Die goue vlinder. Susanna M. Lingua

Читать онлайн книгу.

Die goue vlinder - Susanna M. Lingua


Скачать книгу

      Dit kom meteens by Janet op dat hierdie man die tipe skyn te wees wat nooit sy stem verhef nie, al is hy ook hoe woedend. Maar dan val dit haar by dat die ellendige man ’n antwoord op sy vraag verlang en dat hy stellig daarop sal aandring totdat hy die waarheid uit haar getrek het. Ja, sy moet hom liewer die waarheid vertel en klaarkry.

      “Wel,” begin sy, en nou bloos sy sommer vuurwarm, “om die een of ander rede het ek onder die indruk verkeer dat die señor duque van Espiño ’n lelike, kort, vet mannetjie moet wees met pofferhande en ’n yslike robynring aan elke pinkie. Hy sou ook ’n ewe vet vrou en ’n string kinders hê.”

      “Jy kan dus nie glo dat ek dáárdie señor duque is, omdat ek toe nie aan die beeld voldoen wat jy vir jouself geskep het nie?” kom dit sag van die edelman. Maar nou klink dit vir Janet al of hy met haar spot, en dit verdra sy nie – van niemand nie.

      “Wel,” sê sy met ’n tikkie ergernis in haar stem, “ek is nog glad nie oortuig dat jy wel daardie señor duque is nie. My broer het my nog nooit vertel wat daardie duque se naam en van is nie. Jy kan dit ook maar net sowel nou weet, señor, dat ek nooit saam met ’n vreemde man in ’n voertuig klim nie. Watter versekering het ek dat jy wel die duque is vir wie my broer die dam moet bou?”

      “Op die oomblik het jy geen versekering nie, señorita,” hoor sy hom bedaard sê. “Ek het nou wel nie ’n vet vrou en ’n string kinders nie, maar ek kan jou verseker dat ek selfs daarsonder ’n eerbare en betroubare man is. Terloops, hierdie doeanebeamptes ken my almal. Ek gaan gereeld een of twee keer per jaar hier verby wanneer ek ’n besoek aan my sitrusplaas naby Nelspruit bring.”

      Hy haal ’n leerportefeulje uit sy baadjie se binnesak, neem sy paspoort en hou dit na Janet uit. “Jy sal my adres daarin vind, señorita,” sê hy.

      “Dit spyt my, maar ek kan nie jou taal lees of praat nie, señor,” help sy die man bedaard reg. Sy voel in ’n mate oortuig dat hy wel Vic se hertog is, want haar ouboet het in een van sy briewe gesê dat die man ’n plaas in die Laeveld besit. Maar dit gaan sy nie vir hom sê nie. Dalk dink hy Vic bespreek hom en sy … e … maer vrou in sy briewe. Ja, as sy vrou nie vet is nie, moet sy bepaald slank en beeldskoon wees, meen Janet.

      Maar die hertog Ramiro Velasco de Gouveia is nie ’n man wat ’n onafgehandelde saak sommerso in die lug laat hang nie. Hy kom ongevraagd langs Janet staan. Sy merk dat hy heelwat langer is as sy. Ewe bedaard hou hy sy paspoort voor haar en dui met ’n slanke wysvinger aan.

      “Ek veronderstel jy sal die adres ken wanneer jy dit sien,” hoor sy hom weer sê. “Jy het reeds twee telegramme na dieselfde adres versend en in die laaste telegram het jy ons almal gestuur om doppies te gaan blaas.”

      Janet voel asof sy in die aarde kan wegsink van verleentheid, maar die hertog se mooi, bedaarde stem gaan onverstoord voort: “Hierdie foto op die paspoort is tog ’n foto van my, nie waar nie?”

      “Ja, ek sien hierdie paspoort behoort aan jou, señor,” sê sy sag. “Ek glo nou dat jy die man is vir wie my broer die dam moet bou. Maar dit beteken nog nie dat ek bereid is om jou per vliegtuig na Espiño te vergesel nie. Ek het tot hier met my motor gekom en hoop om môremiddag per motor op Espiño aan te kom –”

      “Onmoontlik, señorita,” val hy haar ernstig in die rede. “Van Mambone tot by Muda is die pad so hopeloos dat jy dit nooit met jou motor sal maak nie. Die middelmannetjies sal jou motor se brandstoftenk ernstig beskadig.”

      “Snaaks, die middelmannetjies het nie jou motor se brandstoftenk beskadig nie, señor duque,” kap Janet ewe ernstig terug, “en jou motor se brandstoftenk is maar net so laag. Hoe verklaar jy dit?”

      “Verskoon my, ek het nie per motor hierheen gereis nie, señorita. Ek het jou met my vliegtuig kom haal.”

      “O,” sê Janet, “ek het gedink dit is jou motor hier buite.”

