Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
“Is jy seker oor die gastehuis? Jy weet ek het ’n kamer leeg.”

      “Dis vriendelik van jou om aan te bied, maar ek kan nie elke keer as ek hier kom, inbreuk maak op jou privaatheid nie.” Jacob hoor Georgie se stem en is dankbaar sy seun het nie die gesprek gehoor nie. Hy kan daardie alweterige laggie hoor. Vir ’n breukdeel van ’n sekonde roer iets in hom. Die ou mense sou dit seker wellus genoem het. Hierdie skielike behoefte na sinsgenot. Die wulpse gedagtes. En dan is dit weg. Voor hy bang of bly kon raak of daarop reageer en sonder dat hy bewustelik die voor- en nadele bedink het.

      “Ons gaan sommer nou gou stop vir die klanktoets en daarna het jy omtrent ’n uur en ’n half voordat ons by die ateljee moet wees. En daarna sommer direk konsert toe.”

      Hy knik en kyk deur die venster na die klompie smouse by die verkeerslig. Eendag wil hy nog vir een van hulle vra wie al die selfoonherlaaiers koop.

      “Waaraan dink jy skielik so diep?”

      “Herlaaiers.” En seks. Ongekompliseerde seks.

      Sy antwoord hom nie en hulle ry verder in stilte tot by die funksielokaal waar die konsert die aand gehou word.

      “Jy moet dalk in die vervolg ’n dag vroeër opvlieg,” sê Sonia toe hulle uit die motor klim en hy gaap.

      Jacob en die klankman groet en gesels ’n rukkie voordat hy agter die klavier gaan sit en begin speel, terwyl die klankman ’n paar verstellings aan die klankstelsel maak.

      Jacob hou sy duim omhoog. “Dankie, dit klink goed.”

      Hulle groet en ry na die gastehuis toe waar Sonia vir hom plek bespreek het.

      Die kamer is ruim met ’n balkon wat op ’n tuin uitkyk en ’n netjiese badkamer.

      “Wil jy eers stort of gou iets gaan eet?”

      “Ek is nogal honger. Kan hulle vir my sommer net ’n toebroodjie kamer toe stuur, dan stort ek solank.”

      Hy maak sy tas oop en haal skoon klere vir die televisieonderhoud uit. Toe hy in die badkamer instap, sluit hy die deur agter hom en sê sag: “Banggat.”

      “Ek voel bevoorreg dat ek jou vanaand aan die ander kant van die mikrofoon kan hê.”

      Jacob glimlag vir die jong onderhoudvoerder. “Dankie vir die uitnodiging.”

      “Vertel ons van jou nuwe CD. Volgens gerugte is jy besig om al jou vorige rekords te verbeter. Jy is seker baie tevrede?”

      “Ja, dis baie bemoedigend om te weet daar is nog mense wat CD’s koop en almal laai dit nie net van die internet af nie. Maar dis nie net my CD nie. Ek het saam met ’n baie begaafde groep mense gewerk en dit was vir my ’n besonderse ervaring. Van die musikante tot die produksiespan was baie professioneel en ek sê weer eens dankie.”

      “Jy kom so pas uit Nederland terug, waar jy ’n reeks baie geslaagde konserte gehad het, en daar is sprake dat jy volgende jaar weer deel van ’n konsert in Londen gaan wees. Oorweeg jy dit nog nie om na die wyer vleispotte van Europa te verhuis nie? Jy is destyds as ’n baie belowende sanger daar beskryf.”

      “Dit is altyd lekker om daar op te tree, maar nee, ek oorweeg dit nie in hierdie stadium om my daar te vestig nie. Ek geniet die wyer verskeidenheid wat ek hier doen.” Hy kyk na die kamera. “Daarvoor wil ek die Suid-Afrikaanse publiek bedank. Hulle maak dit vir my moontlik om die beste van twee wêrelde uit te leef.”

      “Jy is een van ’n handvol Suid-Afrikaanse kunstenaars wat finansieel baie goed vaar. Wat is jou geheim?”

      “Om pret te hê. As ek die dag nie meer geniet wat ek doen nie, moet ek weet dis die einde van die pad.” Hy glimlag. “Dis ongelukkig nie so eenvoudig nie en ek is nie seker daar is ’n geheim nie. Dis waarskynlik ’n kombinasie van baie harde werk en respek vir dit wat jy doen. Sodra ’n mens te gerus begin raak en sekere dinge as vanselfsprekend aanvaar, begin die moeilikheid. Hierdie is net nog ’n job en ek moet sorg dat ek dit na die beste van my vermoë doen, of iemand anders gaan by my oorneem.”

      “Jy is onlangs van jou vrou, Louise Coetzer, geskei. Sy het allerhande bewerings in die media gemaak. Onder andere van verhoudings met ander vroue, waarvan een jou bestuurder en assistent, Sonia Murray, is. Jy wou destyds geen kommentaar lewer nie. Het jy nou al iets om te sê?”

      Jacob glimlag vir haar. “Nee.”

      “Louise het onlangs in ’n tydskrifartikel gesê sy het tot bekering gekom en dis een van die redes waarom sy nie langer met julle huwelik kon voortgaan nie. Wil jy enige kommentaar daarop lewer?”

      “Ek is baie bly vir haar onthalwe.”

      “Sien julle mekaar nog?”

      “Ja. Ons tree terloops later vanjaar saam op by ’n Kerskonsert in die Kaap.”

      “Laaste vraag voordat ons na twee van die snitte op die nuwe CD gaan luister. Mis jy nie Johannesburg nie?”

      Hy lag. “Natuurlik mis ek dit. Ek het van die beste tye van my lewe hier gehad, maar die rustigheid van ’n dorp is in hierdie stadium ’n welkome verandering.”

      “Jammer, maar ek het nog ’n vraag waarvan ek byna vergeet het. Kan ons een of ander tyd ’n outobiografie verwag?”

      “Ek wil glo ek is nog nie oud genoeg daarvoor nie.” Hy glimlag en staan dan op om agter die klavier te gaan sit. Toe sy vingers op die klawers rus, voel hy die effense bewing, maar dit verdwyn gelukkig saam met die eerste note en soos die musiek die ateljee vul, voel sy binnegoed minder rou.

      “Ek is bly vir haar onthalwe,” spot Sonia toe hulle in die motor klim. “Sint Jacobus.”

      “Wat wil jy hê moes ek sê? Sy vind die Here elke paar jaar, maar om een of ander rede raak albei van hulle weer weg.”

      “Sý is die een wat die affair gehad het, sý is die een wat begin speel het met die wit poeiertjies. My fok! En jy sit daar en maak asof sy die Maagd Maria is.”

      “Dis genoeg! Ek gaan nie verder oor Louise praat nie. As jy koerante toe wil hardloop en jou storie gaan vertel, doen dit. Ek het jou nog nooit gekeer nie. Ek gee nie om wat jy daar gaan vertel nie.”

      “As ek dit doen, is dit die einde van ons twee se pad saam. Watse keuse is dit?”

      “Dis ’n keuse.”

      “Dink jy Georgie weet nie wat sy ma gedoen het nie?”

      “Natuurlik weet hy, maar dit beteken nie ek moet dit vir hom swart op wit gee om te lees nie. Hy is ’n kind. Daar is genoeg tyd om die bloed en derms van die lewe te leer ken.”

      Hulle ry verder in stilte en toe hulle in die aantrekkamer van die funksielokaal instap, raak sy aan sy arm.

      “Jammer. Ek dink ek het PMS.”

      Jacob knik net sy kop.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.

Скачать книгу