Oorkant op die eiland. Louisa du Toit

Читать онлайн книгу.

Oorkant op die eiland - Louisa du Toit


Скачать книгу
’n man se lippe op hare was en sy kan vaagweg onthou dat dit jou nie onaangeraak laat nie. Sedert haar man se dood was daar niemand anders nie. Deesdae raak losieshuise uit die mode, almal soek woonstelle, of kamers in die stad, of studentehuise. Maar haar kamers bly vol, want sy gun die jongmense die vreugdes van die hart. Die lewe is kort en dit gaan so gou verby. Nog beter as hulle haar daarin laat deel. Party sê sy is nuuskierig, maar sy is net meelewend.

      Vir Janetta en Carola kan sy maar na hartelus uitvra sonder die vrees dat hulle vanweë haar nuuskierigheid sal dreig om losies op te sê.

      “Is tannie Rens nou seker die hond sal nie ’n las wees nie?”

      “Hierdie dierasie? Nooit. Ek voel altyd veiliger met hom hier langsaan. Hy blaf ook as iets by my huis aangaan, so ek en hy ken mekaar. Jy weet die loseerders kom maar laat saans in en dan kan ek nie die voordeur sluit nie.”

      “Ag, maar baie dankie, tannie. En hier is ’n papiertjie waarop my adres en telefoonnommer staan waar ek die vakansie sal wees.”

      Tannie Rens vat die papiertjie en lees hardop: “Mej. J. Pullen, p/a Eksteen, ‘Stroomlangs’, Oewerdal.” Sy maak oudergewoonte haar voete oop vir die kat om deur te loop en sê: “Haai, kind, watter mooi koel name. Is daar ’n spruit of iets?”

      “’n Deel van die plaas lê teen die Oranjerivier, tannie. Maar daar is ook buiteveld, of so iets.” Isidor het met ’n gesukkel die adres verskaf.

      “Dis mos ’n soort lewe van harde werk, dan nie?”

      “Hy’t gesê sy pa verhuur die landerye.”

      “En hoe voel dit om so te gaan kuier? Jy is seker opgewonde. Ai, dit lyk so lekker.”

      “Ek wens ek kon vir tannie ook ’n slag vakansie gee.”

      “Nee wat, Janetta. Los hierdie tannie maar voor die kospotte.”

      Hartseer dink Janetta: is dit dan al wat vir party vroue moet oorbly? Haar eie lewe vorentoe lyk so vol, so onuitputlik. Moet dit vir sommiges so gou al feitlik leegloop?

      “Dis so ’n mooi outjie wat jy het, Janetta. Die bruin hare met die effense krul. En daardie wimpers.”

      “Ek dink ook hy’s pragtig, tannie.”

      “En het jy hom nou waarlik lief?”

      Janetta voel haar gesig warm word. “Ek reken so. Hoe weet mens ooit?”

      “Is jy gelukkig?”

      “Lyk dit dan nie so nie?”

      “Ek vra maar net, kind. Ek moet dit tog vir jou sê: geluk en liefde is nie altyd dieselfde ding nie.”

      “Hoe praat tannie dan nou,” lag Janetta half ongemaklik, haastig om weg te kom. Sy hoor die kattebak hard toeklap in hulle erf langsaan en weet dat Isidor ongeduldig raak.

      “Dit is so, Janettatjie. As meer jongmense dit voor die tyd weet, sal minder van hulle in die dorings beland. Skei, en so. Selfmoord. Hulle verwag volmaaktheid, sien? Die flieks en die boeke en die liedjies sê dan so.”

      “Ek is darem al in die twintig,” herinner Janetta haar.

      “Ja, wat praat ek ook. Op jou ouderdom het ek al drie kinders gehad.”

      Sy groet, kyk die jong meisie agterna, en dink weeïg: so het ek gelyk, vyf en veertig jaar gelede. Glad en jonk en sag. Die aantreklike ou wat Janetta het … hy maak altyd grappies, maar dis ’n skans. Hy maak nie maklik oop nie. Mag hy tog nooit hierdie mooie meisiekind seermaak en teleurstel nie.

      Haar eie man was soos ’n waterval, blaker alles uit. Sy mis hom nog veel. Sy snuif droog en gaan binnetoe om te kyk of die nagereg in die oond al bruin genoeg is. Sy het nou nie eens gevra hoe laat Janetta-hulle vanaand daar gaan aankom en of Gert en Corrie toe ’n goeie afskeid gehad het nie.

      Die reën en wolke sorg vir die nodige koeligheid oor die middaguur heen. Op Corrie se aandrang is ’n koelsak vol padkos vir Janetta en Isidor reggemaak en dit help hulle om wakker te bly. Hulle ry voorspoedig: Paarl, Ceres, en steek die binneland in. ’n Andersins vervelige stuk pad is vol afwisseling saam met Isidor. Jy weet nooit wat om van hom te verwag nie. Dan ry hy te vinnig, dan te stadig, net om haar uit te lok.

