Vyf-en-veertig skemeraandsange. Breyten Breytenbach
Читать онлайн книгу.>
breyten breytenbach
vyf-en-veertig
skemeraandsange
uit die eenbeendanser
se werkruimte
Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van vyf-en-veertig skemeraandsange mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Hierdie bundel word opgedra
aan my redaktrise, Alida Potgieter,
met jare se dankbaarheid vir die
deeglike maar genotvolle samewerking
en simpatieke begrip.
dan sal ek luister na die suisende sing van die grond
en hierdie rokende skrywe nader trek
om domvinger met onbeholpe mond
kop nog stert te verstaan
van die brawe boodskappe
uit welige landskappe van weleer
waar vure geknetter het
om tog as vervloë geheue gedompel
in woorde nou koud soos skuim en soos as
weer voel-voel te verleer
hoe babbel die dood in my
soos ’n swaar geboorte:
“hier-hier is die hooglied van besinning se versinsels
hier blye oopgaandae van sing en sing en sing”
– Blackface Afrika
1. ek het gedroom
ek het gedroom ek het my gedig
in die deuropening sien staan
met lig omstraal
en ’n papiertjie in haar hand
ek het die boodskap oopgevou
en daar byna onsigbaar geskryf sien staan
ek is die gedig waarvan jy droom
om na die lig te haal
maar ek is ook die donkerte
wat jy jou blind teen staar
die lewe leef
net in die openinge van die teks
en verbeelding, die verbeelde ding
waarvan jy toemond sing
2. klein etimologiese les
(maar filologie is nader aan vlieg)
oor die middaguur in die ravyn
waar dit dig en groen bebos genoeg is
om die son se vuur te demp
kweel en kwitter die nagtegaal
soet snikgeluidjies,
en jy dink: dis goed en wel om ’n woordsifter
te wees met skiwwe indrukke
waarmee jy die papier probeer bind
asof dit ’n wêreld sou vergestalt
van beboste heuwels en ’n sekelmaan
wat as herout van nag- en reisruimtes
se sterre in mens se verbeelding
sing. maar wat is jou tog tog vergeleke
met die onsigbare rossinyol s’n –
die ruiseñor, riviermeneer –
as hy hierdie seisoen sy nessie
kom bou in boom en kreupelhout
en ravyn om die oorhoofse trekvoël,
die wyfietjie, hoog genag soos sterre,
met getjikker en lang melodieuse note
van vleitaal óm te sing om haar eier te lê
in sy gedig? jy hoor en jy eer hom,
die nihtegala, die nagsanger,
roesbruin gedou op die skouers,
wat ’n wêreld bind
asof dit papier is met verhale
van verwante in verre klimate:
die Kaapse lyster donker gerug
met nagvlerke en ’n oranje pens,
die klipwagter (Monticola rupestris)
wat in bergagtige streke skaam
sy blougrys kop en nek sal wys,
die lysternagtegaal (Luscinia luscinia)
so skaars soos liefdestaal
in Natal en die Transvaal,
en die lemoenvoël. en jy dink:
dit hoef nie opgeskryf te lê
as uiteensetting van aanhoulewe
sedert die aanvang van tyd nie,
want met middernagvuur en ook oor die middag
in die kloof waar dit groen en dig genoeg
is om die vlugwete van son as ster
te verdoof, bid jy in skamele gebied-
stameling jou woordklopklop se nabootsing
van nagmaal onder die hemp
3. my vriende
my vriende glo nie meer in vrede nie /
my vriende woon in dakwoonstelle en agterplase /
hulle het boekrakke en geraamde foto’s van rawe teen die mure
en dikwels muwwe verse in die laaie, dikwels
hang hulle vlae of baniere oor balkonne
by die vensters uit
maar hulle is moeg van utopiebedremmeling /
my vriende woon in Barcelona en Bamako
en Bombaai en Boedapest en Bloemfontein en Beijing
en Brackenfell
en in die aand luister hulle na ballades
van ontnugtering /
my vriende is toneelspelers en reisigers en hulle het sambrele
en toe hulle jonk was het hulle met passie
bemin en nou vee hulle hul monde
af wanneer hulle in ’n tempel die soom
van ’n heilige relikwie moet soen /
my vriende dra skoene en hulle dink
baie na oor die verskuilde bewegingsbetekenis
van berge / in die laatsomer
dryf hulle op die rug in die see en kyk
na die wolke wat verbykom / my vriende
drink koffie /
my vriende het verskrompelde poese en verrinneweerde piele
(dit maak hulle bedees by die liefdesdaad) /
hulle hou daarvan om goudvissies te voer