Diep spoor. Jeanette Stals
Читать онлайн книгу.en die stokke in haar hande saamvat. Die vrou se oë gaan toe; sy luister hoe die kieries werk en haar lyf begin ruk van die kragte wat in haar skud.
Uiteindelik kom dit tot bedaring.
Sy draai die stokke regop om op hul punte te staan.
Dis grafstil. Thabisa se kop duisel, haar asem sukkel.
Die hand wat die stokke vashou, vervaag, word ’n dier op lang bene.
Toe ruk die hand weg en die stokke kletter oormekaar.
’n Kreun gaan tussen die mense op, maar niemand roer nie. Vrees en ontsag maak hulle klei. Die heks moet nou aangewys word. Hierdie onsekerheid dryf hulle tot waansin.
Die vrou kyk op en beduie almal moet opstaan.
Hulle gehoorsaam.
Voorwerpe skud en ritsel om haar arm terwyl haar hand beduie. “Hierdie lê mooi en maak mekaar sterk. Maar dié vinger, hy wys umthakathi.” Thabisa se hart wil gaan staan. Sy kan nie mooi sien waar die lang stok is nie en sy durf ook nie ’n oog knip nie.
Die sangoma tel die stok op en Thabisa se asem wurg in haar keel.
’n Ewigheid duur dit voor die vrou haar hand met die stok uitskiet. “Daar.”
Sy wys na mý.
Toe sak Lungile met ’n kreun op die grond langs Thabisa neer. Die stok het na háár gewys.
Almal bly eers versteend staan. Dan bars krete van verligting uit meer as een keel. Ook woede.
Die mans dring nader om by die heks te kom, met haar af te reken.
“Nee!”
Jabu tree vorentoe met die knopkierie in sy hand en verbystering sak oor almal se gesigte. Hoe durf hy inmeng? Het sy vrou hom reeds haar handlanger gemaak? Verskriklik.
Die Oudste steek sy hand uit om vir Jabu teë te hou.
“Nee,” herhaal Jabu met sy sterk stem. “Wag eers.”
Voor iemand kan reageer, loop hy na waar Lungile op die grond lê en ruk die knopkierie tot bokant sy kop. Met geweld bring hy dit op sy vrou se skedel af.
Op die laaste oomblik knyp Thabisa haar oë toe.
Die plofgeluid laat haar maag tot in haar keel opruk en sy weet nie of dit ’n vrou se dood is wat sy hoor en of ’n bose mag vermorsel is nie.
Sy hou haar oë toe terwyl die mans Lungile wegsleep en sy hoor ook niks toe hulle die paal in die sagte, jong liggaam opdryf nie.
Alles is afgehandel en isangoma stuur ’n medisyneman saam met die familie terug om sy werk by hulle umuzi te gaan doen. Hy kou die kruiemedisyne wat hy saamgebring het fyn en slurp ’n bietjie water op om dit mee te verdun, loop van een hut na die volgende en sproei van die mengsel daaroor. Wanneer sy mond leeg raak, kou en slurp hy weer en herhaal die proses. Ook by die beeskraal.
Klaar met hierdie behandeling, gaan haal hy houtpenne uit ’n velsak en smeer iets daaraan. Met ’n skerp klip maak hy ’n holte aan die regterkant van elke hut se opening en sit ’n pen in die grond. Ook by die beeskraal se hek, buite-om die umuzi en op al die ander plekke wat vir hom belangrik is, plant hy een van die penne. Toe hy daarmee klaar is, kry hy ’n vet os as vergoeding en vertrek weer.
Die Oudste neem ’n gloeiende stomp uit die vuurmaakplek en druk dit in die hut waarmee Thabisa vir Lungile gehelp het. Blitsig vat die dekgras vlam en die hele hut brand af tot net as oorbly. Die heks se naam sal nooit weer genoem word nie en Oupa slag ’n bees om saam met die voorvaders die noue ontkoming te vier. Toe hy ’n paar druppels uit die galblaas op Thabisa laat val, borrel vreugde in haar op – sy is hier en sy lewe.