      Ek is skielik nie meer ’n student nie, dink Janetta met bruisende opwinding. Ek is nou selfstandig. Isidor het nog nie spesifiek in die rigting gepraat nie, maar as hy ’n ring aan haar vinger wil sit, sal hy ’n bietjie moet wag. Die skoolhoof sal die skok van sy lewe kry as daar reg aan die begin van die jaar ’n diamant in sy oë flits.

      Dis lekker, spontane, loslit-gedagtes. Sy het ’n pos in die Swartland gekry. Te ver om te loop en te na om te ry, soos Isidor sê. Maar in dieselfde asem voer hy dan kastig lang, vertroulike gesprekke met sy nuwerige motortjie wat noodwendig deur Janetta aangehoor word en waarin hy die voertuig aanspoor om sy beste te lewer, so elke tweede naweek. Die motortjie was glo eers sy ma s’n.

      Sy leun met haar kop teen sy skouer, voel die ligte beweging as hy die motor om ’n draai in die pad stuur, ratte wissel. Hy het sy truuks laat staan en ry nou teen ’n egalige pas. Ietwat vinnig, maar veilig genoeg. Sy het besluit, lankal, om nie daaroor te neul nie omdat sy weet hoe maklik ’n man agter die stuurwiel geïrriteerd raak. Selfs haar liewe pa word vies as sy vrou kommentaar oor sy bestuurkuns lewer.

      Wie het vir Isidor geleer bestuur? Die pa of ma? Haar ouers het haar om die beurt op stil paadjies geleer, en net vir ’n paar afrondingslesse betaal. Sy het haar lisensie, maar Gert wil haar nog nie ’n kar gee nie, te beskermend. Sy baklei nie daaroor nie, want min studentemeisies het ’n eie motor.

      “Vertel my van julle huis?” pamperlang sy. Die ure en die kilometers snel verby. Eintlik wil sy meer oor die gesin self weet, maar sy durf nie reguit vra nie. Dit sou dwaas van haar wees om te aanvaar dat hierdie reis, hierdie koesterende afsondering, vir ewig kan aanhou. Noudat die namiddagure ’n aanvang neem, met groter nadenke in ’n loom soort tussenbestaan, lê die vreemdheid soos ’n berg voor haar.

      “Die mure staan regop,” vertel hy ewe gewillig.

      “Hoe merkwaardig. Gaan voort.”

      Hy borduur verder, en dis asof hy self meegevoer raak deur die beeld wat hy oproep. “Hm, nou ja, ’n lekker klein huisie – twee woorde, hoor – met ’n rietdak. Rousteenmure, maar darem met klei gepleister.”

      “Wat is rousteen?”

      “Tuisgemaakte kleistene wat net in die son gedroog is, nie gebak nie. En plek-plek val die pleistering af, dan lyk dit ’n bietjie armoedig.”

      Natuurlik skeer hy gek, maar tog is daar ’n ondertoon van erns in sy stem wat haar belet om hom uit te lag.

      “Regtig?” vra sy en probeer ongeraak klink.

      “Regtig. O ja, en ’n bakoond. Hoe’s daai vir my ryk meisie? Wil jy omdraai?”

      “Omdraai? Jy maak my net al hoe nuuskieriger. Sal daar tuisgebakte brood uit die bakoond wees?” Om ryk genoem te word, is iets wat sy haat, maar sy laat dit ter wille van die vrede verbygaan.

      “Natuurlik. Maandagmôres lê die rook sommer so dik oor die rivier soos my ma die bakoond stook. Vrydagmiddae word die grondvloere natgespat en ons dans almal in die rondte om dit vas te trap.”

      “Maar nou jok jy mos lekker, Isidor Eksteen.”

      “Natuurlik jok ek. Dis Donderdagmiddag se roetine.”

      “En lek die rietdak?”

      “Net as dit reën, gelukkig.”

      Sy weet hy fantaseer, en tog weet sy net so seker dat daar iets onpeilbaars in sy vertelling steek. Dalk wil hy haar op hierdie manier waarsku dat hulle werklik nie baie bemiddeld is nie. Dalk is dit die rede waarom hy haar nie in die lentevakansie huis toe genooi het nie, toe sy tog duidelik daarop gesinspeel het dat sy hom bitter graag sou wou vergesel. Ag, as hy maar weet hoe min so iets haar sal beïnvloed. Daarvoor is die krag van haar opvoeding te groot. Corrie self vertel sonder wroeging van haar moeilike


Скачать книгу