Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
sal daar verskillende teksture wees. Hier ’n bietjie greinerigheid, daar ’n stukkie fluweel, soos toe sy haar vriende in die deur gewaar het. Daar is helder oomblikke en sagte oomblikke. Oomblikke wat soos satyn deur haar vingers geglip het. Hier en daar ’n klossie wol. ’n Warm vertroosting soos ’n koppie koffie of die warm skon wat Fatima laatoggend vir haar gebring het. Die SMS wat sy vroegaand van Mimi gekry het. Break a leg, girl. Onthou dis nou jou plek. Maak net wat jy wil.

      Ek wens jy was hier, sluit sy die brief af en wonder oor die adres waarheen sy dit sal stuur. As klein dogtertjie het sy elke jaar vir Kersvader ’n brief geskryf. En die adres was eenvoudig: Kersvader. Noordpool. Waarheen sal sy hierdie brief stuur? Neil Visser. Die hemel. Iewers. Waar-ook-al. Noordpool. Miskien sal Kersvader weet waar om die brief af te lewer.

      Cato se eerste gewaarwording die volgende oggend is van ’n vreemde naarheid. Naarheid is dalk nie die regte woord nie. Sy voel net nie lekker nie en dadelik wonder sy of dit die vorige aand se kos was. Wat as al die gaste vanoggend met voedselvergiftiging wakker geword het? Wat as Nelson met opset iets in die kos gegooi het sodat die mense siek sal word? Sy strompel uit die bed en loop kaalvoet in die gang af op soek na Ben of Kristina. Die huis is egter stil en dis eers toe sy naby Kristina se ateljee kom dat sy die sagte musiek hoor. Kristina sit op ’n hoë stoeltjie voor ’n groot doek. Die kwas se agterpunt rus liggies teen haar onderlip en haar kop is skeef gedraai terwyl sy die doek bekyk en saggies saam met die musiek neurie.

      “Is jy siek?”

      Kristina swaai verskrik om. “Donner, moenie my so laat skrik nie. Hoekom sal ek siek wees?”

      “En Ben … is hy nie dalk siek nie?”

      “Nie sover ek weet nie. Hy is reeds weg werk toe, maar hy sou seker gesê het as hy siek was. Waarom vra jy?”

      “Ek voel nie lekker nie.”

      “Dis waarskynlik die nagevolge van gister se spanning, en het jy ooit gister iets geëet?”

      “Ek het koffie gedrink en ’n skon geëet, en ek het gisteraand aan die kos geproe.”

      “Katie het ’n lekker vrugteslaai gemaak en brood gebak. Miskien moet jy eers vanoggend iets behoorlik eet voordat jy dorp toe gaan.”

      “Ek moet vanoggend eers na nog ’n paar blyplekke gaan kyk.”

      “Jy weet jy hoef nie haastig te wees nie.”

      “Ek weet, maar hoe langer ek hier bly, hoe groter gaan die versoeking raak om ’n permanente huisgas te word.” Cato staan op van waar sy op die ou rusbank gesit het en strek haar arms bo haar kop terwyl sy oopmond gaap. “Ek gaan nou eers stort en aantrek.”

      “Ek sal saam met jou gaan.”

      “Jy is ’n engel.” Op die trappe tref ’n naar gevoel haar weer en sy wonder wat die moontlikheid is dat sy deur die loop van die vorige dag ’n maagseer ontwikkel het.

      “Hier sal ek my polse met ’n teelepelsteel afsny,” fluister Cato vir Kristina toe hulle uit die derde dorpshuis stap. “Dis creepy mense.”

      “Jy gaan nie saam met hulle daar woon nie.”

      “Dit maak nie saak nie. Hulle energie kleef aan die mure. Ek sal Ghostbusters moet laat kom, maar ek is nie seker selfs hulle sal die plek skoon kry nie. En kan jy dink as daai vrou met haar simpel hondjie snags by my moet spook.” Cato ril.

      “Dit sal anders voel as die plek uitgeverf is en jou eie goed ingedra is.”

      Cato kom tot stilstand en kyk fronsend na Kristina. “Sal jý hier woon?”

      Kristina kyk oor haar skouer na waar die eiendomsagent en die eienaars op die trappies gesels. “Dalk … as ek …”

      Cato lag hardop. “Nice try.”

      Kristina ril ook liggies. “Dalk ís hulle bietjie creepy.”

      “Neil sal nou al so gatvol vir my gewees het. ‘Cato, ’n woonplek is net nog ’n voorbeeld van ’n ruimte wat werkbaar moet wees,’” aap sy Neil se stem na. “Mans verstaan nie dat dinge met ons moet praat nie.”