Jabu het nie saam met hulle teruggekom nie, net vir hulle oupa gesê dat hy op reis gaan. Die Oudste het nie gevra waarheen nie, want diep in hulle harte was die familie verlig. Dis dalk beter dat Jabu eers ver weg ontslae gaan raak van die heks se invloed.
Thabisa gaan uitgeput op haar slaapmat lê, maar sy kan nie slaap nie. Sy dink aan Jabu. Was dit woede of wou hy Lungile die pyn spaar? Keer op keer hoor sy weer die plofgeluid van die knopkierie en dit vra aanhoudend: Hoe kon dit sy wees? So mooi en sag. Hoe is dit moontlik? Sy wat vir my ’n eie suster geword het.
Trane kom by die hoeke van Thabisa se oë uit en loop teen haar slape af. Sy kan dit nie keer nie. En sy wil ook nie.
7
Stellenbosch
’NPAAR MAANDE NÁ GERRIT SE DOOD skryf Katrien vir Fransie by die goewermentskool in. “Jy is baie jonk,” sê sy. “Maar dis wat jou pa sou wou hê. Dat jy net so slim word soos hy was.”
’n Week later kom hy dikmond by die huis. “Ek hou nie van skool nie.”
“Hoekom dan nou?” wil Katrien weet.
“Meester Brown maak nie reg nie.”
“Jy bedoel hy is nie Pappa nie?”
“Nee, hy is nie.”
Fransie was nog klein toe hy al op die bank in die voorhuis gesit en dophou het waar Gerrit die kinders leer. Soms het hy aan die slaap geraak, maar meestal het hy grootoog na Gerrit se lesse geluister.
“Wat doen hy wat anders is?” probeer Katrien agter die kap van die byl kom.
“Hy praat net Engels en hy slaan ons as ons nie verstaan nie.”
“Vir jou ook?”
“Nee. Maar hy sal nog.”
“Sekerlik net as jy stout is, Fransie. Is die anders kinders baie stout?”
Hy lag. “Party seuns trek gesigte as Meester nie kyk nie.”
“Nou ja, dan kan jy mos verstaan dat hy die lat moet swaai.”
Fransie raak weer ernstig. “Maar Pappa het altyd vertel van Holland. Al die plekke op die kaart gewys. Die kinders het nie gesigte getrek of geraas nie.”
“Jou pa was ’n besonderse mens, Fransie. Daar is nie nog so ’n onderwyser soos hy nie.” Sy vryf oor haar seun se kop. “So, jy sal maar skool toe moet gaan en mooi vir meester Brown moet luister.”
“Maar die ander seuns—”
“Wat van hulle?”
“Hulle is baie groter as ek.”
“Dis omdat hulle plaaskinders is, eers skool toe kom as hulle al sewe of agt is. Maar Benjamin wat soggens saam met jou loop, is net ’n rapsie ouer as jy.”
“Dis nie regverdig nie,” hou Fransie vol. “Ons is die enigste twee wat nie kan perdry nie, al die ander kan al.”
“Oom Johannes leer jou tog.”
“Maar hoe kan ek ordentlik leer as ons nooit meer plaas toe gaan nie?”
Katrien sug. “Ons sal ’n plan maak. Intussen moet jy maar net hard leer in die skool. Miskien kan jy ook eendag in Holland gaan studeer, soos Pappa.”
Meimaand staan Dina voor die venster, kyk na die hope blare wat deur die noordwestewind in die agterste hoek van die tuin opgestapel is. Die reën is vroeg vanjaar en dit val met mening. Eergister het sy die wasgoed in die kombuis opgehang om dit droog te kry. Nou kan sy eindelik begin stryk.
Terwyl sy besig is, kom Fransie ook kombuis toe met Gerrit se vioolkas in sy hand. Hy maak hom op ’n stoel tuis, knip die kas oop en haal die viool uit. Bekyk dit van alle kante en pluk effens aan die snare. Toe laat hy die strykstok liggies daaroor gly. Hy weet waar die musiek vandaan moet kom.
“Ek wens ek kan speel.”
“Hulle sê dis baie moeilik. Jy sal eers les moet kry.”
Hy trek ’n suur gesig. “Dan los ek dit liewer,”