Die goue vlinder. Susanna M. Lingua
Читать онлайн книгу.ry, is die kraag van sy netjiese wit baadjie en die agterkant van sy raafswart kop duidelik sigbaar. Die windjie wat by die venster inwaai, speel liggies met haar goudkleurige hare wat in ’n massa krulle oor haar skouers hang. Dis asof die frisheid van die windjie haar nou eers tot verhaal bring.
Met ’n glimlaggie dink sy aan die kontras tussen die man wat hier voor haar ry en die beeld wat sy van hom geskep het … Hy is inderdaad die aantreklikste man wat sy nog ooit gesien het. Maar daardie skerp, deurdringende blik in sy swartbruin oë lewer duidelik bewys dat hy ook ’n duiwel kan wees as hy kwaad word. Hy het jou wrintiewaar nog nie een keer geglimlag nie. Ek wonder wat dink sy vrou daarvan dat hy al die moeite en koste aangegaan het om my te kom haal? Sy het blykbaar g’n sê in enigiets nie … leef natuurlik in sy en sy ma se skaduwee. Hy lyk nogal na die tipe wat sy vrou knaend onder die duim sal hou, die wette neerlê en net een keer praat.
Die glimlaggie wyk meteens van Janet se gelaat en nou vlam haar pragtige oë soos gepoleerde saffiere. Wel, hy kan die groot diktator oor sy vrou en kinders speel, solank hy net sy adellike neus uit my sake hou, dink sy opstandig. Ek aanvaar geen bevele van enigiemand nie, nie eens van Vic nie. Hy sal baie mooi moet verstaan dat ek my eie baas is en met my lewe sal maak wat ek wil, en dat ek geen inmenging van enigiemand sal duld nie.
Janet is so verstrik in haar opstandige gedagtes dat hulle Maputo bereik voordat sy weet waar sy is. Hulle ry met die Avenida de Julho af tot by die Avenida da Duquesa de Connaught. Hier draai hulle links en hou in die volgende blok voor ’n rooi teëldakhuis stil. Aan die voorkant is drie uitgeboude vensters met groen houthortjies.
Janet kry egter nie die geleentheid om die huis langer te besigtig nie, want die hertog is reeds besig om die motordeur vir haar oop te maak. Terselfdertyd gaan die voorhekkie oop en ’n man in ’n wit hemp en kortbroek kom na haar motor aangestap. Hy groet die edelman met ’n beleefde buiging, daarna spreek die hertog hom op Portugees aan en die volgende oomblik begin hy die bagasie aflaai.
Janet neem haar handsak en klim uit. Maar die hertog se arendsoog val dadelik op haar kameelhaarjas en lang wolbroek wat nog oor die rugleuning van die sitplek hang. Hy strek sy hand uit en neem albei kledingstukke uit die motor.
By die aanskoue van die lang wolbroek verskyn daar ’n harde trek om die man se mooi, karaktervolle mond. Maar hy lewer geen kommentaar nie. Hy besef dat Janet van ’n koue wêreld af kom en dan ken hy ook die modes en gebruike van die Suid-Afrikaanse vroue – modes en gebruike wat hom dwars in die krop steek en wat hy nooit onder sy eie mense sal duld nie.
Met die jas en die wolbroek oor sy arm, wonder hy heimlik in hoe ’n mate Janet die Suid-Afrikaanse modes nastreef. Hy weet dat sommige jong vroue van haar land hulle glad nie aan die nuwerwetse modes steur nie, terwyl ander weer liewer dood wil wees as uit die mode.
Hy neem die sleutels van Janet se motor uit haar hand, plaas sy hand bedagsaam onder haar elmboog en lei haar die huis binne na ’n sitkamer vol eeue oue meubels. Beleef nooi hy haar om te sit, dan druk hy ’n elektriese skakelaar en na ’n rukkie verskyn ’n in swart geklede, middeljarige vrou wat blykbaar die huishoudster van sy villa is.
“Koffie of tee, señor duque –”
“Jy kan my gerus Ramiro noem, señorita Janetta,” val hy die huishoudster in die rede. Dan draai hy na haar, hou Janet se jas en langbroek na haar uit en vervolg op Portugees: “Ons sal koffie neem, dankie, en jy kan sommer die juffrou se jas en ander bagasie na een van die vrykamers neem, Rosita. Laat Vaco jou help.”
Met ’n beleefde, eerbiedige “Si, señor duque” verlaat die bejaarde Rosita die vertrek om haar adellike werkgewer se bevele uit te voer.
Janet het op die een punt van die rusbank gaan sit en die skilderye met waardering bekyk onderwyl die hertog met Rosita gepraat het. Noudat sy die vertrek verlaat het, neem die edelman op die ander punt van die rusbank plaas. Hy kruis sy bene gemaklik, haal ’n goue sigaretkoker uit sy sak en bied Janet ’n sigaret aan – wat sy beleef van die hand wys – en steek dan vir homself een aan.
