Woestyngevangene. Andrea Abbott

Читать онлайн книгу.

Woestyngevangene - Andrea Abbott


Скачать книгу
stofpaadjie stilgehou om te wag tot die ergste verbygaan. As hy net aanhou loop, sal hy die Land Rovers inhaal. Hulle kan nie meer so ver weg wees nie.

      * * *

      “Ons sal moet aftrek,” sê Treasure. Sand peper die vensters. Dit kom in deur die luggate en ander mikroskopiese openinge en beland in almal se oë, ore en longe. Die sigbaarheid is nou amper nul, en dit dwing Dawie om so stadig soos ’n skilpad te bestuur. Treasure sien nie meer die wit strepe in die middel van die pad nie, en sy kan die Land Rover agter hulle se kopligte net-net uitmaak.

      Victor leun vorentoe van die agterste sitplek af. “Dis gevaarlik om in so ’n storm te bestuur,” sê hy.

      “Ons hou nie stil nie,” sê Dawie. “Dit kan vir ure so aangaan. As ons wag tot dit oorwaai, gaan ons definitief ons vliegtuig mis.”

      “Teen hierdie spoed sal ons dit in elk geval mis,” sê Julia.

      “Nie as ons later tyd kan wen nie,” antwoord Dawie.

      * * *

      Leo voel hy is vasgevang in ’n windtonnel vol sand wat by sy longe instroom elke keer wanneer hy asem haal. Hy hou sy pet soos ’n stofmasker voor sy neus en mond. Dit help nie. Die sand kom nog steeds in.

      Hy dwing homself om aan te hou. Ek gaan hulle nou-nou inhaal.

      Hy sit sonder ’n horlosie en dus het hy nie ’n benul hoe laat dit is nie. Hy weet ook nie hoe lank hy al met hierdie stofpaadjie langs sukkel nie. Hy kan dit nie eens meer sien nie, ook nie die wiele se spore nie. Die sand het alles klaar toegewaai.

      * * *

      Dit voel vir Treasure soos ure wat hulle nou al teen ’n slakkepas aankruie. Daarbuite, in die lug wat dik van die stof is, sien sy ’n bordjie verby haar venster swem. AUS 10 km. “Wonderlik! Nou is ons naby die hoofpad,” sê sy.

      Die dorpie Aus lê by die kruispunt van die sekondêre pad waarlangs hulle nou ry en die oos-wes-hoofpad wat deur die woestyn loop, vanaf die kus by Lüderitz se hawe tot by die stad Keetmanshoop amper driehonderd kilometer verder.

      Die sterrekundiges het ’n week gelede deur Aus gery op pad suidwaarts na hul afgeleë kampeerterrein. Daar, onder die skitterende hemel, het hulle die afgelope sewe nagte sterre, planete en ’n magdom ander hemelliggame bestudeer.

      Nou, aan die einde van die Stertrek, ry hulle weer deur Aus op pad huis toe na Suid-Afrika. Dis omtrent halfpad tussen die kampeerterrein en Keetmanshoop, waar hulle die Land Rovers aan die motorhuurfirma sal terugbesorg. Daarna is dit net ’n kort vlug na die hoofstad, Windhoek, vanwaar hulle ’n vlug sal haal na Durban, duisende kilometer oos.

      “Dink jy ons sal betyds by die lughawe aankom?” vra Julia van die agterste sitplek af. Hulle vliegtuig vertrek seweuur.

      Dawie trek sy skouers op. “Ons moet nog omtrent tweehonderd kilometer ry. En dis amper vieruur. Teen hierdie spoed sal ons dit nie maak nie. Maar as die storm binnekort gaan lê, het ons dalk ’n kans.”

      * * *

      Uitgeput en skaars in staat om asem te haal, sak Leo op sy knieë neer en rol homself in ’n bondeltjie op. Opgekrul, met sy rug wat die wind se ergste straf verduur, wag hy vir die einde.

      * * *

      Oos van Aus begin dinge beter lyk. Die wind word minder en kort voor lank gaan lê dit heeltemal. Geleidelik begin die stof sak en die lug word skoner. Nou kan die Land Rovers vinniger ry.

      “Dankie tog dis verby,” sê Treasure en leun terug teen haar sitplek. “Dis goed jy’t aanhou ry, Dawie.”

      “Ja, baie goed,” sê Victor. “Jammer ek wou jou nie vroeër glo nie.”

      Hulle ry verder, verby klein spoorweghaltes met name soos Asbospan, Schakalskuppe, Guibes en Buchholz-Brunn. Tien minute nadat hulle deur Goageb is, ry Dawie stadiger. “Ek’s gedaan,” sê hy en trek van die pad af. “Sal jy oorvat, Treasure?”

