Sonnet sonder woorde. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Sonnet sonder woorde - Ettie Bierman


Скачать книгу
leeggehuil oor hom nie. En g’n wonder geen ander man daarna was ooit weer goed genoeg vir haar nie. Nie eens Niek Greyling nie, al gee sy voor daar is iets aan die broei tussen hulle. Niek is gaaf en hy’s ’n dokter, maar teen hierdie eks van haar niggie lyk alle ander mans inderdaad soos droërangskikkings.

      “Jy weet nie dalk van blyplek op ’n special nie, Duard?” skimp Fiela. “Ons het lank vir hierdie trip gespaar, maar die rand het intussen gedaal, die resessie, jy weet. Dis so min werd, alles kos omtrent twee keer soveel as waarvoor ons begroot het. Ons moet ons rieme dun sny om darem te kan eet, met af en toe ’n ou glasie rooiwyn daarby.”

      Duard dink na, dan knik hy. “Toevallig, ja. ’n Goeie vriend van my het ’n pensione – oftewel gastehuis – wat bed en ontbyt aanbied. Sophia’s lyk soos ’n Middeleeuse kasteel, nie reusagtig groot nie, maar daar’s ’n swembad en die kamers is modern, met ’n badkamer en balkon, ’n see-uitsig, en dis naby die strand.”

      “Wow! Teen watter prys – ’n arm en ’n been?”

      “Gratis.”

      Fiela kyk hom net. Sy het nie geweet vandag is die eerste dag van April nie.

      “Mahala. Pasella,” sê hy.

      “Dis te goed om waar te wees. Wat is die vangplek?”

      Duard huiwer. “Julle sal net moet, e … kos maak.”

      “Ontbyt? Dis niks. By die huis doen ek dit tog elke dag: bokspap, toast en jogurt … Maklik.”

      “Dalk … effe meer,” erken hy.

      “Soos wat?”

      “Soos omelette, spek, vis, torta, canolli en so aan …”

      “Wat is daardie laaste twee?”

      “Tradisionele Italiaanse disse, ter wille van die toeriste. So ’n tert-ding en ’n pannekoekerige konkoksie,” antwoord hy vaag.

      Fiela laat haar nie afskrik nie. “Valdi maak sulke fancy geregte sommer met haar linkerhand. Sy’s mos ’n dieetkundige.”

      Duard is geïnteresseerd. “O? Ek het nie geweet nie. Praktiseer sy?”

      “Ja.”

      “Waar?”

      “By Bloemkloof-hospitaal, as konsultant saam met Niek Greyling en drie ander dokters.”

      Kompleet asof sy nie teenwoordig is nie, dink Valdi geïrriteerd. ’n Meubelstuk, ’n tafel of ’n stoel wat nie kan praat nie.

      “Waar is hierdie kamstige vyfster-cholesterolkweekhuis?” wil sy skepties weet.

      Duard wys met die vinger. “Bergaf met dieselfde pad wat julle gekom het.”

      “En hoe kom ons daar? Weer per taxi?”

      “Ja, myne. Ek sal julle neem.”

      Valdi se wenkbroue lig. “Jy het ’n taxi?”

      “Ja. Sy naam is Willie.”

      “Willie wát nie?” terg Fiela.

      “Willie twee mooi girls hier op die berg laat staan sonder ’n heenkome nie,” spot hy saam, haak twee rugsakke oor sy skouer en tel Fiela se tas op. “Sjoe, wat is hierin? Klippe?” kreun hy.

      “Moenie na mý kyk nie,” snip Valdi. “Ek reis lig – net ’n rugsak met ’n paar tops en kortbroeke.”

      Voor hy homself kan keer, dwaal Duard se oë na haar bene. Sy was op skool ’n topatleet en reeds in graad agt die ondersestien-tenniskampioen. Valdi het altyd mooi bene gehad, hoewel effe maer. Maar in nege jaar het sy kuite bygekry, so welgevorm, hulle sal selfs ’n standbeeld sy kop laat lig en twee keer kyk. Soos haar nuwe paar boobs – om Filandi se woord te gebruik – ’n man drié keer laat kyk …

      Hy betrap Valdi se spottende oë op hom en sy gesig word rooi, soos ’n skoolseun wat met ’n pornotydskrif betrap is. “Gelukkig het die klippe wieletjies,” mompel hy en rol die tas agter hom aan terwyl hy stap na iets onder die sipresboom wat soos ’n kleinerige, geroeste skeepswrak lyk.