      “Dit is,” antwoord die hertog, “maar hierdie motor bly gewoonlik in die motorhuis van my villa hier in Maputo –”

      “Maar ek gaan nie my motor hier agterlaat nie, señor!” val sy die man vinnig in die rede. “As ek sonder ’n motor vir ’n onbepaalde tyd in Espiño moet woon, kan ek maar net sowel nou na Pretoria terugkeer.”

      Sy kyk op haar fyn, goue polshorlosie. “As ek nou vertrek, sal ek laat vanmiddag weer in Pretoria wees.” Haar blik verskuif na die hertog, dan vervolg sy half verontskuldigend: “Ek is jammer dat jy al die moeite gedoen het deur hierheen te vlieg om my te kom haal. Vic, dis nou my broer, moes jou gesê het dat ek nooit op Espiño, of enige ander plek wat dit betref, sonder ’n eie voertuig sal woon nie.”

      Voordat die edelman weer iets kan sê, neem Janet haar paspoort en vorms, plaas dit op die toonbank voor die beampte en vervolg sag: “Ek vertrek nou dadelik terug na Pretoria toe, señor –”

      “Señorita,” val die edelman haar bedaard in die rede, “jy het nog nie jou broer se brief gelees nie. Ek sal jou aanraai om die brief te lees voordat jy haastige besluite neem.”

      Onderwyl hy Janet aanspreek, neem hy die vorms en haar paspoort van die toonbank op en steek dit sonder meer in sy baadjie se sak.

      Met ’n ergerlike frons skeur sy die koevert oop en begin lees:

      My liewe, eiewyse en uitgesproke ou sussie, as daar een persoon op hierdie aarde is wat nog jou pragtige nekkie gaan omdraai, dan is dit beslis ek. Wat het jou besiel om per telegram te sê ons moet almal gaan doppies blaas? Ek gaan jou doppie nog vir jou klink, as jy dit miskien nie weet nie, jou uitgesproke klein rissie!

      In elk geval, die señor duque, Ramiro Velasco de Gouveia, sal by die doeanekantore wees om hierdie brief aan jou te oorhandig. En jy gaan nou maak soos ek vir jou sê, of die duiwel haal jou. Ek het nou heeltemal genoeg gehad van die hertog en sy ma se besware en teregwysings in verband met jou veiligheid, welsyn en ek weet nie wat nog alles nie – dis gans te veel om op te noem.

      Na jou telegram van eergister het die duque vriendelik en hulpvaardig aangebied om jou met sy privaat vliegtuig te gaan haal. Hy het ook aangebied om reëlings te tref dat jou motor per boot na Beira aangestuur word. Ek weet nie waarom die man so baie moeite en koste om jou ontwil aangaan nie. Dis seker maar sy adellike opvoeding en agtergrond wat hom dwing om mense te help wat in nood verkeer, en jy sal baie beslis in nood verkeer indien jy volhou met jou koppigheid om per motor te wil reis. Die pad van Mambone tot by Muda is glo onbegaanbaar met ’n nuwe motor soos joune.

      Nou ja, geen telegramme meer nie, gehoor? Alles is klaar gereël. Jy reis saam met die duque per vliegtuig en jou motor word per boot aangestuur.

      Liefde, jou ouboet.

      Die frons lê nog diep op Janet se voorkop toe sy die hertog aankyk en rooi van ergernis sê: “Vic is hopeloos van sy wysie af. Dit kan ’n week of twee duur voordat my motor in Beira aankom – wat gaan ek al daardie tyd sonder ’n voertuig met myself aanvang? Regtig, as jy nie al hierdie moeite en koste aangegaan het om my te kom haal nie, sou ek sonder versuim teruggegaan het na my tuiste in Pretoria. Maar noudat jy wel al die moeite gedoen het, het ek seker geen ander keuse as om jou te vergesel nie, señor. Maar ek weet eerlikwaar nie hoe ek my bagasie gaan verdeel om net die nodigste met my saam te neem nie.”

      “Daar is geen nodigheid hoegenaamd om jou bagasie te verdeel nie, señorita,” stel hy haar dadelik gerus. “Ons neem al jou bagasie per vliegtuig saam. Net jou motor sal per boot aangestuur word. En moet asseblief nie bekommerd wees oor jou eie voertuig op Espiño nie. Ek sal persoonlik toesien dat daar ’n motor tot jou beskikking is.”

      Hy kyk op sy polshorlosie en vervolg dan saaklik: “Ek vrees ons sal nou moet gaan, señorita. Jy kan solank in my villa rus onderwyl ek die sakie in verband met jou motor afhandel. Ons sal eers na die middagete na Espiño kan vertrek.”

      Hierna groet hy die doeanebeampte met ’n vriendelike: “Bon dia, amigo – tot siens, my vriend,” neem Janet se arm en lei haar ewe galant na haar motor. Hy maak die motordeur vir haar oop en sê: “Ek glo nie jy weet waar my villa geleë is nie, dus sal ek voor ry.”

      Hy


Скачать книгу