Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan


Скачать книгу
was dit selfverdediging, kan ek dit nie ongestraf laat verbygaan nie.” In die flikkerende lig van die vlamme is sy oë net twee donker poele. Die lig speel in sy swart hare, oor sy gesig en deftige klere. Hy lyk groter en dreigender, en tog voel dit vir Leia asof daar iewers in sy ongenaakbaarheid vanaand ’n sagte plek is.

      Sy kyk op na hom. “Die wiel?” vra sy hees en hy sien die naakte vrees in haar helder blou oë.

      “Nee … jy sal ’n volle week in afsondering bly.” Daar is ’n flikkering in sy oë. “Jy sal dit oorleef.”

      Die kas, dink sy ontsteld toe hy van haar af wegstap agter die slawe aan wat die gewonde man dra. Hy gaan my in die kas opsluit vir ’n hele week. Sy begin bewe. Dit was maklik om ’n dag te oorleef, maar ’n week … Sal haar haat haar ’n hele week kan dra? Sal sy so lank teen haar emosies kan veg en nog oorwin?

      Ver van die vuur en die slawehuisies gaan die graaf staan en kyk terug. Hy sien Leia op haar knieë langs die vuur met haar gesig in haar hande. Haar glinsterende hare hang soos ’n stralekrans om haar kop. Hy draai vinnig om en stap verder.

      Ons is albei vasgevang in ons eie wette, dink hy somber. Eers as Leia die wette van die beskawing leer ken en begryp, sal sy kan begin om weer geluk te vind.

      De la Fontaine glimlag effens oor sy eie gedagtes. Wat beteken die geluk van ’n slavin tog vir hom? Hy het haar gekoop en sy is sy eiendom. Haar gemoedsrus en geluk het tog niks met hom te doen nie, maar die feit dat hy haar moet straf, hinder en knaag aan hom. Hy wou dit verhoed … hy wou haar nog nooit straf nie omdat hy die vrees en onsekerheid in haar aanvoel en begryp. Hy bal sy vuiste. Hoekom word hy elke keer gedwing om juis dit te doen wat hy wil verhoed? Hoekom kan sy nie sy posisie begryp en dit vir hom makliker maak deur binne sy wette te bly nie?

      Hierdie keer voel die kas donkerder en kleiner. Die son is warmer, en die nagte kouer. Leia huil geluidloos. Net haar skouers ruk, en die trane loop vrylik oor haar stofbesmeerde wange. Sy besef vir die eerste keer die nodeloosheid en sinneloosheid van haar opstand. Dit het alles na ’n doodlooppunt gelei.

      Sy dink dikwels aan die graaf. Dan onthou sy sy ruwe gesig met die sterk mond, sy groot gestalte en sy fier houding. Sy dink aan sy groot, sterk hande en ook aan die koue woede in sy oë. Sy besef dat sy hom vrees, dat sy hom van die begin af gevrees het en hom juis daaroor gehaat het. Maar met die vrees meng ’n ander emosie. Hy is nie net haar meester vir wie sy moet gehoorsaam en aan wie sy onderdanig moet wees nie. Hy is ook ’n man soos geen ander nie.

      Dié ontdekking ruk soos ’n skok deur haar. Sy besef die ontsettende implikasies en haar keel trek toe. Haar lewe en geluk sal hier op La Liberté tot ’n stadige einde kom. Daar is tog baie mans van haar eie ras en kleur … hoekom moet dit juis hy wees?

      Soos die dae verbygaan en die vermoeienis ál groter word, word hierdie gevoel van haar egter ook juis ’n rede om die graaf te haat. Sy wíl hom haat … sy móét hom haat om haarself te red.

      Die ou gravin is baie stil gedurende die week wat Leia in die kas is. Die spanning is duidelik op haar gesig te lees, maar Jacques probeer om dit nie raak te sien nie. Hy moet tot elke prys dissipline op die landgoed handhaaf.

      Dis Beatrice wat die saak die eerste keer ophaal.

      “Jy moes haar liewer lyfstraf gegee het,” sê sy terwyl sy klein slukkies van haar limonade neem. “Haar soort verstaan geen ander taal nie.”

      Jacques kyk vinnig na haar. “Hierdie manier is minder onaangenaam as om haar aan ’n paal vas te maak en haar rug tot op haar middel bloot te lê. Hier is min mense wat so ’n toneel sou kon verduur.”

      Beatrice haal haar skouers op. “En waarom is jy dan nou so skielik gevoelig daaromtrent? Sy is net een van jou slawe. Jy kan tog doen wat jy wil.”

      Die gravin sug. “Dis al erg genoeg soos dit is. Leia is blank soos ons, Beatrice.”

