Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Читать онлайн книгу.van die hardwerkende middelslag- en kleiner boere.
As ’n mens die grootte van die groep hereboere wil vasstel, is een manier om slawebesit as aanduiding te neem. As ’n besit van minstens 16 slawe geneem word as die maatstaf vir ’n hereboer, het slegs 7% van die burgers in hierdie kategorie geval. Maar bereken volgens grondbesit, aangeplante wingerde, koring wat geoes is en die veekudde het die hereboere tussen 10% en 20% van die landelike burgerbevolking uitgemaak.
Rykdom is dikwels van die een generasie na die volgende oorgedra. In 1731 was daar 53 families in Stellenbosch en Drakenstein wat tienduisend of meer wingerdstokke gehad het; in 1782 was daar nog 22 wat soveel wingerdstokke gehad het, en 18 in 1825. Die name van hierdie families is vandag nog bekende Afrikanername: Cloete, De Villiers, De Vos, Du Plessis, Du Preez, Du Toit, Joubert, Le Roux, Malan, Marais, Minnaar, Morkel, Myburgh, Retief, Roux, Theron, Van Brakel en Van der Byl. Dit is opvallend dat meer as die helfte Hugenotenasate is.
Teen die tweede helfte van die agtiende eeu het die Wes-Kaapse hereboere voldoende rykdom versamel om aantreklike huise in die Kaaps-Hollandse styl te bou. ’n Besoeker het in 1783 geskryf dat hy niks anders waargeneem het nie as “signs of affluence and prosperity, to the extent that, in addition to splendors and magnificence in clothes and carriages, the houses are filled with elegant furniture and the tables decked with silverware and served by tidily clothed slaves”.
Anderkant die bergreekse van die Wes-Kaap was dit veeboerdery-wêreld. In die binneland was daar geen myne, nywerhede of winkels nie. Omtrent al die burgers het van boerdery ’n bestaan gemaak. Ten spyte van die probleme is daar geen aanduiding dat die veeboere of hul kinders ’n ander lewenswyse verkies het nie. In 1812 het die regters van die eerste Rondgaande Hof opgemerk: “All the young people, of which many of the houses are full, have no other prospect than the breeding of cattle and to obtain places [“plase”] for that purpose … All look forward to becoming graziers, and no person forms for himself any other plan of livelihood.”
Baie voornemende boere het as bywoners begin. ’n Bywoner was ’n wit man wat by ’n boer op sy plaas gewoon het, soms as iemand aan wie ’n stukkie grond geleen is en soms as iemand wat met die werk op die plaas gehelp het. Partykeer het hulle na die vee op ’n boer se tweede plaas omgesien. As hulle aktief met die veeboerdery gehelp het, het hulle gewoonlik die helfte van die natuurlike aanwas van die kudde ontvang. Hulle kon ook hul inkomste aanvul met jag. So ’n bywoner het dikwels saam met die boer of in sy plek op kommando gegaan.
Aanvanklik het die bywoners nie ’n minderwaardige status gehad nie. O.F. Mentzel, wat in die 1730’s aan die Kaap vertoef het, het geskryf: “Hier word hulle nie beskou as knegte nie, maar as vennote.” Hy het bygevoeg: “Hulle kry geen salaris nie, maar kos, en kan hul vee saam met dié van die boer laat wei en daarop ’n profyt maak.” Maar namate ’n gebied ten volle beset geraak het, was dit veel moeiliker vir ’n bywoner om gou ’n selfstandige boer te word.
Die administratiewe infrastruktuur en onderwysgeriewe dieper in die binneland was uiters gebrekkig. Die twee dorpies wat in die afgeleë binneland gestig is, Swellendam (1745) en Graaff-Reinet (1786), het tot diep in die negentiende eeu klein dorpies gebly. Tot teen die einde van die agtiende eeu was die enigste skole en kerke ver weg in die Wes-Kaap. In die 1780’s moes sommige boere van Graaff-Reinet ses of sewe weke reis om hul kinders gedoop te kry. Die meeste boere kon slegs met moeite lees en skryf. By gebrek aan skole het die burgers hul kinders laat onderrig deur rondreisende knegte, wat self soms skaars geletterd was. Dikwels is hierdie onderwysers minder betaal as die plaasknegte. Ouers wou slegs die mees basiese onderwys vir hul kinders hê. Hulle moes kon lees en skryf en die basiese Heidelbergse Kategismus ken sodat hulle as lidmate van die kerk aangeneem kon word. Geletterdheid is egter nie streng vereis nie.
Die regering het dus min verskil aan die boere se lewe gemaak. Dit is “minder werd as ’n pyp vol twak”, het ’n Swellendamse burger opgemerk. Die meeste plase was ver van die drosdy af, en boere het dikwels self hul werkers gestraf. Die veeboere se vernaamste bekommernis was die veepryse, die buitensporige wins van die slagters wat hulle vee opgekoop het en inheemse vyande.
