Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
woonstel behoort aan ’n jong paartjie. Laggende gesigte straal uit fotorame na Cato. Troufoto’s, wittebrood op een of ander tropiese eiland, albei bruingebrand, arms om mekaar, hande wat raak, die ewigheidsbelofte in hul oë. Cato keer haarself toe sy ’n hand wil uitsteek om aan een van die foto’s te raak. ’n Gekkeparadys, troos sy haarself toe sy afguns voel.

      Die derde woonplek is ’n dorpshuis in ’n veiligheidskompleks op die rand van die dorp. Die eienaars het reeds uitgetrek en die plek lyk half verlate so sonder meubels. Hulle skoene weerklink op die teëlvloere en hul stemme eggo van die kaal mure af. Hier en daar is ’n spyker in ’n muur en ’n ligte skaduwee wat aandui dat daar iets gehang het. Dalk ook foto’s.

      Cato betrap haarself kort-kort dat sy wonder wat Neil sou gesê het. Hy sou waarskynlik deure oop- en toegemaak het, die sterkte en ewewig van die fondasies probeer bepaal het, na die buurt gekyk het en ’n herverkoopwaarde bereken het. Sý wag vir ’n teken. ’n Roering binne haar, herkenning. ’n Teken dat hierdie ruimte goed vir haar sal wees. Maar daar gebeur niks. Die wit mure en leë kaste swyg. Sy kan sien die agent se glimlag begin strammer raak.

      By die volgende twee plekke wag sy ook tevergeefs op ’n teken.

      4

      Net na sesuur stop Cato weer voor Ben en Kristina se huis. Sy roep toe sy in die huis kom en Ben antwoord van die sonstoep af. Kristina sit in ’n groot gemakstoel, ’n kniekombers oor haar bene. Ben staan op toe sy op die stoep uitstap en maak sy arms oop.

      “Ek moes geweet het jy is naby, ek kon die roeringe in die lug aanvoel.”

      Cato stap in sy arms in en sug. “Die man van my drome.” Dan tree sy agteruit en bekyk hom met haar kop skuins gedraai. “Kan jy nie soos enige van ons net doodgewoon ouer word nie? Dis skandalig.”

      Ben vee laggend oor sy slape. “Kan jy nie sien hoe oud het ek geword nie?”

      “Noem jy daai paar grys hare oud word?”

      “Het jy ’n ander woord daarvoor?”

      “Ontwerperbykomstighede, my skat. ’n Man se grys hare is soos ’n Jimmy Choo-handsak. Gooi dit oor jou skouer en jy verhoog die status van enigiets anders wat jy dra.” Sy sak op ’n stoel neer en sug weer. “Ek moet ophou sulke opmerkings maak. Iemand het nou die dag vir my gesê sy kan nie glo ek is na Neil se dood steeds so ligsinnig nie. Asof sy weet.”

      “Onthou wat het ek vir jou na die roudiens gesê. Moenie jou aan ander mense se aanmerkings steur nie. Jy is net aan jouself antwoorde verskuldig.” Ben staan op en kom met nog ’n wynglas terug. Hy skink vir Cato en lig sy glas toe hy weer sit. “Welkom terug.”

      Kristina lig haar glas ook. “Sal ons op die toekoms drink?”

      Cato neem ’n sluk wyn. “Na vandag voel ek of dit ’n geval is van cheer up, the worst is yet to come.”

      “Het jy ’n plek gesien waarvan jy hou?”

      “Nee, maar ek is nie seker of die skuld by my of die plekke lê nie. In die een het die enkelbed my so bang gemaak dat ek niks anders raakgesien het nie. By die volgende een kleef die marital bliss soos goedkoop parfuum aan alles. En so het dit aangegaan. Ek het vergeefs gewag dat ’n plek my omarm, iets in my oor fluister.”

      “Jy’s dalk te haastig. Jou voete het nog skaars hierdie kant grond geraak.”

      Cato kyk na Kristina. “Ek sal graag ’n plek wil kry voordat my paar stukkies meubels hier aankom. Ek sien nie kans om na ’n ruk weer te trek nie.”

      “Was jy by die teater aan?”

      “Nee, die vrou moes vandag Kaap toe gaan. Ons het môreoggend ’n afspraak.” Cato kyk om die beurt na Kristina en Ben. “Dink julle ek maak ’n fout?”

      “Met die teaterrestaurant?” Kristina skud haar kop. “Sover ek kan agterkom, doen die plek goed. Jy ken die bedryf. Die personeel bly aan. Al wat verander, is dat die plek ’n nuwe eienaar kry en jou dosente het destyds almal gesê jy het ’n belowende toekoms voor jou.”