Ewe tydsaam plaas hy die sigaretkoker terug in sy sak. Dan blaas hy ’n rookkringetjie in die lug en draai weer na sy skone gas.
“Sodra ons koffie geniet het, sal jy my moet verskoon sodat ek kan gaan reël vir die vervoer van jou motor,” gesels hy nou informeel met sy mooi, bedaarde stem. “Maar ek sal jou eers na ’n slaapkamer neem waar jy tydens my afwesigheid kan rus. Jy het reeds ’n lang reis agter die rug en daar lê nog ’n reis van byna vier uur voor.”
Janet gee een van daardie seldsame glimlaggies van haar wat geen kunstenaar ooit op ’n doek sal kan verewig nie en geen man nog ooit kon weerstaan nie.
“Ek voel darem nie so moeg dat ek op ’n bed moet gaan rus nie, señor … e … Ramiro,” sê sy vriendelik. “Ek sal bly wees as ek net my hande en my gesig kan was voordat ons die reis voortsit. Ek lyk dalk wel klein en tingerig, maar ek verseker jou dat my gestel sterk en gesond is, met ’n verbasende uithouvermoë.”
“Jou gestel is dalk sterk en gesond, señorita Janetta, maar ek verkies nogtans dat jy jou nie onnodig ooreis nie,” verklaar die hertog, steeds kalm en bedaard, ofskoon daar ’n besorgde trek in sy oë is. “As my ma teenwoordig was om vir jou as ’n duenna te dien, sou ek beslis daarop aangedring het dat ons die reis eers môre voortsit.”
“ ’n Duenna?” Sy kyk hom met groot, vraende oë aan. “Wat is ’n duenna, señor Ramiro?”
“ ’n Beskermvrou of oppasster.”
“Maar ek het niemand nodig om my te beskerm nie, señor!” voeg sy die hertog geamuseer toe. “Ek is oud en groot genoeg om myself te beskerm, en buitendien is jy ook hier.”
“Juis omdat ek hier is, durf ons nie sonder my ma se teenwoordigheid in die villa oornag nie,” help hy haar reg. “So iets is absoluut ongehoord. Dit word net nie gedoen nie.”
“O, ek verstaan nou wat jy bedoel, señor,” glimlag sy met pret in haar oë. “Jy bedoel ’n duenna is eintlik iets soos ’n chaperone wat ’n meisie se naam en eer moet beskerm?”
“Presies,” kom dit sag van die edelman. “Nie dat ek jou oneer sal aandoen nie, señorita, maar dit is ’n streng gebruik in my land wat deur geen respektabele mens verontagsaam sal word nie. Terloops, geen respektabele jong dame word ooit toegelaat om sonder ’n duenna op straat te gaan nie.”
Janet kyk die man met openlike verbasing aan. Sy wonder of sy hom reg verstaan het. Indien wel, het hy sweerlik ’n skroef êrens in sy boonste verdieping los, want waar op aarde het jy daarvan gehoor dat ’n meisie helder oordag ’n chaperone moet saampiekel as sy êrens heen wil gaan!
O, verdriet, dink sy effens gesteurd, hy moenie met sy duenna-storie by my aangesit kom nie. Ek sal hom sommer padlangs vertel waar Dawid die wortels gegrawe het. Ek is nie ’n Portugese meisie nie en ek stel ook nie in hul konserwatiewe gebruike belang nie. Hierdie man sal dit baie mooi moet begryp.
Rosita tree die sitkamer binne en bedien Janet en die hertog pynlik beleef met koffie en beskuitjies. Maar sy kan haar nie daarvan weerhou om die skone señorita onderlangs te beskou nie. Die señorita se deftige rokkie is nou wel veels te kort vir ’n respektabele jong dame, maar sy is nietemin ’n uitsonderlik mooi meisie met haar fyn gelaatstrekke, sagte mond en spits kennetjie. Ja, selfs haar hande is mooi, sag en fyntjies en haar skoene lyk net so duur en deftig soos die skepping wat sy aanhet.
Met ’n eerbiedige buiging verlaat Rosita die vertrek. Die hertog roer sy koffie half ingedagte. Dan kyk hy op na Janet.
“Jou broer het my vertel dat jy ’n skilderes is,” begin hy gemoedelik gesels. “Op Espiño sal jy baie mooi tonele vind om te skilder. Selfs na ’n tropiese storm sal jy Espiño nog steeds mooi vind.”
“Maar waarom laat jy ’n besproeiingsdam bou, señor?” vra Janet met onverbloemde nuuskierigheid. “Daardie deel van Afrika kry mos heelwat reën.”
“Nie meer so mildelik soos vroeër nie, señorita. Vroeër was dit ’n streek met ’n hoë reënval, maar elke jaar neem dit meer en meer af en my proefryslande ly daaronder.