Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
en waar ook al gekry. Iemand soos Neil. As iemand dit kan regkry, sal dit hy wees, want hy is slim. Die slimste mens wat sy nog ooit geken het.

      “Ek moet met jou praat … net een keer,” praat sy in die mondstuk voordat sy die telefoon toeklap. “Gee my net ’n teken dat jy my hoor …” sê sy as nagedagte. Sy staan op en skakel haar skootrekenaar aan. Daar is vyf nuwe e-posboodskappe. Drie is afkomstig van vriende in Londen, een is van ’n boekklub waaraan sy behoort en een bemark seksspeelgoed en verseker haar van absolute tevredenheid. Sy gooi haar hande in die lug. “Hoe de moer kan wildvreemdes deur streng firewalls by my uitkom en jý kan nie! Het jy ooit probeer?” Haar stem styg ergerlik en sy skud haar kop terwyl sy die rekenaar toemaak. “Jy’s pateties, Visser. Kry ’n grip, of jy eindig êrens in ’n padded sel op.”

      Sy klim terug in die bed en haar hand gaan oor die groot leë spasie langs haar. Sy wonder of hy ’n duik in die matras sal maak as hy langs haar kan kom lê. Sy sal daarmee ook tevrede wees. ’n Holtetjie waaraan sy kan raak. Maar die matras strek soos ’n ewige koue vlakte langs haar. Sy dink weer aan die enkelbed in die woonstel wat sy gesien het. Dalk is dit waarom mense op ’n dag ’n enkelbed koop. Hoe lank kan ’n mens hoop op ’n holte langs jou lyf?

      Sy draai op haar sy en trek haar knieë styf teen haar lyf op.

      Jacob stap agter die klanke aan wat uit die televisiekamer kom. Georgie lê vas aan die slaap op die bank, terwyl twee akteurs mekaar op die rand van ’n afgrond slaan. Hy skakel die televisie af en raak aan Georgie se skouer. Dit neem ’n rukkie voordat hy roer.

      “Bedtyd.”

      “Wat’s fout met die bank? Ek het nou so lekker geslaap.” Hy gaap wydmond.

      “Ek het geld spandeer om vir jou ’n bed te koop.”

      “Ma laat my slaap net waar ek wil.”

      “Ek sal vir jou ’n vliegtuigkaartjie koop.”

      Georgie kyk hom skewekop aan. “Is jy beneuk?”

      Jacob gaan sit langs hom op die bank. “Ek raak nie beneuk nie.”

      “Sál jy my terugstuur?”

      “As jy sulke onsin praat soos nou net, ja.”

      “Waarom het julle vir my gehad?”

      “Ons wou graag kinders hê.”

      “Ek dink nie sy moes ooit kinders gehad het nie.”

      Jacob maak sy mond oop, maar bedink hom eers voor hy antwoord. “Sy is baie lief vir jou.”

      “Ek weet, maar dit beteken nie dis vir haar maklik om ’n ma te wees nie. Daar moet ’n rede wees waarom haar hele familie se kinders so screwed up is. Ek dink sy en altwee haar susters het op ’n manier nooit grootgeword nie.”

      “As jy eendag oud genoeg is om jou eie terapie te betaal, kan ons hierdie gesprek hê.”

      “Beteken dit julle gaan nie altyd my terapie betaal nie?” Georgie val kreunend agteroor teen die kussings. “Oh, the horror! Wat gaan van my word?”

      “Hopelik hard genoeg leer dat jy eendag vir jouself kan sorg en sommer vir my ook.”

      “Weet jy dat ouers oor die vermoë beskik om enige gesprek met hulle kinders so te manipuleer dat hulle op die ou end daardie speech kan gee?”

      “Een van die vreugdes van ouerskap.”

      “Jy en Sonia. Wat’s daar aan die gang?”

      Jacob bekyk sy seun vir ’n oomblik. Was hy nie nog gister in doeke nie, en nou wil hy met hom oor vroue praat.

      “Wat bedoel jy met ‘aan die gang’?”

      “Sy’s verlief op jou.”

      “Hoe sal jy weet hoe ’n verliefde vrou lyk?”

      “Net soos ’n verliefde meisie. Dalk net meer verspot.”