      “Natuurlik.” Sy kyk hoe laat dit is. Twintig voor vyf. Hulle is nou net omtrent ’n honderd kilometer van Keetmanshoop af. As alles van nou af goed gaan, sal hulle beslis die vlug Windhoek toe haal.

      Agter hulle hou Eva ook stil. Deure vlieg oop en almal klim uit om bene te rek en die sand uit hulle klere en hare te skud.

      “Wat ’n trippie!” sê Humphrey. Hy trek sy T-hemp uit en swiep dit soos ’n sweep. “Dis een ding wat ek nie kan vat nie: sand tussen my vel en my hemp. Dis ’n marteling elke keer wat jy beweeg. Soos ekskoriasie.”

      “Ekskoriasie?” vra Yunus.

      “Wanneer jou vel afgeskuur word,” verduidelik Cass.

      “Hoekom sê jy nie net so nie, Humphrey?” vra Yunus.

      Dawie maak die Land Rover se agterkant oop. “Wie’s lus vir koeldrank?” sê hy.

      “Ja, ’seblief!” sê almal gelyk.

      * * *

      Daar kom ’n kalmte oor Leo. Dit verdoof die wind se gebrul in sy ore en streel die plekke waar die sand sy vel rou gesteek het. Hy kyk op en sien flou sonlig wat deur die stofdeurtrekte lug sypel.

      Dis alles verby!

      Hy spoeg sand uit, vee dit uit die hoeke van sy oë, en sukkel orent. Nou sal ek die ander kry. Hulle kan nie ver wees nie. Hy kyk rond om uit te vind waar hy is. Die lug is dik van die stof, en hy kan nie veel om hom sien nie. Hy sien ook niks anders wat hom kan help nie, geen wielspore op die grond of enige ander leidrade om vir hom die pad aan te dui nie. Die woestyn is glad en skoongevee, behalwe vir die holte wat sy opgekrulde lyf in die sand gelos het.

      Hy staan baie stil. Die teerpad móét hier naby wees. Die stofpaadjie is omtrent vyf kilometer lank, dit onthou hy, en hy moes minstens halfpad geloop het voor hy moed opgegee het. Hy wag, doodseker dat hy enige oomblik ’n enjin gaan hoor, of bande wat knars op die sanderige oppervlak. En hy luister.

      Maar daar is nie ’n geritsel nie, nie ’n geruis of ’n veraf gefluister nie. Net ’n soliede stilte so enorm soos die woestyn.

      Hulle moet hier naby wees, dink hy en kyk rond op soek na die koppie waarteen hy opgeklim het. Treasure het dit ’n inselberg genoem. Toe hulle gestop het, was dit net ’n klein entjie voor hulle, na regs. Maar dis nie nou meer daar nie, seker omdat die stof in die lug dit nog steeds amper onmoontlik maak om enigiets te sien. Of miskien het hy baie verder aangestrompel as wat hy eers gedink het. Ek moet net reguit aanstap.

      Hy strompel voort. Geleidelik word die lug helderder en die son kom weer te voorskyn. Soos die sigbaarheid verbeter, skuif die horison al verder weg. Leo sien nou hy is in die middel van ’n enorme vlakte. Niks – nie ’n koppie, ’n bossie, ’n klip of stofpaadjie of ander lewende wese – verbreek die eentonigheid van daardie yslike oop ruimte nie.

      “Waar is ek?” vra hy hardop. Sy stem klink toonloos en flou in die eindelose leegte.

      ’n Herinnering kom meteens by hom op, byna soos ’n antwoord op sy vraag. Die ergste ding om te doen as jy in die woestyn verdwaal, het iemand eenkeer vir hom gesê, is om daar te probeer uitkom. Jy loop net in sirkels wat al wyer en wyer raak. Dis beter om net te bly waar jy is.

      Hy het dit te laat onthou. In sy verbete soektog na sy vriende, het Leo heeltemal verdwaal.

      2

      Skaduwee! Dis al waaraan Leo kan dink. Maar die enigste stukkie wat daar is, is sy eie skaduwee, en dit help hom niks. Dis soos ’n senuagtige hond wat wegbeweeg elke keer wanneer jy probeer nader kom.

      Die skroeiende son is genadeloos en die sand voel soos ’n brandyster teen sy bene. Hy plof neer, trek sy knieë op, leun vooroor en probeer sy kop en arms teen die son se fel strale beskerm. Die ander soek seker na my; hulle sal my nou-nou kry.

      Hy wag.

      En wag.

      En wag.

      Niks beweeg nie. Daar is geen welkome geluid van ’n


Скачать книгу