Vier seisoene kind. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
gelyk op my toegesak het. Ek het juis lê en wonder of ek nie maar die huissoekery kan laat staan en net hier bly nie. Dis een by minder.”

      “Hoeveel keer moet ek nog aanbied?”

      “In die Griekse dramageskiedenis het ons geleer dat in die paradoksale wêreld van die tragedie die hoofspeler of held verantwoordelikheid vir haar of sy lot aanvaar, ongeag of dit die gode se toedoen was of nie. Ongeag ons lotgeval, moet ons voorgee ons is vry. En dis in die held se aard om aan te gaan. Deur te druk. Ek het egter nuus vir die Grieke. It ain’t that easy. Ek sal graag wil weet hoeveel mense bereid is om soos die offerlam verantwoordelikheid vir hulle omstandighede te aanvaar.” Cato neem ’n sluk koffie en byt in een van die stukke beskuit. Haar kake kraak ritmies op en af. “Held se moer. Ek wil nie deurdruk nie.”

      Toe Kristina haar nie antwoord nie, draai Cato haar kop. “Dis nou jou kans om my te bemoedig.”

      “The tragic universe is not morally tidy.”

      “Ek lieg eintlik as ek sê ek kan nie die held wees nie. Daar is tog dae dat ek sterk is, hoor. In so ’n mate dat ek myself verras en byna nie herken nie. Hoe is dit dan moontlik dat ’n mens van so ’n kragtoer af na benede kan stort en nie weet hoe jy ooit weer daar gaan opstaan nie? ’n Mens is tog óf die held óf die lafaard. Jy kan nie albei rolle vervul nie.”

      “Dalk is dit nie ’n óf-óf nie. Dalk is dit ’n geval van ’n bietjie van die een en ’n knippie van die ander een. Dalk loop ons maar net heen en weer op die wipplank. Soms kantel ons die skaal na die een kant toe en soms na die ander kant toe. Ek weet nie, maar dis wat ek wil glo, want anders beteken dit ek kan nooit ’n held wees nie.”

      “Mense soos jy word oorwinnaars genoem. Kyk wat het jy oorleef en weer opgestaan. So moenie met my praat oor nié ’n held wees nie.”

      “Wat was heldhaftig daaraan om in jou eie geheue verstrik te raak?” Kristina gee ’n laggie. “As jy wil voorbeelde noem, mag jy nie selektief onthou nie. Ek het weggehardloop. Die maklikste uitweg gekies deur nie te onthou nie.” Kristina skud haar kop. “Jy was daar, Cato. Moenie vaskyk teen wat jy nou sien nie. Ek het net die voordeel van tyd. En cliché of nie, tyd werk soos ’n wind wat dag vir dag op dieselfde plek waai. Aanvanklik is jy net van die gehuil daarvan bewus, maar mettertyd sien jy watter uitwerking dit op dinge rondom jou het. Met die verloop van tyd word jy bewus van dinge wat weggewaai het en ander dinge wat nader gewaai is. Hoe dit ook al sy, jy raak bewus dat jou omgewing nie meer dieselfde lyk nie en geleidelik begin jy vergeet hoe dit gelyk het.”

      “Wat as ek in die proses omwaai?”

      “Jy sal nie.”

      “Hoe weet jy dit? Het jy ’n divine boodskap gekry?”

      “Jy het nie destyds ná jou ma se dood omgewaai nie, en toe was jy maar ’n kind.”

      “As ek nou terugdink, was ek ook maar vir lank soos ’n Checkers-sak wat saam met elke briesie die pad gevat het en dikwels in slote en gate beland het waar ek beslis nie ’n kind van my sal wil sien nie.”

      “Dis geskiedenis, Cato. Dis verby. Jy is steeds hier en jy sal nie wegwaai nie.”

      “Ek haat dit om so te wroeg.”

      “Het jy al getreur?”

      Cato kyk vraend na Kristina. “Wat bedoel jy met treur? Ek het al emmers vol trane gehuil.”

      “Dink jy Neil se dood is al ’n werklikheid vir jou? Nie net ’n bewustelike werklikheid nie, maar voel jy dit al met jou hele lyf? Weet jou vingerpunte hulle gaan nooit weer aan hom raak nie? Het jy al vir jou mond gesê jy gaan hom nooit weer proe nie? Jy gaan hom nooit weer ruik nie, nooit weer hoor nie, nooit weer sien nie. Jou sintuie moet treur, Cato. Jou kop is besig met allerhande speletjies om dit makliker te maak, maar dit werk nie so nie. Jy gaan ongelukkig eers moet rou.”

      Cato laat sak haar kop sywaarts op Kristina se skouer en Kristina neem haar hand.

      “Ek is jammer.”