      Jacob kan nie help om te lag nie. “Ek hoop nie sy hoor ooit wat jy nou gesê het nie. Kan jy dink wat sy met jou sal doen as sy jou stiefma word?”

      “Gaan jy met haar trou?” Die jong stem styg verbaas.

      “Nee, maar as jy my baie moeilikheid gee, is dit dalk ’n opsie.”

      “Hou nou op grappe maak en vertel my wat aangaan.”

      “Sonia is my bestuurder. ’n Baie bekwame een en ek sal haar nie graag wil verloor nie. So moet in vadersnaam nie vir haar gaan vertel sy lyk verspot nie.”

      “Ek dink steeds sy is verlief.”

      Jacob staan op en strek homself lankuit. “Jy is geregtig op jou eie opinie.”

      “Pa …” roep Georgie agter hom aan toe hy by die deur uitstap. “Het jy vir my onthalwe Kaap toe getrek?”

      “Waarom vra jy dit?” Jacob steek in die deur vas, maar draai nie om nie.

      “Ek vra maar net. Ek wil nie hê jy moet op die ou end sonder werk sit omdat jy nou hier onder in die Kaap woon nie.”

      “Is jy bang ek maak jou sakgeld minder?”

      “Ek is ernstig.”

      Jacob draai om en stap tot voor die bank. “Ek het die afgelope twintig jaar baie hard gewerk. Ek wil glo ek kan op die oomblik kies waar ek wil woon sonder dat dit my op straat sal laat sit.”

      “Ek wil maar net sê.”

      “Dankie.” Jacob buk en soen Georgie op sy kroontjie. “Ek waardeer dit.”

      “Ons hoef nie nou te begin soene uitdeel nie.”

      Jacob lag toe hy kamer toe stap. Sou hy in hierdie stadium van sy lewe verhuis het as dit nie vir Georgie was nie? Seker nie. Maar as hy weer die keuse het, doen hy dit waarskynlik weer. Soms moet ’n mens net aanstap en nie onnodig baie oor jou skouer kyk nie.

      6

      Cato steek in die deur van die teater vas toe sy Maandagoggend net na nege die deur oopstoot. Niks het verander sedert sy Saterdag hier ingestap het nie. Maar terwyl sy daardie eerste dag effens verwyderd daarvan kon voel, is dit asof elke stoel en tafel, muur en gordyn vandag afwagtend na haar kyk. Soos ’n orkes wat op die dirigent wag. Asof sy die wysie ken en vir hulle die noot en die tempo sal kan gee. Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar bedink haarself betyds. Dis een ding om in die privaatheid van jou bed en onder die dekmantel van die nag met jouself en wie weet wat nog te praat, maar dit is nou dag. Dit is die werklikheid waarin sy ’n werkgewer is en ten minste aan die begin moet probeer lyk asof sy weet wat sy doen. Fake it till you make it, onthou sy iets wat sy êrens gelees het.

      “Hulle byt nie,” praat ’n stem agter haar en sy swaai om. Adriaan is besig om plakkate in die venster op te plak. “Die stoele en tafels byt nie,” gaan hy voort. “Altans nie so vroeg in die oggend nie.”

      “Ek sal jou seker moet glo, want van waar ek staan, lyk dit eerder soos ’n put vol oopgesperde krokodilkake.”

      Hy lag. “Gelukkig is hulle redelik dik gevreet en sal hulle jou nie vandag te veel pla nie.”

      Cato glimlag. “Moenie my sterk in my kwaad nie. Ek probeer baie hard om te lyk of ek weet wat ek doen.”

      “Is dit moontlik om ooit regtig te weet wat ’n mens doen?”

      “Ek het op die oomblik dringend nodig om te voel asof ek weet. Al is dit ’n gewaande gevoel.”

      Hy raak liggies aan haar arm. “Jy gaan baie beter vaar as jy vrede daarmee maak dat daar ten minste elke dag ’n paar onbeplande dinge gaan opduik. Op daai manier leer ’n mens op jou voete dink.”

      “Sal jy my glo as ek vir jou sê daar was ’n tyd in my lewe toe ek vir niks geskrik het nie?”

      “Ja, want anders sou jy nooit so ’n besigheid gekoop het nie. Hierdie bedryf is nie vir klein,


Скачать книгу