      Cato skud haar kop. “Jy weet wat hulle sê: Whom the gods wish to destroy, they first call ‘promising’.”

      Vir ’n oomblik is die enigste geluide wat op die stoep gehoor kan word dié van die tarentale wat met hulle kras kek-kek-keke-krrr-ke-ke oor die grasperk hardloop en aan die onderpunt van die tuin tussen die bome verdwyn.

      Dis soos om jou gunsteling-pantoffels aan te trek nadat jy ’n dag lank op stiletto’s moes loop, dink Cato. Niks druk of skaaf nie. Nie die stiltes of die woorde nie. Sy kan asemhaal. Diep inasem en nog dieper uitasem. Hulle verstaan van die hartseer en ken die plek waar die ligsinnigheid broei. Die swart doek van die kulkunstenaar. Kul jou hier en kul jou daar. As dit dan nie met ’n wit duif of twee is nie, dan met ’n lawwe woord of drie. Staan dit dan nie in die Bybel dat God teen die aand se kant in die tuin gaan wandel het op soek na die mens nie? Daardie skepsels wat Hy na sy ewebeeld gemaak het. Vandaar waarskynlik die mens se behoefte om veral hierdie tyd van die dag, as die aandwindjie deur die bome begin roer, na sy ewebeeld te soek. Sodat die vreemdheid van die wêreld vir ’n rukkie versag word.

      “O ja, byna vergeet ek – raai wie het ek vanmiddag in die dorp raakgeloop? Paul de Wet. Die gode of sy gene was hom genadig. Of dalk is dit sukses wat ’n man so aantreklik maak.”

      “Kan ’n onsuksesvolle man nie aantreklik wees nie?” wil Ben met ’n beterweterige laggie weet.

      Cato kyk na Kristina. “Ai, hoe de hel verduidelik ’n mens vir ’n man daardie een?” Sy draai weer na Ben. “Dis seker moontlik, maar ’n man wat weet hy is goed in wat hy doen, het ’n aura om hom wat min met fisieke voorkoms te doen het. Dis soos iets wat hulle uitstraal en dit hoef nie noodwendig met ’n vet bankbalans gepaard te gaan nie. ’n Selfvertroue. ’n Wete. Ek weet nie waarom sukkel skoonheidshuise met geure en ondertone nie. Hulle moet liewer daardie iets bottel en verkoop.”

      “Paul is op die oomblik een van die land se gewildste akteurs. Ek vermoed baie vroue kyk net die sepie om hom te sien.” Kristina knipoog vir Cato. “Mans hou egter nie so baie van hom nie.”

      Cato blaas ’n soen in Ben se rigting. “Jy bly my gunsteling.”

      Kristina staan op. “Terwyl jy my man se ego streel, gaan haal ek die kos.”

      Ben en Cato keer gelyk.

      “As jy begin rondloop, gaan jy terug bed toe.”

      “Jy weet jy is nie my ginekoloog nie, nè?”

      Ben soen haar in die nek en stap dan saam met Cato kombuis toe.

      “Is sy orraait?”

      “Ja en nee. Volgens al die toetse was dit werklik net een van daardie ongelukkige gevalle en behoort sy eintlik geen probleme te hê om swanger te raak of om die baba enduit te dra nie. Ek is eerder bekommerd omdat sy maak asof niks regtig gebeur het nie.”

      “Teen haar agtergrond gesien, is hierdie dalk nie die einde van die wêreld nie.” Cato begin borde en messegoed uit die kaste en laaie haal, terwyl Ben die kos uit die oond haal.

      “Ek verstaan dat haar perspektief waarskynlik anders is, maar ek weet ook sy het al ’n paar stukkies klere gekoop en dis nie meer in die kas waar dit was nie. Maar ek weet nie wat sy daarmee gedoen het nie.”

      Cato gaan staan met haar rug teen een van die kombuiskaste. “Sy het die afgelope paar jaar ’n vreemde aardse wysheid bekom en ek dink nie jy moet té bekommerd wees nie. As sy die babaklere weggepak het, is dit dalk juis sodat jy dit nie moet sien nie. Of sy het dit miskien weggepak sodat sy nie gespanne daaroor moet raak nie.”

      “Dis wat ek vir myself ook gesê het, maar ek wil net nie hê sy moet dit vir my probeer wegsteek as sy swaarkry nie.”

      “Die manier waarop sy swaarkry hanteer, sal waarskynlik nooit weer dieselfde as destyds wees nie. Daar het sedertdien letterlik en spreekwoordelik baie water in die see geloop en sy het ’n paar spiere ontwikkel wat min van


Скачать книгу