Woestyngevangene. Andrea Abbott
Читать онлайн книгу.kon sien. Behalwe dat die seun hierdie keer twaalf jaar oud is. “En dis ons wat hom daar gelos het!” sê Treasure hardop en trap op die versneller.
Eva spring uit die pad soos die voertuig ’n U-draai maak. “Nee!” gil sy. “Julle gaan niks regkry nie. Ons moet polisie toe gaan.”
“Doen júlle dit!” skree Dawie. “Reël ’n soekgeselskap sodra julle in Keetmanshoop kom!” Hy hou sy selfoon op. “Laat weet ons wanneer julle dit gedoen het!” Daarmee snel hy en Treasure wes in ’n jaagtog teen die sakkende son.
“Hy sal oukei wees,” sê Dawie, wat altyd probeer om die blink kant bo te hou.
Treasure byt haar lip en sê niks nie.
“Regtig, hy sal wees,” hou Dawie vol. “Hy’s ’n skerp outjie. Ek wed jou hy’t aan die inselberg se windskadukant gaan skuil tot die storm verby is.”
“Ek hoop jy’s reg,” sê Treasure.
“Dit sou erg gewees het, en hy sal teen dié tyd baie dors wees,” sê Dawie, “maar ons sal hom kry. Wanneer ons by Aus van die hoofpad afdraai, moet ons net ons oë oophou vir daardie grondpad.”
Treasure dink nie dit gaan so eenvoudig wees nie. Dis ten minste ’n honderd kilometer tot by Aus. Hoeveel nog van daar tot waar hulle Leo agtergelaat het? En hoe lank terug was dit? Vier of vyf uur gelede? Leo kon nie ongedeerd deur die storm gekom het nie. “Ek wens ons het nooit op daardie grondpad afgedraai nie,” brom sy en kyk beskuldigend na Dawie. Dit was sy idee om dit te verken. Hy kan nooit ’n uitdraaipad weerstaan nie. Kyk in watter gemors het hierdie een ons laat beland, dink sy.
Hulle jaag verder, verby die stowwerige haltes langs die spoorlyn wat weswaarts loop na Lüderitz se diamanthawe aan die Atlantiese kus. Deur Guibes en verder, sonder ’n woord tussen hulle, verby Asbospan, en tien minute later, Schakalskuppe, sowat dertig kilometer buite Aus.
Dawie kyk op sy horlosie. “Dis al ná vyf. Hopelik kom ons voor skemer by die piekniekplek.”
Treasure hoor hom skaars bo die woorde wat in haar kop weergalm . . . ’n Seuntjie het spoorloos verdwyn. Dit kan weer gebeur.
* * *
’n Snuifgeluid en iets sags wat aan Leo se gesig raak, bring hom terug na die hede. Hy dwing sy oë oop. ’n Waas van bruin blaas warm lug oor hom. Iets pienk en klam – klam! In die woestyn! – vee oor sy gesig. In vergelyking met die walms warm lug voel dit koel.
Die hond, besef hy toe ’n harige gesig in fokus kom. Van naby lyk alles groter: sy neus soos ’n stuk swart leer; sy tong, pienk en lank; sy wit snor, stekelrig teen Leo se wang; sy oë, groot, ovaal, ’n sagte bruin. Bekommerd.
Die hond tjank en krap met een voorpoot aan Leo se skouer. Word wakker. Staan op.
Leo kreun. Hy kry van iewers die krag om homself tot op sy hande en knieë te lig. Uitgeput, ontwater en met alles aan hom wat pyn, kan hy nie besluit of hy bly is om te lewe of teleurgesteld dat hy nie dood is nie. Hy onthou vaagweg dat hy neergeslaan het. Hoe lank het hy so in die sand gelê, uit soos ’n kers?
Die hond stoot met sy neus aan Leo se arm. Staan op. Staan op.
“Ek kan nie.”
Die hond krap weer aan hom, oor en oor, en lek sy gesig en nek. Komaan. Staan op.
Leo hys homself tot op sy voete. Sy kop draai. Of is dit die wêreld wat om hom draai? Hy maak sy oë toe totdat die gedraai stadiger word.
Die hond blaf vir hom. Weg is ons!
Toe Leo kyk, draf hy al weer weg.
Miskien ís hy op pad iewers heen. Ek het niks om te verloor nie, dink Leo. Óf ek bly hier en gaan dood, óf ek loop vir so lank as wat ek kan. Hy skraap sy laaste bietjie krag bymekaar, dwing homself om aan te hou en konsentreer op die pootmerke in die sand. Eers ’n rukkie later besef hy die son sit baie laer in die lug en sy hitte is amper uitgewoed. Dis darem een troos. Hy kyk op en sien iets anders: Die hond mik na ’n klipperige koppie toe.
