Die Afrikaners. Hermann Giliomee

Читать онлайн книгу.

Die Afrikaners - Hermann Giliomee


Скачать книгу
blanke knegte vir vryswartes gewerk het en soms was daar ook vryswartes wat as knegte beskou is. Dit het besoekers aan Tafelbaai opgeval dat knegte saam met slawe, arm burgers en behoeftige soldate of matrose in kroeë gedrink en kaart gespeel het.

      Die belangrike punt was egter dat ’n Europese kneg heeltemal vry kon word en opgang kon maak. Pieter Visagie en Willem Schalk van der Merwe was albei knegte wat later onafhanklike boere geword het – die stamvaders van bekende Afrikanerfamilies. In die laaste dekades van die sewentiende eeu het Henning Hüsing van die posisie van kneg tot die rykste man in die kolonie gevorder.

      Hierdie gevalle was buitengewoon. Die kneg se posisie is deur die slawe en die Khoi-Khoi-arbeiders in die Wes-Kaap ondermyn. In die agtiende eeu het sommige knegte onderwysers op plase in die binneland geword. Hul status was nederig en hulle is min betaal. Party knegte was gelukkig genoeg om met ’n boer se weduwee te trou, maar die grootste gros was behoeftig en het swaar onder skuld gebuk gegaan. Sommige was van die kerk se aalmoese afhanklik. In Kaapstad het knegte verhoudings met vryswartes of slawevroue gehad, en aan die grens het sommige met Khoi-Khoi-vroue saamgeleef. Die kinders van hierdie verbintenisse is gewoonlik nie in die heersersgroep opgeneem nie.

      In sy beleid teenoor die Kaapse nedersetting het die Kompanjie nie juis idealistiese motiewe gehad nie. Sy hoofdoel was om ’n goeie opbrengs aan sy aandeelhouers te verskaf. Maar die Kompanjie se obsessie met wins het nie beteken dat hy onverskillig gestaan het teenoor sake soos die Hollandse kultuur en die sedelike welsyn van sy onderdane nie. Die Kompanjie het predikante, sieketroosters en onderwysers aangestel en het beveel dat in sowel die kerk as die skool die Gereformeerde geloof en die Hollandse taal onderrig moet word.

      Toe die eerste slawe ingevoer is, het die regering opdrag gegee dat slegs Hollands met hulle gepraat moet word. Slawe kon nie vrygestel word as hulle nie Hollands kon praat of skryf nie. Toe ’n amptenaar ’n woordelys van Khoi-woorde opstel, het die Kompanjie onderneem om dit te publiseer, maar bygevoeg dat dit belangriker is dat die Khoi-Khois die Hollandse taal leer as omgekeerd. Die regering was bekommerd dat die burgers kon ontaard en het dus die predikante ondersteun in hul pogings om die swak kerkbywoning, wat in die eerste eeu so opvallend was, te verbeter. Die aandrang van die kerk dat mense moes kon lees en skryf voordat hulle aangeneem word, was ’n belangrike aansporing vir die burgers om basiese onderrig aan hul kinders te gee.

      ’n Uitbreidende samelewing

      Die laaste dekade van die sewentiende eeu was ’n goue tydperk vir die kleiner boere in die Wes-Kaap. Daar was genoeg onbesette grond vir hulle om te gebruik en hulle kon Khoi-Khois goedkoop as arbeiders gebruik. Die opbrengs op kapitaal van die armer boere was aansienlik hoër as dié van die ryker boere, wat slawearbeid aangewend het.

      In die eerste dekades van die agtiende eeu het sake vir die kleiner boere begin skeef loop. Hulle het hul arbeidsmag verloor toe die Wes-Kaapse Khoi-Khois in die pokke-epidemie van 1713 feitlik uitgewis is. Die kleiner boere kon selde meer as een slaaf bekostig. Die Kaapse mark het klein gebly. ’n Groeiende deel van die bevolking het uit slawe bestaan, met geen of slegs ’n klein kontantinkomste. Toenemend het die groter plase die kleiner plase begin insluk.

      Die deel van die boere wat as welvarend beskou kon word, kon teen 1710 op omtrent 7% van die vrye bevolking gestel word. ’n Groot gedeelte was baie arm. In 1705 is gerapporteer dat twee vyfdes van alle huishoudings geen bates hoegenaamd het nie. Boere het daarop aangedring dat hulle toegelaat moet word om hul vee buite die grense van hulle plase te laat wei. Simon van der Stel het ’n voorgevoel gehad van wat dit sou beteken. Hy merk op dat as die burgers die vryheid gegun sou word om ekstensief met vee te boer, “die hele Afrika nie groot genoeg sou wees om hierdie klas mense te bevredig nie”.

