Die goue vlinder. Susanna M. Lingua
Читать онлайн книгу.Dis ’n grondpad, maar heeltemal gangbaar. Van Maputo af kan jy per boot reis tot by Beira en van daar af die reis per motor voortsit. Ek sien uit na jou koms, ounooi. Onthou, hierdie keer het jy geen verskoning nie. Ek is in ’n gerieflike huis gevestig, dus is daar niks wat jou kan verhoed om hierheen te kom nie.
Nee, kyk, my brief is reeds te lank. Ek verwen jou te gruwelik vir woorde. Bedank nou, kleinding, en kom sluit jou hier by my aan.
Liefdegroete, jou ouboet.
Ns. Telegrafeer liewer in Engels, ingeval die kêrel hier in die poskantoor dalk ’n fout met die Afrikaanse spelling begaan.
Dié ouboet van my darem, dink Janet met ’n gelukkige glimlaggie, hy dink ook aan alles. Dit sal bepaald vir hom ’n verrassing wees wanneer hy van my hoor. Ek dink ek moet maar dadelik vir hom ’n telegram stuur en hom uit sy kommer verlos … Ja, sommer so ’n lange. Sy brief was mos darem redelik lank vir iemand wat nie lief is vir briewe skryf nie.
Na hierdie besluit plaas Janet Vic se brief terug in die koevert en neem agter haar lessenaar plaas. Met ’n breë glimlag van genoegdoening formuleer sy die bewoording van die telegram. Sy laat weet Vic dat sy reeds bedank het en die eerste September wil vertrek, maar met haar eie motor en nie per boot soos hy voorgestel het nie.
Die wind is snerpend koud toe Janet in haar motor klim en na die poskantoor ry om die telegram in te gee. Sy dink aan die lekker tropiese klimaat wat Vic geniet terwyl haar eie hande en voete half verys is van die koue. Sy is bly dat sy oor twee weke vertrek.
Pretoria word nou elke winter net ’n bietjie kouer. Later sal g’n beskaafde mens hier kan lewe as dit so aangaan nie …
Die klerk agter die toonbank is ietwat verbaas toe sy die lang telegram sien. Sy verkeer stellig onder die indruk dat die liewe ou Vic my kêrel is, dink Janet met ’n geamuseerde trek om haar mond en blou oë wat vonkel van pret. Wel, laat sy tog maar dink wat sy wil. Ek het my nog nooit in my lewe gesteur aan wat ander mense van my dink nie. Waarom sal ek my nou steur aan wat sy dink?
Janet vereffen die bedrag wat die klerk noem en met hande diep in haar jas se sakke verlaat sy die poskantoor en vat die pad terug na haar woonstel. Vic sal vanaand nog sy verrassing ontvang, dink sy met ’n gelukkige hart. Sy is net spyt dat sy nie sy gesig kan sien wanneer hy haar telegram lees nie. Net twee weke nog, my liewe ouboet, sing haar hart saam met die motor se buitebande op die teerstraat, net twee kort wekies nog!
Janet voel momenteel diep gelukkig en tevrede. Met haar tuiskoms skakel sy die radio aan, krul haarself in ’n stoel op voor die verwarmer en lees Vic se brief nog ’n keer deur.
Met haar blik afgetrokke op die gloeiende verwarmer, bepeins sy die inhoud van Vic se brief. Ester was dus reg, praat sy in haar gedagtes met haarself; die man vir wie Vic die dam moet bou, is inderdaad skatryk. En as hy so ryk is, kan hy niks anders as ’n lelike ou vet slobber wees met ’n robynring aan elke vet pinkie nie. Ja, hy is stellig ook net so lank as wat hy breed is …
’n Hertog met ’n fabelagtige kasteel en drie yslike plase! Sy maak ’n minagtende geluid deur haar fynbesnede neusie. Sy skatte beïndruk my glad nie. Ons Hartmans is nou wel nie miljoenêrs nie, maar ons is ook nie arm nie. Die hertog met sy vet wange moet net nie maak of my liewe ou Vic sy hierjy is nie, want dan gaan hy met my te doen kry en ek laat nie met my speel nie …
’n Hele stroom wrewelrige gedagtes teenoor die hertog storm deur Janet se gedagtes. Sy weet dat sy die regte beeld van hom in haar gedagtes dra – spekvet en grootdoenerig; hy is mos ’n miljoenêr-edelman. Natuurlik daarom dat die knapste ingenieur in die suidelike halfrond sy ellendige dam vir hom moet bou. Pure grootdoenerigheid en niks anders nie. Ja, edelman ofte nie, hy is maar soos elke ander vermetele man. Almal moet weet en sien dat hy ’n groot kokkedoor is met fabelagtige skatte. Hy moet net sorg dat hy Vic se werk waardeer en nie maak of haar ouboet sy voetvel is nie, want dan verdrink sy hom nog in sy eie dam.
