Diep spoor. Jeanette Stals
Читать онлайн книгу.haar vingers. En terwyl die son stadig teen die hemel verskuif, het sy tyd om te dink en te voel hoe die voorvaders, ook met ’n bietjie pyn, in haar werk.
Toe sy met al twee hande se vingers klaar is en nog niks gebeur nie, begin sy weer van voor af en verduidelik aan haar duim dat ’n vrou geduldig moet wees, want die ouer mense weet wat die beste is. Eindelik kom haar ma sê haar pa het opdrag gegee dat die bier gemaak moet word. Haar afsondering is byna verby.
Dit voel asof motte in haar maag fladder toe al drie haar ma’s ’n paar dae later na haar roep om agter die skerm uit te kom. Sy gaan met haar hande op haar skoot gevou voor hulle sit.
“Jy sal nou met elke volmaan die bloed van ons voorvaders sien, Thabisa, en jy moet mooi daarmee werk,” sê haar oudste ma.
“Sorg dat jy dit altyd goed begrawe. Op ’n plek waarvan niemand weet nie, hoor.”
“As abathakathi dit in die hande kry …” Hulle hoef nie te verduidelik nie, Thabisa weet. Dis immers ook wat sy met haar hare en naels doen om dit uit die kloue van hekse te hou.
Haar jonger ma kom weer aan die beurt. “Jy’s nou groot, Thabisa. Daar’s dinge wat jy moet weet.” Thabisa spits haar ore. “Daar is dinge wat jy móét doen en ander wat jy nie mag doen nie. Nou het die tyd gekom wat jy die hitte van jou bloed sal voel en die man dié van sy water. Van nou af moet jy seker maak om altyd te ukuhlobonga – wanneer julle met mekaar speel soos mans en meisies met mekaar speel, moet jou voete mekaar vasvat en jou bene moet jy styf teen mekaar hou. Die man se water mag nie inkom nie.”
Later gaan ’n paar vriendinne saam met Thabisa rivier toe, waar sy gaan bad. Hulle help haar om al die hare van haar kop en lyf met ’n skerp klip af te skraap en te begrawe. Met rooi en wit klei smeer hulle haar lyf. Toe kom haar ma nader, bind ’n grastou oor haar een skouer en draai ook ’n lang romp, wat net getroude vroue dra, om Thabisa se lyf.
“Dis net om te wys jy kan al trou, Thabisa. Ek gee later die kort rompie vir jou, want die stringetjies wat jy altyd gedra het, is nie meer genoeg nie. Nou mag mense nie meer jou hele lyf sien soos toe jy ’n kind was nie.” Mama glimlag bemoedigend. “Maar kom, almal wag al.”
Thabisa kyk af na haar halwe bene wat onder die romp uitsteek en loop ’n paar treë. Dit voel so snaaks. Maar dis net vir ’n rukkie, het Mama mos gesê. Om haar te herinner aan haar doel in die lewe: trou en kinders baar.
Haar pa het die bok keelaf gesny, die aarde oopgemaak sodat die voorvaders kan hoor hoe die Oudste hulle roep en hulle uitnooi om deel van hierdie fees te word. Haar oupa praat ernstig, bedank die amadlozi vir die bloed wat Thabisa ontvang. Toe sny hulle die bok oop, haal die binnegoed uit en drapeer die binnevlies oor Thabisa se skouers en bors.
Haar pa’s en broers se stemme val by dié van die oudste in.
Hulle sing ingoma.
Thabisa se hart bokspring. Dis ’n baie groot dag. Nog nooit tevore is soveel aandag aan haar gegee en soveel belangrike dinge oor haar gesê nie. As kind het sy baie liefde gekry, maar wat nou hier gebeur, is iets heeltemal anders.
Haar ma kom nader, haal die tou van Thabisa se skouer af en gooi dit in die vuur. Dit brand vinnig weg tot niks. Gelukkig sonder geluid, wat bewys dat sy haar by die voorskrifte gehou het. Daarna gooi haar ma die string velrepies wat Thabisa tot nou toe om haar heupe gedra het sowel as haar ou slaapmat in die vuur.
Die vlamme maak ligkolle in haar ma se oë en Thabisa se hart wil by haar keel uitspring toe die vlamme opskiet en haar kindwees verorber. Eers toe die vuur weer terugsak, kan sy haar daarvan losmaak en rondkyk.
Die mense, die hutte en beeskraal, alles lyk anders. Asof ’n onbekende seisoen haar bekruip het. Sy het ’n nuwe lewe gekry. Die kind is dood.