      Die vrees was nie heeltemal ongegrond nie. Die veeboere wat sou wegtrek sou nie dikwels van woonplek verander nie, maar eerder hul seuns uitstuur om nuwe grond te vind. Daar was egter ook die nomadiese trekboere wat bly trek het agter weiveld aan en daarvan ’n lewenswyse gemaak het. Toe ’n veldkornet Kruger, 84 jaar oud, in 1834 aan die walle van die Oranjerivier gevra is hoe ver die mense nog sou trek, was sy antwoord: “Tot hulle by die see kom, soos Abraham, Isak en Jakob voor hulle.” Die persoon wat die vraag gestel het, het opgemerk dat die omstandighede nou heeltemal anders is en wou weer ’n keer weet hoe ver die boere sou trek. Die oubaas het sy hand gelig om ’n ver afstand te beduie en met ’n luide, besliste stem gesê: “Tot die anderkant uit.”

      Teen die 1710’s, toe daar omtrent 400 plase was, het die regering die grootste deel van die vlakte wes van die eerste bergreekse as ten volle beset beskou. Teen 1717 is besluit om alle toekennings van grond in hierdie streek te staak. ’n Klein vrye bevolking was oor ’n groot gebied uitgestrek. In die distrikte Stellenbosch en Drakenstein was daar slegs twee vry mense vir elke 2,6 km. Dit was te min om ’n behoorlike netwerk van paaie te onderhou. Die swak paaie het mense verder ontmoedig om intensiewe landbou te beoefen en produkte na die mark te neem. Van die 1680’s af was die Kaap selfonderhoudend in koring, hoewel net ’n derde van die burgers gesaai het. ’n Oorproduksie van die vernaamste gewasse het ontstaan. Die verskuiwing na veeboerdery wat vroeër begin het, was nou onomkeerbaar.

      Vroeg in die agtiende eeu het die regering alle beheer oor die buiteliggende gebiede laat vaar. In 1703 is die reël dat burgers hul vee nie verder as ’n dagreis van hul plaas moet laat wei nie, teruggetrek. Die regering het nou begin om weipermitte uit te reik en in 1714 is hierdie beleid uitgebrei tot wat bekend sou staan as die stelsel van leningsplase, waarvolgens boere ’n groot stuk grond teen ’n geringe bedrag per jaar sou huur. Hierdie stelsel sou die burgers aanmoedig om vinnig oor ’n uitgestrekte gebied te versprei en sou die regering se vermoë om sy onderdane te beheer in die wiele ry. Hoe dieper die burgers in die binneland ingedring het, hoe meer het hulle gevoel dat hulle onafhanklike mense is met hul wortels in Afrika.

      ’n Spesiale soort burger

      Teen 1706, toe die nedersetting net meer as vyftig jaar oud was, het die totale bevolking (uitgeslote onafhanklike Khoi-Khois) tot ongeveer 3 500 mense gegroei. Ons weet wat die uiteindelike lot was van 570 mense, of ongeveer ’n derde van die 1 613 vryburgers wat gedurende die eerste vyftig jaar in die Kaap gewoon het. Van hierdie 570 het meer as die helfte vryburgers gebly, 30 is verban, 39 is terug in die Kompanjiesdiens, 70 het hulle versteek in skepe wat weer verder gevaar het en 103 het verlof gekry om die Kaap te verlaat.

      In hierdie stadium het die burgers hul identiteit uit verskeie bronne geput: hul Europese afkoms, wat nou gekoppel was aan hul Christelike geloof, die Hollandse taal en hul burgerstatus. Die vryburgers wat geboer het, het ’n spesiale soort burger geword. Anders as die burgers wat ’n nering in die hawedorpie beoefen het, het hulle vir iets meer as hul eie belang gewerk. Hulle was, in hul woorde van 1658, die “verdedigers van die land” teen die inheemse vyande, en hulle was ook die nedersetting se voedselprodusente. Hul oorlewing het daarvan afgehang dat die regering hul regte en voorregte eerbiedig. Hulle sou ’n nekslag toegedien word as die klein maar magtige groepie senior amptenare sou besluit om self te begin boer en die mark te voorsien. Juis so ’n bedreiging het vroeg in die agtiende eeu opgeduik.

      Hoofstuk 2

      Kompanjiesburgers

      Hendrik Biebouw, die eerste Afrikaner?

      Vroeg in Maart 1707 het Johannes Starrenburg, landdros van die klein dorpie Stellenbosch, vier jong mans gewaar wat soos “mal mense” in die straat afjaag. Hulle was dronk en rumoerig. In die Kompanjiesmeule het hulle met “veel gevloek” die skale rondgegooi. Starrenburg het hulle berispe en Hendrik Biebouw, sestien jaar oud, met sy rottang geslaan toe dié weier om sy bevele te gehoorsaam. Hierop het Biebouw geskreeu: “Ek wil nie loop nie, ek is ’n Afrikaner, selfs al slaan die landdros my dood en selfs al sit hy my in die tronk, ek sal en wil nie swyg nie.”

      Die landdros het Biebouw en sy trawante in die tronk gestop en by die regering aanbeveel dat hulle verban word. Die regering het die mag gehad om enkellopende mans wat leeglê in die Kompanjiesdiens terug te neem en weg te stuur. ’n Maand later is drie van die jong mans in die openbaar lyfstraf toegedien. In die Stellenbosse “opgaaf” of sensus van 1708 is Biebouw se naam geskrap


Скачать книгу