      “Ek weet hy is nie meer hier nie, maar ek glo nie ek besef al ek gaan hom nooit weer sien nie. Hoe maak ’n mens ooit vrede daarmee?”

      Toe Kristina haar nie antwoord nie, sug Cato. “Hoe kon ek ’n besigheid koop terwyl ek nie eers ’n houvas op die werklikheid het nie? My slim man sou gesê het dis ’n moerse risiko wat ek loop, maar weet jy wat my die bangste maak? Dat ek soms in my ’n sprankie hoop kan voel. Wat as dit nooit beter gaan nie? Wat as hierdie hoop nooit verwesenlik nie? Maar aan die ander kant is daar min dinge so mismoedig as ’n mens wat nie meer hoop het nie en ek wil ook nie een van hulle word nie.”

      “Jy dink te veel. Dis nie nou die tyd om alles te probeer rasionaliseer nie. Babatreetjies, my liewe vriendin. Halwe treetjies, kwarttreetjies, skuifelvoete. Solank dit net min of meer vorentoe is.”

      “Die wêreld het nie meer geduld met mense wat skuifel nie. Jy word hoogstens ’n swart rok tydens die begrafnis gegun, maar voordat die laaste kluit op die kis geklap het of die laaste assie afgekoel het, verwag die wêreld dat jy die swart rok uittrek. Dis sosiaal so inkorrek om ander voortdurend aan jou hartseer te herinner. Het jy al gehoor hoe mense vir mekaar fluister dat so en so ’n sterk mens is? Aan die begin het ek gedink dit word uit bewondering gesê, maar wat hulle eintlik bedoel, is gelukkig maak sy nie in die openbaar ’n spektakel van haarself nie. Mense hou nie van ’n ander se trane nie. Behoede jou tog as jy op ’n ander se parade reën.”

      “Waarom steur jy jou aan wat ander sê? Ons elkeen moet ons eie werklikheid leef.”

      Cato sug. “Dis nie so maklik nie. Ek neem môre die bestuur van my eie besigheid oor en ek kan net dink hoe gewild gaan ek wees as ek op almal se skouers huil. Die koerante sal binnekort kan berig van ’n eienaar wat haar uit haar eie besigheid gehuil het.”

      Kristina glimlag terwyl sy van die bed opstaan. “Trek aan sodat ons twee uit die huis kan kom, die son skyn buite.”

      “Dink jy die son sal my kan opvrolik?”

      “Nee, maar ek hoop dit verdryf die koue uit my bene.”

      Cato kreun hardop. “Ek is die naam vriendin nie werd nie. Hoor hoe gaan ek te kere terwyl jy op die oomblik deur jou eie hel gaan.”

      Kristina glimlag weer. “Ek is nie presies seker hoe die hel lyk nie, maar ek dink nie hierdie is die hel nie.”

      “Wil jy werklik vir geen oomblik sommer net kla en kerm oor wat met jou gebeur het nie?”

      “Ek was vir twee dae erg moerig, want ek moes ’n uitstalling skuif omdat dit in dieselfde week as die geboorte sou wees. As ek geweet het wat ek nou weet, kon ek die reëlings net so gelos het.”

      “Ek glo jou nie as jy sê jy was moerig net omdat jy reëlings moes verander nie.”

      Kristina maak die deur oop, maar bly staan ’n oomblik met die knop in haar hand. “Ek het nie gedink jy sal dit glo nie.”

      “Probeer jy vir my onthalwe sterk wees?”

      “Ek is nie sterk nie, Cato. Ek is sommer net. Ek is ook maar vir ’n paar dae of ’n week of wat weer terug na babatreë toe.”

      Cato kyk hoe die deur agter Kristina toegaan en sy trek die beddegoed tot teen haar keel op. Is dit ’n dice wat êrens gegooi word, of kies ’n mens werklik die lewe waarheen jy op aarde kom? As dit laasgenoemde is, vermoed sy haar lyne het met iemand anders s’n gekruis, want sy sou nooit hiertoe ingestem het nie.

      Toe sy laataand in die bed klim, voel sy bewerig, asof sy koud kry op hierdie soel lenteaand. Sy skakel die lig af, neem haar selfoon en skakel ’n nommer. Dis nie die eerste keer dat sy dié nommer skakel nie en al weet die grootste deel van haar brein wat die resultaat gaan wees, is daar ’n deeltjie in haar wat aan ’n rietskraal stukkie hoop vashou. ’n Onpersoonlike stem deel haar mee dat die nommer wat sy geskakel het nie bestaan nie. Waarom kan dit nie ten minste net sê sy kan ’n boodskap los nie? Dit sal vanaand genoeg wees. ’n Vae troos dat hy ten minste haar boodskap sal kry. Dat so iets moontlik is. Sy het al flieks gesien


Скачать книгу