      Hulle klim in Cato se motor en kyk na mekaar. “As ek so aangaan, sal ek later in Big Pink moet gaan intrek.”

      “Kom ons gaan eet iets.”

      Cato skud haar kop. “Ek is moeg. Kan ons huis toe gaan, asseblief?”

      Cato klim nie dadelik uit toe hulle by die huis stop nie. “Hoe moet ek vir enige mens verduidelik hoe ek voel as ek dit self nie verstaan nie? Al wat ek weet, is dat ek bang is. Ek staan bang op en ek gaan slaap bang. Ek bly die hele dag bang en die ergste is, ek weet nie waarvoor ek bang is nie. Daar is die voor die hand liggende dinge, soos wat as ek nie van die teater ’n sukses maak nie en ek verloor al my geld of wat as my pa of een van julle ook nou skielik doodgaan. Maar dis meer as dit. Ek het vir myself bang geword omdat ek myself nie meer ken nie. Weet jy hoe voel dit om vreemd vir jouself te voel?”

      “Ja, ek weet.”

      Cato raak aan Kristina se hand. “Dit was ’n retoriese vraag.”

      “Cato, ons albei weet hoe sinneloos dit vir my is om jou te probeer bemoedig. Al wat ek vir jou kan sê en wat jy moet probeer onthou, is om geduldig met jouself te wees. Aanvaar dat jy op die oomblik nie jouself is nie. Moenie daarteen rebelleer nie, moenie die hele tyd wens vir iets anders nie. Jy gaan jouself mal maak. Aanvaar hierdie tyd.”

      “Wat as ek nié kan aanvaar wat gebeur het nie? Ek is nie ’n masochis wat plesier uit pyn put nie. Ek is net ’n doodgewone mens. Dis nie asof ek verwag het om die eerste bemande tuig Mars toe te bestuur nie. Ek het gewone verwagtinge gehad. ’n Man of iemand wat vir my lief is, dalk eendag ’n lekker werk, miskien ’n kind of twee, eendag as ek groot en slim is. Sommer net ’n gewone lewe. Ek weet ek het al my kwota moeilikheid in my lewe gemaak. Ek was ’n bliksem met my pa en Elizabeth en daar was tye wat ek geglo het ek is aan niemand iets verskuldig nie, maar donner, daar is mense wat al baie erger dinge aangevang het en húlle word nie so gestraf nie.”

      Toe Kristina nie antwoord nie, kyk Cato na haar. “Probéér ten minste, al help dit nie. As jy stilbly, freak dit my uit.”

      “Moenie dit sien as straf nie.”

      “As wat moet ek dit dan sien? Strome van seën?”

      “Die verloop van die lewe. Hopelik is daar êrens ’n ordelike plan. Een wat met baie groter insig en intelligensie beplan word as wat ek of jy het.”

      “Dis ’n kak plan wat mense so swaar laat kry en so pynig.”

      “Om daarop te antwoord, gaan ek dalk ’n gruwelike cliché moet gebruik en ek wil dit nie doen nie. So, aanvaar maar net as ek vir jou sê jy moet geduldig wees en jouself toelaat om deur al die emosies te gaan.”

      “Ontkenning, woede, onderhandeling en aanvaarding. Ja, die berader het so iets gesê. Die ontkenning en onderhandeling is in my geval onmoontlik. Aanvaarding is hoogs onwaarskynlik. So, ek sit met woede. Teenoor alles en almal. Ek het gister op ’n rondloperhond geskel omdat hy lewe. Watse bydrae kan hy op hierdie aarde lewer, terwyl Neil berge kon versit as hy die geleentheid gegun is?” Cato slaan met haar hand op die stuurwiel en gee ’n kras laggie. “En daarmee, dames en here, het ons aan die einde gekom van vandag se galbrakery. Skakel môre in vir ’n verdere aflewering.” Sy maak die motordeur oop en klim uit en toe hulle langs mekaar die huis binnestap, sit sy haar arm om Kristina se skouers. “As ek nou verskoning vra, gaan ek huil en ek wil nie nou met rooi pof-oë by Big Pink aankom nie.”

      “Jy kan dalk die mense geld vra om na jou pof-oë te kyk. Soos die freaks by die sirkusse.”

      Hoe ironies, dink Cato toe sy laatmiddag die verhoog met die besem uitvee, dat sy in hierdie stadium van haar lewe vir mense se vermaak sorg. Onder normale omstandighede is dit ’n moeilike taak, maar soveel te meer nou. Wat is die nut van vermaak? wil sy vir almal vra. Is dit ’n manier om vir ’n uur of drie van die werklikhede van die lewe te vergeet? Jouself te verbeel dis nie so erg nie? Maar


Скачать книгу