Maar wag maar, stu haar gedagtes voort, oor twee weke is ek self op Espiño. Ek sal sy houding teenoor my ouboet fyn dophou en bewaar sy siel as hy die werk van ’n knap ingenieur soos Vic nie waardeer nie. Ek sal hom baie gou laat verstaan dat my ouboet huis en haard moes verlaat het om sy ellendige dam te gaan bou en dat hy geëerd behoort te voel om ’n man soos Vic daar aan die spits van sake te hê …
Janet hoor hoe die wind iewers aan ’n venster ruk. Dan val dit haar meteens by dat die badkamer se venster oop is. Sy stoot haar welgevormde bene van die stoel af en draf haastig na die badkamer om die venster toe te maak.
Hierdie onplesierige wind, dink sy onderwyl sy ’n rukkie deur die venster na buite tuur, is sowaar genoeg om enige mens mistroostig te stem. Sy luister hoe die wind deur die kaalgestroopte jakarandas op die sypaadjie loei. Dit klink byna soos iemand wat droewig huil. Miskien ween die wind werklik oor die winterverlatenheid wat so somber oor die stad hang, dink sy. Die altyd kleurryke omgewing lyk vaal en verlate. Selfs die grasperke lyk asof dit nooit weer ’n groenigheidjie sal kan voortbring nie.
Sy sien hoe die wind in sy vaart klein stofwolkies in die straat opjaag, net om dit elders neer te werp. Stil draai sy van die venster af weg en gaan maak haar weer voor die verwarmer tuis. Sy voel meteens bitter eensaam en alleen, kompleet asof daar ook ’n winterverlatenheid in haar hart lê.
Etlike minute koester Janet haar in die hitte van die verwarmer, dan besluit sy dat sy maar die snerpende wind daar buite sal moet aandurf. Sy sal beslis ’n draai by die biblioteek moet maak, want sonder ’n boek sal sy nooit vanaand aan die slaap raak nie – nie soos sy op hierdie oomblik voel nie. ’n Boeiende verhaal sal net die regte medisyne wees om haar mistroostige gedagtes in ’n ander kanaal te lei, weg van haar verlange na Vic en die droewige geweeklaag van die wind met sy hartseerlied.
2
Twee dae voor Janet se vertrek na Mosambiek ontvang sy ’n brief van Vic. Dis duidelik dat die brief êrens vertraag was, daarom dat sy dit nou eers ontvang.
My liewe balhorige sussie, lui die brief, dankie vir die telegram wat so ’n aangename opskudding hier in Espiño verwek het. Ek het lus en draai jou pragtige nekkie om.
In elk geval, ek het kwalik jou telegram klaar gelees, toe verskyn die señor duque – dis nou die hertog, almal spreek hom so aan – hier in my studeerkamer met ’n gesig wat na ’n treffende weergawe van ’n onweerswolk lyk. Nou ja, die señor duque is nie ’n man wat jakkalsdraaie gooi wanneer dinge nie na sy sin verloop nie en hy wil ook sommer dadelik van my weet of ek so ’n ongehoorde ding gaan toelaat, naamlik dat jy alleen per motor van Pretoria af hierheen reis.
Hoe hy dit te hore gekom het, weet die vet alleen. Ek vermoed maar dat die klerk in die poskantoor hom ingelig het. Ek sê jou, hier kan niks op Espiño gebeur nie of hy weet daarvan. Dis kompleet of die man oor ’n buitengewone sintuig beskik – inderdaad ’n nare gewoonte.
In elk geval, ek het beleef aan hom verduidelik dat jy drie en twintig is en, volgens ons landswette, twee jaar gelede al mondig en jou eie baas. Ek kan jou dus nie belet as jy die hele ent pad per motor wil reis nie, aangesien ek geen gesag oor jou het nie, al is ek jou ouboet.
Jong, jy moes die man se gesig gesien het nadat ek hom al hierdie dinge vertel het. Hy was behoorlik bleek van skok en, wel, dit het vir my gelyk na verontwaardiging ook. Daarna het hy – baie beleef, verstaan jy? – ’n hele hoop waarhede kwytgeraak waaraan ek natuurlik niks kan doen nie, want die feit bly staan, jy is mondig en jou eie baas. Maar, in vredesnaam, reis tog asseblief per boot tot by Beira. Ek sien eerlikwaar nie daarna uit om weer so ’n onderhoud met die señor duque te hê nie. Trouens, ek het ook nie nou tyd om my met sulke buitebelange te bemoei nie. Ek weet jy was nog altyd opgewasse om vir jouself te sorg, maar dink jy die man wil dit verstaan!
Nadat hy vertrek het, het ek gedink dat ek nou die laaste van die saak gehoor het. Maar moenie glo nie. Die volgende dag het sy ma, die ou duquesa, my oor die einste ding kom spreek. Hy en sy ou ma is sowaar ’n pyniging des vlees en ’n vermoeienis des gees. Tog het hulle volkome gelyk: dit is nogal gevaarlik vir ’n jong meisie om so ’n lang reis alleen per motor aan te durf. Ek sien hul kant van die saak volkome in, maar aan die ander kant wonder ek weer wie nou eintlik vir wie die