Die Afrikaners. Hermann Giliomee

Читать онлайн книгу.

Die Afrikaners - Hermann Giliomee


Скачать книгу
was die vroue wat die deurslaggewende verskil gemaak het. O.F. Mentzel, ’n fyn waarnemer wat in die 1730’s en vroeë 1740’s in die kolonie gewoon het, het die mans in gedagte gehad toe hy opgemerk het: “Sommige van die boere is so gewoond aan die sorglose en luilekker lewe … en hul verkeer met slawe en Hottentotte dat daar min onderskeid getref kan word tussen eersgenoemde en laasgenoemde.”

      Oor die vroue skryf hy heeltemal anders. Hy merk op dat ’n soldaat op ’n veldtog in sy tent minder weerloos is as ’n jong paartjie in die “verre wildernis”. “Dink jou die situasie in van ’n jong vrou wat swanger raak en geen hulp het nie, behalwe van ’n ou Hottentotvrou wat sy nie eens kan verstaan nie.”

      Sy oordeel oor die boervroue is gunstig: “Hulle is baie selde spraaksaam, maar hulle is nie skaam nie, nie vrypostig nie, maar ook nie vervelig nie. Hulle praat op ’n reguit en natuurlike manier met die mense wat hulle die eerste keer ontmoet en kyk almal direk in die oë sonder om skroomvallig te wees … Hulle oortref die mans in gesonde verstand, goeie gedrag en die vermoë om te verstaan en te leer … Hulle is buitengewoon hardwerkend, goeie huishoudsters en uitstekende moeders. Hulle is nie so ambisieus soos die stadsmense nie en twis nie oor wie voorrang moet kry nie, en oor wie links of regs aan die tafel moet sit nie en of hulle eerste of laaste bedien moet word nie.”

      ’n Boer-ras en Boere-rassisme

      Die historikus Cornelius de Kiewiet het opgemerk dat “in die lang stiltes” van die agtiende eeu die “Boer-ras” gevorm is. “Their life gave them a tenacity of purpose, a power of silent endurance, and the keenest self-respect. But this isolation sank into their character, causing their imagination to lie fallow and their intellects to become inert. Their tenacity could degenerate into obstinacy, their power of endurance into resistance to innovation, and their self-respect into suspicion of the foreigner and contempt for their inferiors.”

      Ons kan hierdie beskrywing aanvaar en uitbrei. Die gebrek aan innovasie was waarder van die veeboere as van die wyn- en koringboere. Party van die hereboere in die Wes-Kaap het geprobeer om nuwe tegnieke en metodes in te voer om by die mark aan te pas. Vir die meeste boere was daar egter min aansporing om hul produksie met nuwe metodes te verhoog. Die Kaapse nedersetting was sonder ’n sterk uitvoerproduk en hoewel die plaaslike mark bestendig uitgebrei het, was daar dikwels oorproduksie. In die onmiddellike omgewing van Kaapstad het die boere die markskommelinge skerp dopgehou, maar hoe verder die boere van die mark was hoe meer was hulle geneig om slegs genoeg te produseer om in hul eie behoeftes te voorsien. In hierdie bestaansboerdery het hulle eenvoudig en sober geleef.

      Behalwe die Bybel het boeke nie juis ’n rol in die burgers se lewe gespeel nie. Die lewe in die binneland, maar ook in Kaapstad self, was een van selftevredenheid, eng horisonne en selfs intellektuele starheid. Reisigers het gerapporteer dat die burgers nie kan glo dat daar ’n mooier of ’n beter land as die Kaap is nie. Hulle sou eerder luister na ’n storie wat deur hul slawe of hul Khoi-Khoi-bediendes vertel word as een oor die pragtige Versailles-paleis in Frankryk.

      Historici het lank die mening gehuldig dat Afrikaners ’n diepgewortelde geloof in hul meerderwaardigheid ten opsigte van swart mense gekoester het. Hulle het dit toegeskryf aan ’n vorm van “primitiewe Calvinisme” wat aan die grens ontwikkel het weens die kultuurbotsing tussen wittes en swartes. Maar hierdie prentjie moet radikaal hersien word. Rassisme is in sy wese ’n regverdiging en selde ’n verklaring. ’n Verklaring moet verder gesoek word.

      Die eintlike faktor wat die samelewingstruktuur bepaal het, was nie mense se houding teenoor kleur nie, maar die regering se onderskeiding tussen verskillende groepe, elkeen met sy eie regstatus. Soos studies van Batavia getoon het, het die Kompanjie ’n manie gehad om mense te klassifiseer en registreer. Van ’n vroeë stadium was daar in Java en Ceylon ’n stelsel waardeur die koloniale bevolking deeglik geregistreer is. Groepe wat hoofsaaklik etnies gedefinieer is, is onder hul eie hoofmanne in bepaalde buurte gevestig waar hulle sekere van hul wette en gebruike en hul godsdiens kon behou. Ander wette as dié vir die Europeërs het vir hierdie groepe gegeld.

