van een ding is sy seker en dit is vrees. Dit bekruip haar van alle kante en vreet haar van binne.

      Links van haar is ’n boom met swartpers bessies en sy swenk weg uit die voetpad om daarvan te pluk. Sy bied die helfte vir Nzibe aan, want hy kan nie so hoog bykom nie. “Dit maak nie vol nie, maar dit sal ons knieë help.”

      En dan?

      Die seun kyk vraend op na haar. “Hoe ver is dit nog?”

      “Nie meer ver nie. Kom, ons sit eers hier en eet klaar.”

      Voor hy eet, tel Nzibe sy een voet op, spoeg op die taai voetsool en vryf ’n kol skoon. Hy soek na die doring wat hom pla. Toe hy dit uitgekrap het, begin hy die bessies eet.

      Die son wat op hulle kaal rûe bak, is skrale hitte in die ysige onsekerheid. ’n Bobbejaan blaf iewers in die omgewing en selfs dié alledaagse geluid klink na ’n dreigement.

      Nzibe kyk met groot oë na haar en staan op. “Kom ons loop liewer.”

      Hy wil ook nie die donker langs die pad kry nie. Maar hoe verder hulle loop, hoe minder seker is sy die nagmerrie is verby, want hulle kom niemand teë nie. Hulle sien geen beeste en hoor ook geen gebulk of die stemme van beeswagters nie.

      Thabisa begin wonder of sy rigting gehou het, want die son sit al hoog.

      Sy draai om en loop stadig ’n entjie terug, kry ’n voetpaadjie en volg dit. Sy loop weer vinniger en Nzibe, wat ’n paar treë agter haar is, moet draf om by te hou.

      Uiteindelik maak die bosse oop.

      Waar die kraal moet wees, is hope as en ander oorblyfsels, nes by hulle eie umuzi. Die pad loop hier dood. Niks bly vir hulle oor nie. Sy sak op haar knieë neer.

      Nzibe kyk nie waar hy loop nie en struikel oor haar. “Thabisa?”


Скачать книгу