Ridders van die grondpad. Deon Meyer
Читать онлайн книгу.Net regs van ons het iets opgeskarrel teen die byna loodregte rooi krans wat op en op gestrek het tot daar d-o-e-r bo. Die nuuskierigheid was net te groot. Toe hou ek eers stil en kyk: ’n Enkele wyfiebobbejaan, skaars 20 m van ons af, begin boontoe draf.
Ek tik oudergewoonte op Anita se knie en wys met die vinger. En toe gebeur die ongelooflikste ding.
Nog ’n bobbejaan begin beweeg. En nóg een. Hoe ons hulle aanvanklik misgekyk het, weet ek nie. Dalk was dit die kleur van hul pels wat met die roesbruin van die krans saamgesmelt het. Miskien het hulle net doodstil gesit en hulle vergaap aan die monster-masjien wat hier onder verbyry. Dit kan ook wees dat ons stadsoë net nie meer sulke dinge raaksien nie.
Maar toe hulle begin beweeg, is dit asof ons nuwe oë kry. Vier, vyf, ses wat skarrel teen die krans op. Tien, twaalf, dertien. Twintig, dertig, veertig … totdat die hele, tamaai bergwand lewe van die primate wat rustig boontoe draf, asof die gladde rotskrans en die onmoontlike steilte nie bestaan nie.
Ons sit oopmond en staar totdat die hele trop, dalk honderd of meer, aan die beweeg is, steeds boontoe. Ma’s knyp kleintjies onder skurwe elmboë vas, jong hansworse tuimel en spring, ou brandwagte talm sinies, totdat die laaste een oor die kruin verdwyn. Ek sê vir my vrou: “Kan jy dit glo …” Dié vraag kon net sowel die leuse vir die dag en die roete gewees het, want dit was in alle opsigte ’n verrassing.
Ons moes van Kaapstad af George toe vir ons jaarlikse motorfiets-safari saam met geliefde Gautengse vriende (ek weet, ek weet, “geliefde” en “Gautengse” pas omtrent bymekaar soos “militêre” en “intelligensie”, maar daar is soms uitsonderings). En ons wou vir die verandering asseblief tog net ’n nuwe, onbekende pad soontoe ry.
Die enigste sinvolle, onontdekte alternatief was ’n swart strepie op die GPS-kaart wat 28 km anderkant Touwsrivier op die N1 regs draai – en dan ’n stewige ent ver parallel met die N1 Laingsburg se kant toe slinger.
Ons het nie veel verwag nie. Hoe mooi kan dit immers in dié geweste wees nadat ’n mens die nasionale slagaar al so plat gery het?
Met die afdraaislag van die N1 af op die grond kom die eerste verrassing: Die padteken sê net kort en kragtig “Witteberge”. ’n Paar lekker maar standaarddraaie, mooi heuwels en ’n plaashek of twee volg totdat jy meteens oor ’n bultjie ry en ’n vallei sprokiesmooi voor jou uitstrek. Op linkerhand lê wat ’n mens “ordentlike berge” noem en ’n grondpad verdwyn slingerend oor die deinings in die verte. Van daar is dit net loutere plesier. Die padoppervlak is goed (behalwe die effens verspoelde driffie), die uitsig in alle windrigtings indrukwekkend én daar is ’n totale gebrek aan toeristeverkeer.
Eindelik, net voordat ’n mens aansluit by die nommerlose teerpad tussen Laingsburg en die Floriskraaldam, lyk dit weer meer na Karoo, maar 60 km aaneen is dit verrassende bergwêreld, met volop kleinwild – en natuurlik daardie trop kransbobbejane wat ons asem laat wegslaan het.
As jy daaraan dink om ooit die Seweweekspoort-pad te gaan ry, is hierdie die ideale aanhef. Sodra jy die Witteberge-roete agter die rug het, draai regs Ladismith se kant toe. By die vurk sowat 10 km anderkant die Floriskraaldam-afdraai hou jy links en maak jou reg vir ’n stuk Wes-Kaap wat nie net geliefde Gautengers gaan beïndruk nie. Die ongelooflike geomorfologie verander elke paar kilometer, die kleure van kranse en klowe, spitse en berge wissel van dieprooi na geel, bruin en groen, geen gesigseinder is dieselfde nie.
By die Seweweekspoort is ’n mens vanselfsprekend dié skouspel te wagte. Maar wanneer ’n paadjie tussen Touwsrivier en Laingsburg jou só onkant betrap, wil jy net die motorfiets pak en nog onbekende swart strepies op die kaart gaan verken.
2
Konstabelstasie op die N1.
Vandat jy afdraai van die N1 tot in Laingsburg is net mooi 70 km.
’n Raps langer as 90 minute.
’n Slingerpad na Oudtshoorn
Dit is maar 20 km oor die ou Montagupas van George af tot by die N9, maar dié roete bied bes moontlik die meeste mooi per vierkante meter in die land.
Net voor die internasionale mediabekendstelling van BMW se R 1200 GS in 2004 moes ek die Duitse produksiespan gaan help om al die motorfietse in te loop. Ek het dié pas daagliks vir twee weke lank gery en nooit moeg geword daarvan nie.
Die pas is vernoem na John Montagu, die koloniale sekretaris aan die Kaap in die 1840’s, en is deur gevangenes gebou. Toe dit in 1847 voltooi is, het dit beteken dat ’n trek van drie dae oor die Cradock-pas nou net een dag geneem het. Vandag kan jy dit in ’n halfuur op jou ysterperd ry as jy baie haastig en waaghalsig is.
Terloops, die padingenieur vir die Montagu-pas was die Australiër Henry Fancourt White, wie se naam vandag nog voortleef in die beroemde Fancourt-gholflandgoed by George – én in Blanco, die klein dorpie net buite George. Hou ook stil by die ou tolhuis waar reisigers meer as ’n eeu gelede twee pennies per wiel en ’n pennie per trekdier moes opdok.
Van George se middedorp neem jy die N9 na Oudtshoorn. Net 3,5 km verder dui ’n padbord aan waar jy regs op die grondpad moet draai. Aanvanklik is die pad breed en in ’n goeie toestand, maar wanneer jy die flank van die berg behoorlik tref, is dit baie nou met heelwat blinde draaie en erosiewalle. Ry dus versigtig – dan kan jy die verstommende uitsigte ook waardeer.
Wanneer jy weer by die N9 aansluit, kan jy gerus regs draai en net 170 m verder die Perdepoort-grondpad links na Oudtshoorn vat. Dit is ’n maklike, vinnige roete wat ’n ander soort mooi ten toon stel.
2
George
Van George tot jy weer by die N9 aansluit, is 20,5 km. As jy via Perdepoort Oudtshoorn toe ry, voeg ’n ekstra 43,1 km by vir ’n totaal van 63,6 km.
90 minute vir die Montagupas (dan is daar genoeg tyd vir foto’s neem) en twee en ’n half uur tot op Oudtshoorn via Perdepoort.
Volg die Kammanassie – Oudtshoorn na Uniondale
Ek het altyd gedink ek ken die Klein Karoo. Dit is immers die gewildste speelplek van die Wes-Kaapse grondpad-manne en -vroue en boonop het ek dit sowat sewe jaar gelede deurkruis op soek na roetes vir ’n groot BMW-byeenkoms.
Toe ek