      Valdi hardloop agterna en rem een van die sakke van sy skouer af. “Ek het arms, ek kan my eie goed dra!”

      Duard waag dit nie om teë te stribbel nie.

      Sy het hom mos duidelik laat verstaan sy soek nie gunste en gawes nie, dink Valdi suur. Dis te laat om nou skielik gentleman te wil speel. Hy het haar wel netnou van die trappe af opgetel en verhoed dat sy weer omval, maar in die ou dae sou hy besorg gewees het oor die bloed aan haar voorkop en aangebied het om ’n pleister op te plak. Nou kon hy haar nie gou genoeg aan Fiela oorhandig en van haar ontslae wees nie. Daarna het hy haar grootliks geïgnoreer, en hy is darem baie danig met haar niggie.

      Fiela kan hom erf, met graagte. Sy sal gou haar fout agterkom, sodra hy moeg word vir haar en ’n beter proposisie in die oog kry. Dan smyt hy haar ook weg, soos ’n ou hemp wat ’n vloerlap geword het.

      Hy kon darem destyds, ná die insident by die swembad, gebel het … Net uit ordentlikheid, om te sê hy is jammer. Darem ’n e-pos gestuur het of selfs ’n SMS om verskoning te vra. Te verduidelik. Te vra hoe dit gaan. Maar van sy kant af was daar net dawerende stilte. Al die jare lank, nooit weer ’n woord nie, nie eens ’n Kerskaartjie of ’n bewys dat hy haar verjaardag onthou het nie. Haar ma het volgehou dit wys dat hy nooit vir haar lief was nie en wil aanbeweeg. En dis dieselfde boodskap wat hy nou uitstuur.

      Dit pas haar. As sy geweet het hy is op Capri, het sy in Australië gaan vakansie hou, aan die ander kant van die aardbol.

      Duard bly staan langs die skeepswrak en wink hulle nader. “Klim solank in. Ek moet net gou ’n navraag doen.” Hy haal sy selfoon uit en loop ’n entjie weg terwyl hy praat.

      Wat ook al hy wou vasstel, is blykbaar in orde, want hy grinnik tevrede toe hy terugkom. “Als reg. Komaan, klim!”

      Saam met hul bagasie laai hy die seilsak in wat teen die boomstam gelê het – volgepak met kwaste, potlode, sketsboeke en verfbuise.

      “Ontmoet vir Willie,” stel Duard die Jeep aan hulle voor. “Hy het saam met die ark teen berg Ararat gestrand.”

      Fiela vra nie, maar klouter voor in langs die bestuurder. Die uitsig is steeds ’n skouspel, met ’n seilskip wat grasieus oor die helder water gly. ’n Uitsig waarvoor hulle duur betaal het, maar Fiela stel meer in die uitsig reg langs haar belang. Geen Romeinse Romeo kan aantrekliker wees as hierdie fris boer nie en g’n meisie kan vir ’n ou met so ’n soenbare mond kwaad bly nie. Wat hy ook al destyds aangevang het, kon Valdi maar oorgesien het, want hy’s dit werd.

      “Wat skilder jy, Duard?” vra Fiela.

      “Ek skilder nie, ek maak prentjies.”

      “Wat is die verskil?”

      “Die een is vir die siel, die ander een vir die maag. Op die oomblik maak ek sjokoladeboksprentjies om kos te kan koop en my rekeninge te betaal.”

      “Hou jy uitstallings?”

      “Van die sielsgoed, ja. Vir die prentjies het ek ’n agent in Napels.”

      “Is dit waar jy woon – in Napels?”

      Valdi besef sy hou haar asem op terwyl sy wag dat hy antwoord. Sy kan nie verstaan waarom dit saak maak nie. Hy kan in Alaska woon vir al wat sy omgee. Sy is lankal oor hom. Netnou se ontmoeting was net te onverwags, so heeltemal uit die bloute – dis waarom haar mond droog was en haar hart so getamboer het. Dis omdat sy moeg is ná die lang vlug, seesiek geword het op die boot en haar kop boonop teen die trappe gestamp het. Drie logiese redes waarom Duard se teenwoordigheid so ’n verwoestende uitwerking op haar gehad het. Môre het dit oorgewaai en gee sy nie om dat Fiela haar ekskêrel erf nie. Want dis al wat hy is: haar eks, in wie sy ’n diepgewortelde renons het.

      “Nee, ek woon hier op Capri,” antwoord hy.

      Hulle is net vir een dag hier, bemoedig Valdi


Скачать книгу