Dit lyk bekend. Dis die inselberg waarteen ek opgeklim het! Hy móés in sirkels geloop het. Maar danksy die brak is hy nou terug waar hy begin het. Dit beteken hy is wel ’n spoorsnyhond. Die ander moes hulp ontbied het en die hond is gestuur om hom te soek. “Sjoe. Dit was ’n noue ontkoming.”
Redding en water is nou net oomblikke weg.
* * *
“As hy tot by die teerpad gekom het, het hy dalk duim gegooi,” sê Dawie wanneer hulle naby Aus kom.
’n Lorrie op pad oos flits verby hulle aan die ander kant van die hoofweg.
“Dink jy regtig so?” vra Treasure.
“Iemand anders móés al daarlangs gery het,” sê Dawie. “Ons kan nie al mense wees wat heeldag op daai pad was nie.”
Treasure skud haar kop. Dawie gryp na strooihalms. Gedurende die rit voor die storm het hulle skaars ’n ander siel gesien.
* * *
Die hond gaan lê aan die voet van die inselberg. Leo kom ’n minuut of twee later daar aan en sak langs hom neer. “So waar’s almal?” sê hy wanneer niemand hom verwelkom of nader storm en gretig vir hom water bring nie.
Die hond, uitasem en met sy oë toe, ignoreer hom.
“Hulle wag seker verder met die grondpaadjie af,” sê Leo. “Of by die grootpad.” Hy staan op en sleep homself in die rigting van die hoofpad terwyl hy seker maak die inselberg is agter hom en aan sy linkerkant. Só sal hy sorg dat hy nie weer sy rigting kwytraak nie, al is die grondpad toe onder die sand.
Maar hoe verder hy aansukkel, hoe meer gespanne raak hy. Die woestyn hou net aan en aan. Daar is nêrens ’n teken van ’n grond- of ’n teerpad nie. En dis nie al nie; die son sak voor hom af na die horison – die westelike horison. Dit beteken hy loop wes. Maar ons het links van die grootpad afgedraai en wes gery. So ek moet in die teenoorgestelde rigting loop, oos, om terug by die pad te kom. “Behalwe,” sê hy hardop, “as dit nie dieselfde plek is nie, en as die hond nie ’n spoorsnyer is nie, maar net ’n baster.”
’n Rondloper wat hom op ’n dwaalspoor gebring het.
Verward draai hy om en sien hoe grawe die hond ’n gat aan die onderkant van die koppie. Dis ’n diep gat, want net sy stert en agterstewe steek uit. Sy kop, skouers, rug en borskas het binne-in die gat verdwyn.
“Wat doen hy nou?”
Die hond retireer by die gat uit en kyk vir Leo. Die hare om sy mond lyk donkerder, bedek deur iets blink en nat.
“Water!” roep Leo uit. “Jy’t water gekry.”
Hulle het nie net doelloos rondgedwaal nie. Die hond ís so goed soos ’n Sint Bernard. Hy het heeltyd geweet waarheen hy op pad was – na ’n weggesteekte put aan die voet van ’n inselberg wat lyk soos enige ander een in die woestyn. Dis asof hy Leo doelbewus kom haal en hierheen gelei het.
Sy aan sy en onderstebo, dompel die twee hul gesigte in die poeletjie water. Hulle drink, en drink, en drink. Slurpend, morsig, gulsig. Selfs al is dit sanderig, is dit die heerlikste water wat Leo nog ooit geproe het. Dit breek die droogte in sy mond en gee hom sy lewe terug.
“Hoe het jy geweet dis hier, Hond?” vra hy wanneer sy dors geles is. “Kon jy dit ruik?” Hulle klim uit die put en kyk hoe die sand die gat toeval en die water weer verberg, soos ’n geheim. Leo kyk baie mooi waar dit is: voor ’n tamaai driehoekige klip wat tussen twee ronde klippe uitsteek. As die hond hom aan sy lot oorlaat, sal hy minstens weet waar om water te kry. Maar vir eers gaan die hond nêrens heen nie. Hy lê en dut langs Leo. Leo kyk na sy ribbes en die reghoek van sy heupbeen wat skerp uitsteek. “Jy kan doen met bietjie kos, nè, Hond,” sê hy en begin bewus word van sy eie honger. Wat is daar om te eet in die woestyn? Omtrent niks nie, te oordeel aan hoe maer die hond is.
Die twee lê uitgestrek op die sand. In die weste is die son ’n reuse geelrooi bal wat laag in die oranje lug hang.