      Die meisie kyk na die ou vrou. “En maak dit enige ver­skil, madame? Sy het as ’n barbaar grootgeword, en dit is wat belangrik is.”

      Jacques se blik rus ondersoekend op Beatrice.

      “Sou jy dalk die sweep graag self wou hanteer het?”

      Sy kyk vinnig na hom, en die uitdrukking in sy oë waar­sku haar dat sy nie te ver moet gaan nie. Sy sidder innerlik. Daar is geen warmte in hom nie, geen egte emosies nie. Dis net hierdie barbaarse slavin van hom wat nog iets in hom roer, en dit maak Beatrice woedend. Leia is ’n slavin, maar ek is vry … ek is die een wat hom uiteindelik gelukkig sal maak. Ek ken hom goed genoeg om te weet dat dit juis my krag is wat hom interesseer.

      “Natuurlik sou ek nie, Jacques. Daar is tog dinge wat ’n vrou nie eens graag sal wil sien nie, maar dit gaan hier oor dissipline.”

      Dit lyk asof hy effens ontspan. “Ek sal self daarvoor sorg. Hou jy maar liewer jou gedagtes besig met die dingetjies wat ’n vrou liewer sal wil doen.”

      Nicole de la Fontaine vroetel met haar sakdoek in haar skoot.

      “Ons kan haar nie hier hou nie, Jacques. Sy sal die situasie hier nooit kan aanvaar nie.”

      De la Fontaine se gesig verstrak. Hy het nie verwag dat sy moeder so oor die saak sal voel nie.

      “U was die een wat gevra het dat ek haar nie wegstuur nie, Moeder.”

      Die gravin knik. “Ek weet … sy was so verskrik dat ek haar jammer gekry het.”

      “Dan wil u hê dat ek van haar ’n speelbal maak?” vra die graaf koelbloedig. “Ek moet haar verkoop en wegstuur na ’n nuwe omgewing, nuwe mense en nuwe straf.”

      Die gravin sluk ’n slag. “Dit sal vir ons almal die beste wees.”

      Beatrice haal haar skouers op. “Ag, ek weet nie of dit nodig is nie. ’n Goeie pak slae sal haar wel tot ander insigte bring, en dan kan daar met haar opvoeding begin word.” Sy staan op en stap na die venster waar sy lank na buite staar voordat sy voortgaan: “Sy praat goed Frans en dus moet sy ’n buitengewone intelligensie hê. Huishulpe moet ten duurste gehuur word, en as ’n slavin vir dié doel gebruik kan word, kan ’n mens net aan die wenkant wees.”

      De la Fontaine se gesig is uitdrukkingloos toe hy sê: “Haar wil sal nie buig nie, dit sal breek.”

      Beatrice draai om na hom. “Maak dit werklik saak? Dis haar arbeid wat jy benodig, nie haar gees nie.”

      Jacques se oë is kil soos stukkies ys. “Ek hoop ek het jou nie reg begryp nie.”

      Beatrice kyk half verbaas, half onseker na hom. Sy kan De la Fontaine se houding nie mooi verstaan nie, maar sy sal ook nie toelaat dat Leia haar verhouding met die graaf vertroebel nie.

      “My liewe Jacques, natuurlik bedoel ek dit nie sleg nie, maar dis tog duidelik dat jy haar nie graag wil verkoop nie. Ek het maar net aan ’n oplossing probeer dink, dis al.”

      Sy uitdrukking verander nie. “Ek hoop dit was al, Beatrice.”

      Sy kyk vinnig weg. Ek sal die klein barbaar vermorsel, dink sy wrewelrig. Ek sal haar wil breek sodat sy soos ’n mak hond uit my hand eet, en dan sal ek haar moor omdat sy meer emosies in die graaf wakker maak as wat ek ooit kon regkry. Beatrice is nie blind vir die feit dat die graaf sedert Leia se koms verander het nie.

      “Dit ís al. Ek kan jou dit verseker.”

      Die gravin skud haar kop stadig. “Verkoop haar, Jacques.”

      Hy kyk na sy moeder. “Nou goed, aangesien niemand op dié punt kan ooreenkom nie, sal ek Leia se eie mening vra. Ek sal die keuse aan haar stel.”

      Hy sien die woede in Beatrice se oë opflikker en glimlag effens. Vroue sal vir hom altyd ’n raaisel bly. Wat is daar in ’n arm, ongelukkige slavin wat die skone, skatryk en bedorwe Beatrice de Boudelaire kan vrees?

      Ná die week in die kas is dit asof Leia ’n dwalende gees is. Snags droom sy dat sy terug is in


Скачать книгу