Sonnet sonder woorde. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Sonnet sonder woorde - Ettie Bierman


Скачать книгу
nege jaar gewag om haar sê te sê. Kras woorde, maar hy het dit verdien, want hy het haar destyds erger as ’n vloerlap behandel. Dit alles het op ’n familietwis uitgeloop en ’n kloof tussen haar en haar ma veroorsaak. Ook tussen die twee gesinne, wat voorheen huisvriende was. En Duard het nooit probeer brûe bou, probeer regmaak wat hy verbrou het nie. Net spore gemaak, ’n ander meisie aangeskaf en nooit weer van hom laat hoor nie. Kan hy haar kwalik neem as sy verbitterd en onvergewensgesind is?

      Deur sy swartgroen lense kan Valdi nie die uitdrukking in sy oë uitmaak nie, maar sy mond is in ’n dun lyn gespan. Hy klap sy beursie toe en druk dit in sy agtersak. Sy stem is skerp toe hy die taxidrywer iets beveel en met sy kop na die twee meisies beduie.

      Die kokketielkuif kom skoorvoetend nader. “Scusi, signorina,” mompel hy verskonend. “Very sorry. I make mistake.”

      Duard dreig hom en sy vet neef ’n laaste keer met die polizia, die tronk en die mafia. Dan sê hy iets wat soos “vamoose” klink – blykbaar die ekwivalent van “voertsek”, want die Italianer blaas die aftog en vlug stert tussen die bene die hotel in.

      Duard kom stadig tot verhaal. Die uiters onverwagte herontmoeting met Valdi van Wyk het die mat ordentlik onder hom uitgepluk. Die skoolmeisietjie met die parmantige wipstappie het in ’n swaan verander, die druifgroen oë in poele bergwater waarin hy kan verdrink … Haar lyf is vol rondings en kurwes wat enige volbloedman vir ’n ses sal slaan. Tog is daar ’n kinderlike weerloosheid aan haar wat maak dat hy haar in sy arms wil vashou en beskerm, gesorg het dat hy die twee skelm Italianers met sy kaal hande wou verwurg en in ’n swart gat smyt waaruit hulle nooit sal klouter nie.

      “Hoeveel lire het jy hom gegee?” vra Valdi styf.

      Duard moet eers sy gedagtes in ’n ry kry. “Dieselfde as wat ’n wettige taxi sou gekos het. ’n Kwart van die bedrag wat op die meter was.”

      “Hoeveel is dit? Wat skuld ons jou?”

      Hy skud sy kop. “Toemaar, vergeet dit.”

      “Nee. Ek het gevra wat skuld ek jou?” herhaal Valdi kil.

      “Dit maak nie saak nie. Los dit.”

      Dit maak saak. Báie saak! Valdi ruk haar op. Haar kroontjie kom skaars by sy boonste hempsknoop en dit maak haar nog meer boos, want dit gee hom ’n onregverdige voordeel.

      “Ek is nie armlastig nie en ek soek nie jou goedhartigheid nie.”

      Haar vyandigheid vang hom net so onverhoeds soos haar skielike opwagting hier bo-op die berg. Maar hy moes dit seker te wagte gewees het. Hy het destyds skandalig oortree, kop verloor en haar verneder. Hy het dit verdien dat sy hom koelbloedig uit haar lewe gesny het en hy weet vergifnis sal nie maklik kom nie.

      “Ons is nie vreemdelinge vir mekaar nie, wat kibbel jy oor ’n hand vol lire – skaars die prys van ’n bord spaghetti?”

      “Nie vreemdelinge nie, maar ook nie vriende nie.” Valdi lig haar ken en haar stem spring ’n halwe oktaaf. “Ek verkies om jou niks ooit te skuld nie – nie eens die prys van ’n lepel vol spaghetti nie.” Hoewel sy vol bravade klink, is dit vals – binne haar klop haar hart teen ’n vernietigende tempo.

      Duard hou ’n kalmerende hand op. “Jy skiet voor jy groet …”

      “Jy het jou nie destyds verwerdig om tot siens te sê nie, hoekom sal ek hallo sê?” kap sy terug.

      Sy sien hoe sy kakebeen styf span en verwag ’n dwars antwoord, maar sy mond is skielik sag.

      “Hallo, Valdi.”

      Valdi antwoord nie. Sy kan nie, want daar is onverwags ’n bitter seer knop in haar keel en sy is bang dit slaan deur in haar stem. Blessitse Duard! Hy’s ’n drip en sy haat hom omdat hy ná nege jaar steeds die vermoë het om haar hartkloppings te gee en haar te laat huil. Sý, wat haarself belowe het sy sal nooit weer een enkele traan oor die skurk stort nie, nie ’n sekonde in die nag wakker lê of selfs net aan hom dink of onthou hoe verlief sy op die skepsel was nie. Sy haat hom en sy wíl nie ’n knop in haar keel hê nie.