Thabisa speel nie meer nie, maar werk nou saam met die vroue en help ook om die baba van haar jongste ma te versorg. In die laatsomer is daar baie werk. Hulle oes die groente en dra dit aan, pak pampoene in die son om ryp en hard te word. Graan word gewan en die korrels in groot houers onder die vloer van Ugogo se hut begrawe, waar niks dit kan bykom nie.
Die dae is kort en die nagte koud. Sy leer om sonder die ekstra warmte van haar sussies te slaap omdat sy dikwels eenkant toe rol wanneer sy haar bekommer. En vanaand voel sy bekommerd, ook hartseer.
Twee dae gelede het sy gesien hoe Lungile se sustertjie ’n paar lang hare uit hulle bees se stert trek en nou dra Lungile ’n nuwe bandjie van sterthare om haar arm. Haar skoonsuster verlang na haar eie kraal waar die bees vandaan kom. Lungile is angstig ook. Die winter is aan die verbygaan en sy kan steeds nie van hierdie kraal se melk drink nie. As sy nie binnekort vir Jabu kinders gee nie, sal haar pa ’n jonger suster van haar moet stuur. Die lewenstou van ’n familie kan net dik en sterk bly as daar kinders is, ’n nageslag wat saam met die voorvaders kan loop. Sonder kinders van haar eie sal Lungile nie styf invleg nie. Sy word ’n los flenter wat kan afbreek en niemand sal te besorg daaroor wees nie.
5
KATRIEN HOU FRANSIE DEUR DIE KOMBUISVENSTER DOP. Hy speel in die agterplaas met ’n houtwaentjie wat sy oupa vir hom gemaak het, laai dit vol klippies en stoot dit oor die grondpad wat hy met sy hand skraap.
Sy gaan uit, loop nader met haar groot, swanger lyf en gaan op die houtbank langs hom sit. Dis heerlik hier buite onder die peerboom. Sy sal in die rukkie voor die baba kom, vir oulaas rustig en sommer net lui wees, want sy weet nou wat vir haar voorlê.
Gerrit is vanoggend met ’n geleende perd oor Helshoogte om een van sy leerlinge se ouers te gaan besoek. Hulle boer teen die agterste hang van Simonsberg en die pa wil hê sy seun moet die skool los om met die boerdery te kom help. Gerrit gaan hom probeer oorreed om die elfjarige kind nog ’n jaar of twee kans te gee, want die seun is skrander en gretig om in die skool te bly.
“Kyk, Mamma,” sê Fransie, “ek het my wa volgelaai.”
“Ek sien so. En wat is dit wat jy daar in jou wa het?”
Hy kyk ernstig na haar. “Ek sal anderdag sê.”
“Pampoene, miskien? Of druiwe, soos wat Oupa—”
“Katrien!” Dina is in die agterdeur, haar oë vol skrik.
Katrien vlieg orent, struikel oor haar rok se soom, maar behou genadiglik haar balans en drafstap nader. Die dokter en sy vrou, Elaine, verskyn agter Dina. Hulle gesigte wys duidelik hulle is nie op besoek nie.
Elaine vou Katrien in haar uitgestrekte arms toe. “My kind.”
Dis slegte nuus. Ma? Broer Johannes? Of …? Katrien snak na asem. “Gerrit?”
“Kom.” Dokter O’Flinn vat haar arm en lei haar na die rusbank in die voorhuis. “Sit eers hier.”
Sy kyk na die twee gesigte langs haar. “Is dit Gerrit? Sê vir my!”
Elaine hou haar hand vas. “Ja, my kind. Gerrit het teenspoed gehad.”
Katrien se kop duisel en sy gly van die bank af, maar die dokter gryp haar voor sy op die vloer beland.
“Bring water.” Hy tel haar op, dra haar kamer toe en lê haar op die bed neer. Toe haal hy ’n flessie uit sy drasak, voeg ’n paar druppels by die water wat Dina bring en hou die beker by haar mond. “Drink, Katrien.”
Sy sluk werktuiglik.
Ook toe Elaine en Dina haar klere uittrek en ’n nagrok vir haar aantrek, is sy nie betrokke nie. Dis iemand anders se nagmerrie waarop sy van baie hoog af neerkyk.
Sy lê terug op haar en Gerrit se dubbelbed.
Waarom skop die kind nou so erg? Dit laat haar onthou van haar ander kind. “Fransie. Waar is hy?”
“Nog buite,” antwoord Dina.
“Gaan kyk wat hy doen,” sê die dokter.
Katrien voel haar lyf effens skietgee. Die druppels begin seker werk.
“En Gerrit?” wil sy weet.
Die