In die loop van die agtiende eeu het veeboerdery koring- en wynboerdery verbygesteek as die vernaamste vorm van bestaan van die kolonie se burgers. Dit was hoofsaaklik ’n bestaansboerdery, maar die boere het met die mark in aanraking gebly. Baie boere het ’n aanvullende inkomste verdien deur seep, botter, was, droëvrugte, velle, horings en saad in Kaapstad te verkoop. Almal het ’n sekere minimum van goedere nodig gehad wat net by ’n winkel gekoop kon word: ’n geweer, ammunisie, wa, byle, grawe, hamers, lanterns, klere en kruideniersware.
Teen die laaste twee dekades van die agtiende eeu het dit al hoe moeiliker geraak om nuwe grond te bekom en die meeste boere aan die grens was in die skuld. ’n Ekologiese krisis het begin byt. Wat die boere die “oud word” van die veld genoem het, was die uitputting van die weiveld weens oorbeweiding. Die grasse en die struike het verdwyn en renosterbos het opgekom, wat die vee en die wild nie wou vreet nie. Boere het selde probeer om die veld te laat rus of hul vee te verminder. Die gemiddelde waarde van leningsplase het bestendig gedaal van twee vyfdes van die gemiddelde waarde van ’n wyn- of koringplaas tot een tiende daarvan teen die einde van die agtiende eeu.
Die vrees vir verwildering
Al was dit ’n eensame lewe was dit tog vir ’n burger die moeite werd om die binneland in te trek en hom op ’n plaas te vestig. Hulle het hul rug vir Europa gedraai en het inheems probeer raak sonder dat hulle afvallig geraak het van die Europese kultuur en beskawing.
Die eensaamheid op die afgeleë plase is moeilik om uit te beeld. Die reisiger Heinrich Lichtenstein, wat vroeg in die negentiende eeu ’n uitgebreide reis onderneem het, het dit amper onmoontlik gevind om te begryp hoe die boere so ver van die “plesier en voordele van vriendskap” kon leef. Hul enigste daaglikse taak was om toe te sien dat hul werkers soggens met die vee uitgaan en dit saans veilig terugbring. Die gesin het die dag deurgebring met “beuselagtige huiswerkies” en huisgodsdiens wat “oor en oor gehou is”. Met sy gesin om hom het die boer ’n eensame bestaan gevoer “sonder om iets te weet van die dinge wat die mensdom aangryp”.
Anders Sparrman het in 1770 gerapporteer dat die meeste huise slegs twee kamers het: ’n slaapkamer vir die boer en sy kinders en ’n kombuis waar die Khoi-Khoi-bediendes en gaste op die vloer geslaap het: “We all lay pigging together”, het hy geskryf. Hendrik Swellengrebel, ’n tipiese figuur van die Europese Verligting wat ook in hierdie tydperk gereis het, het geskryf van die lewe in ’n eenkamerhuis waar mense op ’n “Hottentot-manier” almal op die misvloer slaap, “los en gemaklik”.
In hul interaksie met die Khoi-Khois en die San (Boesmans) het die boere op groot skaal van hul kultuur geleen en in die proses baie meer as hul familie op die Wes-Kaapse platteland werklik deel van Afrika geraak. Soos die Khoi-Khois het hulle melk in velsakke gehou, biltong geëet, velskoene en soms diere se velle as klere gedra. Hulle het min obsessies gehad. Die uitdaging was om pragmaties in Afrika te oorleef.
Besoekers uit Europa het getwyfel of die grensboere “beskaaf” sou bly. In die Europa van daardie tyd het stereotipes oor Afrika bestaan as die “Donker Kontinent” of “die land van Gam se geslag” waar die boosheid heers. Europese besoekers aan die Kaapse binneland was geskok toe hulle die eerste keer hierdie wit mense van Afrika teëkom. Die Europeërs het hulle as wild of ontaard bestempel. Predikante het gewaarsku dat hul lewenswyse ’n bedreiging vir die Europese beskawing is. In 1776 het Swellengrebel opgemerk “dat die meeste van die grensboere nie veel beter leef as die Hottentotte nie”. Daar was in die oë van hierdie waarnemers ’n werklike gevaar dat die grensboere ’n “heeltemal wilde nasie” sou word.
Die boere op die grens was bewus van dié vrese. In ’n 1788-versoekskrif verklaar ’n groep boere van die Kamdeboo: “As gevolg van die groot afstand van [Stellenbosch] het baie van ons hier al van die bevele van God afgewyk en tot ons groot skade ongehoorsaam daaraan geword. Ons was tot dusver sonder onderwysers en predikante en die gevolg is dat baie mooi jong mense soos onkundige vee grootword.”
Op die plase, wat meesal baie afgesonderd was en waar dikwels min gebeur het, het die boere ’n merkwaardige vasberadenheid van gees ontwikkel. Geen reisiger het ooit aangeteken dat