      Hierdie stelsel klink baie na twintigste-eeuse apartheid, maar daar was twee belangrike verskille: dit was baie vloeibaar, die wetlike skanse tussen groepe het mettertyd verkrummel en daar was altyd ’n aansienlike getal mestiese mense, dit wil sê “halfbloed”-Europeërs.

      Aan die Kaap was die vernaamste statusgroepe die Kompanjiesamptenare, burgers en slawe. Formeel was daar ’n onderskeid tussen hierdie drie groepe in die kolonie en die Khoi-Khois, wat as buite die kolonie beskou is. Teen die einde van die agtiende eeu was die Khoi-Khois vir alle praktiese doeleindes deel van die kolonie, waar hulle ’n ondergeskikte status beklee het: mense wat tegnies vry was maar verplig om te werk. ’n Vyfde groep, die vryswartes, was daar van die begin af. Hulle was ook vry maar het heelwat minder status as die burgers gehad.

      Koloniale amptenare en die hof het op baie terreine van die daaglikse lewe – woonplek, reg om te trou, bewegingsreg, belasting, milisiediens, grondbesit en so meer – wetlik tussen die hoofgroepe gediskrimineer. Die amptelike siening was dat iemand se regstatus eerder as sy ras, godsdiens, herkoms, kultuur of kleur sy geleenthede vir bevordering bepaal. Die heel belangrikste was dat slegs Kompanjiesdienaars, vryburgers en vryswartes voor 1795 grond kon besit of politieke mag in die amptelike hiërargie van die kolonie kon bekom. Die burger-slaaf-onderskeid is verder versterk deur die Gereformeerde Kerk, wat baie min mense buite die geledere van die Europeërs gedoop het.

      Van besondere belang vir die latere geskiedenis was die feit dat elke statusgroep teen die einde van die sewentiende eeu met kultuur en voorkoms gekorreleer het. Die amptenare en burgers was feitlik almal Europeërs. Van die staanspoor was wit mense dus in al die leidende posisies. Daarteenoor was geen wit mens ooit ’n slaaf nie. Al die slawe het van lande buite Europa gekom en hul tale en kulture het aanvanklik heelwat van dié van hul meesters verskil. Slawe het geen status gehad nie; hulle was, soos die Amerikaanse historikus Orlando Patterson dit stel, “sosiaal dood”. Maar terselfdertyd het die burger se identiteit daarvan afgehang dat hy ’n slaaf het wat hom as sy meester beskou.

      Hierdie aanvanklike saamval van regstatus en ras is voortdurend in die loop van die agtiende eeu versterk deur die Kompanjie, wat voortgegaan het om Europeërs vry te stel ten einde burgers te word en om slawe van Asië, Madagaskar en Afrika in te voer.

      In Kaapstad was daar ’n sekere mate van vloeibaarheid, wat aan Batavia en Colombo laat dink het. Ook hier was mense in die dominante statusgroep teen die einde van die agtiende eeu omtrent almal wit, terwyl die mense in die laagste groep swart was. Maar op die middelste sporte van die sosiale leer was daar dubbelsinnigheid. Hier is vryswartes aangetref, wat selde burgers was, maar wat in die kerk kon trou en toegelaat is om kommandodiens saam met die burgers te doen. Daar was ook knegte en opsigters wat gewoonlik arm wit mense was. In die middelrange het ’n wit vel nog nie ’n groot verskil gemaak nie.

      Die burgers het mekaar as politieke gelykes beskou. Hulle het in dieselfde kerk aanbid en saam aan krygsoefeninge en kommando’s deelgeneem. Dit het nie beteken dat daar geen maatskaplike verskille onder hulle was nie. In die Kaapse distrik en op die dorp Stellenbosch het rang getel. Hendrik Cloete, eienaar van Groot Constantia en die rykste man in die kolonie, was trots op sy titel oudheemraad. Tog het hy neergekyk op die hoofsaaklik middelslagboere wat aan die spits van die stryd van die Kaapse Patriotte tussen 1778 en 1786 gestaan het. Hy het hulle bestempel as “niet de vernaamste colonisten, maar lieden van minder soort”. In die binneland is net burgers wat heelwat grond besit en belasting betaal het tot heemraad of lid van ’n kerkraad aangewys.

      Daar was egter geen elite-groep van burgers of heerserskliek van families wat op spesiale voorregte aanspraak gemaak of met mekaar ondertrou het nie. In 1805 het W.S. van Ryneveld, wat besonder goed ingelig was, opgemerk dat daar onder die koloniste nog “geen eigenlyk ondersceid van standen” is nie. Twintig jaar later het die reisiger George Thompson geskryf: “There is no or little gradation of ranks among the white population. Every man is a burgher by rank and a farmer by occupation.”

      Aangesien die korrelasie tussen kleur en sosiale status van vroeg aanwesig was, is die vraag nie hoekom die Kaapse samelewing kleurbehep geword het nie. Die groot uitdaging is om te verduidelik waarom dié korrelasie oor ’n lang tyd gehandhaaf is. Om dit meer spesifiek te stel: Waarom


Скачать книгу