      Fiela het die twee tot dusver net nuuskierig dopgehou, maar besluit dit sal wys wees om tussenbeide te tree. “Goeiemiddag,” glimlag sy vir Duard.

      Valdi is verlig. ’n Oomblik lank het sy gedink dis sý wat so vriendelik gegroet het, sonder dat sy haarself kon keer, en só die ronde aan Duard afgestaan het. Sy verwelkom die onderbreking. Die atmosfeer tussen haar en die vent is snaarstyf gespan en ontlading is nodig voordat iets onherroeplik aan skerwe spat.

      Haar niggie kom staan langs haar en kyk afwagtend na hul weldoener.

      “Eduard Hofmeyr,” stel Valdi hom stug voor. “En dis my niggie Filandi. Sy het in Namibië gewoon. Ek weet nie of jy haar voorheen ontmoet het nie.”

      “Nee. Ek sou haar onthou het,” antwoord Duard.

      Kastig galant, dink Valdi wrewelrig. Maar dis vals. Aangeplakte vleitaal waarvoor sy ook destyds geval het, soos tien ton lood. En haar kop hard gestamp het. Sy sal Fiela moet waarsku voordat sy in dieselfde slaggat trap.

      “Eduard?” eggo Fiela met skielike insig. “Duard? Die hunk op wie jy destyds so verlief was? ‘Die een’ oor wie jy jou oë uitgehuil het?”

      “Is nie!” roep Valdi verontwaardig uit. “Jy het altyd ’n ding aan die stert beet en dan blaas jy dit buite proporsie op.”

      “Daai ou wás mos Hofmeyr, as ek reg onthou.”

      Hoe kán Fiela so wreed wees, of so onnosel!

      “Jy onthou verkeerd,” korrigeer Valdi, diep gegrief. “Ek het g’n gehuil nie, ek was dankbaar om van hom ontslae te wees, en Tiaan het my mos toe gevra om te kys.”

      “Tiaan? Wie’s hy? Ek onthou g’n Tiaan nie.”

      “En toe Pietman Botha,” las Valdi by, voor Fiela verder kan uitvra.

      Fiela trek haar neus op. “Piet Bleeksiel? Hoe lank het hy gehou?”

      “Lank genoeg. Dis hy wat my aan Niek voorgestel het.”

      “Daai droërangskikking?”

      Valdi vererg haar. Die oorsese trip was Fiela se simpel idee en Valdi wens sy’t nie saamgekom nie. Fiela is heeltemal taktloos, met ’n selektiewe geheue en ’n vrye sê oor almal. Valdi wil beslis nie hier voor Duard staan en derms uitryg nie; hy staan juis en beskou hulle met ’n halwe glimlag, asof hulle nie eens van sy bestaan bewus is nie.

      Haar niggie het gelukkig belangstelling in die gesprek oor die verlede verloor – groener weivelde is in sig. Sy gee haar bloes se V-vormige halslyn skelm ’n afwaartse plukkie en fladder haar wimpers vir Duard.

      “Wel, hóm sou ek beslis onthou het …”

      Duard se mondhoeke skiet boontoe. Dieselfde gene, maar die niggies verskil soos dag en nag.

      “Wat maak julle meisies op Capri?” vra hy. “Vakansie?”

      Dis Fiela wat antwoord. “Salige vakansie, ja. Ons was drie dae in Egipte en vandaar Napels toe. Toe sien ons op die lughawe hierdie special wat geadverteer word, koop twee kaartjies op die boot na Capri, betaal vir net een. Ek’s altyd ’n bok vir specials, so hier’s ons: boobs and all.”

      “Fiela!” roep Valdi geskok uit.

      Duard lag. “Dis buite seisoen, vandaar die spesiale aanbiedings en taxi’s en hotelle wat desperaat is vir klandisie. Hoe lank is julle op die eiland?”

      Fiela haal haar skouers op. “Soos die gees ons lei. Ons het ’n maand vakansie om te bly, te gly of te ry soos ons lus het.”

      “Maar ons is haastig om in Rome en Venesië te kom,” herinner Valdi haar, “dan nog Engeland, Frankryk en Switserland. En Spanje en Griekeland … Ons kan nie langer as ’n dag hier mors nie.”

      “Mórs?” eggo Fiela. “Wat praat jy … Jy, wat so in vervoering was oor die deurskynende turkoois baai, die piazzas en stegies


Скачать книгу